|
|
|
|
Inligtingsbrief oor eenheidsproses van die Wynberg gemeentes. Liewe lidmaat Ek bring goeie nuus! Die geloofstap wat ons gemeentes en kerkrade geneem het om ’n ooreenkoms vir ons gesamentlike toekoms op te stel, is besig om landwyd byval by kerkleiers en teoloë te vind, selfs uit oorde waar ons dit nie verwag het nie. Ons het ’n versigtige tree gegee op ’n pad waar ander gemeentes in die NG Kerk familie dit nog nie gewaag het nie – en in broosheid. 1. Die afgelope maande het ons verskeie gemeentekonferensies oor die eenheidsproses tussen die Wynberg gemeentes gehou. Die lidmate wat teenwoordig was, het aangedui dat dit hulle wens is dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring: Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm. · Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk. · Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly. · Ons beskou die vestiging van die herenigde gemeente as die uitvoering van besluite wat reeds deur die onderskeie kerkverbande ten gunste van eenheid geneem is. 2. Die Kerkraad van Wynberg het die gesamentlike moderatuursvergadering van die NGK en VGK versoek “... om ons te help om die struktuur en proses te ondersoek wat aan ons voorneme gestalte kan gee en om saam met ons die nodige kerkregtelike ruimte te skep deur byvoorbeeld vir ’n geassosieerde saam op weg kerkverband voorsiening te maak.” Die moderature het die versoek na die gesamentlike vergadering van die twee sinodes se regskommissies verwys en gesamentlike kerkraad van Wynberg genooi om met hulle in gesprek te tree en te help met voorstelle. 3. Ons voorstel is geskoei op ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer gemeentes van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelisch-Lutherse Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden verenig. Hiervolgens word ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm waarin daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Alles word saam bestuur. Die gemeentes kan net nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle nog twee aparte regspersone moet bly totdat die sinodes verenig. Ons kan die model vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. 4. Hierdie voorstel is aan die regskommissies van die onderskeie sinodes voorgelê wat op 6 Augustus 2008 vir die eerste keer in die geskiedenis saam vergader het. Hulle reken dat die bestaande reglemente (ek verstaan die NGK en die VGK het dieselfde reglement goedgekeur) “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik” en versoek dat die ooreenkoms met die reglemente as riglyn opgestel word. Dit is baie goeie nuus: dit impliseer dat ons nie hoef te wag totdat die sinodes dit moontlik maak nie – ons kan, so gou as wat ons lidmate en die ringe dit goedkeur, die Gesamentlike Gemeente van Wynberg vorm! 5. Die konsepooreenkoms wat voor die regskommissies gedien het, is in ooreenstemming met Reglement 6 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika verwerk. Dit is deur twee prokureurs afsonderlik oorweeg en gunstig beoordeel. Die ooreenkoms is op 31 Augustus 2008 deur ’n gemeentekonferensie bespreek. Die konsulent was teenwoordig. Die lidmate wat teenwoordig was, het aangedui dat die kerkrade met die ooreenkoms kan voortgaan. Die gesamentlike kerkraad het op 2 September 2008 die ooreenkoms eenparig goedgekeur en besluit dat ooreenkoms na die ringe vir oorweging en goedkeuring gestuur word. Die konsulent was teenwoordig. Die kerkrade het hul besluite aan die einde van die vergadering afsonderlik bekragtig. 6. ’n Honderd afskrifte van die volledige ooreenkoms was vir insae gedurende Septembermaand by die deure van elke kerkgebou geplaas. Die Ring van Wynberg van die NG Kerk het die ooreenkoms eenparig op 15 September 2008 goedgekeur. Die Ring van Wynberg van die VG Kerk het aangedui dat hulle meer tyd nodig het om die ooreenkoms te oorweeg. Sou die Ring moontlik enige wysigings aanbeveel, sal die gesamentlike kerkraad ’n buitengewone vergadering belê om die wysigings te bespreek. Die finale ooreenkoms sal dan onder elke lidmaat se aandag gebring word alvorens dit weer by ’n gemeentevergadering behandel sal word. Daarna sal die ooreenkoms deur die kerkrade onderteken word. 7. ’n Konferensie oor noue samewerking en eenheidsmodelle tussen gemeentes van die NG Kerk en die VG Kerk, word op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg aangebied. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, gaan twee beproefde modelle bespreek wat in die Protestantse Kerk in Nederland gebruik word. Hy was nou betrokke by die verenigingsproses tussen die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerk en die Lutherse Kerk in Nederland en het dikwels leiding geneem oor hoe die proses plaaslike gemeentes geraak het. Wynberg se model om ’n gesamentlike gemeente te vorm, gaan ook bespreek word. 8. Die konferensie word deur die gemeente van Wynberg in samewerking met Communitas aangebied. Dit begin om 11:00 en duur tot 16:00. Registrasie geskied vanaf 10:30. Belangstellendes kan voor 3 November by die Kerkkantoor van Wynberg (021-797-8340 ngkwyn@iafrica.com ) of by Divine Robertson van Communitas (021-808-3265 dr@sun.ac.za ) inskryf. Lidmate, kerkraadslede, predikante en kerkleiers is welkom om dit by te woon. Belangstellendes kan Dr. Danie Nel by 021-797-7115 of Dr. Frederick Marais by 021-808-3265 skakel vir meer besonderhede. Met seënwense Dr. Danie Nel Voorsitter van die Gesamentlike Kerkraad. 19 Oktober 2008
Artikels van die Ooreenkoms Artikel 1. Die naam van die samewerkingsverband is: “Die gesamentlike gemeente te Wynberg.” Indien die samewerkingsverband amptelik aangedui moet word, word aan die naam toegevoeg: “ … waarin saamwerk die Nederduitse Gereformeerde Gemeente te Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Gemeente in Suid-Afrika te Wynberg.” Artikel 2. Die kombinasie het betrekking op al die werksaamhede van die gemeentes. Artikel 3. Die kerkrade het ‘n gesamentlike reëling getref vir - die verkiesing van ampsdraers, - samestelling, arbeidsveld en werkswyse van die gesamentlike kerkraad en - die versorging van die totale vermoënsregtelike aangeleenthede. Hierdie reëlings is opgeneem in die aangehegte “Gesamentlike reëling ten opsigte van die werksaamhede van die gesamentlike gemeente te Wynberg”. Artikel 4. Die kerkrade kombineer in een gesamentlike kerkraad, waarby die bevoegdhede van die betrokke kerkrade gesamentlik uitgeoefen word. Artikel 5. Die gesamentlike gemeente te Wynberg erken die belydenisgrondslag van sowel die Nederduitse Gereformeerde Kerk as die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Die gemeente staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die gemeente in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Belydenis van Belhar. Artikel 6. Die ooreenkoms is aangegaan vir ‘n onbepaalde tyd totdat die gemeentes verenig of die ooreenkoms beëindig word. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|