|
|
|
|
1. Die volgende kerkregtelike evaluering van die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg, soos gedoen deur die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, Dr. M.A. Plaatjies, is met die VGKSA kerkraad in die teenwoordigheid van die VGKSA ring van Wynberg bespreek. Sy beveel aan die einde van haar dokument aan dat dit skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. Kerkregtelike beoordeling van die saak deur die actuarius van die VGKSA Streeksinode Kaapland: 1. Vertoë: a) Die Vertoë kan nie as 'n wetlike ooreenkoms tussen die NGK en VGK Wynberg beskou word nie aangesien slegs een party (nl. die VGKSA Wynberg) die Vertoë aan die Ring rig. b) Die Vertoë lê gevolglik bloot op die vlak van 'n versoek van 'n plaaslike kerkraad aan die Ring tot nouere samewerking met die NGK. c) Op grond van reglement 42 KOMBINASIE VAN WERKSAAMHEDE VAN GEMEENTES, RINGE EN SINODES / KOMMISSIES VAN SINODES UIT VERSKILLENDE KERKVERBANDE moes die Ring toegesien het dat 'n behoorlike ooreenkoms deur die NGK/VGKSA Wynberg opgestel word. Dit het egter jammerlik ontbreek. Die huidige gesamentlike gemeente is dus nie kerkregtelik na behore gereguleer nie. d) Die Ringsbesluit mbt die vertoë is ultra vires aangesien dit lynreg teenoor bepaling 28 (die werksaamhede van die konsulent). e) Die besluit van die Ring bet daartoe gelei dat dr Nel en die kerkraad van Wynberg VGKSA na die heengaan van ds James Buys onder die wanindruk verkeer dat dr Nel wel die reg het om sekere ampspligte in die VGKSA Wynberg te kon volvoer. f) Die Ring bet egter met hul wysiging van punt 6 die saak kerkordelik probeer regstel. 2. Die ooreenkoms vir 'n gesamentlike gemeente soos opgestel deur dr Nel en goedgekeur deur die gesamentlike kerkrade. Die ooreenkoms kan nie kerkregtelik goedgekeur word nie aangesien dit lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan. Uit die VGKSA se kerkorde blyk die volgende: a) Tans kan 'n gemeente van die VGKSA met 'n gemeente van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika ooreenkom dat 'n besonderse gemeente gesamentlik deur die leraar(s) bedien word, mits die betrokke leraar daartoe in stem en met dien verstande dat so 'n leraar slegs lidmaat is van die gemeente waarin hy/sy bevestig is. Hy/sy het geen stemreg in die Kerkvergaderings waarmee hy/sy kragtens hierdie ooreenkoms geskakel is nie (Die VGKSA erken slegs lidmaatskap aan een van die twee kerke op ‘n slag. Die VGKSA beperk verder stemreg, kommissiewerk in meerdere vergaderings ensovoorts van sodanige predikante). b) Elkeen van die kontrakterende gemeentes behoort in sy eie sake selfstandig voort te bly bestaan en elke Kerkraad behoort sy eie Kerkraadsvergaderings te hou bo en behalwe die gesamentlike vergaderings om sodoende besluite te bekragtig. c) By die aangaan van 'n kontraktuele ooreenkoms met gemeentes uit die N.G. Kerk-Familie, moet vooraf skrifte1ik ooreengekom word in watter Kerk die leraar verptigte kommissiewerk vir die Meerdere Kerkvergaderings sal doen. 2. Ek het groot waardering vir die moeite wat Dr. Plaatjies gedoen het om die ooreenkoms te evalueer. 3. Ek vertrou dat die volgende kommentaar op die kerkregtelike evaluering van die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg van waarde mag wees.. 3.1 Volgens Dr. Plaatjies kan die vertoë, wat die VGKSA Wynberg se kerkraad met betrekking tot die samewerkingsbesluite aan die VGKSA Ring van Wynberg in 2007 voorgelê het, “nie as 'n wetlike ooreenkoms tussen die NGK en VGKSA Wynberg beskou word nie aangesien slegs een party (nl. die VGKSA Wynberg) die vertoë aan die Ring rig” (1a) en 'n “behoorlike ooreenkoms” (1c) daarom ontbreek. 3.1.1 Ek aanvaar Dr. Plaatjies verwys na ’n getekende ooreenkoms of kontrak wat die ring en die sinodale regskommissie moet goedkeur voordat dit as ’n “wetlike ooreenkoms” bekend mag staan. 3.1.2 Die NGK en VGKSA gemeentes van Wynberg het sedert 2007 ’n gesamentlike bediening op basis van besluite wat deur die kerkrade gesamentlik sowel as afsonderlik bespreek en goedgekeur is. Die noue samewerking tussen die gemeentes het betrekking op sekere werksaamhede van die gemeentes wat volgens die onderskeie kerkordes as verantwoordelikhede van die kerkrade beskou word.[3] Hierdie werksaamhede is gegroepeer in ’n geïntegreerde bedieningsmodel wat uit drie hoofbedieninge bestaan, naamlik:
Die samewerking hef op geen wyse die kerkordelike bepalings met betrekking tot ampsdraers, finansies, personeel, eiendom en die regte en verantwoordelikhede van die onderskeie kerkrade ten opsigte van die kerkverbande op nie omdat sulke sake afsonderlik deur die kerkrade hanteer word. Besluite van die gesamentlike kerkraad word afsonderlik deur die kerkrade bekragtig. Die lidmate van die gemeentes was geraadpleeg in die besluite met betrekking tot samewerking. Hoewel die kerkrade nog nie ’n formele ooreenkoms opgestel en geteken het nie, was die besluite nogtans deur die kerkrade as ’n bindende ooreenkoms tussen die gemeentes beskou. Die volgende kerkordelike bepalings mag van toepassing wees: a. Artikel 7 van die VGKSA Kerkorde bepaal die kerkraad se bevoegdheid met betrekking tot besluitneming en bediening soos volg: “Deur die kerkraad word: 7.1 alle sake behandel wat die erediens, die onderrig, die gesamentlike sorg, die getuienisaksie en die diens aan die gemeente raak; 7.2 tug uitgeoefen oor lidmate van die gemeente, maar uitgesonder diegene wat in die ampte staan; 7.3 prosedures en reëls vasgestel vir werksaamhede aan die kerkraad toevertrou; 7.4 die kerkraad het die reg om ’n vergadering van die gemeente byeen te roep op ’n wyse soos deur elke gemeente bepaal” (Kerkorde VGKSA 2001). b. Sowel die NGK as die VGKSA kerkordes handhaaf die Calvinistiese beginsel met betrekking tot die plaaslike gemeente as volledig gereformeerde kerk. Volgens Dr. Plaatjies is die plaaslike gemeente een van die belangrikste uitgangspunte in die Kerkorde van die VGKSA.[4] “Die gesamentlike gespreksgroep bevestig tydens die stigtingsinode in hul Verslag en Aanbevelings aan alle gemeentes en kerkrade die Gereformeerde beginsel dat elke plaaslike kerk ’n volledige kerk is (Skema VGKSA Algemene Sinode 1994:21 asook Kerkorde VGKSA Algemene Sinode 1994 artikel 4.1-4.2)... Elke plaaslike gemeente is ’n selfstandige en volledige kerk, met eie ampte en bedieninge, met die volle bediening van die Woord, die sakramente en die tug...”[5] c. Die selfstandigheid van die gemeente is ook tydens die Achterbergh II byeenkoms van 23 tot 25 April 2007 erken. Die verteenwoordigers van die VGKSA, NGK, NGKA en RCA het eenstemmigheid bereik met betrekking tot die volgende aspekte van die eenheidsmodel:[6] i. Dat die plaaslike kerk ten volle kerk van God is, maar dat dit nooit as kerk in isolasie bestaan nie. Die vier kerke bely dat hul mekaar nodig het om ook op plaaslike vlak ten volle kerk van God te wees, en dat dit gereflekteer moet word in die model van ’n nuwe kerkverband. ii. Dat gemeentes regspersone in sigself is en dus hulle verantwoordelikheid met betrekking tot besluitneming en bediening behou. iii. Dat gemeentes sal aangemoedig word en gehelp word om op plaaslike vlak na mekaar te groei, en waar hulle dit so verkies selfs een struktuur te vorm. Hulle sal nie in een struktuur forseer word nie. d. By die VGKSA sowel as die NGK word die meerdere vergadering se bevoegdheid beperk tot die behandeling van sake van die gemeentes gesamentlik, hoër beroepe asook in die behandeling van sake wat nie op die mindere vergadering afgehandel kan word nie (Kerkorde VGKSA Streeksinode Kaapland 2002: bep 38, 124, 125; Artikel 22.1 van die Kerkorde NGK 2007).[7] Volgens Dr. Plaatjies besit die meerdere vergadering by die VGKSA alleen mag oor die plaaslike gemeente op grond van en in soverre dit in die Kerkorde ooreengekom is.[8] “Die gesag van die meerdere vergadering vloei uit die organiese verband tussen die gemeentes. Die Ring, Streeksinode, Algemene Sinode het geen dwingende mag nie omdat die kerkverband op oorlegpleging berus. Die Ring en die Sinode het geen ander reg as wat die Kerkrade in kerkverband onderling ooreengekom het nie. Die meerdere vergaderings van die VGKSA se bevoegdheid is beperk deur die goeie wil van mindere vergaderinge om besluite van meerdere vergaderinge te implementeer.” 3.1.3 Dr. Plaatjies maak volgens my die korrekte afleiding wanneer sy tot die konklusie kom dat die vertoë van die kerkraad bloot op die vlak lê van 'n versoek van 'n plaaslike kerkraad aan die Ring tot noue samewerking met ’n NGK gemeente. Die kerkraad het besluite aan die Ring voorgelê – ’n getekende ooreenkoms of kontrak het in daardie stadium nog ontbreek. 3.1.4 Sou een van die kerkraad se reëlings daarna deur die ring of actuarius as “ultra vires” beoordeel word (in hierdie geval die versoek met betrekking tot konsulentskap), behoort dit slegs van toepassing op die betrokke reëling te wees en nie op die vertoë in sy geheel nie. Ek meen daarom dat die actuarius te ver gaan wanneer sy oordeel: “d) Die Ringsbesluit mbt die vertoë is ultra vires aangesien dit lynreg teenoor bepaling 28 (die werksaamhede van die konsulent”. 3.1.5 Dit is my beskeie opinie dat besluite met betrekking tot gesamentlike werksaamhede waartoe plaaslike kerkrade ooreenkom en behoorlik goedkeur, wel as ’n wetlike ooreenkoms beskou kan word mits die kerkrade nie hul bevoegdheid oorskry het nie. Die goedkeuring van ’n getekende ooreenkoms of kontrak deur die ring en sinodale regskommissie sou ’n volgende stap wees. 3.2 Volgens Dr. Plaatjies kan die Ooreenkoms tussen NGK Wynberg en VGKSA Wynberg ten opsigte van 'n gesamentlike gemeente kerkregtelik nie goedgekeur word nie aangesien dit “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”.3.2.1 Dr. Plaatjies se aanbevelings met betrekking tot leraars se stemreg en verantwoordelikhede in kerklike vergaderings, leraars se pensioenfondse, die goedkeuringsprosedure betreffende ooreenkomste en die ontbindingsklousule behoort geen probleem vir die kerkrade te wees nie. 3.2.2 Elkeen van die kontrakterende gemeentes behoort volgens Dr. Plaatjies in sy eie sake selfstandig voort te bestaan en elke Kerkraad behoort sy eie Kerkraadsvergaderings te hou bo en behalwe die gesamentlike vergaderings om sodoende besluite te bekragtig. a. Ek vind geen grond vir hierdie vereiste in Reglement 6 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk nie (ek verstaan Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het dieselfde bewoording). Indien hierdie vereiste konsekwent toegepas word, sal ’n gesamentlike gemeente of kerklike kommissie soos die KGA nie as ’n eenheid kan funksioneer nie. b. Die gemeentes werk volgens die ooreenkoms in al hul werksaamhede saam behalwe waar die kerkordes en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree. Elke gemeente betaal noodwendig ’n prys betreffende sy selfstandigheid. c. Indien die NGK en VGKSA Wynberg verplig sou word om steeds selfstandig in sy eie sake voort te bly bestaan, sou dit ’n terugwaartse stap teen die wens van die lidmate wees. Die lidmate het op 1 Junie 2008 tydens ’n gemeentekonferensie aangedui dat hulle verder wou gaan as die huidige samewerking: dit was hul wens dat die gemeentes herenig in ’n gesamentlike gemeente met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap. Slegs 2 lidmate wou die bestaande samewerking onveranderd handhaaf. d. Volgens ’n uitspraak van die appèlhof[9] is die regspersoon in die geval van die plaaslike gemeente gesetel in die gemeente en nie in die Kerkraad nie. Op 2 April 2007 het ‘n multilaterale gesprek tussen verteenwoordigers van die VGKSA, RCA, NGKA, die NGK en ’n span regkundiges, bestaande uit regters Ronnie Hendricks, Steven Majiedt, Fritz D J Brandt, Deon van Zyl asook senior advokate Johan du Toit en C Ploos van Amstel plaasgevind. Die besluitnemingsbevoegdheid van meerdere vergaderings met betrekking tot kerkeenheid, die wysiging van die belydenisgrondslag van die kerk, die opsegging van die kerkverband, die opheffing van gemeentes asook die verandering van eiendomsreg van mindere vergaderinge op sinodale vlak sonder inspraak van plaaslike gemeentes is sonder meer afgewys. (Notule Sinodale Kommissie 2007: 1-4 ook URCSA News Desember 2007:4)[10] Die regspan het ’n federale model, geskoei op Gereformeerde kerkregtelike beginsels, voorgestel. Die gemeentes van Wynberg probeer juis om hierdie roete te volg: die ooreenkoms vir samewerking is gebaseer op ’n federasieooreenkoms wat in die Protestantse Kerk in Nederland gebruik word wanneer twee gemeentes as afsonderlike regspersone in ’n federasiegemeente saamwerk. e. Volgens Reglement 13 van die Kommissie vir Getuienisaksie (KGA) blyk dit wel moontlik vir kerklike vergaderings uit verskillende verbande om as ’n eenheid te funksioneer. Dit blyk ook duidelik uit die reglement dat die KGA alle projekte as gesamentlike projekte hanteer. Hoewel die kerkregtelike problematiek van gemeentes en kommissies uiteraard sou verskil, illustreer dit nogtans dat kontrakterende partye van verskillende kerkverbande tog as ’n eenheid binne die huidige kerkregtelike bestel kan funksioneer. 3.3 Die Gereformeerde kerkreg veronderstel ’n nou band met die belydenisgrondslag: “De belijdenis word geacht de fundamentele, de constitutieve bepalingen van de kerkregering te bevatten”[11]. Die VGKSA volg hierdie beginsel aangesien die VGKSA Kerkorde as die beliggaming van die Belhar Belydenis beskou word.[12] Die kerkordelike bepalings behoort derhalwe volgens die bedoeling van die kerk se belydenis te funksioneer. Aan dit wat oor die kerk geglo word, word volgens Leo Koffeman hande en voete in die kerkregtelike praktyk gegee, sowel in die reëlgewing as in die wyse waarop daar met die reëls omgegaan word.[13] 3.4 Die uitspraak van die VGKSA se actuarius dat die Wynbergse gemeentes klaarblyklik volgens die bepalings en reglemente van die kerkorde verplig word om “in sy eie sake selfstandig” voort te bestaan terwyl hulle bereid was om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed en die Belydenis van Belhar prys te gee, is problematies. Dit sou impliseer dat die huidige bepalings en reglemente die gemeentes dwing om die belydenisgrondslag te verloën, aangesien daar met name in die Belydenis van Belhar bely word “dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie”. 3.5 Die kerkrade het hul samewerking aangebied om die nodige kerkregtelike ruimte te help skep. Sou Dr. Plaatjies se uitspraak dat elke gemeente “in sy eie sake selfstandig” moet bly deur die gesamentlike PRK/SRK gehandhaaf word, behoort die gronde vir die uitspraak aangedui te word sodat die kerkrade daarmee kan handel. Die gesamentlike PRK/SRK behoort te motiveer waarom die ooreenkoms se voorstel dat die gemeentes in al hul werksaamhede saamwerk behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree, strydig sou wees met die bepalings en reglemente van die betrokke kerkordes of die gemenereg. Die gronde van die actuarius se uitspraak behoort ook aangedui te word.
Danie Nel
[1] Vergelyk my kommentaar by 3.1. [2] Punt 32 van Dr. Plaatjies se oorsig. Vergelyk ook punt 1.9. [3] Vergelyk Artikel 7 van die VGKSA Kerkorde 2001. [4] Agenda VGKSA 1994:8 [5] Plaatjies-Van Huffel, M-A, Die Doleansiekerkreg en die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Akademiese Proefskrif UP, Pretoria 2008, 433. [6] Plaatjies-Van Huffel 2008, 463. [7] Plaatjies-Van Huffel 2008, 480. [8] Plaatjies-Van Huffel 2008, 469. [9] Appèlsaak (Nederduitse Gereformeerde Kerk (OVS), Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika saaknommer 536/96. [10] Plaatjies-Van Huffel 2008, 460. [11] Nauta, D., Verklaring van de Kerkorde van de GKN, Kampen 1971, 18 [12] Van Rooi, L.B., “Bevry om te bely en te beliggaam. 'n Ekklesiologiese besinning oor die kerkorde van die VGKSA”, in Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 48:3&4 (2007), 799-810. [13] Koffeman, L.J., Het goed recht van de kerk, Kampen 2009, 83. Die boek word ingelei met die volgende stelling: “Pas op voor de kerkjurist die uitsluitend schermt met juridische argumenten. Voor je weet word je klem gezet. Dan wint ‘het recht’ en verliest de mens. En de gemeente”. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|