NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Ander godsdienste

 

Tuisblad
Terug

 

GETUIENIS OOR GELOOFSGRENSE: KAN PERSONE WAT NOOIT DIE EVANGELIE GEHOOR HET NIE, OOK GERED WORD?

DR. DANIE T. NEL

VERTREKPUNT: HAND 17,16-33 Dit is belangrik om daarop te let dat die boodskap van die opstanding van Jesus Christus, die evangelie, 'n sentrale plek in hierdie Skrifgedeelte kry.

Van die vroegste tye af het mense na die sin van die lewe gevra: "Waarom is ek gebore, en waarheen is ek op pad? Waarom gebeur daar goeie en slegte dinge met my?" Mense het nie altyd dieselfde antwoorde gegee nie. Hulle doen dit ook nie vandag nie. Daar is steeds verskillende godsdienste wat elkeen op sy manier hierdie vrae probeer antwoord. Dit veroorsaak vrae soos die volgende: 

As daar net een God is, waarom is daar so baie godsdienste? Is hulle almal ewe waar, of dalk ewe verkeerd? Is sommige meer waar as ander? Het hulle iets in gemeen soos wat die New Age en ander bewegings dit wil hę? Kan mense wat toegewy is aan hulle eie godsdiens, maar Jesus Christus nog nooit leer ken het nie, ook gered word? Kan ons iets leer van ander godsdienste? Die belangrikste vraag vir ons: Hoe getuig jy teenoor mense van 'n ander godsdienste? 

Daar is twee populęre antwoorde op hierdie vrae: a. Jy aanvaar dat jou geloof die enigste ware geloof is, en dat almal wat nie soos jy glo nie, vir ewig in die hel sal brand; b. Jy aanvaar dat daar meer as een pad na die hemel is, en dat elkeen getrou moet wees aan die openbaring wat hy of sy van God gekry het. Hierdie twee uiteenlopende antwoorde het egter nog nooit goed gewerk nie. Ek wil probeer om 'n alternatiewe weg aan te dui wat poog om meer Skriftuurlik te wees (die Bybelgedeelte wat as vertrekpunt gebruik word, handel spesifiek oor hierdie saak) en hopelik ook beter sal werk wanneer ons met mense van ander gelowe praat. 

1.       Die eerste riglyn wat ons by Paulus kan leer, is dat alle mense in 'n bepaalde verhouding met God staan (v27-29): "God het hulle gemaak om Hom te soek... Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons... Aangesien ons dan self van God afstam..." (Paulus gee volgens sommige geleerdes selfs te kenne dat die Atheners God aanbid sonder om kennis van Hom te hę [v23]). Die boek Genesis sę dat die mens (elke mens) na die beeld van God geskape is. Dit beteken volgens Gereformeerde Skrifverklaarders dat elke mens die saad van God in hom of haar het (Calvyn praat van die semen religiones). Hierdie saad kan ontkiem, sodat die mens 'n werklike geloofs­verhouding met God kan aanknoop wat uiteindelik tot verlossing moet lei. Wat maak ons egter met mense wat nog nooit van die Ou Testament en die Nuwe Testa­ment gehoor het nie? Volgens ons teks kan God Homself aan sulke mense open­baar. Geeneen van die Atheners kon sę dat hulle ver van God af is nie. Hy wat hulle gemaak het om Hom te soek, het Homself (in hulle bestaan, hulle lewe as sodanig) aan hulle bekend gemaak. Sommige Gereformeerde teoloë praat van 'n algemene openbaring. Dit is die wyse waarop die Here Hom aan alle mense bekend maak. Die besondere openbaring is die openbaring wat ons in die Skrif kry, en dan spesifiek die openbaring in Jesus Christus. Ons moet hieraan erkenning gee as ons met mense van ander gelowe praat. As ons die indruk skep dat hulle vir die eerste keer by ons van die ware God hoor, is ons ar­rogant. Hulle sal dan ook nie verder inneem wat ons vir hulle sę nie. Enige vorm van meerderwaardigheid maak getuienis kragteloos. 

2.       Die tweede riglyn is dat die evangelie volgens 'n historiese pad tot mense en nasies kom. Met die evangelie bedoel ons dat Jesus Mens geword het, dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het, dat Hy opgestaan het uit die dood, dat Hy verhoog is aan die regterhand van God, en dat Hy die belofte van die Heilige Gees ontvang en uitgestort het. Toe dit 2000 jaar terug gebeur het, het dit nie eensklaps tot alle mense deurgedring nie. Die evangelie kom langs 'n his­toriese weg deur sendingwerk en prediking tot mense. Voordat Paulus met die Atheners op die Areopagus-heuwel gepraat het, het hulle nog nie van Jesus Christus geweet nie. Die mense wat nog nooit in Palestina was nie, het ook nie die O.T. geken nie en nog nie gehoor van 'n Messias wat sou kom nie. Selfs baie jare nadat Jesus gekom het, was daar miljoene mense wat gesterf het sonder om die evangelie te hoor. Wat sę die Woord vir ons oor hierdie mense?  "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer...(v30)" Paulus erken dus hier dat daar tye in mense se lewens was toe die evangelie nog nie vir hulle gegeld het nie. Dit is nie hulle skuld nie, want ons lees in v26 dat die Here self bepaal wanneer en waar die verskillende nasies op die aarde sal woon. Mense wat lank tevore weens historiese en geografiese redes nie die geleentheid gehad het om die evangelie te hoor nie, se onkunde sal volgens die Woord deur God oorgesien word. Die Here sal regverdig oor hulle oordeel (v31).  

3.         Die derde riglyn: Wanneer mense egter wel die evangelie behoorlik leer ken het, kan hulle nie “neutraal” bly nie. Die boodskap van die kruis en die opstanding van Jesus staan sentraal in ons getuienis, en dit vra van mense om 'n beslissing te maak. Daarom praat Christene nie met mense van ander gelowe net omdat dit interessant of leersaam of in die mode mag wees nie. Die uiteindelike doel van sulke gesprekke moet altyd wees om aan sulke mense die geleentheid te bied om op die evangelie te antwoord.  

4.       Die vierde riglyn is dat die Here die Een is wat oordeel (31). Ons word geroep om te getuig, en nie om regters te wees nie. Ons mag nie namens die Here bepaal wie eendag in die hemel en wie eendag in die hel sal beland nie. Hy sal die węreld regverdig deur Jesus oordeel. Jesus sal dus besluit of ‘n gelowige van ‘n ander godsdiens gered sal word, en daarom is Hy ook in sulke gevalle die enigste Verlosser. Mense van ander gelowe neem geweldig aanstoot wanneer Christene hulle by voorbaat in die hel sien brand. Hulle stel dan nie belang om verder aan enige gesprekke deel te neem nie.   

5.       Die vyfde riglyn is dat ons nie ooreenkomste tussen godsdienste moet gebruik as aanknopingspunt vir ons getuienis nie. Paulus praat van godsdienstigheid en van tempels en kultusdiens, maar sluit elke keer in antitese daarby aan (God is anders...). Hy sę nie dat Christene ook sulke goed ken en dat hulle daarom 'n sinvolle pad met mekaar kan saamloop nie. Hy sluit in teenstelling daarby aan. Hy praat byvoorbeeld van tempels, maar sę nie dat daar ook 'n tempel in Jerusalem staan nie. Hy sę eerder dat die Here waarvan hy hulle vertel, nie in tempels woon wat met hande gemaak is nie. Hy is die Here van die hemel en die aarde. Elke godsdiens se elemente vorm 'n geheel wat ook nie daarvan los gemaak kan word nie. 

As ons byvoorbeeld met 'n Moslem sou praat, help dit nie om die Koran met die Bybel te vergelyk nie. Die Koran vervul 'n ander funksie binne die Islam as die Bybel binne ons geloof. Dit sou meer korrek wees om die Bybel met Mohammed en die Koran met Jesus te vergelyk. 

Dieselfde geld wanneer ons met aanhangers van die Bhakti-praktyk en die Amida-Boedhisme sou praat wat die begrip van genade ken. By die Bhakti beteken genade iets anders omdat hulle nie die skuldlas van sonde ken nie. Dit sou verkeerd wees om ooreenkomste te tref en daarby aan te sluit. Dit kan sulke mense mislei. 

Enige vorm van sinkretisme of godsdiensvermenging moet vermy word. Daarom kan 'n Christen nie met die New Age beweg­ing saamstem wat verskillende godsdienste met mekaar wil integreer nie. Dit is nie die weg van die Bybel nie en ook nie die wyse waarop egte getuieniswerk gedoen word nie. 

6.       Die sesde riglyn is dat gesprekke met mense van ander gelowe jou verwondbaar maak. Aan die begin van die gesprek het die filosowe Paulus 'n kletskous genoem, en aan die einde het sommige hom uitgelag. Daarom is dit geweldig belangrik om voordat ons dit sou waag om met mense van ander gelowe te praat, eers seker te maak dat ons eie oortuiging sterk en stewig staan. Jy moet seker maak dat jy jou 100% kan skaar by die openbaring wat die Here aan jou gegee het. Dit is die boodskap van die evangelie, die verlossingsboodskap van die kruis. Dit is waarby jy staan of val. Jy wyk nie daarvan af nie en jy maak ook nie verskoning vir die inhoud van hierdie boodskap nie, want sendelinge weet uit ervaring dat die gelowiges van ander godsdienste dit ook so van ons verwag. Hulle verloor respek vir persone wat hul eie geloof afwater as ‘n poging om dit meer toeganklik te maak. ‘n Sterk identiteit wat met beskeidenheid en oortuiging aangebied word, is altyd ‘n bate wanneer mense mekaar oor geloofsgrense heen ontmoet.

TEN SLOTTE: Ek weet dat ek nie antwoorde vir al die probleme rondom getuienis oor geloofsgrense gegee het nie. Miskien kan ons in die toekoms weer aandag aan hierdie saak gee. Ek hoop nogtans dat hierdie riglyne beter sal werk. Om dit kortliks saam te vat: (1) Alle mense staan in 'n bepaalde verhouding tot God; (2) Die evangelie kom langs 'n historiese pad tot mense. God wil vir jou en vir my gebruik om dit te bring; (3) Die uiteindelike doel van ons getuienis is bekering; (4) Die Here is die Een wat oordeel; (5) Moenie ooreenkomste soek en daarby probeer aansluit nie; (6) Hierdie gesprekke maak jou verwondbaar. Maak seker van jou oortuiging en staan daarby!

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg Š 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12