NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Rapport 21/11/2008

 

Tuisblad
Terug

 

'n Kopskuif oor Belhar

Rapport, 21 November 2008

Dit was soos ’n emmer koue water in die gesig van twee Wes-Kaapse gemeentes in die NG Kerkfamilie wat besluit het om saam te werk, en hierdie keer was dit nié die groot teenstander van Belhar, die NG Kerk (NGK), se skuld nie. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se Wynberg-ring het geweier om ’n samewerkingsooreenkoms tussen die twee betrokke gemeentes kerkregtelik goed te keur. Die NGK se ring het dit wel goedgekeur.

Ek het onlangs die Wynberg-gemeentes se storie eerstehands gehoor en gesien. Die nuwe gesamentlike gemeente het ’n konferensie oor eenheidsmodelle gehou en hul storie met passie en geloofwaardigheid met die konferensiegangers gedeel.

Die gesamentlike gemeente werk. Lidmate weerskante van die kleurgrens aanvaar mekaar onvoorwaardelik, hulle dien, getuig, bid, sing, lag en huil saam.

Daar is op baie ander plekke samewerking tussen NGK- en VGK-gemeentes, maar dit gebeur net op geselekteerde bedieningsterreine – van saam basaar hou tot gesamentlike barmhartigheidsdiens of van tyd tot tyd gesamentlike Nagmaal.

Maar dis weer eens baie duidelik ná die onlangse sinodesitting van die VGK, waar die eenheidspoging feitlik by breekpunt gekom het, dat die pad na eenheid nog lank en steil is.

En op die oomblik staan die Belydenis van Belhar soos ’n oënskynlik onoorkomelike berg op daardie pad.

Samewerking op plaaslike vlak is natuurlik prysenswaardig, maar die oplossing lê nie net daar nie. Dis uiteindelik die leiers van die twee kerke wat die ruimte vir versoening moet skep.

Dalk moet ons ’n kopskuif maak oor hoe om so ’n ruimte te skep: Neem Belhar ’n slag uit die eenheidsgesprek en jy kan feitlik seker wees dit sal die kerke se ware gesindheid oor eenheid openbaar.

Gestel die VGK sê hy is bereid om Belhar “op te offer”. Dan, met die belydenis uit die berekeninge uit, sal ons weet of die NGK ernstig oor eenwording is, of Belhar die enigste en ware rede vir sy huidige weerstand is.

Van die VGK-leiers sal dit natuurlik ’n dapper stap vra om Belhar, wat so na aan ons hart is, ter wille van versoening en eenheid prys te gee.

Belhar se evangeliese boodskap is belangriker as sy simboliese betekenis en profetiese ontstaan. Woorde met Bybelse inhoud soos dié in Belhar is leeg en betekenisloos sonder dade.

Dit sal wonderlik wees as die NGK se leiers so ’n stap deur die VGK aanvaar.

En die VGK? Nie almal in dié kerk sal so ’n opoffering wil maak nie, maar ons weet teen hierdie tyd van ons mense gaan in elk geval hardkoppig bly oor eenheid.

Nietemin moet dit die kerkleiers nie daarvan weerhou om opofferings te maak om die droom van ’n herenigde kerk te verwesenlik nie. As die twee kerke nie albei opofferings gaan maak nie, sien ek geen herenigde kerk op die horison nie.

Ons in die VGK behoort onsself voortdurend daaraan te herinner dat die Belydenis van Belhar nie in die eerste plek aan die NGK gerig is nie, maar dat dit ’n belydenis van ons geloofsoortuiging is. Ons kan nie met Belhar die vinger wys na die NGK sonder dat ons in die VGK ook eerlik selfondersoek instel nie.

Die gereformeerde kerke bely in ander belydenisgeskrifte, soos die Heidelbergse Kategismus en die Apostoliese Geloofsbelydenis – dat die strewe na eenheid tot die hart van die kerk hoort.

Onenigheid onder Christene is verkeerd, veral as gelowiges op grond van ras geskei is, soos in die NGK-familie. Dit tas die geloofwaardigheid van die Christelike kerk aan en druis in teen die diepste bedoeling van die evangelie.

Ons behoort dus saam te worstel om eenheid te verkry en bereid wees om die minste te wees as dit moet. Eenheid word nié bereik deur voorwaardes te stel nie.

Dit gaan tog nie in die eerste plek oor die Belydenis van Belhar as ’n belydenisskrif nie, maar oor die God wat in Belhar bely word, en dit waartoe Hy sy kerk roep. Dit is God se soort liefde wat geïntegreerd uitgeleef behoort te word.

* Pieter van Niekerk is predikant van die VGK-gemeente Friemersheim in die Suid-Kaap.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12