NG en VG Kerk Wynberg

Tuisblad Terugvoering Inhoud

Bydraes

 

Tuisblad
Grafiek
Debietorders
Bankbesonderhede

 

Tiende-Maand Dankoffer

(Oktober 2008) 

Liewe gemeente  

Julle sal met my saamstem dat ons sover ’n ongelooflike jaar in Wynberg beleef! Wat ’n paar jaar gelede nog ’n droom was is nou op ons voorstoep. Ja, ’n droom van ’n  gemeente waar almal die Here se genade kan kom ervaar en aanbid in sy/haar manier van aanbidding. ’n Droom van ’n gemeente wat opgewonde is oor wat vir ons voorlê. Waar jeugaktiwiteite begin posvat, sosiale funksies amper weekliks gebeur, propvol eredienste wat in verskillende style plaasvind, jongmense en kinders wat nie kan wag vir die volgende kerkbyeenkoms nie, en ’n onverklaarbare opgewondenheid wat jou wil laat deelneem in hierdie 'nuwe’ opwinding. Maar die heel belangrikste, ’n droom van ’n gemeente wat net op die Here kan fokus en Hom ervaar sonder skuldgevoelens of haat oor die verlede! 

Julle almal onthou hoe ons gemeente met die ‘40-days’ tydens 2006 vinnig momentum begin optel het op alle aspekte van beide gemeentes. Ons gemeentekamp in Februarie 2008 wat seker een van die hoogtepunte van gemeente aktiwiteite die afgelope 2 jaar sou wees het verander in ’n tragiese laagtepunt (toe Ds. James Buys oorlede is). ’n Laagtepunt wat so baie van ons moedeloos met so baie vrae gelaat het.  

Tog het die Here ons nie net hierdeur gehelp nie, maar ons  nou geseën met ’n ongelooflike energie meer as ooit tevore. Waar ’n Wynberg jeugaand, die eerste in jare, meer as 100 jongmense bymekaar kon bring. Waar ’n potjiekosoggend omtrent 300 etes verkoop. Waar  lofprysing aanddienste met ons eie orkes van 10 lede sy debuut gaan maak. Waar ’n lente-tee vrouens van ons groter gemeenskap bedien. Uitreikingprojekte na minderbevoorregtes tel vinnig spoed op. En nog vele ander. Ja, hierdie tweede asem wat ons gemeente hierdie jaar ervaar, is so sterk dat nie eens die sinodes, ringe, media of enige vorm van negatiwiteit ons entoesiasme kan of mag demp nie!  

Al hierdie wonderlike dinge het gebeur ten spyte van ’n benarde finansiële posisie van ons geldkas. Hierdie sukses is slegs te danke aan al ons gemeente lede wat hulle harte oopgemaak het en hierdie gemeente uitdaging as ’n projek van die Here sien.

Oktobermaand is 10de maand. Dan gee so baie gemeentelede ’n ekstra bydra. Soos julle weet maak dankoffers 70% van ons gemeente se inkomste uit. As dieselfde golf van seëninge wat ons gemeente tans ervaar ook ons dankoffers hierdie maand tref, gaan ons ’n rekord jaar beleef!  

Ek het geen twyfel in my hart dat die Here ons hierdie maand van Oktober met dieselfde oorvloed gaan seën as wat Hy ons tot dusver geseën het.  

Dankie vir julle vertroue, ondersteuning, deelname, gebede en liefde wat ons Wynberg gemeente dra. Ons het mekaar nou meer nodig as ooit tevore waar jy tans ookal is. 

Kontak my asseblief enige tyd oor enige iets (wkoen@iarica.com of 0829255922) 

Onthou, ons droomgemeente is op ons voorstoep, kom ons help die Here om die deur oop te maak! 

Wynberggroete 

Willie Koen

Leierouderling

Ons Gemeente

Wat beteken dit om “gemeente” te wees hier in die stad?  Wat beteken dit om as ‘n groepie Afrikaanssprekendes geméénte te wees in die suidelike voorstede van Kaapstad?  Hoe ervaar u dit om deel te wees van Wynberg se gemeente?  Is ons ‘n gemeenskap?  Waar lê die balans tussen gee en ontvang, vir my as lidmaat?

Die positiewe en opbouende aktiwiteite wat uit hierdie gemeente kom is legio.  Ons gemeente gee op landswye vlak visie en stimulus aan die kritieke saak van kerkeenheid.  Die Alpha-kursusse het alreeds besondere betekenis gehad vir vele lidmate en nie-lidmate.  Ons het die afgelope jaar ook ander gemeentes in die Wes- en Suid-Kaap toegerus om die kursus aan te bied. Ons ondersteuning aan mense wat swaarkry – finansieel, geestelik en sosiaal – word met deernis en professionaliteit behartig.  Ons is betrokke by vele opheffings-, liefdadigheids- en sendingaksies.  Ek het lanklaas ‘n span mense sien saamwerk soos met die basaar en jaarlikse wynveilings

Ons het natuurlik ook finansiële middele nodig om die gemeente se arbeid voort te sit.  Ons maak staat op u dankoffers.  Die sukses hiervan is baie belangrik om ons begroting te laat klop, en ons is baie dankbaar vir almal wat hierdie saak so getrou ondersteun.  Ek wil u verseker dat die gemeente se finansies met verantwoordelikheid bestuur word, en nooi u uit om my te nader sou u enige vrae hê.  Die geouditeerde finansiële state is ook in die kerkkantoor beskikbaar vir u besigtiging. 

Nadat ons in vorige jare ‘n tekort op begroting ondervind het, het die finansiële kommissie die stand van sake sorgvuldig bespreek.  Ons het tot ‘n paar belangrike gevolgtrekkings gekom:

bullet Om wesenlik aan uitgawes te sny is haas onmoontlik sonder om belangrike aktiwiteite in te kort.
bullet Suksesvolle fondsinsamelingsprojekte (basaar en wynveiling) is belangrik, en moet dalk in die toekoms uitgebrei word om meer lede van die publiek te betrek.
bullet Ons wil weereens gemeentelede aanmoedig om van die kerkkantoor se debietorderstelsel gebruik te maak.  Die stelsel is gerieflik en veilig, en aftrekkings kan ter enige tyd verander of gestaak word deur eenvoudig die kerkkantoor te laat weet.
bullet ‘n Verhoging in maandelikse bydraes van sowat R30 per gesin kan ‘n wesenlike bydrae lewer om die tekort uit te wis.
bullet As ‘n organisasie betrokke by liefdadigheidswerk is die kerk ‘n effektiewe kanaal vir bydraes – by ander organisasies ontbreek deursigtigheid soms en groot gedeeltes van inkomste word op administrasie gespandeer.
bullet Ons doen alles in volslae afhanklikheid van die Here en besef die Kerk word nie gedra deur menslike pogings nie.

Met die fondse wat aan ons toevertrou word word die gemeente se geestelike welsyn versorg.  Ook sien ons om na gemeentelede wat nood ondervind, ondersteun sendelinge, tehuise en kerkgenootskappe.  Dit bo en behalwe gedwonge uitgawes soos die versorging van ons eiendomme, en die belangrike administratiewe funksies wat ons toelaat om as liggaam van Christus te funksioneer.  Die finansiële state is beskikbaar vir enige gemeentelid. 

 

Die Woord van God

Ef 5:15  “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.  Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.  Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

1 Joh 3:17 “ Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”

Jes 1:17 “Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë.  Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees.”

Rom 12:13 “ Help die medegelowiges in hulle nood, en lê julle toe op gasvryheid.”

Rom 12:15 “Wees bly saam met die wat bly is, en treur saam met die wat treur.”

Gal 6:2 “Dra mekaar se laste, en en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

1 Tim 6:18 “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.”

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 11/29/08