|
|
|
|
Die kerkraad van Wynberg het ingevolge Artikel 23 van die kerkorde kennis op 9 Oktober 2003 gegee dat hulle appèl aanteken teen Verslag N5 van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake en die besluite wat daaruit voortgevloei het. Die verslag het voor die 49 ste vergadering van die Sinode van die NG Kerk in die OVS gedien wat vanaf 8 tot 12 September 2003 plaasgevind het. Die Alpha kursus wat wêreldwyd groot aanhang geniet, word onder meer in die verslag bestempel as ‘n afgewaterde vorm van die evangelie en gemeentes word daarteen gewaarsku. Die Moderamen het op grond daarvan as uitvoerende bestuur van die Sinode lidmate en kerkrade ernstig gewaarsku teen die gebruik van die Alpha-kursus en die verwarring wat dit oor die persoon en werk van die Heilige Gees skep. Die Kerkbode van 26 September 2003 het in ‘n voorbladartikel daaroor berig. Kerklike nuusprogramme het in dieselfde periode ook berigte oor die verslag uitgesaai. Ons was aanvanklik verbaas oor beide die kritiek sowel as die sensasie wat die verslag ontlok het. Die Alpha kursus word volgens hul internasionale kantoor tans in 139 lande aangebied. Dit behels meer as 28 000 kursusse wat op ‘n weeklikse basis in feitlik al die hoofstroomkerke plaasvind. Dit is merkwaardig dat die kursus vanuit sowel katolieke as gereformeerde oorde positief beoordeel is. “Catholic Alpha” word wêreldwyd aangebied. Die Reformed Church in America het in 2001 ‘n positiewe verslag oor die Alpha kursus gepubliseer met die titel: “Alpha from a Reformed Perspective”. As instrument om die sogenaamde postmoderne of gesekulariseerde mens te bereik, is die Alpha kursus, gemeet aan die erkenning wat die aanbieding in gemeentes en gevangenisse tot dusver ontvang het, baie geslaagd. Dit geniet die steun van talle gerespekteerde teoloë en kerkleiers wêreldwyd. Alpha word in Suid-Afrika in meer as 700 gemeentes en 140 gevangenisse aangebied. Daar was ook hier gedurende die afgelope jare kritiek teen die Alpha kursus uitgespreek. Ons het dit meestal as positief beleef aangesien die kritiek plaaslike gemeentes gehelp het om sekere kontekstuele aanpassings te maak wat die impak van die aanbieding vergroot het. Die integriteit van die aanbieders of die outeur was gewoonlik nie bevraagteken nie en in baie gevalle is aspekte van die kritiek “doodgeleef”. Ons het aanvanklik gemeen dat Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake se verslag in hierdie kader val – totdat ons dit bestudeer het. Die aard en omvang van die teenstrydighede met die Alpha kursus se primêre bronne (videobande en literatuur), het ons laat wonder hoe die kommissie tot die betrokke bevindings gekom het. Ons veronderstel dat akademiese en kerklike debat ruimte moet laat vir verskillende perspektiewe en dat ons almal slegs na die waarheid kan groei wanneer ons met mekaar in gesprek tree en mekaar se standpunte uitdaag. Die verslag bevat egter na ons mening ‘n stelling wat die beoordeling van die kommissie in ‘n ander kategorie plaas, omdat dit die geestelike integriteit van elkeen wat by die aanbied van die kursusse betrokke is, by voorbaat leed aandoen. Die Vrystaatse Sinode het eers in 2005 op die appèl gereageer deur die volgende Ad hoc-kommissie te benoem om aan die saak aandag te gee.
Die kommissie het 'n vergadering met die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake op 23 Januarie 2006 belê waarheen Dr. Danie Nel van Wynberg ook genooi is om 'n voorlegging oor die Alpha kursus te doen. Dr Dawie Oosthuysen van SKLAS het ook 'n voorlegging gedoen in reaksie daarop. Die kommissie het ter afsluiting die volgende bevinding aanbeveel:
Die OVS Moderamen het soos volg in 'n brief, gedateer 8 Februarie 2006, op die bevinding gereageer:
Die volledige appèlgronde volg hierna: Ned. Geref Kerk Wynberg N.G. Kerkkantoor Kerkkantoor (021) 797-8340 Durbanweg Dr. D.T. Nel (021) 797-7115 WYNBERG Saakgelastigde: Mnr. F. Mayoss 7800 ________________________________________________________________
7 November 2003 Die Skriba Sinode van die NG Kerk in die OVS Posbus 827 Sasolburg 9570 Geagte Ds Kleynhans Ons brief van 9 Oktober 2003 het betrekking. Ons het ingevolge Artikel 23 van die kerkorde kennis gegee dat die Kerkraad van Wynberg appèl aanteken teen Verslag N5 van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake wat voor die 49 ste vergadering van die Sinode van die NG Kerk in die OVS gedien het, wat vanaf 8 tot 12 September 2003 plaasgevind het. Ons het aangedui dat ons appèl op die volgende redes gegrond word:
Die betrokke verslag het die volgende titel: "Die Alpha Kursus - 'n Beoordeling". Hiermee die uitbreiding en motivering van ons appèlgronde. 1. Die kommissie het die volgende stellings in 'n verklaring (Bylaag 6) oor hul metodologie aan die pers gemaak: "Die kursusmateriaal is sistematies deurgewerk, primêre bronne is geraadpleeg en ’n teologiese beoordeling het gevolg. Die integriteit van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake staan bo alle verdenking." Die verklaring is op 31 Oktober 2003 en 2 November 2003 oor die radio uitgesaai. 2. Die verslag van die kommissie bestaan uit 5 afdelings, naamlik: 'n uiteensetting van die agtergrond waarteen die Alpha-kursus ontstaan het, 'n beskrywing van die totstandkoming van die kursus, 'n teologiese beoordeling, 'n paragraaf oor die praktiese aanbieding en 'n gevolgtrekking. Ons inhoudelike analise het die volgende aan die lig gebring: 2.1 Die eerste afdeling het die volgende aanname as vertrekpunt: "Die Alpha-kursus se ontstaan kan teruggevoer word na veral die Third Wave-beweging." Die beweging word in vyf paragrawe beskryf. Slegs die derde paragraaf verwys na die Alpha kursus. Die kommissie beweer dat die Third Wave-beweging hom ook in die gemeente waar die kursus ontstaan het, Holy Trinity Brompton, laat geld het. Die bewering word nie gestaaf nie. Die kommissie verwys nie na wat die primêre bronne, naamlik die kursusmateriaal self, oor die agtergrond en teologiese beginsels van die kursus sê nie (lees ons kommentaar hieroor in Bylaag 3). 2.2 Die tweede afdeling bied 'n oorsig oor die totstandkoming van die kursus en bestaan uit vier paragrawe. Die eerste paragraaf verwoord die kommissie se gevoltrekking met betrekking tot die eerste afdeling en bevat dieselfde stellings as 'n sekondêre bron (Fitton 1998). Die statistieke in die tweede paragraaf dui aan dat die bron slegs oor inligting tot en met 1995 beskik. Die bron word nie vermeld nie. Primêre bronne wat die jongste inligting bevat, word nie gemeld nie. Die derde paragraaf is in sy geheel 'n vertaling van 'n sekondêre bron (Bylaag 2 en Bylaag 4) wat deur Chris Hand in 1998 geskryf is. Die laaste paragraaf bevat 2 sinne met die volgende strekking wat die kommissie se opinie verteenwoordig: die manifestasies van die Heilige Gees waarop Alpha sou klem lê, klop nie met die Heilige Skrif nie. Die ander sinne is 'n vertaling van Hand se stellings. Ons wys terloops daarop dat ten spyte van veelvuldige en uitgebreide vertaling van groot dele van die kritiek van Chris Hand, dui die kommissie nêrens aan dat dié aanhalings kom uit Hand se werk nie, of selfs dat dit aanhalings is, en nie die selfstandige werk van die kommissie nie. Dit is kommerwekkend dat die kommissie vir groot dele van sy bevindings en bewerings steun op 'n sekondêre bron, sonder dat die bron aangehaal is, en sonder enige aanduiding van die betroubaarheid van Hand se navorsing. Wat weergegee word as die resultaat van die kommissie se ondersoek en navorsing, is eintlik maar net 'n direkte vertaling van Hand se werk. Die gevare verbonde aan so 'n werkswyse is ooglopend en veelvuldig. 2.3 Die derde afdeling bevat die teologiese beoordeling. Die inleidende paragraaf lewer kommentaar oor die indeling van die kursus, Dit is dieselfde vertrekpunt wat Fitton (1998) gebruik in sy beoordeling van die Alpha kursus. Die teologiese beoordeling het dieselfde onderafdelings as Hand se artikel en bestaan grotendeels uit 'n vertaling van sy bevindings (74% van die verslag is volgens ons telling 'n direkte vertaling van Hand se artikel). Die persentasies is soos volg: Punt 3.1 49% (Bylaag 3.1) Punt 3.2 70% (Bylaag 3.2) Punt 3.3 83% (Bylaag 3.3) Punt 3.4 88% (Bylaag 3.4) Punt 3.5 63% (Bylaag 3.5) Punt 3.6 90% (Bylaag 3.6) Die appèlkommissie is welkom om bogenoemde bylae na 'n onafhanklike paneel van vertalers te verwys indien hulle sou oordeel dat die geldigheid daarvan getoets moet word. Ons meen dat dit slegs nodig is om aan te dui dat 'n wesenlike deel van die beoordeling en gevolgtrekking uit 'n sekondêre bron vertaal is. Die Universiteit van die OVS se regulasies met betrekking tot die integriteit van navorsing kan ook in hierdie verband in aanmerking geneem word. 2.4 Die vierde afdeling handel baie oorsigtelik met die praktiese aanbieding van Alpha. Die feitelike basis van die gevolgtrekkings word nie vermeld nie. Die afdeling het die volgende strekking: Daar is persone wat Alpha op 'n gereformeerde manier aanbied. Daar is persone wat Alpha op 'n onbybelse manier aanbied. Lidmate kan nie altyd tussen die twee maniere onderskei nie. Daarom word Alpha met die onbybelse manier geassosieer. Daarby is daar getuienis van proselietmakery en geestelike hoogmoed. 2.5 Die vyfde afdeling bevat die kommissie se gevolgtrekking. Die grootste deel daarvan (67% - sien Bylaag 5) is weereens 'n vertaling van Hand se bevindings. Die kommissie het die volgende konklusies by dié van Hand gevoeg: Die gewildheid van Alpha dui op 'n behoefte. Alpha bied die Evangelie in afgewaterde vorm aan. Die kursus reduseer die Evangelie tot 'n christelike lewenswyse met 'n gepaardgaande klem op die buitengewone werking van die Heilige Gees. Alpha se soort vroomheid is nie 'n Bybelse vroomheid is nie.
Hoewel die inhoud van die tweede en derde konklusies ook in Hand se artikel voorkom, vertolk die kommissie dit op so 'n wyse in hul eie woorde dat dit nie as 'n vertaling klassifiseer nie. 3. Volgens ons berekenings bestaan 72% van van die inhoud van afdelings 2, 3 en 5 uit 'n woordelikse vertaling van twee sekondêre bronne. 4. Die kommissie het die volgende stellings in 'n verklaring oor hul metodologie aan die pers gemaak: "Die kursusmateriaal is sistematies deurgewerk, primêre bronne is geraadpleeg en ’n teologiese beoordeling het gevolg. Die integriteit van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake staan bo alle verdenking." Die kommissie meld nie dat sekondêre bronne breedvoerig bygewerk en meesal direk vertaal hul weg in die verslag gevind het nie. Dis 'n baie kommerwekkende verswyging, veral nadat die kommissie se werkswyse pertinent bevraagteken is. Die kommissie se versuim om enigsins te verwys na veral Hand se oorweldigende bydrae (en ons vermoed Hand se toestemming is nie vooraf verkry nie), vereis 'n verduideliking. Indien die kommissie wel die primêre bronne sistematies deurgewerk het: 4.1 Waarom het die kommissie in hul uiteensetting van die totstandkoming, die teologiese beoordeling en die gevolgtrekking met betrekking tot 72 % van die inhoud bloot die sekondêre bronne vertaal? Waarom is daar so min oorspronklike beoordeling? 4.2 Indien die kommissie toevallig tot dieselfde konklusie as die sekondêre bronne gekom het en daarom daarby volstaan het, hoe verklaar hulle die teenstrydighede met die primêre skriftelike bronne wat in Bylaag 3 aangedui word? 4.3 Waarom is die bronne nie erken nie? 5. Die kommissie maak sekere stellings oor die praktiese aanbieding van die kursus wat verdoemend en tot nadeel van die Alpha kursus is. Dit veronderstel dat daar ook empiriese navorsing gedoen is. Tydens telefoniese onderhoude wat met lede van die kommissie op 25 September 2003 gevoer is (Bylaag 1), het die volgende gegewens aan die lig gekom: 5.1 Nie een van die kommissielede het die Alpha kursus bygewoon nie. Dit skakel noodwendig die erkende geesteswetenskaplike navorsingsmetodologieë uit (kwalitatiewe navorsingsmetodes, kwantitatiewe navorsingsmetodes of deelnemende waarneming). 5.1.1 Die metodologiese dimensie van wetenskaplike navorsing verwys veral na die hoe van navorsing, dit wil sê hoe wetenskaplike navorsing beplan, gestruktureer en uitgevoer moet word om aan die eise van wetenskaplikheid te beantwoord (Mouton en Marais 1985:16). Dit behels sake soos die verskillende aspekte van die navorsingsproses (modelle, teorieë, probleemstellings en hipoteses), die metodes en tegnieke van data-insameling, en die wyse waarop die data geïnterpreteer moet word. 5.1.2 Daar bestaan 'n nou verband tussen die wetenskapbeeld en die uiteindelike metodologiese model wat 'n navorser verkies. So byvoorbeeld sal diegene wat by die logiese positivisme aanklank vind veral kwantitatiewe navorsingsmetodes benut, terwyl diegene wat tot die fenomenologie of ander interpretatiewe tradisies aangetrokke voel eerder kwalitatiewe navorsingsmetodes sal verkies. Kwantitatiewe metodes stem in baie opsigte met die metodologiese modelle van die natuurwetenskappe ooreen, en sluit gewoonlik eksperimentele-, kwasi-eksperimentele en opnamestudies in (die statistiese ontleding van gestruktureerde vraelyste is seker die bekendste voorbeeld). Die navorsingsdoelstelling van die kwantitatiewe metodes is om bepaalde verskynsels te beskryf en te verklaar ten einde universele stellings te formuleer. Kwalitatiewe metodes daarenteen sluit ongestruktureerde onderhoudvoeringstegnieke, deelnemende waarneming, lewensgeskiedenisse, ensovoorts in. Die doel van hierdie metodes is om 'n bepaalde verskynsel so goed as moontlik te verstaan eerder as om dit in universele verband te bestudeer. 5.1.3 Tot en met die sewentigerjare het die kwantitatiewe en die kwalitatiewe paradigmas die metodologie van die geesteswetenskappe oorheers. Gedurende die afgelope twee dekades het 'n derde paradigma na vore gekom. Dit het volgens Peter Reason en John Rowan (1981:xi) hoofsaaklik uit die samesprekings van die New Paradigm Research Group voortgevloei ‑‑ 'n groep wat vir die eerste keer in 1977 in London kragte saamgesnoer het. Mouton noem nog twee ander stimuli wat 'n wesenlike bydrae tot die ontstaan van die nuwe paradigma gelewer het: 'n studie van Gareth Morgan (1982) en die sogenaamde participatory research approach (PRA). Laasgenoemde is uit die besondere navorsingsproblematiek waarmee geesteswetenskaplikes in die Derde Wêreld te doen kry, gebore. 5.1.4 Mouton (1986a:15) onderskei die volgende aspek as een van die sentrale idees ten opsigte van die nuwe paradigma: Daar is 'n bewuste poging om die magsverhouding tussen die navorser en die nagevorsde sover moontlik gelyk te stel. Hulle word met ander woorde in 'n sekere sin vennote in die navorsingsproses. Ons sou ook die volgende aksent hierby kon voeg: die beklemtoning van deelnemende betrokkenheid, van ontmoeting en dialektiese dialoog (Nel 1988: 226-228). 5.2 Slegs drie van die lede het aangedui dat hulle (die geheel of slegs dele) van die kursusmateriaal bestudeer het. Die ander kommissielede het hul dus verlaat op die integriteit van die navorsing van die drie lede. 5.3 Nie een van die kommissielede het die waarnemings en bevindings van die verslag met verteenwoordigers van die Alpha kursus getoets nie. Die "audi alteram partem" reël wat in beide die regspraak sowel as in die geval van empiriese navorsing oor sosiale entiteite noodsaaklik is (dit is gewoon gesonde navorsingsetiek), is nie nagekom nie. 'n Geesteswetenskaplike behoort nie teorieë of standpunte oor persone of organisasies soos Alpha te formuleer sonder om eers met hulle in gesprek te tree nie. 6. Ons inhoudelike analise (Bylaag 3) het die volgende tekortkominge in die verslag aan die lig gebring: 6.1 Daar bestaan by elke punt teenstrydighede tussen die kommissie se bevindings en die primêre skriftelike bronne. 6.2 Baie van die bevindings wat die kommissie in hul beoordeling maak, sê die teenoorgestelde as die aanhalings uit die primêre bronne. 6.2 Die volgende akademici het tot ander gevolgtrekkings as Hand, Fitton en die kommissie gekom: Alistair Mcgrath (Wycliffe Hall, Oxford and Regent College, Vancouver). "The Alpha Course has now become one of the most reliable and important means of drawing people into the church. It has enormous potential." Gordon D. Fee (Professor of New Testament and Dean of Faculty, Regent College, Vancouver, Canada). "At the heart of the gospel is both evangelism and discipleship. Alpha courses are designed to do both effectively. We have used the program in our local church with good success. I am glad to commend it." I. Howard Marshall (Professor of New Testament Exegesis, University of Aberdeen). "I believe that Alpha may well be God's instrument for Salvation for many in this generation, just as Billy Graham was for so many in the previous one." Wayne Grudem Phd (Professor of Biblical and Systematic Theology, Trinity International University, Deerfield, Illinois). "I highly recommend the Alpha course to everyone interested in discovering how the Christian faith can be exciting and life-changing in the modem world. The course is biblically sound, understandable, and practical. It will have a significant impact on people's lives and it will strengthen every church in which it is held." J. I. Packer (Professor of Theology, Regent College, Vancouver). "The Alpha course is a most engaging way of passing on the basics of Christianity. It is a tool for evangelism and nurture that I highly recommend." Dr. Tony Campolo (Professor of Sociology at Eastern College, Pennsylvania and Founder of the Evangelical Association for the Promotion of Education). "The Alpha course is intelligent, biblically based, and incredibly interesting." (http://alphacourse.org/mediaroom/endorsements/academics/default.htm) 7. Die verslag bevat verreikende stellings soos die volgende, wat hoogs aanvegbaar is: "Wie dit ook al mag wees aan wie die kursusgangers tydens die Alpha-Naweek 'voorgestel' word, is dit sonder twyfel nié die Heilige Gees nie, nié die Gees van Christus nie, nié die Gees van die Woord nie. Wie hierdie misterieuse onsigbare gas ook al mag wees, hy is te vergelyk met die ekstatiese samekomste wat die vermeende 'eindtyd profete' propageer." (ons beklemtoning) Hierdie afleiding verstom ons. Die kommissie het nie 'n "Alpha-naweek" bygewoon nie. Nogtans verklaar hulle in absolute taal dat 'n belewenis wat vir baie kinders van die Here wêreldwyd 'n keerpunt was en wat hulle daarom as "heilig" beskou, vals is. Die kommissie maak die stelling dat dit "sonder twyfel nié die Heilige Gees nie, nié die Gees van Christus nie, nié die Gees van die Woord nie" wat hierdie mense ontmoet het. Hulle gaan voort om na Hom as "hierdie misterieuse onsigbare gas" te verwys. Dit is na ons mening skokkend, onsensitief, en onverskoonbaar. Hoe kan 'n kommissie wat oënskynlik nie 'n behoorlike ondersoek gedoen het nie, so 'n uitspraak lewer? Ons wil die kommissie maan tot ootmoed: hierdie uitspraak gaan oor die Persoon van die Heilige Gees en nie oor 'n dogma nie. Geen teoloog, kerklike kommissie of sinode kan tog namens Hom besluit hoe Hy 'n bepaalde geloofsgemeenskap of persoon mag besoek of nie mag besoek nie. Ons weet nie alles van Hom nie. Laat ons Hom dan nie bedroef nie. 8. Die Alpha kursus word benadeel deur die verslag. Die talle oproepe wat ons vanoor die land ontvang het, bevestig dit. 9. Die verslag is 'n ernstige ekumeniese verleentheid vir die NG Kerk. In talle gebiede word die kursus deur verskillende denominasies saam aangebied. Lidmate van ander kerke wat van die verslag en sy inhoud verneem het, wil weet hoe die "Vrystaatse Sinode" tot daardie bevindings gekom het. Dit klop nie met hul ervaring nie. 10. Die nasionale kantoor van Alpha SA het met ons ooreengekom dat ons eers binne NG Kerk geledere probeer om die situasie op te los. 11. Die Ring van Wynberg het op sy vergadering van 14 Oktober 2003 hom vereenselwig met hierdie aksie van ons kerkraad. 12. Ons verstaan dat die Sinode van die NG Kerk in die OVS van die betrokke verslag kennis geneem het. Omdat die verslag deur die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake goedgekeur is en in die agenda gepubliseer is as 'n opdrag van die moderamen wat uitgevoer is en waarop hulle reageer het, word dit vertolk as die standpunt van die Vrystaatse Sinode oor die Alpha kursus. Die Moderamen het in hierdie verband soos volg aan die sinode verslag gedoen (B1-12 Verslag van die Moderamen): 54. STANDPUNT VAN DIE NGK-OVS IVM DIE "ALPHA-KURSUS" Op grond van die studie van SKLAS op versoek van die Moderamen, het die Moderamen lidmate en kerkrade ernstig gewaarsku teen die gebruik van die Alpha-kursus en die verwarring wat dit oor die Persoon en werk van die Heilige Gees skep. Die Moderamen oorweeg weë om dringend 'n alternatiewe eietydse kursus vir die NG Kerk daar te stel, en het hierdie ondersoek na die Sinodale Kommissie vir Gemeentebediening in oorleg met die departemente Dogmatologie en Praktiese Teologie aan die Teologiese Fakulteit, UV, verwys. Aangesien die Sinode ook van hierdie handeling kennis geneem het en dus nie goedgekeur het nie, rig ons hierdie beswaar aan die skriba van die NG Kerk in die OVS met die versoek dat die appèlkommissie die saak sal hanteer. 13. Indien die appèlkommissie na die kommissie se reaksie op die appèlgronde tot die gevolgtrekking sou kom dat ons appèl meriete het, versoek ons die Moderamen van die Sinode van die NG Kerk in die OVS om die nodige stappe te neem om die saak reg te stel. Die uwe
Dr. D.T. Nel: Voorsitter van die Uitvoerende Bestuur
Bronnelys: Fitton, Paul 1998. The Alpha Course: Is It Bible-Based Or Hell-Inspired? http://www.ianpaisley.org/article.asp?ArtKey=alpha1 Hand, Chris 1998. The Alpha Course. http://www.banner.org.uk/misc/alpha.html. Oorspronklik gepubliseer in The Christian Research Network Journal, Spring 1998. Morgan, G (ed.) 1983. Beyond method. Strategies for social research. Beverley Hills: Sage Publications. Mouton, J & Marais, H C 1985. Metodologie van die geesteswetenskappe: basiese begrippe. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Mouton, J 1986. Deelnemende sosiaalwetenskaplike navorsing: 'n Nuwe paradigma? Referaat gelewer by die negentiende jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Sosiologievereniging op 15 Januarie 1986. Nel, D.T. 1988. Kritiese hermeneutiek as model vir Sendingwetenskaplike navorsing. Pretoria: Universiteit van Suid Afrika. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Reason, P & Rowan, J (eds.) 1981. Human inquiry: A sourcebook of new paradigm research. New York: Wiley & Sons. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|