|
|
|
|
INLIG-AKTUEEL 39/2008 : 12 tot 20 November 2008 Saamgestel deur ABID- Personeel Ten Slotte Oor Droom — Oor Drome Aktuele Godsdiens -- Oor Die Kerk Kerk - Nuus Gehaltetyd? ? Baie Tyd ! ! Oor Dopstelsel En Oor Sjebiens Debat BERIGTE vir volgende week: TEN SLOTTE: Dit was só goed om deur hierdie berigte te gaan; ek kon nie besluit waarmee moes daar afgesluit word nie, toe begin ek sommer eers met al die Ten Slottens(?) En onthou dat die volledige teks van die berigte aangevra kan word: ngkinlig@mweb.co.za Talle motoriste praat agter sy rug; Beeld, Nov 18 2008 Leon Botha: Hoe verkort ’n mens ’n preek tot een of twee sinne? Vra mnr. Ludi Kruger (30) van Pretoria. Dié tweewiel-stadsverkeersendeling pas dit op sy rug in. Sy daaglikse verkeerskruistog op sy 180 cc-bromponie strek oor 27 km van Villieria, Pretoria, tot in Centurion, waar hy as elektroniese ingenieur werk. “Ek het een aand in die kerk die gedagte gekry dat ek ’n boodskap op my rug moet dra. My vrou, Jacolien, het ’n grap gemaak en gesê ek moet ’n elektroniese bord op my rug sit. “Ek het die elektroniese bord spesiaal laat maak. Dit het nogal die helfte van my motorfiets se waarde gekos.” Kruger sê volgens wet mag ’n voorwerp 45 cm aan weerskante van ’n motorfiets uitsteek. “My bord is net-net breër, maar ek noem dit my genadeduimpie.” Hy vertel hy het ’n passie vir die waarheid. “Die boodskap kan uit die Bybel kom of selfs net ’n reël van ’n lied wees. Die boodskappe is soms teen die normale. Ek daag motoriste uit om die ‘boodskap’ te gaan probeer.” Hy het soms Afrikaanse boodskappe, ander kere in Engels. “Elke keer is dit ook ’n nuwe boodskap. Ek het al verskeie reaksies van motoriste gehad: Mense blaas die toeter, wys regop duime, ander sal foto’s neem en dan is daar mense wat dit net eenvoudig ignoreer. Snaaks genoeg kry ek die meeste reaksie met my middagritte. Mense is seker dan meer ontspanne. “Juis gister (eergister) stop ’n ou met ’n Harley Davidson-motorfiets langs my. Hy het my gevra: ‘Weet jy hoeveel het jy al vir my in die oggende beteken?’ ” Een van die waarhede lui: “Enige dwaas kan ’n rusie begin.” Ander lui: “Die waarheid maak vry”, “Vriende vorm mekaar”, “Wees lief vir jou vyande”, “Sonder liefde is ek niks”, “Seën dié wat jou vervloek”, “Harde werk bring beloning”. Kruger reken dis eenvoudig: “Ek saai die saad; ek gooi die Woord, die Heilige Gees moet die res doen.” oor DROOM — oor DROME K 32568: Droom saam en help bou aan ’n beter SA; DJ Katts; Burger, 12.11.2008
Martin Luther King jr., die Amerikaanse
politieke aktivis en predikant van die Baptistekerk in Montgomery, Alabama,
het gedroom oor ’n nierassige Amerikaanse volk, en dat slawekinders saam met
vorige slawe-eienaars aan die tafel van broederskap sal sit. Barack Obama het
in dié droom geglo en hom geïnspireer om selfs groter te droom. Sy oorwinning
is ’n onbetwisbare feit dat drome krag het, mense rede gee om voor te leef en
nie wensdenkery of illusies is waaragter onrealistiese of pessimistiese mense
skuil nie. Nee, die Obama-droom, waarvan die wortels in die King-droom te
vinde is, het waar geword noudat hy tot 44ste president van die VSA verkies
is. Nou droom menige Amerikaner, Europeër, Afrikaan en Suid-Afrikaner saam.
Ook Nelson Mandela het gedroom; vandaar dié bekende Rivonia-verhoor-aanhaling:
“Ek het die idee van ’n demokratiese en vrye gemeenskap waarin alle mense saam
in harmonie en met gelyke geleenthede leef, gekoester” (vrye vertaling uit
Long Walk to Freedom). Dié droom het in 1994 ’n werklikheid geword. Ek dink
Suid-Afrika benodig ’n morele droom. ’n Droom wat die grense van hoe politiek
bedryf word, oorskry. ’n Droom waarin wedersydse respek en naastesorg aan die
orde is, ’n morele droom waarin ryk en arm saam aan tafel sit. ’n Droom waarin
geweld en korrupsie nie bestaan nie. ’n Morele droom waarin geduld en
verdraagsaamheid deel van ons daaglikse praktyke is. ’n Droom waarin senior
burgers sonder vrees alleen kan woon en waarin kinders sonder vrees strate in
parke verander en die naglug met hul gelag en geraas kan versier. ’n Morele
droom waarin almal ’n huis het, waarin niemand bedel en steel nie. ’n Droom
waarin niemand vigs het of in vullissakke soek na kos of ander weggooigoed om
’n bestaan te kan maak nie. ’n Droom waarin niemand alleen sterf, pa’s nie hul
gesin uitwis en ma’s nie babas in rioolpype laat sterf nie. ’n Morele droom
waarin geen verslaafdes is nie. ’n Droom waarin almal TV-lisensiegeld betaal
en motoriste die padreëls gehoorsaam. ’n Droom waarin niks by motorvensters
uitgegooi en piekniekplekke en riviere nie met rommel bemors word nie, maar
waarin afval in houers vir herwinning geplaas word. ’n Morele droom waarin
geen spesie bedreigd is nie en waarin skoolterreine veilige hawens is en
waarin manne en vroue in uniforms gesag, beskerming en sorg verteenwoordig.
... Alles begin by ’n droom, het iemand gesê. Josef (Gen. 37:5-6) en Daniël
(Dan.7:1) het gedroom. Om te droom is teologies-eties reg en nodig. Om ’n
droom te hê is om ’n visie te hê. Om ’n dromer te wees is om aan ’n toekoms te
werk. Dromers soos Martin Luther King jr., Nelson Mandela en Barack Obama
onderstreep die potensiaal van drome. ’n Morele droom kan dromers in
verantwoordelike burgers transformeer en ons ’n land gee waarin die waardes en
norme van die Grondwet verwesenlik word; ’n vredevolle, menslike en
menswaardige plek om in te woon. Teoloog kies SA se son; Beeld, Nov 18 2008 njackson@beeld.com ’n Jong Nederlandse teoloog het besluit sy wil in Suid-Afrika bly, want hier vind sy geleenthede “om God te sien”. Me. Tiny (uitgespreek Tienie) van der Schaaf, wat verlede week as proponent in die NG Kerk gelegitimeer is, sê baie Afrikaners vind haar keuse vreemd. Weens die misdaad soek hul- le maniere om na Australië, Kanada of Europa te emigreer. Vir haar bied Suid-Afrika egter baie meer as Nederland, waar sy grootgeword het. Van der Schaaf sê die son is een van die wonderlike goed van Suid-Afrika. Die ruimte is nog een. Suid-Afrikaners wat Nederland wil verstaan, moet dink hoe dit sal wees as 17 miljoen mense in die Krugerwildtuin moet woon. Suid-Afrika is 32 keer so groot soos Nederland, maar Nederland het net ’n derde soveel inwoners. Oor die misdaad in Suid-Afrika sê sy dit hou verband met die groot verskil tussen rykdom en armoede. Maar juis daarin sien sy ook wonderlike geleenthede. Sy wil graag ’n verskil maak en in Suid-Afrika is daar baie meer geleentheid as in Nederland om dit te doen. Sy het daar as radiografis in ’n hospitaal gewerk en is as proponent van die Protestantse Kerk in Nederland gelegitimeer. Sy het ’n motor en ’n huis gehad, maar besef sulke goed maak ’n mens nie gelukkig nie. In Pretoria, waar sy besig is met haar doktorsgraad in teologie aan Tukkies, het sy by Pretoria Evangelisering en Nasorg (PEN) betrokke geraak wat middestadbediening doen. Sy gee twee uur per week by die kleuterskool vir kinders rekenaarklasse. Van der Schaaf vertel van een seuntjie wie se gesig ’n geslote boek was. Hy het by die rekenaar gedoen wat hy moes, maar g’n woord gepraat of emosie getoon nie. Ná drie maande, toe iemand hom komplimenteer oor wat hy by die rekenaar gedoen het, het hy vir die eerste keer geglimlag. Ná vyf maande het hy die eerste keer met hulle begin praat. Vandag gesels hy lekker met hulle. In dié ervaring, sê Van der Schaaf, kon sy iets van God sien. Ja, sy weet die risiko is hoog om ’n slagoffer van misdaad te word. Maar sy is nie bang nie. Miskien omdat sy in die twee en ’n half jaar wat sy in Suid-Afrika is, dit nog nie aan haar eie lyf gevoel het nie. Die ergste wat nog met een van haar vriende gebeur het, is dat ’n motorvenster stukkend geslaan en ’n selfoon gesteel is. Sy weet sy kan nie saans alleen in Hatfield rondloop nie, maar bedags voel sy veilig daar. Sy is ook nie bang om in die middestad in die omgewing van Schubartpark te beweeg nie. Sy weet daar is plekke wat sy moet vermy, maar in Amsterdam, Nederland, is dit ook maar die geval. Haar hart is egter by die armes. By onreg. By plekke soos PEN se kleuterskool. “Ek sien God daar,” sê sy. En daarom wil sy in Suid-Afrika bly. Nader aan ’n droom danksy braille-masjien; Beeld, Nov 18 2008 Magdel Fourie: Sy is blind, 13 jaar oud, het in skaars twee jaar van gr. 1 tot gr. 4 gevorder én leer klavier speel. Gister het sy nog ’n tree nader aan haar droom gekom om ’n onderwyseres te word toe haar eerste braille-masjien aan haar geskenk is. Katrina Khanye, ’n leerling van die Johannesburgse Skool vir Blindes in Auckland Park, het eers verlede jaar met gr. 1 in dié skool begin nadat sy sedert haar geboorte op ’n Vrystaatse plaas geen onderrig ontvang het nie. Weens voorkombare gloukoom wat onbehandel gelaat is, het sy intussen ook blind geword. Tog het Katrina al in die eerste twee weke by die skool die volle braille-alfabet geleer – en so hard gewerk dat sy nou ná minder as twee jaar al in graad 4 is. Gister het die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes vir haar en ’n medeleerling hier elk hul eie braille-masjien geskenk. “Ek is so opgewonde en gelukkig, want nou kan ek my eie werk tik. Ek kan nou enigiets skryf wat ek wil,” het sy gister stralend gesê. Kort voordat sy haar vingers op die knoppies van haar splinternuwe masjien gesit het, het sy aan Beeld vertel hoe lief sy vir leer is. “Ek wil graag eendag ’n onderwyseres word en wiskunde gee. Ek is goed met wiskunde.” Dan wys sy na die klavier waarlangs sy sit en vertel hoe sy die laaste tyd hier geleer is om op dié musiekinstrument te speel. Mnr. Mortain Dube, skoolhoof, het verduidelik die braille-masjiene kos elk sowat R5 000 en daarom kan die skool nie bekostig om vir elke leerling een te koop nie. Tog is dit wenslik dat elke kind naweke ’n masjien huis toe neem sodat hulle huiswerk daarop kan doen en só vinniger vorder, het hy gesê. Nhlanhla Mpisi (7) van Daveyton naby Benoni het gister ook sý eie braille-masjien van die raad gekry. AKTUELE GODSDIENS - oor die KERK Kerk te besig met irrelevante sake; Godsdiens-Aktueel, Elsje Büchner; Beeld, Nov 16 2008 ’n Mens hoor dikwels in die wandelgange die verwyt dat die agendas van die hoofstroomkerke se vergaderings irrelevant geword het, en dat kerkleiers se stemme oor aktuele sake stil geword het. “Hoekom is die kerk so stil oor …?” As ek na die besluiteregister kyk van my eie kerk se Algemene Sinode, vir wie ek regtig baie lief is, dan kan ek nie help om oor sommige van die besluite se relevansie eintlik skaam te kry nie. Is dit regtig wat Jesus wil hê ons moet doen? Een van die foute wat breër kerkvergaderings maak, is om steeds van bo na onder te werk en van “bo af” sake op gemeentes se agenda te plaas. Buiten dat dit ’n uitgediende en tipies modernistiese leierskapstyl is, hou dit nie rekening met die vrae wat in gemeentes en lidmate se harte leef nie. Gemeentes raak ook doodgewoon moeg en teë vir die “van bo-af”-administrasie wat soms deur die breër kerkverband op hulle afgedwing word. Die kerkverband gaan toenemend agterkom dat gemeentes, sonder om eers daaroor te debatteer, hulle doodgewoon net nie meer aan sekere besluite gaan steur nie. Die dae van sulke luukses is verby. Lidmate is ook sat vir die uitmergelende debatte wat die kerklike toneel die afgelope jaar oorheers en versuur het. Enige kerkvergadering moet hulself die vraag afvra: wat wil God hê moet op ons agenda staan? En dit is nie ’n vroom bolangse vraag nie, dit is ’n vraag wat fyn luister vra: ’n luister na God, na die Woord, na mekaar en na die konteks waarin die kerk geplaas is. Ons moet in die eerste plek van Goddelik Bo en nie van menslik bo af werk nie. Die Oostelike Sinode se leierskap wou nie van bo af ’n agenda vir gemeentes skryf nie. Hulle het die afgelope paar maande regdeur die sinodale streek voetsoolsinodes gehou en deur ’n luisterproses een vraag gevra: “Wat plaas God op die kerk se agenda vir die volgende paar jaar?” Die uitslag was verrassend anders as wanneer mense die agenda op eie houtjie sou probeer skryf … Die twee belangrikste sake wat lidmate by die Here gehoor het, is dat God weer die middelpunt in mense se lewens moet word. Daar bestaan dus ’n sterk behoefte dat die kerk lidmate moet begelei tot ’n lewe waarin lidmate God as eerste liefde sal erken en bely. “God self moet weer op die agenda kom.” Lidmate vra daarmee die groot identiteitsvraag: help ons om weer te ontdek wie ons in Christus is. Op die oog af kan dit lyk asof mense hiermee weer vassteek by ’n klein private vroomheid, maar ewe hoog op die agenda en voortvloeiend uit ’n verhouding met God as die middelpunt, het lidmate ook gehoor dat God van die kerk vra dat gelowiges toegerus moet word om daadwerklik Christen op die markplein en betrokke in die samelewing te wees as hulle sê: * “Ons moet soos Jesus betrokke raak by die nood van die wêreld; * “Maak tyd om te luister na wat jou medemens se behoeftes en pyn is; * “Die kerk moet ’n plek wees waar mense heel kan word; “Mobiliseer lidmate tot spontane diens en betrokkenheid; en * “Strukture moet ons vry maak tot diens.” Ander sake op God se agenda vir die kerk is gesonde gemeentes wat onder meer hul sendingtaak uitvoer; gemeentes wat toegerus is om God se wil te kan soek vir die omgewing waarin hulle geroep is om kerk te wees; Woordsuiwerheid; die welsyn van gesinne en die bevordering en uitdra van versoening in ons land. Die vraag is dus nie wat behoort die sinode volgens die kerkorde te doen nie, maar wat vra God van die kerk in ’n tyd soos hierdie. Om God weer in die middelpunt van die agenda te plaas, is ’n groot uitdaging in ’n tyd waar mense so graag die middelpunt van hul eie agenda wil wees. Om mense weer te mobiliseer tot diens is ’n ewe groot uitdaging, maar dit is wat op God se agenda vir ons is. Dan sal Hy ons ook help om dit te doen en werklik ’n verskil in ons land met sy groot nood maak. [Dr. Elsje Büchner is leraar van die NG gemeente Lux Mundi, en dien in die SDR van die Oostelike Sinode.] KERK - NUUS K 32575: Radiokansel kry beperkte lisensie; Burger, 14.11.2008 Pretoria. – Ná ’n jare lange stryd het Radiokansel uiteindelik ’n uitsaailisensie gekry – maar een waarmee hy net sowat 40% van sy luisteraars kan bereik. Die sender sê in ’n verklaring die Onafhanklike Kommunikasie-Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het ’n lisensie vir een mediumgolfsender, AM657, aan hom toegestaan. Daarmee kan Radiokansel die hele Gauteng en groot dele van aangrensende provinsies bereik. Aansoeke om aanvullende senders wat onder meer die stasie se Kaapse luisteraars sou bereik, is afgekeur. Radiokansel het ’n brief oor die Okosa-besluit gekry, maar wag nog vir die volledige beslissing. – Neels Jackson K 32578: Minister en dominee bid saam oor misdaad; Rapport, 16.11.2008 Mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, gaan nie toelaat dat van misdaad ’n politieke speelbal gemaak word nie. Politieke partye speel nie met mense se lewe nie, het die minister gisteroggend tydens ’n biddiens aan sowat 500 inwoners van die misdaadgeteisterde hoewegebied Kameeldrift gesê. Volgens Mthethwa sal die regering nie huiwer om op te tree as gemeenskappe voel iets moet aan wetgewing gedoen word om hul veiligheid te verbeter nie. Die land word bedryf in ’n menseregtekultuur, “maar hoe kan van ons verwag word om menslik te wees as mense ons gemeenskappe terroriseer?” Dr. Willem Pretorius van die NG familiekerk Kameeldrift en die 16-jarige Rüdiger Roach, wie se pa, Rudi (50), verlede maand vermoor is, het ’n memorandum van die kerkgemeenskap en ’n brief van die leerlinge aan die Laerskool Die Poort aan die minister oorhandig. “Die misdaadvlak in ons gebied het só gestyg dat ons die hele tyd in vrees en onsekerheid leef,” lui die leerlinge se brief. K 32584: St. Stephen’s weer in gebruik op Kersdag; Burger, 15.11.2008 Die eerste fase van die omvattende restourasie van die historiese St. Stephen’s-kerk word binne die volgende maand afgehandel, en die gemeente neem die gebou op Kersdag weer in gebruik. Die formele herinwyding vind op 25 Januarie plaas omdat die gemeente hom eers daarop wil voorberei. Dit is egter nie die einde van die projek nie. Nog twee fases lê voor, .. Dit dien vermeld te word dat die projek gekenmerk is deur ’n hartlike samewerking tussen die St. Stephen’s-restourasie-trust onder voorsitterskap van mnr. Marthinus van Bart, die St. Stephen’s-kerkraad onder leiding van ds. Kowie Smith (ook sekretaris van die trust), die argitek mnr. Gert de Wet van Arc Argitekte, in ’n raadgewende hoedanigheid bygestaan deur Gabriel Fagan Argitekte, die bourekenaarspan van die De Leeuw Groep (mnre. Francois Brits en Siyasanga Mlandu), asook die bouaannemer W. Voigt onder leiding van mnre. Leon de Bruyn (direkteur) en Desmond Jacobs (voorman). In die loop van die jaar wat die fase geduur het, was daar geen ongeluk op die bouterrein nie. Ds. Smith het vandeesweek sy blydskap met die probleemvrye vordering van die restourasieprojek uitgespreek en gesê hy beskou dit as ’n wonderwerk waarin die hand van die Here gesien kan word. Die NG Gemeente St. Stephen’s hou tans sy eredienste in die ou SA Gestig-kerkie in Langstraat, beter bekend as die Slawekerk-museum. “Die gemeente sien egter met groot opgewondenheid daarna uit om terug te keer na sy eie kerk op Riebeeckplein. “Indien alles volgens plan verloop, word die eredienste reeds vanaf Kersdag daar hervat. In die Kersdiens sal die gerestoureerde kerkgebou opnuut aan die Here toegewy word. By dié geleentheid sal die huurders van die lokale genooi word om dié erediens by te woon sodat ook hul sakeondernemings deur gebed aan die Here toegewy en geseën kan word. “Die amptelike inwyding van die gerestoureerde kerkgebou vind DV op 25 Januarie plaas. By dié geleentheid sal verskeie hooggeplaastes wees, onder andere die hoofdonateurs soos die lede van die Rupert-familietrust, verteenwoordigers van Naspers, amptenare van die SA Erfenishulpbronagentskap, asook almal wat regstreeks of onregstreeks by die projek betrokke was. “Daar word beplan dat by dié geleentheid ’n koor of meer, asook ander musici sal optree,” het Smith gesê. ... Ook sal vir die eerste keer die foto’s of geskilderde portrette van (hopelik) al die leraars van die gemeente oor die afgelope 165 jaar gesien kan word nadat ontbrekende foto’s in die Argief gevind, afgedruk en geraam is. Daar sal mettertyd meer foto’s en voorwerpe van historiese waarde in spesiale kaste in die kerk ten toon gestel word. Staanders gaan gekoop word vir die aanbied van foto-uitstallings, omdat die gebou in wese ’n lewende museum is, en as sulks benut sal word. Die kerk se twee antieke muurhorlosies, wat baie jare lank buite werking was, is pas herstel, het Smith gesê. Kapenaars het die laaste paar weke verstom gestaan toe hulle die eerste keer in 50 jaar die pragtige vooraansig van die St. Stephen’s-kerk op Riebeeckplein in Kaapstad vanuit Breestraat kon sien. Die betrokke amptenare was mes. Toinette van der Merwe en Sandra Hurstwick, asook mnre. Chris Buys en Johan Cornelius. K 32574: Pastoor daag gemeente uit tot sewe dae van seks; Burger, 14.11.08
Washington. –
’n Pastoor in Amerika het sy lidmate opdrag gegee om Sondag aan te meld vir ’n
week van seks. Past. Ed Young van die Fellowship-kerk in Dallas, Texas, se
program “Sewe dae van seks” het die land aan die gons. Sy plan is om die
gemeente te draai van ’n klomp klakouse na ’n klomp doeners. En met doen
bedoel hy dáái doen. “Ons gaan die gelukkigste kerk op aarde wees,” sê hy in
’n videoboodskap op sy kerk se webtuiste. Die program is slegs vir getroude
lidmate, hoewel ongetroudes ook Sondag moet aanmeld. Sy “uitdaging” aan sy
gemeente is dat egpare een keer per dag vir die volgende week seks moet hê.
Met mekaar. “Sorg dat julle Sondag hier is. Jammer vir die alleenlopers. Maar
die alleenlopers moet ook aanmeld. Dan sal ons uitvind wat gaan gebeur.” In
die tyd van ’n finansiële krisis, die egskeidingsyfer wat die hoogte inskiet
en debatte oor gay-huwelike glo hy dit is tyd om die “gekerm” oor te skakel na
’n “ge-hoera!” “Seks is soos Super Glue. Dit is ’n geestelike ding, ’n
emosionele ding.” – Charles Smith GEHALTETYD? ? BAIE TYD ! ! Gehaltetyd se voet. Dit gaan oor báie tyd; Rudi Swanepoel; By, Beeld, Nov 14 2008 Ek ag my besonder bevoorreg en geweldig gelukkig in verskillende verfrissende opsigte. Een aspek vir my borrelende dankbaarheid is my verhoudingslewe. Die seën van familie en vriende, staatmakers en raadgewers, klankborde en steunpilare, is vir my beslis te groot om genoeg te waardeer. Nogtans stem hulle my elkeen tot groeiende waardering. Die een verhouding in my lewe wat in die besonder blom, is dié met my lewensmaat. Ons is hierdie jaar tien jaar getroud, en in hierdie tyd het soveel fasette van ons saamwees gedy dat ek verstom staan. Een baie groot eienskap van haar is haar praktiese wysheid, waarmee sy onlangs weer die wind op ’n manier uit my seile gehaal het. Die situasie was taamlik ingewikkeld, maar dalk baie bekend aan jou: ’n onderhoud vir ’n ander “werk”. Goeie vrae, deeglike analise, weloorwoë besluite ná profiele en patrone. Een aspek wat toe uiteindelik taamlik sentraal staan, is dié van tydsbesteding. En meer spesifiek: die besteding van tyd aan verhoudings, aan mense: aan hulle wat naby en die naaste aan jou is. My opmerking was dat dit vir my kosbaar is om twee tot drie etes elke dag saam met my vrou en drie kinders te kan eet: saam aan die tafel, aan die praat, aan’t deel. Blykbaar was dit vir my stadsgehoor een te veel: Hoe kan ’n mens? Dis net nie prakties moontlik nie, onhaalbaar, ’n dowwe hersenskim. ’n Snaakse klomp, dié plattelanders. So half uit voeling met die regte wêreld van verkeer, doeltreffendheid en geld en goed. Ná my vertel hiervan aan Carina kyk sy ’n rukkie lank hoek toe, herkou aan die reaksie en reageer toe só: *Wat sou met ons wêreld gebeur as elke pa (ja, oom Angus, élke pa), of hy nou ’n boer is of ’n bankier, ’n rekenmeester of ’n rolbalbaan-opsigter, ’n prokureur of ’n predikant, twee uur meer van sy werksdag “inboet” om aan sy gesin af te staan? *Wat sou gebeur as ’n pa saam met sy kinders om ’n tafel sit en hoor van die boelie met sy windgat selfoon en sy skurwe prentjies? *Wat sou gebeur as ’n pa en ’n ma gereeld kon oogkontak maak en skalks kon saamglimlag oor die aweregse opmerking van ’n kleuter? *Wat sou gebeur as die “feite van die lewe” om die etenstafel bespreek kon word eerder as agter die seunstoilette by die gepoleerde privaat skool? *Wat sou gebeur as ons weet wat ons eet, kon dink oor ons liggaam, mekaar inspireer om nadenkend en gematig te lewe? *Wat sou gebeur as ons nuus kon uitruil, kon praat en lag en huil oor die alledaagse, oor wat in die wêreld gebeur, en leer om die “tekens van die tye” beter te lees en te verstaan? Ek wil jou waarborg, waar ek sit in my sonnige studeerkamer in die beautiful Bedford, dat die wêreld sal verander. Die hele wêreld. En sy mense. En moenie met my oor gehaltetyd praat nie. Ek glo daar geen snars van nie, en jy gaan my ook nie anders oortuig nie. Daar is geen plaasvervanger vir tyd (baie daarvan), fisieke aanraking (die kan nooit te veel wees nie), aktiewe luister en simpatieke kommunikasie tussen ouers en kinders nie. Geen. Daar is géén plaasvervanger hiervoor nie. Dit gaan jou ook nie help om boeke te lees of Loftus toe te gaan (vir rugby en godsdiens) nie; dalk tydelik vir daardie betraande inspuiting, maar jy kan nie by hierdie verantwoordelikheid verby nie. Die koninkryk van God sal inderdaad kom as pa’s en ma’s mekaar liefhet en waardeer en wanneer hulle hul kinders wys dat hulle kosbaar genoeg is om tyd te kry. Geld kan dit nie koop nie, gerief kan dit nie vervang nie. Dink daaroor na, en besluit self waar jou skat is. Sela. [ Rudi Swanepoel is ’n predikant op Bedford in die Oos-Kaap.] oor DOPSTELSEL en oor SJEBIENS K 32580: Soenoffer oor aandeel aan dopstelsel; Rapport, 16.11.08 As hy maar net sy aandeel aan die destydse dopstelsel kon uitwis?… Dit was jare lank die versugting van mnr. Francois Grobbelaar (49), uitvoerende hoof van FASfacts, ’n nie-regeringsorganisasie wat fetale alkoholsindroom (FAS) in landelike gebiede wil voorkom. Hy het immers al as kind op sy pa se plaas in Franschhoek help wyn skink vir die plaaswerkers as deel van die loon vir hul arbeid, vertel Grobbelaar.En nou, as ’n gebaar van boetedoening, het hy onlangs in Rawsonville, naby Worces-ter, die voete van plaaswerkers gewas wat omtrent so oud is soos hy. Daarmee wou hy verskoning vra en om vergifnis pleit vir sy aandeel aan die verspreiding van FAS. “Ek is jammer vir wat ek onbewustelik aan swanger vroue en hul kinders gedoen het,” sê Grobbelaar. “Ek het nie besef dat ek verkeerd doen nie. Ek het toe nie die verwoestende impak van alkohol op individue, gesinne, gemeenskappe en die land besef nie. “Nou weet ek mense met FAS – en die gevolglike permanente breinskade – is baie meer geneig tot misdaad.” Tydens ’n onlangse toespraak van mnr. Marius Fransman, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het Grobbelaar ’n spreekbeurt van vyf minute gekry. “Ek het gewonder wát ek kon sê wat ’n werklike impak kon maak.” Pleks van woorde, het hy dié dag voor die vier plaaswerkers – drie mans en ’n vrou – neergekniel en hul voete in ’n kom water gewas. Grobbelaar het ook Fransman se voete gewas. Hy wou bewys dat hy “nie op die kantlyn gaan sit nie, maar die minister ondersteun in sý poging om FAS in die provinsie uit te wis”. “Ek gooi nie klippe na enige persoon wat betrokke was by die dopstelsel nie. Die voetewas kom uit my hart. “Ek het met dié daad bevryding ervaar en ’n gevoel van dankbaarheid by die plaaswerkers opgemerk: dat iemand tóg erken dat die dopstelsel verkeerd was.” Grobbelaar het met sy graad in die teologie by die destydse Landelike Stigting as gemeenskapsontwikkelaar gewerk. In 2002 het hy FASfacts in Worcester gestig en hy bied tans programme in groot dele van die Wes-Kaap aan. Dienste gaan ook na Upington uitgebrei word. FASfacts werk nóú saam met die Wes-Kaapse departemente van ekonomiese ontwikkeling, landbou, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, gemeenskapsveiligheid en onderwys. Nog vennote is die Dopstop en die Pebbles-projek in Stellenbosch, die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing (FARR) asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkohol- en Dwelmmisbruik (Sanra).
K 32582:
Onwettige sjebiens se deure gou toe; Burger, 15.11.2008 oor SIMBOLE en oor SIMBOLIEK K 32598: Die laaste bastion; Burger, 15.11.2008 Die herrie oor die Springbok-embleem en die ras-ster op die Suid-Afrikaanse rugbytrui het weer gewys hoe kragtig simbole is. MARIDA FITZPATRICK het gaan vasstel hoekom eenvoudige prentjies komplekse reaksies ontlok. ’n Pienk ballon het jou in die wêreld verwelkom. ’n C op jou rapport het jou daardie nuwe fiets gekos. Die x in die SMS het jou dag gemaak. Jou trouring herinner jou om haar uit te los. Simbole is en was nog altyd vervleg met die mens se bestaan. Van die vroegste tye af is prentjies en voorwerpe gebruik om iets anders, iets groters, te verteenwoordig. En daardie iets gaan altyd gepaard met idees, gevoelens en oordele. ... Volgens Carl Jung is simbole komplekse stelsels wat betekenis moontlik maak, verduidelik dr. Amanda du Preez van die Universiteit van Pretoria se departement visuele kunste. “Dit maak ’n appèl op mense se onderbewuste.” Jung onderskei tussen tekens en simbole. “Vir hom is tekens se betekenis duidelik en eenvoudig terugherleibaar tot die ding waarna dit verwys,” sê Du Preez. ... Volgens ds. André Agenbag van die NG gemeente Andrew Murray-Johannesburg-Noord is simbole altyd ’n uitdrukking van identiteit. “Dit is hoekom dit so ’n emosionele ding is. Dit sal altyd ’n emosionele reaksie ontlok.” Simbole is dikwels vir mense koesterend en gerusstellend, sê Grundlingh. “Jy het ’n familiariteit daarmee. Dit sê iets oor waar jy vandaan kom en waar jy is. Dit verteenwoordig kontinuïteit. In jou gedagtestrukture gee dit jou die gerusstelling dat hierdie prentjie môre nog dieselfde gaan verteenwoordig.” ...* Die kruis en die kerk* Die gebruik van simbole in die Christendom en die kerk wys hoe ’n simbool met ander inhoud gevul kan word. Die simbool van die kruis is ’n goeie voorbeeld. “Dit is nie deur die Christendom uitgedink nie,” sê Agenbag. “Die kruis (met die langer vertikale been) was ’n simbool van veragting. Dit was ’n fisieke instrument van teregstelling en vernedering. Dit het simbolies verteenwoordig wat iets soos ’n galgtou vandag verteenwoordig. Toe word dit ’n simbool van verlossing.” Kersfees is ook ’n simbool wat die Christene geneem en met hul eie inhoud gevul het. “Nou word dit wêreldwyd as ’n Christelike fees beskou.” Toe die Protestante van die Rooms-Katolieke weggebreek het, is baie van die Roomse simbole weggedoen. “Tradisioneel sal jy nie kruise in Protestante kerke kry nie,” sê Agenbag. “Daar is gevoel dat daar teruggekeer moet word na die woord van God en weg van al die simboliek en rituele.” En wanneer ’n kruis in ’n Protestante kerk is, is dit leeg, in teenstelling met die Rooms-Katolieke kruise, wat dikwels ’n Jesus aan die kruis het. Vir die Protestante is dit belangrik dat die kruis leeg is as simbool van die opstanding, en vir die Katolieke is die Jesus-figuur aan die kruis belangrik as simbool van opoffering. Die Rooms-Katolieke Kerk het sewe sakramente, maar die Protestante het net twee behou: die doop en die nagmaal. Protestante kerke is dus grootliks van simbole gestroop. “Maar oor die eeue heen het die Protestantse kerke stadig weer begin om simboliese uitdrukking te gee.” DEBAT K 32595: ’n God van die armes; Hennie Lötter; Burger, 15.11.2008 Is die God wat ons aanbid en dien ’n God wat, soos die Belydenis van Belhar sê, “op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is”? Is Belhar verder reg dat die God van die Bybel “teen die ongeregtigheid en by die verontregtes” staan? Baie Afrikaanse gelowiges is ongemaklik met hierdie beeld van God wat ’n saak het met die politiek van die dag. Baie Christene vind dit moeilik om te glo dat God wil hê Sy volgelinge moet aktief politieke, sosiale en ekonomiese onreg uitwys en beveg. Hulle wil nie maklik aanvaar dat God van hulle vra om daadwerklik betrokke te raak by die skade wat hierdie soorte onreg aan mense doen nie. Hulle kan nie dink dat God aan die kant van die armes kan wees en die rykes kan eenkant toe stoot nie. Hoe moet ’n mens hieroor dink? Wil God ook politieke, maatskaplike en ekonomiese rolle aan Sy volgelinge gee? Het die Bybel ’n duidelike boodskap dat ons moet help om die lyding en nood te verlig van mense wat brandarm is? Miskien moet ’n mens eers vra wat armoede is. Daarby moet ’n mens vra hoekom dit so ’n ernstige saak is wat ons dringende aandag verg. ... Een van die mooiste Bybelverhale oor armoede is die verhaal van Lasarus en die ryk man. Lasarus het elke dag by die deur van die ryk man se huis gelê met die hoop om oorskiet van die ryk man se tafel te kry. Die ryk man was regtig ryk: Die Bybel sê hy het “duur en deftige klere” gedra en elke dag “feestelik en weelderig” geleef (Lukas 16:19). In die lewe hierna het hulle rolle omgeruil. Lasarus was in die hemel in ’n ereplek by Abraham. Die ryk man was in die “doderyk” waar hy in pyn verkeer het. Hy het Abraham vergeefs probeer oorreed om Lasarus met water na hom te stuur om te kan afkoel. Abraham sê reguit vir die ryk man hy het in sy leeftyd “altyd die goeie gekry” en Lasarus die slegte. In die lewe ná die dood het Lasarus nou die goeie gekry. Die ryk man probeer vir oulaas dat Abraham tog dan net vir Lasarus na sy broers stuur en hulle ten minste van ’n soortgelyke lot red. Abraham weier ook hierdie versoek, want, sê hy, as hulle nie na “Moses en die profete” luister nie, sal hulle ook nie na iemand luister wat uit die dood uit opstaan nie. Hierdie verhaal wys belangrike goed uit. ... [Hennie Lötter is professor in filosofie aan die Universiteit van Johannesburg.] K 32587: Wat mag mag vermag? DJSmit; Burger, 15.11.2008
As Jesus se volgelinge geroep is om mense “in
enige vorm van lyding en nood by te staan” en dáárom “getuig en stry teen
enige vorm van onreg” sodat “die reg aanrol soos watergolwe” (Amos 5:24), dán
is hulle ook geroep om met woord en daad te “getuig teenoor alle magtiges en
bevoorregtes wat uit selfsug hul eie belang soek en oor andere beskik en hulle
benadeel” (Belhar). Teenoor politici wat hul mag misbruik – nie dien nie, maar
uit selfsug eie voordeel soek. Teenoor verkose leiers wat op korrupte wyse hul
beleid en optrede laat beïnvloed deur dié wat heimlik voordele bied, beloftes,
gawes. Teenoor leiers wat nepotisties sorg dat eie mense aangestel word,
familie poste kry, vriende kontrakte. Teenoor plaaslike amptenare wat meer
dink aan pakkette as aan diens lewer, aan eie aansien en gerief as aan buurte,
strate en veiligheid. Teenoor bevoorregtes wat ylings skatte najaag om eie
hebsug te versadig, maar die oë sluit vir armes, dié wat uitgesluit bly,
agtergelaat word, nooit tel nie. Teenoor gewapendes wat met mes en vuurwapen
onskuldiges oorval en beroof, wond en dóód – net omdat lem en koeël hul mag
gee oor weerlose slagoffers. Teenoor bendes wat buurte verskrik, seuns hul
kind-wees ontneem, meisies in vrees laat lewe. Teenoor geweldenaars wat
blindweg terreur saai, omdat ordentlikes nie na dieselfde middele gryp ter
verdediging nie. Teenoor misdadigers wat menswaardigheid sinies minag en
dwelms versprei om eie sakke te vul. Teenoor mans wat hul vroue aanrand,
verneder en verkneg net omdat hulle fisies, geestelik en finansieel kán – voel
hulle “is” as hulle kan slaan en seermaak; omdat die vroue afhanklik, weerloos
en sonder heenkome is, besorg oor hul kinders, vol vrees vir húl veiligheid en
toekoms, en dáárom verduur. Teenoor magtiges wat agendas bepaal en ongestraf
doen wat hul wil. Teenoor dié wat leuens versprei, propaganda en misleiding in
stede van waarheid. Teenoor ouers wat uit selfsug eie behae soek en nie omgee
nie. Teenoor dié wat uit kulturele vooroordeel – ras, taal, seks – alles en
almal wat ánders lyk en lewe veronreg, uitsluit, gelyke plek wil ontsê.
Téénoor al diesulkes getuig hulle. Tóé, en nóú. BERIGTE vir volgende week: K 32590: Oue rondom en in ons mag ons nie verlam; Godsdiens-Aktueel, Nico Koopman; Burger, 19.11.08 K 32593: Flying Missionaries brings help from above; Star K 32591: Tutu pleit oor gesondheidsdienste; Burger, 19.11.08 K 32579: Die laaste afskeid kry nuwe patrone; Rapport, 16.11.08 K 32595: Verdeeldheid nog altyd deel van NGK; Evert P Kleynhans, Lakeside; Burger, 20.11.2008 K 32504: Preek à la dominee.co.za; Burger, 20.11.08 Dienkie Froneman ABID t 021 882 9923 ; f 086 510 5933
|
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|