|
|
|
|
DIE KONVENT VAN WYNBERG BEGINSELVERKLARING VAN DIE RINGE 1. KERKEENHEID. 1.1 Die Ringe verklaar dit as hulle gemeenskaplike oortuiging dat die Bybel se leer oor die eenheid van die kerk en die Gereformeerde opvatting oor die sigbare eenheid van die kerk gestalte moet vind in een enkele NG Kerkverband. Dit beteken dat die bestaande institute sal moet verening in 'n enkele instituut wat volgens Gereformeerde kerkreg en kerkverband georganiseer word. Rasse-oorwegings sal geen rol speel in die kerkregtelike inrigting van hierdie kerk nie. Taal en kuturele verskille, soos alle ander verskillende bedieningsbehoeftes, mag nie hierdie eenheid van die kerk aantas nie, maar sal langs gewone gereformeerde weë hanteer word en sal dien tot die onderlinge verryking binne een enkele sigbare kerk. 1.2 Die Ringe verbind hulle gevolglik om hierdie proses tot eenwording aan die gang te sit en moedig strewes binne die die kerke van die NG Kerk-familie aan wat die uiteindelike eenheid kan voorberei en dien. 1.3 Die Ringe bely gesamentlik hulle skuld aan die wyse waarop ons kerke toegelaat het dat daar 'n gebrek aan sigbare eenheid oor die jare heen binne die NG Kerk-familie gegroei het en steeds bestaan. 2. VERSOENING. 2.1 Die Ringe verklaar dit as hulle hartlike oortuiging dat die styl van die kerk se optrede steeds die van versoening, vrede, en liefde behoort te wees. Die kerk is immers die unieke skepping van God: mense wat deur Christus se bloed met God en met mekaar versoen is en nou vrede het. 2.2 Die Ringe is daarby oortuig dat egte, geleefde versoening tussen Christene in ons land ook nuwe lewensmoontlikhede sal bring in ons gepolariseerde samelewing, omdat mense wat tans van mekaar vervreem is en mekaar wantrou, vrees, en selfs haat, dan mekaar sal leer vertrou, liefhê en dien. 2.3 Die Ringe bely dat God se Woord en Gees in staat is om die lidmate van ons kerke en mense in die samelewing met mekaar te versoen ten spyte van alle natuurlike verskille tussen hulle. Ons betreur dit dat hierdie versoening oor die jare heen in ons land deels deur die gedwonge skeiding van apartheid en afsonderlike ontwikkeling bemoeilik en selfs onmoontlik gemaak is. 2.4 Die Ringe is diep onder die indruk daarvan dat versoening nie die toesmeer van geskilpunte en die goedpraat van wat verkeerd is, beteken nie. Ons verklaar daarom dat 'n goedkoop versoening in ons land, wat sou neerkom op goeie gesindhede alleen en die eensydige, geduldige verduring van onreg sonder dat die onreg afgetakel word, nie die pad van Christelike versoening is nie. 2.5 Die Ringe is diep bewus daarvan dat 'n proses van ware versoening vir ons almal veel pyn sal meebring, en onder andere ook die aftakeling sal inhou van denk-, kerklik- en samelewingsstrukture wat oor baie jare heen gegroei het, maar is oortuig dat dit die eis van die evangelie vir ons almal is. Ons verklaar daarom ons bereidheid om dit saam met mekaar op hierdie weg te waag. 3. GEREGTIGHEID. 3.1 Die Ringe bely dit as hulle oortuiging dat God Homself openbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring. 3.2 Die Ringe herbevestig die oortuiging van die kerke dat die politiek-maatskaplike beleid en die bestel wat daardeur geskep is, in ons land bekend as apartheid (of watter ander benaming in die loop van die tyd daaraan gegee word: afsonderlike ontwikkeling, eie sake, ens.) sonde is waardeur mense veronreg en hulle menswaardigheid aangetas word; dat dit daarom die Bybelse beginsel van geregtigheid en naasteliefde verkrag. Ons verklaar dat alle pogings om sodanige politiek-maatskaplike beleid openlik of bedenklik op Bybelse gronde te regverdig, die Christelike geloof ongeloofwaardig maak. 3.3 Die Ringe verklaar dit as hulle gemeenskaplike oortuiging dat die Godgegewe waardigheid van mense gerespekteer moet word. Ons verklaar dat, ter wille van geregtigheid, die handhawing van Bybels-gefundeerde menseregte daarom dringend in ons land nagestreef moet word, verkieslik in die vorm van 'n afdwingbare regskode wat ook die regte van die weerlose beskerm. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|