NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Inligtingsbriewe

 

Tuisblad
Terug
Inligting 11 Apr 2008
Inligting 13 Apr 2008
Verklaring 3 Jun 2008
Inligting 31 Aug 2008
Inligting 19 Okt 2008
Inligting 24 Okt 2008
Inligting 31 Mei 2009
Inligting 17 Aug 2010

 

Die inligtingsbriewe wat op hierdie bladsy verskyn, is op Sondae by die deure van die kerkgeboue geplaas om die eenheidsproses aan lidmate te verduidelik. Die jongste inligtingsbrief verskyn onderaan, en die voriges kan gelees word deur op die balkies aan die linkerkant te kliek.

Inligtingsbrief oor eenheidsproses van die Wynberg gemeentes.

24 Oktober 2008

Liewe lidmaat 

1.         Ek bring goeie nuus! Die geloofstap wat die kerkrade na ’n aantal gemeentekonferensies geneem het om ’n ooreenkoms vir ons gesamentlike toekoms te skryf, is besig om byval by kerkleiers en teoloë te vind, selfs uit oorde waar ons dit nie verwag het nie. Ons het ’n versigtige tree gegee op ’n pad waar ander gemeentes in die NG Kerk familie dit nog nie gewaag het nie – in biddende afhanklikheid dat die Here ons deurentyd mag lei – terwyl die gety as gevolg van die sinodes se probleme sterk teen ons gedraai het. Die volgende het gebeur:

bullet Die gesamentlike vergadering van die NGK en die VGKSA se regskommissies het op 6 Augustus 2008 geoordeel dat die bestaande reglemente van die kerkordes (ek verstaan die NGK en die VGK het dieselfde reglement goedgekeur) “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik” en versoek dat ons ooreenkoms met die reglemente as riglyn opgestel word. Dit is baie goeie nuus: dit impliseer dat ons, so gou as wat ons lidmate en die ringe dit goedkeur, die Gesamentlike Gemeente van Wynberg kan vorm.
bullet Die Ring van Wynberg van die NGK het die ooreenkoms eenparig op 15 September 2008 goedgekeur.
bullet Die Ring van Wynberg van die VGKSA het aangedui dat hulle meer tyd nodig het om die ooreenkoms te oorweeg. Die gesamentlike vergadering van die regskommissie wat op 20 Oktober 2008 gehou is, het hulp in hierdie verband aangebied.
bullet Ons ooreenkoms is geskoei op ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer gemeentes van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelisch-Lutherse Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden saamwerk of verenig. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het ingestem om hierdie model tydens ’n konferensie te bespreek wat op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg in samewerking met Communitas (Universteit Stellenbosch) aangebied word.

(Dit begin om 11:00 en duur tot 16:00. Registrasie geskied vanaf 10:30. Belangstellendes kan voor 3 November  by die Kerkkantoor van Wynberg (021-797-8340 ngkwyn@iafrica.com ) of by Divine Robertson van Communitas (021-808-3265 dr@sun.ac.za ) inskryf. Lidmate, kerkraadslede, predikante en kerkleiers is welkom om dit by te woon.)

bullet Prof Piet Strauss, moderator van die Algemene Sinode van die NGK en dosent in kerkreg aan die Universiteit van die Vrystaat, het op 29 Oktober ons ooreenkoms aangevra en dit bestudeer. Hy het bevind dat dit “aanvaarbaar en billik is”.

2.         Hoe het dit gebeur? Die afgelope ses maande het ons verskeie gemeentekonferensies oor die eenheidsproses tussen die Wynberg gemeentes gehou. Die lidmate wat teenwoordig was, het aangedui dat dit hulle wens is dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring:

Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm.

·         Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk.

·         Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly. 

3.         Die Kerkraad van Wynberg het die gesamentlike moderatuursvergadering van die NGK en VGK versoek om ons te help om die struktuur en proses te ondersoek wat aan ons voorneme gestalte kan gee. Die moderature het ons versoek na die gesamentlike vergadering van die twee sinodes se regskommissies verwys en gesamentlike kerkraad van Wynberg genooi om met hulle in gesprek te tree en te help met voorstelle. 

4.         Ons voorstel was gegrond op ’n beproefde model van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) wat ons verwerk het om by die reglemente van die NGK en die VGKSA in te pas. Hiervolgens word ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm waarin daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Alles word saam bestuur. Die gemeentes kan net nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle nog twee aparte regspersone moet bly totdat die sinodes verenig. Ons kan die model vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. 

5          Ons ooreenkoms is deur twee prokureurs afsonderlik oorweeg en gunstig beoordeel. Dit was op 31 Augustus 2008 deur ’n gemeentekonferensie bespreek. Die konsulent van die VGK Wynberg was teenwoordig. Die lidmate wat teenwoordig was, het aangedui dat die kerkrade met die ooreenkoms kan voortgaan. Die gesamentlike kerkraad het op 2 September 2008 die ooreenkoms eenparig goedgekeur en besluit dat ooreenkoms na die ringe vir oorweging en goedkeuring gestuur word. Die konsulent was ook teenwoordig. 

6.         ’n Honderd afskrifte van die volledige ooreenkoms (aangeheg) was vir insae en kommentaar gedurende Septembermaand by die deure van elke kerkgebou geplaas. Sou die Ring van die VGKSA enige wysigings aanbeveel, sal die gesamentlike kerkraad ’n buitengewone vergadering belê om die wysigings te bespreek. Die finale ooreenkoms sal dan onder elke lidmaat se aandag gebring word alvorens dit weer by ’n gemeentevergadering behandel sal word. Daarna sal die ooreenkoms deur die kerkrade onderteken word. U is steeds welkom om enige vrae of aanbevelings oor die inhoud van die ooreenkoms onder my aandag te bring. 

Met seënwense

Dr. Danie Nel

Voorsitter van die Gesamentlike Kerkraad.

24 Oktober 2008

 

Artikels van die Ooreenkoms 

Artikel 1. Die naam van die samewerkingsverband is: “Die gesamentlike gemeente te Wynberg.”

Indien die samewerkingsverband amptelik aangedui moet word, word aan die naam toegevoeg: 

“ … waarin saamwerk die Nederduitse Gereformeerde Gemeente te Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Gemeente in Suid-Afrika te Wynberg.”

Artikel 2. Die kombinasie het betrekking op al die werksaamhede van die gemeentes.

Artikel 3. Die kerkrade het ‘n gesamentlike reëling getref vir

- die verkiesing van ampsdraers,

- samestelling, arbeidsveld en werkswyse van die gesamentlike kerkraad en

- die versorging van die totale vermoënsregtelike aangeleenthede.

Hierdie reëlings is opgeneem in die aangehegte “Gesamentlike reëling ten opsigte van die werksaamhede van die gesamentlike gemeente te Wynberg”.

Artikel 4. Die kerkrade kombineer in een gesamentlike kerkraad, waarby die bevoegdhede van die betrokke kerkrade gesamentlik uitgeoefen word.

Artikel 5. Die gesamentlike gemeente te Wynberg erken die belydenisgrondslag van sowel die Nederduitse Gereformeerde Kerk as die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Die gemeente staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die gemeente  in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Belydenis van Belhar.

Artikel 6. Die ooreenkoms is aangegaan vir ‘n onbepaalde tyd totdat die gemeentes verenig of die ooreenkoms beëindig word.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12