|
|
|
|
Die NG Gemeente Wynberg en VGKSA Gemeente Wynberg se kerkgeboue
Op 24 Julie 2007 het 'n gesamentlike kerkraadsvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg en Verenigende Gereformeerde Kerk Wynberg eenparig besluit dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste gaan saamhou. Hierdie besluit is geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die besondere seën wat tydens die gesamentlike 40 dae van doelgerigte fokus ervaar is. Eredienste was voorlopig om die beurt by die gemeentes se kerkgeboue gehou. Die kerkrade het op 2 September 2008 'n ooreenkoms eenparig goedgekeur waarvolgens die twee gemeentes as een gesamentlike gemeente sou funksioneer. Volgens die kerkraad van die NG Kerk Wynberg het die samewerking tussen die twee gemeentes oor die jare en veral die laaste paar jaar ‘n besonder positiewe impak op die gemeentelelede en die gemeenskap gehad. Ons het vriendskappe sien ontstaan, mense het mekaar tydens siekte en dood begin ondersteun en daar het ‘n samesyn ontstaan wat ongekend in die kerkgeskiedenis van ons land is. Die kerkraad het egter ook bewus geraak dat die besware van die VGKSA se Ring van Wynberg teen die gemeentes se herenigingsproses ’n groter wordende impak op kerkraadslede en lidmate gemaak het. Voorts het die standpunt van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode se actuarius, Dr. M.A. Plaatjies, dat die gemeentes se samewerkingsooreenkoms “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”, sommige lidmate onseker en onveilig laat voel. Dr. M.A. Plaatjies en Ds. Hannes Theron (actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode) se vereiste dat die gemeentes hul afsonderlike selfstandigheid moet behou deur byvoorbeeld ook afsonderlike eredienste aan te bied, het sedertdien tot die VGKSA kerkraad se besluit bygedra om vanaf Mei 2010 afsonderlike dienste vir VGKSA lidmate aan te bied op die Sondae wanneer die gesamentlike dienste in die NG Kerk se gebou plaasvind. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg het intussen met hartseer verneem dat die kerkraad van die Verenigende Gereformeerde Kerk Wynberg op 7 Augustus 2010 besluit het om 'n moratorium op alle samewerking tussen die gemeentes te plaas. Die NGK kerkraad het sy lidmate by wyse van 'n inligtingsbrief gedateer 17 Augustus 2010 oor die tragiese gebeure ingelig. Die kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg bly egter trou aan die verbintenis van 3 Junie 2008 tot 'n gesamentlike gemeente. Ons gaan voort in die geloof dat die Here die goeie werk wat Hy onder ons begin het, sal voortsit. Ons sal in sy liefde volhard en almal bedien wat by ons ’n geestelike tuiste vind. Ons wil steeds 'n gemeente wees "waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien." Hierdie afdeling (kliek op die skakels aan die linkerkant) bied 'n perspektief op die herenigingsproses tussen die twee gemeentes. Die deurbrake sowel as die terugslae word so deursigtig as moontlik vermeld. Ons vertrou dat dit van waarde mag wees vir medereisigers op die weg van versoening en hereniging. Die bladsy oor die geskiedenis begin met die uitsonderlike verhaal van hoe die gemeente reg van die begin af 'n multi-kulturele karakter gehad het. Toe die gemeente in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien. Die bladsy oor die regsprobleme berig oor die moeilike struikelblokke wat in die gemeentes se weg staan om 'n gesamentlike gemeente te vorm. Die faktore wat aanleiding gegee het tot die opskorting van die samewerking deur die kerkraad van die VGKSA, word ook bespreek. Die blady oor die uitdagings gee 'n oorsig van die faktore wat ons besluite bepaal. Dit is en was nooit maklik nie. Hoewel die VGKSA Kerkraad alle samewerking tussen die gemeentes opgeskort het, gaan die gesamentlike gebedsgroep van die gemeentes voort om elke Dinsdagaand in die pastorie van die NG Kerk te vergader. Die gesamentlike orkes funksioneer ook steeds saam. Die NG Kerk se dienste word ook steeds deur verskeie VGKSA lede besoek. Die onderlinge verbondenheid tussen die lidmate was veral by die lentetee en potjiekoskompetisie sigbaar. Bruin en wit gaan by wyse van vrye assosiasie voort om in harmonie en vrede die Here saam te dien. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|