NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Gemeentenuus

 

Tuisblad
Terug
Kwartaal 1 2007
Kwartaal 2 2006
Kwartaal 3 2006
Wynveiling 2006
Jeugnuus
Jeug-sel Alpha
Alphanuus
Sendingberigte
Nuusbrokkies
Basaar 2006

 

Kerkherlewing in Wynberg nou 'n werklikheid!

Wat ‘n droom was het nou ‘n werklikheid begin word!  ‘n Droom van ‘n kerk waarheen almal uitsien om te gaan en waar jy die Here kan dien met vrymoedigheid; of jy van ‘n klassieke styl hou of ‘n informele atmosfeer.  ‘n Plek waar ook die jeug tuis voel om te aanbid in ‘n vorm en  taal waarby hulle aanklank vind. ‘n Familiekerk wat die gemeenskap dien en ‘n groot familie Christene wat verenig! 

2006 was ‘n jaar van omwenteling in Wynberg. Dit was ‘n jaar waar probleme bespreek, voorstelle gemaak  en baie gebid was. Die slotsom was: kerkherlewing het al reeds begin plaasvind en is besig om baie vinnig momentum te kry! Hierdie momentum het in beide gemeentes van die NG Kerk en VGK begin posvat. Dit is dieselfde herlewing wat oor die hele Suid-Afrika aan die gebeur is en wat nou ook in Wynberg opvlam. 

Wat het tot nou toe in Wynberg gebeur? Addisionele lofprysingsdienste het groot belangstelling gelok. Die grootste verrassing was dat Wynberg sy eie lofprysings orkes gestig het! Dit in slegs drie weke! Die eerste keer wat hierdie orkes opgetree het in Desember was nie net ‘n groot sukses nie, maar ook ‘n baie spesiale geleentheid.  Die orkes gaan in 2007 nog baie optree. Nuwe moderne lofprysingsliedjies in Afrikaans en Engels is veral onder die jeug baie gewild.  

Die twee kerkrade van die NG Kerk en VGK het ook besluit om van nou af al die kerkraadsvergaderings gesamentlik te hou. Daar  is ook besluit om die ’40 days of Purpose’ kursus gesamentlik te hou.

Wat is die ’40 days of Purpose’ of ’40 dae van Doelgerigtheid’ kursus? Dit is ‘n kursus om kerkherlewing te bevorder. ‘n Kursus wat oor die hele wêreld al baie sukses behaal het om gemeentes  te laat blom en positief te laat groei. Die kursus help jou ook om jou verhouding met die Here te verbeter. Dit bevorder kleingroep aktiwiteite en leer ons hoe om selgroepe te vorm. Laastens word die hele kerk en gemeente betrek om nuwe lewe in al ons aktiwiteite te blaas! Een van die produkte is ‘n georganiseerde en lewendige jeug wat ons jonges gaan laat kook!

Die ’40-dae’ afskop is op die 6de Mei. Tot dan is daar ‘n span wat julle in detail week vir week sal inlig en voorberei vir hierdie kursus. Teen die afskop SAL almal presies weet wat gaan gebeur, wat van hom/haar verwag word en hoe hulle kan deelneem. Almal SAL baat vind en SAL ‘n beter verhouding met die Here hê na hierdie kursus. Dit is ‘n waarborg!

So, hou dop, skakel in en help bou aan ‘n Wynberg kerk soos niemand dit nog ooit geken het nie!

Ons kan net met dankbaarheid terugkyk en aanhou bid dat hierdie sterk stroom van vernuwing in Wynberg net nog sterker  word. Aan ons getroue Herder kom alle Eer toe!

Willie Koen

Paasuitreike bring seën   

Na die suksesvolle Kers-partytjie vir 400 behoeftige kinders in November 2005, het die gesamentlike Omgeekom-missie van die NG en   VG gemeentes van Wynberg besluit om die tempo van hul uitreik-aksies te verhoog.

Die afgelope paastyd is twee aksies geloods om ‘n bietjie lig in ‘n andersins donker lewe te bring. Die eerste geleentheid was op Maandag 3 April toe ‘n totaal van 200 behoeftige laerskool kinders getrakteer is op ‘n besoek aan die Cavendish winkelsentrum. Die besoek het ingesluit ‘n vertoning deur die Zip Zap sirkusgroep, gevolg deur ‘n heerlike Wimpy-ete. Terug by die skool het ons ‘n ete saam met die personeel geniet om te bepaal hoe ons hulle verder kan ondersteun.

Op Dinsdag 11 April het ons ‘n besoek aan drie verdienstelike organisasies in die Wynberg omgewing gebring om die boodskap van paasfees oor te dra. Die eerste besoek was die Tenterdon plek van veiligheid waar die boodskap opgevolg is met die uitdeel van lekkergoedpakkies.

Die tweede besoek daardie dag was by die Oase huis vir intellektueel-gestremdes  in Kenwyn waar paasbolletjies en lekkergoedpakkies oorhandig is.

Daarna was ons na Bonnytown, plek van veiligheid (vir jeugmidadigers) waar die boodskap ook opgevolg is met die gee van paasbolletjies en lekkergoedpakkies.

‘n Emosionele oomblik tydens die laaste besoek was toe drie van die Bonnytownseuns aan die einde van die paasboodskap hul harte aan die Here gegee het.   Hierdie hoogtepunt van ons besoek gee dan ook substansie aan ons doelwit om lig te bring in die lewe van die wat minder bevoorreg is as onsself – eerstens, geestelike lig in die vorm van Gods woord en tweedens lig in die vorm van positiewe lewenservarings.

Die volgende groot projek van die Omgeekommissie is om gedurende November ‘n kerspartytjie te gee vir 1000 behoeftige kinders. Ons vertrou dat die kersboodskap deur ons omgee versterk sal word

Dit is voorts ons visie om die groter Wynberg gemeenskap (ander kerke, organisasies en besighede) sodanig te mobiliseer om ‘n effektiewe uitreik-aksie in die groter Wynberg omgewing te vestig.

U gebede, donasies, vrywillige hulp en idees word altyd waardeer. Kontak ons deur die kerkkantoor.   Onthou – ons gee om!       Anton Botha

Kliek op die foto vir 'n groter weergawe

 

Vir meer inligting kontak:

Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Durbanweg, Wynberg 7800
Tel: 021 7978340
FAX: 088 021 7971909
Internet: ngkwyn@iafrica.com

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10