NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Actuarius NGK

 

Tuisblad
Terug

 

Ds. Hannes Theron het op 9 Maart 2009 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode die volgende dokument aan die regskommissies voorgelê. Sy verduideliking oor die status van die dokument volg daarna.

 

Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die

Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die

gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk)

9 Maart 2009

 

Na die bestudering van die ooreenkoms tussen die twee gemeentes van Wynberg (NG Kerk en VG Kerk) wil die Sinodale Regskommissie en Permamente Regskommissie (VG Kerk) graag so op die ooreenkoms reageer:  

1.         Die kommissies is dankbaar vir die samewerking tussen die twee gemeentes wat alreeds op verskeie maniere sigbaar is en wil dit graag aanmoedig.

2.         Vanaf artikel 1 in die ooreenkoms tussen die twee gemeentes is dit opvallend dat die gemeentes iets probeer bereik wat buite die draagwydte val van die bepalings van Reglement 6.5 van die Algemene Sinode en Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

3.         Ons indruk is, naamlik, dat die opstellers deur die ooreenkoms die twee gemeentes tot ‘n enkele kerklike instituut wil saamvoeg terwyl aan die werklikheid van twee aparte regspersone erkenning gegee word in die bestuur en in die behartiging van die stoflike belange van die twee gemeentes. Die ooreenkoms getuig van deeglike werk en goeie insig aan die kant van die opstellers, maar dit is duidelik dat ons die Reglement verskillend vertolk. Reglement 6.5 maak, onder andere, voorsiening daarvoor dat twee kerkrade ‘as gelyke deelgenote' 'n ooreenkoms kan aangaan vir die ‘uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede'. Die ooreenkoms wil egter verder gaan as dit en voeg, nie werksaamhede van die gemeentes nie, maar die twee gemeentes self, saam:  

 

Artikel 1. Die naam van die samewerkingsverband is:

Die gesamentlike gemeente te Wynberg.  

Hoe lofwaardig ook al, die Reglement maak nie daarvoor voorsiening nie.  

4.         Die Reglement veronderstel verder tog seker dat die kerkrade self as afsonderlike kontrakspartye bly voortbestaan. Mens kry egter die indruk dat die kerkrade feitlik hulle afsonderlike bestaan wil prysgee:  

 

Artikel 4. Die kerkrade kombineer in een gesamentlike kerkraad, waarby die bevoegdhede van die betrokke kerkrade gesamentlik uitgeoefen word.  

Daarvoor was ook nodig dat met groot sorg 'n hele eie reglement van orde uitgewerk word waarvoor mens net waardering kan hê, maar, deurdat die twee kerkrade saamgevoeg word, verdwyn die twee partye. Elke gerneente staan onder die regering van haar eie kerkraad. En die kerkraadsvergadering is nie 'n werksaamheid van die kerkraad nie: dit is waar die kerkraad as "direksie" van die gemeente besin en besluit oor die werksaamhede van die gemeente.  

5.         Maar dan verdwyn die twee kerkrade tog nie heeltemal nie soos blyk uit die ingewikkelde reëlings wat verder aan in die ooreenkoms getref moet word

3.3.2. Predikante word deur die gesamentlike kerkraad verkies.  Die beroepende kerkraad magtig die gesamentlike kerkraad om namens horn die beroep uit te bring.

3.3.3. Hoewel die predikant in diens van die gesarnentlike gerneente tree, word sy of haar regsposisie deur die kerkverband van die kerkraad bepaal wat die beroep formeel uitgebring het en die gesamentlike kerkraad dienooreenkomstig gemagtig het. Die ander kerkraad sluit 'n ooreenkorns met die eersgenoemde kerkraad dat die predikant in die ander gerneente hulpdienste kan verrig.  

Ons wonder waarom die bevoegdheid om te beroep dan aan 'n "gesamentlike kerkraad" oordra word? En, belangriker, is dit ‘n werksaamheid soos in Reglement 6.5 bedoel?  

6.         Aan die gesamentlike kerkraad word dan 'n hele aantal take opgedra, sommige waarvan inderdaad "werksaamhede" van die kerkrade is wat gesamentlik deur die twee kerkrade (moontlik deur ‘n gesamentlike kommissie of verskillende gesamentlike kommissies van die twee kerkrade) uitgevoer sou kon word, soos die volgende:  

1.2       die leiding gee aan die opbou en toerusting van die gemeente;

1.3       die sorg vir die missionêre, diakonale en pastorale arbeid en die geestelike vorming;

1.4       die bepaling van die beleidsplan ten opsigte van werksaamhede van die gemeente;  

en miskien  

1.7 die bevordering van die gemeenskap van die kerke ter plaatse;

1.9 die bepaling van reëlings ten opsigte van die lewe en werk van die gemeente;

 

Onder hierdie take val egter:  

1.1       die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente;

Dit kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.

 Die volgende, 1.5,  is weer deel van die tug wat nie gedelegeer kan word nie:

 

1.5       die opsig oor die lidrnate van die gerneente soos deur die kerkorde aan horn opgedra is;  

7.         Paragraaf 1.6 is ‘n lastige onderwerp. Elke gemeente bly verantwoordelik vir haar eie verpligtinge aan eweredige bydraes en vir die eie gemeentelike geldelike verpligtinge.  

1.6       die sorg vir die vermoënsregtelike aangeleenthede van die gemeente;

Paragraaf 1.8 is buite orde:

1.8       die bespreking van sake wat deur die verbandsvergaderings behandel word;

Terwyl die 'sake' openbare kennis mag wees is ‘n kerkraadsvergadering nie 'n openbare vergadering nie en 'n bespreking van familiesake hoort nie in die geselskap van ander te geskied nie.

8.         Of die bepaling in paragraaf 1.10 in orde is sal afhang van wat die aard van die sake is

1.10     die afhandeling van alles wat verder volgens die kerkorde van horn gevra word.

Daar moet steeds in gedagte gehou word dat die kerkorde geen sake aan ‘n gesamentlike kerkraad opdra nie.

9.         Verder word in paragraaf 6 voorsiening gemaak vir Die kerkdienste:  

6.1       Die weeklikse kerkdienste van die gesamentlike gemeente word volgens 'n rooster wat die gesamentlike kerkraad goedgekeur het, gehou in die kerkgeboue van die twee gemeentes of soos deur die gesamentlike kerkraad bepaal.  

6.2       Tot die deelname aan die nagmaal word sowel belydende lidmate as dooplidmate toegelaat.

Hieruit blyk dat slegs gesamentlike eredienste beoog word. Ek het hierbo reeds ‘n opmerking gemaak oor die noodsaaklikheid vir die gemeente van 'n eie erediens gesien die feit dat woordverkondiging deel is van die tug. Terwyl daar twee afsonderlike gemeentes is bestaan daar na my oordeel ‘n behoefte aan 'n eie erediens wat ook duidelik word wanneer die taak van die herder en leraar in sy geheel gesien word (dis afgesien van die voorsitterskappe van elke denkbare liggaam op die dorp!): Die leraar het die plig om huisbesoek te doen. Tydens die huisbesoek word hy van die behoeftes van sy gemeente bewus en die erediens is die geleentheid waar sommige van daardie behoeftes aandag moet kry. Die gerneente verloor iets van sy intieme karakter as sy nie gereeld as gemeente in die erediens byeenkom nie.

En, is die erediens inderdaad 'n werksaamheid van die gemeente soos in die Reglement bedoel?

Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy die dokument saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Die NGK kerkraad van Wynberg het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan die leraar van die NGK Wynberg oorhandig het. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is.

Die NGK kerkraad van Wynberg het onmiddelike aksie geneem nadat hy van die dokument se bestaan bewus geraak het. Die Uitvoerende Bestuur het ’n versoek ter verduideliking aan Ds. Hannes Theron gerig. Ds. Theron het soos volg gereageer.

14 Februarie 2010

 

Die Kerkraad van die NG Kerk Wynberg

Durbanweg 2

Wynberg

 

Broers/susters

Kombinasie van werksaamhede tussen die NGK Wynberg en VGK Wynberg

Die epos van dr Danie Nel, gedateer 11 Februarie 2010, word verwys.

Regl 6:6 (KO 2007) is die kerkordelike riglyne waarbinne die NGK en VGK kan handel oor die kombinasie van werksaamhede van gemeentes uit verskillende kerkverbande. Kombinasie, soos die reglement dit baie duidelik stel, beteken dat die twee kerkrade kontraktuele ooreenkomste aangaan vir die uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede. Die werkswyse word ook baie duidelik uiteengesit dat nadat die twee kerkrade die ooreenkoms afsonderlik in hul onderskeie vergaderinge goedgekeur het, die ringe van beide kerke dit moet bekragtig.

Dit blyk dat daar lede van die VGK Wynberg is wat nie gemaklik is met die proses nie en dat die ring van die VGK Wynberg dit om bepaalde redes nie kan aanvaar nie. Na dr Nel se navraag aan die SRK/PKR vir ’n kerkregtelike beoordeling van die ooreenkoms tussen die twee gemeentes, het ek die ooreenkoms aan mnr Paul Klopper, ’n afgetrede prokureur, beskikbaar gestel wat ons (die NGK en VGK) in die verlede al baie met advies in die verband gehelp het. Sy kommentaar was aan my persoonlik gerig met ’n klompie vrae en opmerkings oor die ooreenkoms tussen die VGK en NGK Wynberg. Ek het die kommentaar van mnr Paul Klopper aan die SRK/PKR beskikbaar gestel en daar is besluit om gesamentlik met die kerkrade en ringskommissies van die NGK en VGK hieroor in gesprek te treë. Die kommentaar van mnr Klopper is nooit deur die NGK/VGK aanvaar as hul amptelike standpunt of as ’n amptelike advies van ’n prokureur nie. Trouens, dit is nie eens deur die vergadering bespreek nie, maar daar is slegs kennis geneem van die kommentaar en geoordeel dat dit ons kan help in ons gesprek met die twee kerkrade. Om hierdie rede het ek nooit die kommentaar beskikbaar gestel aan dr Danie Nel of die kerkrade nie. Ek het dit ook by verskeie geleenthede so aan dr Danie Nel oorgedra.

Die aktuarii van beide kerke het die opdrag gekry om so ’n gespreksgeleentheid te reël. Tot op datum kon ons dit om verskeie redes nog nie regkry om so ’n gespreksbyeenkoms te reël nie. Met die laaste byeenkoms van die Advies en Koördineringsnetwerk van die NGK en VGK is dr Mary-Ann Plaatjies versoek om in samewerking met ds Andrew Esterhuizen met die VGK Wynberg en die VGK Ring van Wynberg te gesels oor die noodsaaklikheid van so ’n gesprek. Die kombinasie van werksaamhede is nie net ’n kerkregtelike proses nie, maar ’n verhoudingsproses. In die proses van ’n soeke na kerklike eenheid, het mense van die NGK en VGK seergekry en ons oordeel dat ’n helings- en versoeningsproses uiters noodsaaklik is, voordat daar enigsins met die proses voortgegaan kan word.

Dit het op die stadium vir my geen sin om enige kerkregtelike uitsprake oor die ooreenkoms te maak nie, alvorens daar nie tot ’n helings- en versoeningsproses ooreengekom word nie. Die ooreenkoms is ’n ooreenkoms wat juis verhoudinge wil versterk en rig.

In Sy heerlike diens.

Ds JP Theron

Toe ek Ds. Theron gevra het hoe hy dan die opskrif en die inleidende paragraaf verklaar, het hy geantwoord (verbatim aangehaal uit epos):

“Die kommentaar van Paul Klopper het ek in die dokument voor die SRK/PKR-vergadering ingetrek. Tydens die vergadering het ons toe glad nie oor die dokument gepraat nie, aangesien ons beslui thet om eerder ’n gesprek te reël. Die dokument was ook nooit bedoel om versprei te word nie. Dit was ’n werksdokument. Ek besef nou dat ek dit in die opskrif moes geplaas het dat dit slegs ’n werksdokument is.”

In ’n volgende boodskap het hy geskryf (verbatim aangehaal uit epos):

“Ek het nou weer gaan sit en dink oor hoe die bepaalde dokument met die bepaalde opskrif (Kommentaar van die SRK en PKR . . . ) die lig gesien het. Aanvanklik was dit die bedoeling om skriftelik op jul versoek te reageer en ek het solank ’n dokument vir die vergadering voorberei waarop ek die opskrif aangebring het. Ek het ook die kommentaar van Paul Klopper daarop ingetrek. Met die vergadering het ons geoordeel dat dit beter sal wees om eerder ’n gesprek te reël aangesien daar heelwat punte was wat ons eerder met julle sou wou uitklaar. Dit was ’n goeie besluit al kon dit nog nie realiseer nie. Die lede van die vergadering het my gevra om die kommentaar van Paul Klopper aan hulle te stuur, maar dit was nooit die bedoeling dat dit aan die betrokke gemeentes/ringe deurgegee sal word nie. Ek het daardie dokument nie aan enige lede van die betrokke ringe/gemeentes gegee nie.

Ek hoop ek help jou. Ek staan by my standpunt dat daar nooit so ’n beluit geneem is dat dit die amptelike kommentaar van die SRK/PKR oor die proses was nie, maar slegs kommentaar om ons in die gesprek met julle te help. Daar is kommentaar in die stuk waarmee ek ook nie saamstem nie, maar wat ons in die gesprek sal moet verreken.”

Uit bogenoemde verduideliking word gekonstrueer: Ds Theron het mnr Paul Klopper se kommentaar ingetrek in ’n dokument wat hy aangebied het as die regskommissies se kommentaar op Wynberg se ooreenkoms. Die regskommissies het volgens Ds. Theron, sonder dat dit “eens deur die vergadering bespreek” is (hulle het “glad nie oor die dokument gepraat nie”, “slegs kennis geneem”), geoordeel dat dit hulle kan help in hul gesprek met die kerkrade om sekere punte uit te klaar. Die lede van die vergadering het Ds Theron versoek om die dokument aan hulle te stuur. Die dokument word, met dieselfde opskrif en inleidende paragraaf, as die regskommissies se kommentaar op Wynberg se ooreenkoms met die VGKSA kerkraad van Wynberg bespreek. Die kerkraad beskou dit as die regskommissies se reaksie.

Ds Theron se weergawe word deur Dr. Plaatjies se verslag (paragraaf 54 van haar uiteensetting van die verloop) weerspreek. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” (die dokument) soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is. In die daarstelling van ooreenkomste moet beklemtoon word dat die oorspronklike regspersone moet bly staan.”

My kommentaar op die dokument volg op die bladsy Beoordeling.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12