|
|
|
|
1. Oorsig. Hierdie aksie maak ons gemeente se liefde sigbaar deur daadwerklike diensbetoon. Die klem val op doen, hoewel daar ook gepraat word. Enige persoon wat daarvan hou om met die hande te werk, inkopies te doen, mense te vervoer, te bak, of iemand wat selfs 'n professionele diens as getuienis wil verrig, is welkom om by die diensaksie aan te sluit. Lidmate kan by die volgende diensgroepe aansluit: · 'n Ondersteuningsgroep wat praktiese hulp verleen aan bejaardes, sorgbehoewendes, enkelouers, en mense wat in krisisse verkeer. Dit kan die volgende behels: voedsel, klere, ruikers, herstelwerk, of mediese hulp. · 'n Vervoerdiens wat bejaardes help met vervoer na eredienste, hospitale, en inkopiesentrums. Lede help ook om die seniorklub te vervoer tydens uitstappies. · 'n Voedselprojek wat voedsel aankoop en kospakkies opmaak vir verspreiding aan mense wat ondersteun word. Lidmate van ons eie gemeente sowel as omliggende gemeentes word ondersteun. · Dienswerk aan die plakkers in Houtbaai. Lidmate wat bereid is om veral mediese en opvoedkundige dienste te lewer, kan by hierdie aksie aanluit. Ons werk in hierdie verband saam met ander kerke. · Hulp aan die nagskuiling in Wynberg. Hierdie projek sal op dreef kom wanneer die nagskuiling gedurende die lente van 1994 open. Handwerkklasse en voedselvoorsiening word beoog. 2. The Open Door Hierdie is ‘n interkerklike inisiatief in Maynardweg, Wynberg. Dit is basies ‘n sopkombuis wat ‘n gesonde bord kos elke middagete beskikbaar stel aan bergies en haweloses. Die etes kos R2 per bord. The Open Door versprei ete-kaartjies teen R2 elk aan die publiek. Enigiemand wat in besit is van so ‘n kaartjie kan ‘n ete kry. Die kaartjies is gesog onder die daklose gemeenskap in die Wynberg omgewing. Elke dag word tussen een honderd en 120 mense gevoed. U kan kaartjies koop by die kerkkantoor, of laat weet my en ek kan dit by u aflewer. Die kerkraad stel ‘n bedrag van R200 per maand beskikbaar vir die aankoop van etekaartjies. U sal die kaartjies baie nuttig vind om uit te deel in die Wynberg omgewing as u gevra word vir geld vir brood, of as u iemand sien wat hulpbehoewend is, en u nie weet hoe om te help nie. The Open Door het voortdurend ‘n tekort aan leë margarien of roomys bakkies, en styrofoam-houers vir wegneem etes. As u kan of wil help, skakel The Open Door gerus direk by 762 5971. Dit is ‘n gemeenskaps-baseerde inisiatief, wat baie waardevolle werk doen, veral in die koue wintermaande, en mense se lewens op ‘n tasbare manier raak. 3. Huis Nuweland Die NG Kerk het hierdie ouetehuis en versorgingsoord jare gelede opgerig. Dit huisves tans 85 bejaardes, en is geleë in Sylviaweg, Claremont. Daar is ‘n waglys van ongeveer 150 mense. Dit is oop vir bejaardes van enige kerkverband. Heelwat van ons gemeentelede bly daar. Huis Nuweland word tans bedreig deurdat die staatsubsidie moontlik nie veel langer beskikbaar gaan wees nie. Desnieteenstaande is Huis Nuweland finansieël gesond. Daar word ‘n balans gehandhaaf tussen behoeftige en vermoënde bejaardes, en ‘n groot mate van kruis-subsidiëring vind plaas. Ondersteun asb hulle fondsinsameling pogings. Daar word gereeld in die gemeentelike bulletin Sondae tydens die eredienste voorbrand gemaak vir hulle fondsinsamelings. Indien u bewus is van enige oortollige voedsel, sal Huis Nuweland dit verwelkom. So bv. het die Tuine-tak van Woolworths onlangs begin om produkte wat hul vervaldatum bereik het, aan Huis Nuweland beskikbaar te stel. Dit word baie waardeer deur die inwoners. Maar die inwoners het veral behoefte aan geselskap en meelewing. Hulle waardeer besoeke deur musikante en kunstenaars, wat van tyd tot tyd gereël word. Indien u enigsins kan bydra, kan u gerus direk skakel met die bestuur van Huis Nuweland by tel 657800. Hulle sal self reël, byvoorbeeld, om voedsel by u af te haal. U mag moontlik net ‘n boek gaan voorlees aan iemand wat bedlêend is, of ou tydskrifte gaan aflaai. Dit word geweldig waardeer, en maak ‘n verskil aan iemand se lewe. Skakel met die bestuur en hoor wat hul behoeftes is. 4. Behoeftige gemeentelede Daar is gemeentelede wat nie die mas opkom nie. Rina Liebenberg, ‘n maatskaplike werkster, stel ondersoek in na versoeke om hulp. Ons het ‘n koskas begin by die kerkkantoor. Die kerkraad stel ook ‘n bedrag beskikbaar op ‘n maandelikse basis wat gebruik word om in die dringendste behoeftes van gemeentelede te voorsien, soos bv. melk en brood. Indien u ‘n bydrae wil lewer kan u bv. blikkieskos of Longlife melk aflewer by die kerkkantoor. Dit sal dan in die koskas gebêre en uitgedeel word. Elke bydrae, hoe gering ookal, bring verligting. Help asb waar u kan. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|