NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Beoordeling

 

Tuisblad
Terug

 

Reaksie op die gesamentlike PRK/SRK se beoordeling van die Wynberg gemeentes se samewerkingsooreenkoms.                                                         

Danie Nel, 21 Februarie 2010

Ek reageer op ’n dokument met die titel: "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk).” Die inleidende paragraaf verklaar dat die regskommissies “graag so op die ooreenkoms reageer”. Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy dit saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Dit is aan die kerkraad van die VGKSA Wynberg en die leraars van die VGKSA Ring van Wynberg oorhandig. Volgens Ds. Sarel Christians het die actuarius van die VGKSA die dokument met die kerkraad van die VGKSA Wynberg behandel.

Ek het met verbasing van die dokument se bestaan bewus geraak toe Ds. Samuels op 10 Februarie 2010 dit aan my gegee het. Dit was nooit aan die NGK kerkraad of ring van Wynberg gestuur nie. Dit het Ds. Samuels ook verbaas omdat hy, sy kerkraad en waarskynlik ook sy VGKSA ringskollegas gemeen het dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Skielik het dit lig gewerp op sekere reaksies: hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is.

Die basiese gevolgtrekking waartoe die dokument kom, word in punt 2 van vermeld: “Vanaf artikel 1 in die ooreenkoms tussen die twee gemeentes is dit opvallend dat die gemeentes iets probeer bereik wat buite die draagwydte val van die bepalings van Reglement 6.5 van die Algemene Sinode en Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.” In hierdie reaksie gebruik ek Reglement  6.5 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk as vertrekpunt vir my beoordeling van die dokument. Ek verstaan Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het dieselfde bewoording.

1.         Reglement 6.5 gee die volgende begripomskrywing:

“Kombinasie beteken hier dat twee of meer kerkvergaderinge van verskillende kerkverbande, of kommissies van kerkvergaderinge, as deel van die soeke na kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie, ten bate van die koninkryk van God en as gelyke deelgenote van mekaar, kontraktuele ooreenkomste aangaan vir die uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede.”

1.1        Die reglement is nie voorskriftelik betreffende die aard of inhoud van die werksaamhede waartoe ooreengekom kan word nie. Dit mag sekere finansiële werksaamhede insluit (5.1.1) wat duidelik omskryf moet word en binne reglementêre bepalings moet hou: “Reglement 9 wat handel oor Kerklike Eiendomme, Goedere en Fondse, moet by die opstel van die ooreenkoms in berekening gebring word” (5.1.3). Die reglement maak selfs voorsiening “dat die gekombineerde liggaam die reg sal hê om sake te hanteer soos die beroep en indiensstelling van ’n leraar” (5.1.5). Die daarstelling van gemeenskaplike doelwitte mag egter nie “die regte en verantwoordelikhede van die kontrakterende kerkvergaderinge/kommissies ophef” nie (5.1.6) en “die kontrakterende party val steeds onder die regering, opsig en tug van sy/haar verantwoordelike kerkvergadering”.

1.2        Die noue samewerking tussen die Wynberg gemeentes het betrekking op sekere werksaamhede van die gemeentes wat volgens die onderskeie kerkordes as verantwoordelikhede van die kerkrade beskou word. Die samewerking hef op geen wyse die kerkordelike bepalings met betrekking tot ampsdraers, finansies, personeel, eiendom en die regte en verantwoordelikhede van die onderskeie kerkrade ten opsigte van die kerkverbande op nie omdat sulke sake afsonderlik deur die kerkrade hanteer word.

2.         Die reglement verwys in bepaling 5.1.5 na “die gekombineerde liggaamwat saam funksioneer en daarom ook “aspekte soos konstituering, kworumvereistes, wyse van besluitneming, stemreg, befondsing, verantwoordelikhede vir aanstellings” moet uitklaar “om sake te hanteer soos die beroep en indiensstelling van ’n leraar.”

2.1        Die gekombineerde liggaam word in Artikel 1 van Wynberg se ooreenkoms as ’n samewerkingsverband aangedui waarin twee gemeentes saamwerk:

Die kerkrade van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Gemeente in Suid-Afrika van Wynberg, besluit tot die aangaan van ‘n ooreenkoms ten opsigte van die kombinasie van die gemeentes se werksaamhede in ooreenstemming met Reglement  6 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Artikel 1. Die naam van die samewerkingsverband is: “Die gesamentlike gemeente van Wynberg.” Indien die samewerkingsverband amptelik aangedui moet word, word aan die naam toegevoeg: “… waarin saamwerk die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Gemeente in Suid-Afrika van Wynberg.”

2.2        Punt 7.7 van Wynberg se gesamentlike reëling vermeld uitdruklik dat die gemeentes regtens as afsonderlike regspersone bestaan totdat die kerkverbande verenig”.

2.3        Volgens die regskommissies (PRK en SRK) se dokument wil “die opstellers deur die ooreenkoms die twee gemeentes tot ‘n enkele kerklike instituut” saamvoeg. As substansiëring dat “twee gemeentes self” en “nie werksaamhede van die gemeentes nie” saamgevoeg word, haal die regskommissies aan uit Artikel 1. Die naam van die samewerkingsverband is: “Die gesamentlike gemeente van Wynberg.” Die voorafgaande intensie en die daaropvolgende kwalifisering dat die twee gemeentes saamwerk, word deur die PRK en SRK se dokument buite rekening gelaat.

2.4.       As verdere substansiëring vermeld die PRK en SRK se dokument “die indruk dat die kerkrade feitlik hulle afsonderlike bestaan wil prysgee,” en verwys na ‘n “hele eie reglement van orde” wat volgens die skrywers “met groot sorg daarvoor uitgewerk” was. Maar, voeg die dokument by, “dan verdwyn die twee kerkrade tog nie heeltemal nie soos blyk uit die ingewikkelde reëlings wat verder aan in die ooreenkoms getref moet word.” Die skrywers (“ons”) “wonder waarom die bevoegdheid om te beroep dan aan 'n ‘gesamentlike kerkraad’ oordra word? En, belangriker, is dit ‘n werksaamheid soos in Reglement 6.5 bedoel?” Die skrywers van die PRK en SRK se dokument het kennelik nie in Reglement 6.5 gelees “dat die gekombineerde liggaam die reg sal hê om sake te hanteer soos die beroep en indiensstelling van ’n leraar” (5.1.5) nie, en dat “aspekte soos konstituering, kworumvereistes, wyse van besluitneming, stemreg, befondsing, verantwoordelikhede vir aanstellings” daarom ook uitgeklaar moet word. Dit maak logies ook sin dat ’n predikant gesamentlik beroep word omdat hy beide gemeentes gaan bedien met die Woord en die sakramente, en soms vir sy kollega moet instaan om pastorale verantwoordelikhede na te kom. Die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) se Generale regeling voor samenwerking en federatie maak ook voorsiening dat ampdraers gesamentlik verkies kan word waar gemeentes ’n ooreenkoms vir noue samewerking gesluit het (Artikel 6).

2.5        Indien die regskommissies met die kerkrade in verbinding sou wees, sou hulle verneem het waarom die kerkrade hul werksaamhede sover moontlik gesamentlik moet uitoefen. Dit is gewoon nie moontlik om ’n gesamentlike bediening afsonderlik te bestuur nie. Dit klop ook met die PKN se reëling (Artikel 4.5) vir gemeentes wat nou saamwerk.

2.6        Ek stem saam dat tug nie gedelegeer kan word nie. Die gesamentlike kerkraad moet daarom volgens die ooreenkoms toesien “dat die opsig oor die lidmate van die gemeente, soos deur die kerkorde aan hom opgedra is”, ook volgens die bepalings van die betrokke kerkorde moet plaasvind. Dit behoort duideliker in die ooreenkoms omskryf te word.

3.         Die reglement bevat geen bepalings of uitsluitings met betrekking tot die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente nie.

3.1        Artikel 7 van die VGKSA Kerkorde bepaal uitdruklik dat die kerkraadalle sake behandel wat die erediens, die onderrig, die gesamentlike sorg, die getuienisaksie en die diens aan die gemeente raak” en dat die kerkraad die reg het om prosedures en reëls vas te stel vir werksaamhede wat aan die kerkraad toevertrou word.

3.2        Wynberg se ooreenkoms handhaaf die uitgangspunt dat kerkrade bevoeg is om prosedures en reëls vas te stel vir werksaamhede wat aan die kerkraad toevertrou word. Die reëling met betrekking tot gesamentlike eredienste is vasgestel nadat die lidmate daarin geken is.

3.3        Hoewel die reglement die kombinasie van werksaamhede “as deel van die soeke na kerklike eenheid” beskou, oordeel die PRK en SRK se dokument die ooreenkoms se reëling oor gesamentlike eredienste vanuit ‘n onderliggende ekklesiologie van geskeidenheid:

“Dit (dat die kerkrade gesamentlik vir die diens van die Woord en die sakramente sorg) kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.”

“Hieruit blyk dat slegs gesamentlike eredienste beoog word. Ek het hierbo reeds ‘n opmerking gemaak oor die noodsaaklikheid vir die gemeente van 'n eie erediens gesien die feit dat woordverkondiging deel is van die tug. Terwyl daar twee afsonderlike gemeentes is bestaan daar na my oordeel ‘n behoefte aan 'n eie erediens wat ook duidelik word wanneer die taak van die herder en leraar in sy geheel gesien word (dis afgesien van die voorsitterskappe van elke denkbare liggaam op die dorp!): Die leraar het die plig om huisbesoek te doen. Tydens die huisbesoek word hy van die behoeftes van sy gemeente bewus en die erediens is die geleentheid waar sommige van daardie behoeftes aandag moet kry. Die gerneente verloor iets van sy intieme karakter as sy nie gereeld as gemeente in die erediens byeenkom nie.”

3.4        Dit is opvallend dat die PRK en SRK se dokument glad nie na die reglement verwys wanneer Wynberg se reëling met betrekking tot gesamentlike dienste afgewys word nie. Die konsep van ‘n “eie erediens” word vier maal in die beredenering herhaal. Die begronding is teologies (Woordverkondiging is volgens die PRK/SRK se dokument ’n “tughandeling” wat nie gedelegeer kan word nie), persoonlik (volgens die outeur is daar ’n behoefte aan ’n eie erediens), pastoraal (die lidmate se behoeftes sou volgens die outeur nie genoegsaam aandag in gesamentlike eredienste kry nie) en sosiaal van aard (die gerneente verloor volgens die outeur iets van sy intieme karakter as eie eredienste nie gehou word nie). Afgesien van ’n hoogs aanvegbare teologiese beskouing oor die aard van Woordverkondiging as ‘n tughandeling, moet die Wynberg gemeentes volgens die dokument steeds eie eredienste handhaaf om die persoonlike, pastorale en sosiale behoeftes van lidmate te bedien. Die onderliggende teologie van geskeidenheid (apartheidsteologie) word kwalik verbloem.

3.5        Een van die take wat Wynberg se ooreenkoms aan die gesamentlike kerkraad opdra, is “die bespreking van sake wat deur die verbandsvergaderings behandel word” (paragraaf 1.10) aangesien rings- en sinodale besluite uiteraard ’n impak op die samewerking het. Volgens die PRK en SRK se dokument is dit buite orde. Die volgende motivering word aangebied: “Terwyl die 'sake' openbare kennis mag wees is ‘n kerkraadsvergadering nie 'n openbare vergadering nie en 'n bespreking van familiesake hoort nie in die geselskap van ander te geskied nie.” Dit is weereens opvallend dat die PRK en SRK se dokument glad nie na die reglement verwys in hulle begronding nie, maar ’n duidelike onderskeid tref tussen “familie” en “ander”. Die onderliggende teologie van geskeidenheid kom ook hier na vore. Sou dit ook vir rings- en sinodale kommissies wat saam funksioneer “buite orde” wees om sake wat deur die verbandsvergaderings behandel word, te bespreek?

3.6        Die Gereformeerde kerkreg veronderstel ’n nou band met die belydenisgrondslag van ‘n kerk: “De belijdenis word geacht de fundamentele, de constitutieve bepalingen van de kerkregering te bevatten”[1]. Die VGKSA volg hierdie beginsel aangesien die VGKSA Kerkorde as die beliggaming van die Belhar Belydenis beskou word.[2] Die kerkordelike bepalings behoort derhalwe volgens die bedoeling van die kerk se belydenis te funksioneer. Aan dit wat oor die kerk geglo word, word volgens Leo Koffeman hande en voete in die kerkregtelike praktyk gegee, sowel in die reëlgewing as in die wyse waarop daar met die reëls omgegaan word.[3] Dit is vir my in hierdie verband onduidelik hoe die PRK en SRK dokument kan aandring op eie of aparte eredienste en steeds artikel 2 van die Belhar Belydenis kan handhaaf: ons glo “dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit 'n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word” en “dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word.”

4.         Die actuarius van die NGK, Ds Hannes Theron, het soos volg oor die oorsprong van die dokument in ’n brief gedateer 14 Februrie 2010 aan die Kerkaad van Wynberg geskryf:

“Na dr Nel se navraag aan die SRK/PKR vir ’n kerkregtelike beoordeling van die ooreenkoms tussen die twee gemeentes, het ek die ooreenkoms aan mnr Paul Klopper, ’n afgetrede prokureur, beskikbaar gestel wat ons (die NGK en VGK) in die verlede al baie met advies in die verband gehelp het. Sy kommentaar was aan my persoonlik gerig met ’n klompie vrae en opmerkings oor die ooreenkoms tussen die VGK en NGK Wynberg. Ek het die kommentaar van mnr Paul Klopper aan die SRK/PKR beskikbaar gestel en daar is besluit om gesamentlik met die kerkrade en ringskommissies van die NGK en VGK hieroor in gesprek te treë. Die kommentaar van mnr Klopper is nooit deur die NGK/VGK aanvaar as hul amptelike standpunt of as ’n amptelike advies van ’n prokureur nie. Trouens, dit is nie eens deur die vergadering bespreek nie, maar daar is slegs kennis geneem van die kommentaar en geoordeel dat dit ons kan help in ons gesprek met die twee kerkrade. Om hierdie rede het ek nooit die kommentaar beskikbaar gestel aan dr Danie Nel of die kerkrade nie. Ek het dit ook by verskeie geleenthede so aan dr Danie Nel oorgedra.”

Toe ek Ds. Theron gevra het hoe hy dan die opskrif en die inleidende paragraaf verklaar, het hy geantwoord (verbatim aangehaal uit epos):

“Die kommentaar van Paul Klopper het ek in die dokument voor die SRK/PKR-vergadering ingetrek. Tydens die vergadering het ons toe glad nie oor die dokument gepraat nie, aangesien ons beslui thet om eerder ’n gesprek te reël. Die dokument was ook nooit bedoel om versprei te word nie. Dit was ’n werksdokument. Ek besef nou dat ek dit in die opskrif moes geplaas het dat dit slegs ’n werksdokument is.”

In ’n volgende boodskap het hy geskryf (verbatim aangehaal uit epos):

“Ek het nou weer gaan sit en dink oor hoe die bepaalde dokument met die bepaalde opskrif (Kommentaar van die SRK en PKR . . . ) die lig gesien het. Aanvanklik was dit die bedoeling om skriftelik op jul versoek te reageer en ek het solank ’n dokument vir die vergadering voorberei waarop ek die opskrif aangebring het. Ek het ook die kommentaar van Paul Klopper daarop ingetrek. Met die vergadering het ons geoordeel dat dit beter sal wees om eerder ’n gesprek te reël aangesien daar heelwat punte was wat ons eerder met julle sou wou uitklaar. Dit was ’n goeie besluit al kon dit nog nie realiseer nie. Die lede van die vergadering het my gevra om die kommentaar van Paul Klopper aan hulle te stuur, maar dit was nooit die bedoeling dat dit aan die betrokke gemeentes/ringe deurgegee sal word nie. Ek het daardie dokument nie aan enige lede van die betrokke ringe/gemeentes gegee nie.

Ek hoop ek help jou. Ek staan by my standpunt dat daar nooit so ’n beluit geneem is dat dit die amptelike kommentaar van die SRK/PKR oor die proses was nie, maar slegs kommentaar om ons in die gesprek met julle te help. Daar is kommentaar in die stuk waarmee ek ook nie saamstem nie, maar wat ons in die gesprek sal moet verreken.”

Uit bogenoemde verduideliking word gekonstrueer: Ds Theron het mnr Paul Klopper se kommentaar ingetrek in ’n dokument wat hy aangebied het as die regskommissies se kommentaar op Wynberg se ooreenkoms. Die regskommissies het volgens Ds. Theron, sonder dat dit “eens deur die vergadering bespreek” is (hulle het “glad nie oor die dokument gepraat nie”, “slegs kennis geneem”), geoordeel dat dit hulle kan help in hul gesprek met die kerkrade om sekere punte uit te klaar. Die lede van die vergadering het Ds Theron versoek om die dokument aan hulle te stuur. Die dokument word, met dieselfde opskrif en inleidende paragraaf, as die regskommissies se kommentaar op Wynberg se ooreenkoms met die VGKSA kerkraad van Wynberg bespreek. Die kerkraad beskou dit as die regskommissies se reaksie.

Ds Theron se weergawe word deur Dr. Plaatjies se verslag (paragraaf 54 van haar uiteensetting van die verloop) weerspreek. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” (die dokument) soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is. In die daarstelling van ooreenkomste moet beklemtoon word dat die oorspronklike regspersone moet bly staan.”

5.         Die regskommissies het nooit hul beoordeling van die ooreenkoms met die gesamentlike kerkraad bespreek of aan die NGK kerkraad gestuur nie, al was hulle herhaaldelik daartoe versoek:

·         ’n Verbeterde weergawe van die samewerkingsooreenkoms is op 29 Augustus 2008 aan die actuarii gestuur met die volgende boodskap: “Ek sal enige kommentaar en voorstelle van julle baie waardeer. Ek hoor graag van julle.” Geen terugvoering is ontvang nie, ook nie nadat verdere verbeterings op grond van Prof. Leo Koffeman se voorstelle aan hulle op 13 November 2008 deurgegee was nie.

·         Tydens ’n ontmoeting met die actuarii van die NGK en VGKSA by ’n restaurant in Claremont op 20 Februarie 2009 het Ds. Theron my ingelig dat die regskommissies ’n regsfirma genader het om advies. Volgens die prokureur kan die ooreenkoms nie regstegnies goedgekeur word nie. Ds. Theron kon nie die prokureur se opinie aan my deurgee nie aangesien dit volgens hom eers voor die gesamentlike PRK/SRK moes dien. Ek het versoek dat die inhoud van die regsadvies aan die kerkrade beskikbaar gestel word en dat die gesamentlike PRK/SRK die spesifieke regsprobleme aan die kerkrade sal kommunikeer.

·         Ek het tydens die moderamen se vergadering op 24 Maart 2009 Ds. Theron gevra om die spesifieke inhoud van die regsmening aan die kerkrade bekend te maak.

·         Ek het tydens ‘n ontmoeting van die NGK actuarius met die NGK kerkraad se dagbestuur en die NGK ringskommissie op 15 April 2009 weer ’n versoek aan Ds. Theron gerig om die inhoud van die regsmening bekend te maak. Dit sou volgens hom tydens ‘n gesamentlike vergadering met die VGK actuarius, kerkraad en ringskommissie plaasvind.

·         Ek het Ds. Monthy Sahd op 14 Mei 2009 nadat hy ondersteuning aangebied het, gevra dat die actuarius versoek word om die regsprobleme aan die kerkrade bekend te maak.

·         Aangesien die wysigings wat deur Prof. Koffeman voorgestel is ook deur die NGK Ring van Wynberg op 13 en 14 September 2009 goedgekeur moes word en ’n reglement voor die ringsvergadering sou dien wat op die PKN model gegrond was, het ek tydens die ringsvergadering vir Ds. Theron geskakel om ’n aanduiding van die regsproblematiek te gee. Ek het my dilemma aan hom verduidelik en hy het aangedui dat die regsprobleme nie van so aard is dat dit die voorlegging aan die ring in gedrang hoef te bring nie. Ek het toe aan die ring gekommunikeer dat hoewel daar nog sekere uitstaande kerkregtelike kwessies is wat aandag moet kry, ek die dokumente tog laat dien en dat die wysigings wat die gesamentlike PRK/SRK sou voorstel, dan by ’n latere geleentheid weer voor die Ringsvergadering sal dien.

·         Ek het Ds. Theron op 23 September 2009 geskakel om te verneem waarom die VGK actuarius die regsprobleme in die NGK lede se afwesigheid aan die VGK kerkraadslede bekend gemaak is. Hy het onderneem om haar te skakel en sou daarna terugvoering gee. Aangesien dit nie gebeur het nie, het die NGK kerkraad van Wynberg besluit om per brief, gedateer 30 Okt. 2009 en gerig aan die gesamentlike PRK/SRK, te reageer op Dr. Plaatjies se kerkregtelike evaluering. Ek het Ds. Theron weer op 21 Januarie 2010 geskakel. Hy het aangedui dat hy die volgende week met Dr. Plaatjies sou vergader en daarna terugvoering sou gee. Na verloop van drie maande het die kerkraad steeds geen reaksie ontvang nie, selfs nie erkenning van ontvangs op hul skrywe nie.

6.         Dit is betreurenswaardig dat die NGK kerkraad per toeval op 10 Februarie 2010 moes verneem dat die regskommissies reeds op 9 Maart 2009 ’n verdoemende besluit oor die ooreenkoms geneem het op grond van ’n dokument wat kennelik nie die betrokke reglement as basis van beoordeling gebruik het nie en dit bekend gemaak het – sonder dat die opstellers of die kerkraad die geleentheid gehad het om te reageer. Die verhouding tussen die kerkraad en die regskommissies tot voor hierdie gebeure vanuit die kerkraad se oogpunt, word opgesom in die brief van die kerkraad aan die gesamentlike PRK/SRK, gedateer 30 Oktober 2009:

2.2        Die kerkraad het in die skrywe gedateer 14 Augustus 2008 van die gesamentlike PRK/SRK aan die kerkrade van NGK en VGKSA Wynberg onder andere met dankbaarheid verneem dat die bestaande reglemente, Reglement 6 van die NGK en Reglement 43 van die VGKSA, “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik.” Hierdie brief was ’n reaksie op die voorlegging van die konsepooreenkoms en die PKN reglement. Die konsepooreenkoms is vervolgens in ooreenstemming met die betrokke reglemente verwerk en eenparig deur die kerkrade op 2 September 2008 goedgekeur. Die gewysigde ooreenkoms is afsonderlik en onafhanklik van mekaar deur twee prokureurs en Prof. Piet Strauss positief beoordeel.

2.3        Die kerkraad aanvaar dat die regsadvies van die prokureursfirma waarna Dr. Plaatjies in punt 54 verwys nuwe inligting na vore gebring het wat deur sowel die gesamentlike PRK/SRK as die kerkrade van Wynberg oorweeg moet word. Die kerkraad ontvang graag sodanige inligting.

Die kerkraad het deurgaans gemeen dat die regsprobleme oorbrugbaar was aangesien geen opvallende teenstrydighede tussen die reglement en die ooreenkoms waarneembaar was nie. Nou ontdek ons standpunte in die regsadvies wat duidelik onversoenbaar met die bedoeling van reglement 6.5 en artikel 2 van die Belharbelydenis is. Ons verneem ook dat dit as die standpunt van die regskommissies aan die VGK kerkraad gekommunikeer is, terwyl die NGK kerkraad se herhaaldelike versoeke afgewys is.

7.         Karl Barth het vier algemene voorveronderstellings vir die kerkreg teen die agtergrond van die Duitse kerkstryd geformuleer: dit moet dienend, liturgies, lewend en eksemplaries wees. Mag kan slegs legitiem wees as dit dien. Kerkreg is voorts lewende reg, want die Heer leef. Dit moet daarom steeds bereid wees tot nuwe antwoorde. Dit is dinamies, menslik, nooit afgeslote, steeds op weg van slegter na beter. Kerkreg word gebore uit gehoorsaamheid aan Christus en moet daarom altyd met eerbied benader word. Daar kan ook tye kom waarin gehoorsaamheid juis vra dat die kerklike regspraak verander moet word. Kerke kan in hierdie verband van mekaar leer.[4]


 

[1] Nauta, D., Verklaring van de Kerkorde van de GKN, Kampen 1971, 18

[2] Van Rooi, L.B., “Bevry om te bely en te beliggaam. 'n Ekklesiologiese besinning oor die kerkorde van die VGKSA”, in Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 48:3&4 (2007), 799-810.

[3] Koffeman, L.J., Het goed recht van de kerk, Kampen 2009, 83. Die boek word ingelei met die volgende stelling: “Pas op voor de kerkjurist die uitsluitend schermt met juridische argumenten. Voor je weet word je klem gezet. Dan wint ‘het recht’ en verliest de mens. En de gemeente”.

[4] Vergelyk Koffeman 2009, 89vv.. Barth, K., Die kirchliche Dogmatik, IV/2, Zurich 1964, 768vv.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12