|
|
|
|
24 Februarie 2010 Die Aktuarius Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika Posbus 337, Somerset-Wes 7129 Geagte Ds. Theron 1. U verwys na Reglement 6:6 van die Kerkorde (KO 2007). Ons aanvaar u bedoel Reglement 6.5 en bedank u dat u dit weer onder ons aandag bring. Ons neem kennis waarom u kommentaar van die NGK kerkraad weerhou is en verwys na die aangehegte reaksie van Dr. Nel. Ons vind dit steeds vreemd dat u nie op die kerkraad se versoeke vir voorstelle of kommentaar gereageer het nie. 2. Die Uitvoerende Bestuur neem ook kennis van u opmerkings betreffende ’n helings- en versoeningsproses. Ons verneem graag na die gronde en omvang van die VGKSA lede se ongemak. Ons is bewus van enkeles. Ons kerkrade het, soos die aangehegte visitasieverslag aandui, ’n veel meer positiewe belewenis van onderlinge verhoudings as die beeld wat u voorhou. Hoewel ons u sentimente met betrekking tot verhoudingsbou deel – die kerkrade is immers 19 jaar lank besig met ’n helings- en versoeningsproses – vind ons dit onaanvaarbaar dat u gevolgtrekkings as voorwaarde gebruik word om verdere versuim van opinie te regverdig sonder dat u met die kerkrade in gesprek was. Die proses word hierdeur verder belemmer – ten gunste van diegene wat geskeidenheid wil handhaaf. Die kerkrade wat die moed het om geskeidenheid op te hef, behoort eerder ondersteun te word in ’n konteks waar die Belydenis van Belhar ’n rigsnoer vir die lewe van die kerk is. 3. Die Uitvoerende Bestuur het met teleurstelling kennis geneem van die inhoud van u dokument "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk) wat u reeds op 9 Maart 2009 aan die regskommissies voorgelê het. Die NGK kerkraad het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan Dr. Nel oorhandig het. Die dokument maak volgens ons omstrede uitsprake oor die ooreenkoms. Die regskommissies het (vergelyk paragraaf 54 van Dr. Plaatjies se uiteensetting van die verloop) op grond daarvan ’n besluit geneem en dit versprei – sonder om die opstellers of die NGK kerkraad in te lig. Geen reaksie was dus moontlik nie. Die dokument is as die standpunt van die regskommissies aan die VGKSA kerkraad en VGKSA ringsleraars oorhandig en met hulle bespreek, al was dit volgens u ‘n “werksdokument”. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is. 4. Die verhouding tussen die kerkraad en die regskommissies tot voor hierdie gebeure word weerspieël in ‘n brief van 30 Oktober 2009 aan die gesamentlike PRK/SRK 2009: “2.2 Die kerkraad het in die skrywe gedateer 14 Augustus 2008 van die gesamentlike PRK/SRK aan die kerkrade van NGK en VGKSA Wynberg onder andere met dankbaarheid verneem dat die bestaande reglemente, Reglement 6 van die NGK en Reglement 43 van die VGKSA, “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik.” Hierdie brief was ’n reaksie op die voorlegging van die konsepooreenkoms en die PKN reglement. Die konsepooreenkoms is vervolgens in ooreenstemming met die betrokke reglemente verwerk en eenparig deur die kerkrade op 2 September 2008 goedgekeur. Die gewysigde ooreenkoms is afsonderlik en onafhanklik van mekaar deur twee prokureurs en Prof. Piet Strauss positief beoordeel. 2.3 Die kerkraad aanvaar dat die regsadvies van die prokureursfirma waarna Dr. Plaatjies in punt 54 verwys nuwe inligting na vore gebring het wat deur sowel die gesamentlike PRK/SRK as die kerkrade van Wynberg oorweeg moet word. Die kerkraad ontvang graag sodanige inligting.” 5. Die kerkraad het deurgaans gemeen dat die regsprobleme oorbrugbaar was aangesien onafhanklike regsmenings bevind het dat daar geen opvallende teenstrydighede tussen die reglement en die ooreenkoms waarneembaar was nie. Hoewel Reglement 6.5 die kombinasie van werksaamhede “as deel van die soeke na kerklike eenheid” beskou, blyk dit nou dat u dokument geskeidenheid wil handhaaf, en dat sommige uitsprake – byvoorbeeld dat die gemeentes ook aparte eredienste moet hou – afgesien van die onetiese praktiese gevolge, ook moeilik versoenbaar met Artikel 2 van die Belydenis van Belhar is (vergelyk die aangehegte reaksie van Dr. Nel op die dokument). Die kerkraad het reeds in sy brief van 30 Oktober 2009 aan die PRK en SRK aangedui dat ’n uitspraak van die VGKSA aktuarius, naamlik dat die gemeentes verplig word om “in sy eie sake selfstandig” te bly, terwyl hulle bereid was om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed en ten behoewe van noue samewerking prys te gee, vir hom problematies is. Ook in hierdie geval is die uitspraak volgens ons moeilik versoenbaar met Artikel 2 van die Belydenis van Belhar. Die versoek aan die regskommissies om die gronde daarvan aan te dui, bly tot op datum onbeantwoord. 6. Die Uitvoerende Bestuur is van mening dat die inhoud van die dokument en die wyse waarop die dokument sowel as herhaaldelike versoeke van die kerkraad gehanteer is, ’n vraagteken plaas agter die regskommissies se bevoegdheid om verdere uitsprake oor die ooreenkoms te maak. Hierdie situasie kan uiteraard nie voortduur nie. Ons het daarom besluit om ons op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) te beroep en te versoek dat die regskommissies: · sal verklaar dat die dokument nie hul standpunt oor die ooreenkoms verteenwoordig nie, · hul verskoning aan die kerkrade en lidmate van Wynberg sal aanbied oor die wanvoorstelling en die nadelige gevolge daarvan ten opsigte van tyd, energie en vertroue, · sal oorweeg om besluite wat op grond daarvan geneem is, ter syde te stel, · sal onderneem om te reageer op versoeke vir kommentaar of beoordeling, · sal onderneem om die ooreenkoms op grond van die betrokke reglemente en kerkordelike bepalings – en in harmonie met die belydenisgrondslag – te beoordeel. Hoogagtend die uwe Dr. Danie T. Nel: Voorsitter van die Uitvoerende Bestuur |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|