NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Getuienisse

 

Tuisblad
Terug

 

Getuienis vanuit die VGK:

Mervyn Williams

My verwagting was groot toe ek deel was van ‘n afvaardiging van die Sendingkerk se kerkraad om sy eweknie van die Moedergemeente in die pastorie in Mortimerweg te ontmoet.  In die moeilike tagtigerjare toe ons verder van mekaar vervreemd geraak het, was dit juis die kerk wat toenadering gesoek het.  Groot was my teleurstelling toe ons kerkraad verplig was om die samesprekinge op te sê omdat ons broers op die bult troubreuk gepleeg het.

Tog was daar by my ‘n diepe verlange en begeerte om te gaan aanbid waar my voorouers aanbid het.  Kom die negentiger jare, is my hoop nie beskaam nie toe samesprekinge voortgesit kon word.  Hiervoor is ek die Here innig dankbaar.  Dat ons op die pad van versoening, transformasie en vereniging so ver kon vorder, is die werk van die Heilige Gees.  Dit bewys weereens: as God werk, kan niemand keer nie.  ‘n Mens kon die teenwoordigheid van God aanvoel met ons eerste gesamentlike Pinksterdiens.  Dit was van betekenis dat ons byna elke aand kon sing:  “Waar daar deernis  en liefde is, daar is die Here.” 

Met die eerste gesamentlike nagmaal was dit vir my ‘n belewenis om saam met kerkraadslede van die NG Kerk vir die seën op die diens in die konsistorie te kon bid.  Om hierdie maal saam met my broers en susters in die Here kon vier (dit wat ons juis voor 1881 van mekaar gedryf en vervreem het), was nou ‘n maal wat ons weer opnuut saam kon bind.  Daardie eenheid wat God in Sy kerk wil hê is besig om gestalte te vind in die twee gemeentes. Elke verdere geleentheid waar ons gemeentes saam aanbid, is vir my asof ons tree vir tree nader beweeg tot wat God wil hê ons moet wees.

Ons ken mekaar nou beter. Daar is ‘n glimlag op mekaar se gesigte wanneer ons mekaar groet.  En hiervoor ek ek die Here innig dankbaar, en bid ek, ons wyk,  ja ons gemeente, dat daar slegs een kriterium sal geld wanneer ons saam aanbid, en dit is:  “DAT ONS AS SY KINDERS VERGADER IN SY NAAM.”  Ons moet onthou dat God in Sy liefde en alwetenheid ‘n raadsplan vir ons gemeentes geformuleer het.  Hy het ‘n roeping en ‘n DOEL om God se Koninkryk in Wynberg te kom vestig.  En hiervoor moet ons leraars, kerkraad en gemeentelede gedurig op ons knieë bly om sy wil en nie ons wil nie vir die gemeentes af te smeek. 

Miskien moet ons ‘n aand inruim waar ons saam kan bid vir die toekoms van die twee gemeentes om groter eenheid te bewerkstellig.  Daar lê nog harde werk voor, maar ons bid die Here van die oes, om gesindhede te verander, en manne en vroue bereid te maak vir sy diens.

Ons moet in die toekoms probeer om groter samewerking op die vlak van ons diensorganisasies te verkry.  Daar is baie wat ons van mekaar kan leer.  Op hierdie manier sal daar groter blootstelling van gemeentelede aan mekaar wees.  Tot dusver was die mees betekenisvolle skakeling tussen die leraars en die kerkraadslede.  Die meule van God draai stadig maar gewis.  Ek sien uit na verdere samewerking en skakeling tussen die twee gemeentes, maar ook met ander gemeentes in die Wynberg area. 

 

Maar daar is ook probleme:

Getuienis van ’n lidmaat van die VGK

There appears to be a strong view within our own congregation that we should move forward and interact with the NGK looking forward and not deal with the historical issues.  However, the current context in which we find ourselves reflects inequalities in for example, material recources, which is as a direct result of the social engineering in which the NGK played a fundamental role.

We are in a unique situation of drawing members from a diverse community of people as two congregations.  We need to value this diversity and not ignore it, that of white and black, rich and poor, farmworkers and domestic workers.  If we fail to build programmes around this diversity a future combined church could find certain people alienated or a congregation dominated by intellectuals or affluent or elloquent.

I am pessimistic of an ideal situation being achieved between the two congregations as Wynberg (VGK) generally reflects a middleclass conservative viewpoint.  I fear that many of our people would be prepared to join up with the white church on their (NGK) terms.

  

Getuienis vanuit die NGK:

Piet van Zyl

Ek was bevoorreg om van die begin af betrokke te wees by die besprekings met die NGSK (later VGK) Wynberg –gemeente oor nadere samewerking met die oog op die moontlike samesmelting van die twee Wynberg gemeentes en die breër implikasies van hierdie stap.

Met die wete van die kerkrade van beide gemeentes het Danie Nel en Russel Botman die gesprek aan die gang gesit, maar by ons almal was daar seker ‘n bietjie twyfel of die kerkrade werklik die inisiatief gesteun het.  Dit was in goeie geloof, maar met ‘n groot mate van voorbehoud dat ek na die eerste gesamentlike kerkraadsvergadering gegaan het.  Hoe gaan ek my persoonlike skuldgevoel oor die gebeure van die verlede behartig?  Watter belydenis kan ek doen ten opsigte van die NGK en Wynberg gemeente se bydrae tot die geskiedenis?  Is ek en Wynberg gemeente werklik gereed om aan hierdie gesprek deel te neem? Is ons in ‘n doodloopstraat wat net die sweer sal oopkrap sonder om die resep vir genesing te vind?  Alles rede tot  twyfel.  Ongeag egter wat in ons almal se binneste geskuil het, het die Heilige Gees ons daardie aand gelei tot ‘n positiewe benadering.  Alle griewe en hartseer is miskien nie op die tafel gelê nie, maar ek dink in elkeen se hart was daar die wens dat ons werklik mekaar sal omhels as kinders van een lewende God.

Dit was te verstane dat na jare van verwydering die verlede nie eenklaps van die tafel geveeg kan word nie, maar ons was op die pad vorentoe.  Twee geleenthede wat my diep getref het is vandag nog helder in my geheue.  Die eerste is toe Russel Botma ‘n preek vanaf ons preekstoel gelewer het met Jes 49 v 8-16 as sy teks.  Die kern van sy kort, maar kragtige boodskap was dat ons almal kinders van die Here is en dat Hy ons  nooit sal verlaat of vergeet nie.  Die bedanking in die konsistorie deur een van die meer konserwatiewe ouderlinge van die gemeente was ook net so treffend.

Die ander is die eerste gesamentlike Nagmaal.  Verskeie kere is ‘n gesamentlike Nagmaal uitgestel omdat daar ‘n gevoel was dat albei gemeentes nog nie gereed was daarvoor nie.  Eintlik het die geseënde dag aangebreek en die lidmate van beide gemeentes het in groot getalle bymekaar gekom in die naam van die Here.  Daardie dag was ek diep bewoë en kon ek die Here loof en prys vir sy liefde en leiding in hierdie saak.  Ek moet ook krediet gee aan Russel, Danie en James vir die manier waarop hulle, hul gemeentes gelei het deur ‘n moeilike tyd en die voorbeelde wat hulle gestel het.

Ek het uit Wynberg gemeente verhuis, maar ek hoop om daar te wees wanneer die drome van 1980’s en 1990’s voldonge feite word en dat dit wat die gemeentes nog skei uit die weg geruim is en die mensgemaakte skeure toegemessel is en een trotse verenigde gemeente van God in Wynberg sy vaandel sal wys.  Prys die Here.    

 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12