NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Kerkeenheid

 

Tuisblad
Terug

 

+

Text Box: +

Wynberg gevra om te help met eenheid

Die volle algemene sinodale kommissie van die VGK en ‘n uitgebreide moderamen van die NG Kerk het op 22 Junie 2006 verskeie belangrike stappe uitge-stippel wat hulle in hul strewe na eenwording gaan nastreef. Die kerke wil gekombineerde of verenigende bedienings op plaaslike vlak vorm waar gemeentes gewillig en gereed is daarvoor. Hulle wil ook voorlopige eenheidstrukture instel tussen gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is daarvoor. Hulle wil voorts gesamentlike projekte aanpak om armoede te bestry, mense met siektes soos MIV/vigs te ondersteun, die morele waardes van die Bybel te vestig, geregtigheid vir almal te bevorder, versoening (wat meer is as verdraagsaamheid) te bereik en alle vorme van geweld in die samelewing teen te staan. Verder beplan die kerke om geleenthede te skep waar hul lidmate mekaar beter kan leer ken, na mekaar se vrese en drome kan luister, hul verskille kan bespreek en vooroordele kan oorkom. Hulle wil ook ’n proses uitwerk waardeur gemeentes en lidmate ingelig kan word oor die eenheidsproses en al sy implikasies en waarin hulle daarop kan reageer. Die leiers het hulle daartoe verbind om gereeld te ontmoet, sover moontlik saam besluite te neem en saam op te tree. Hulle wil binne 3 jaar kerkeenheid hê.  

Dié deurbraak in die eenheidsgesprekke wat die afgelope paar jaar min vordering getoon het, rus op ‘n toegewing deur die VGK dat die Belydenis van Belhar nie langer as voorwaarde vir eenheid beskou word nie en ‘n nuwe gesindheid onder die kerke se leiers. Dr Coenie Burger, moderator van die NG Kerk het aan die VGK gesê dat die NG Kerk jammer is oor alles wat mense aangedoen is deur die kerk se steun vir apartheid. Dr Allan Boesak, assessor van die VGK, het daarop ook verskoning gevra vir ‘dinge wat in die loop van die vryheidstryd gesê en gedoen is wat mense kon seermaak’. Ook prof Thias Kgatla, mo-

derator van die VGK, het om verskoning gevra vir optredes wat die NG Kerk kon seermaak. Die versoening het simbolies gestalte gekry toe die leiers mekaar se voete gewas het as teken daarvan dat hulle ‘in diensbaarheid aan die Here, aan mekaar diensbaar is’. Die kerke sê in ‘n gesamentlike verklaring dat hulle ‘n nuwe gees van versoening tussen hulle beleef. ‘Ons ervaar dat ons almal nederiger is, meer bereid om na mekaar te luister en om mekaar te help op die pad na hereniging.’  

Dr Coenie Burger, moderator van die NG Kerk, het intussen die gemeentes van Wynberg versoek om die kerkleiding te help met ‘n model vir gemeentes en plaaslike strukture wat gereed is om te verenig omdat Wynberg, volgens sy mening, reeds die verste daarmee gevorder het.

Dr. Danie Nel

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10