|
|
|
|
So was die ou Wynberg in die vorige eeu Die NG Gemeente Wynberg het ‘n besondere ryk geskiedenis. Toe die gemeente in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien.
'n Mens wonder soms hoe die
mense in die vorige eeu, in die dae toe daar nog net een NG Kerk was, oor
plaaslike eenheid gedink het. Tydens die Sinode van 1847 is die voorsitter,
Dr. Philip Faure wat ook die leraar van Wynberg was, soos volg deur De
Zuid-Afrikaan van 25 Oktober 1847 aangehaal:
"... it must ... be distinctly understood, that the Reformed Church recognises no distinction of colour, but that all classes, whether black or white, are admissable to a participation in all her rites and ordinances." Dr. Faure, wat 'n besondere dinamiese bediening gehad het, het met die hulp van die sendeling-onderwyser J.H. Ruytenbeek volgens die patroon van die tyd 'n uitgebreide sendingaksie onder blankes en gekleurdes gelei. Die aksie was hoogs suksesvol want die Binnelandse Sendingkommissie rapporteer aan die Sinode van 1880: "Te Wijnberg zijn er 250 blanken en 300 gekleurden onder bewerking door de Zending. Voor dezen wordt er tienmaal in de maand gepredikt, twee maal per maand bedestond gehouden. Er zijn twee Zondagscholen met 120 kinderen en vier dagscholen met 290 leerlingen. Huis en krankenbezoek werd behartigd. De middenpunten van werkzaamheid zijn: Philippi, Houtbaai, Newlands, Claremont, Baas Harmskraal en Wijnberg zelf." Die sakramente is egter in die kerkgebou aan alle lidmate gesamentlik bedien. Dit kon ook nie anders nie, want die invloedryke leraar, wie se duidelike standpunt reeds in 1847 bekend was, sou nie die skeiding van blankes en gekleurdes by die eredienste en die nagmaal toegelaat het nie. Tydens die herdenking van Dr. Faure se vyf en twintigjarige bediening in Wynberg op 5 Desember 1859, is vermeld dat daar 250 bruin lidmate in die gemeente was. Die gemeente het ook 4 kerkskole onderhou! Toe Dr. Faure gesterf het, is die volgende oor hom geskryf in "De Christen" van 15 Desember 1882: "Op een punt bovenal was Dr. Faure meer dan een zijner broederen vooruit. Hij had een hart voor de Zending. Jaren lang hadden de gekleurden plaats in zijne Kerk." Dr Faure se gesindheid en voorbeeld het volgens sommige daartoe bygedra dat sekere bruin lidmate na 1881 verkies het om by die NG Kerk aan te bly.
|
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|