|
|
|
|
Wynberg: 'n erediens vir elkeen? Ons aanvaar dat gemeentelede verskillende en soms uiteenlopende behoeftes het wanneer hulle Sondae kerk toe kom. Sommige lidmate soek stilte en ‘n gewyde atmosfeer, ander begeer iets meer energieks en demonstratief. Daar is ook lidmate – oud en jonk – wat ‘n kombinasie van beide verkies. Is dit moontlik om in ‘n relatief klein gemeente aan elkeen se behoeftes te voldoen? Moet ons? Soos ander gemeentes, het Wynberg beleef dat daar spanning kan ontstaan: soms probeer verteenwoordigers van die een groep die ander oortuig dat hulle “reg” is en die ander “verkeerd”. Sommiges meen selfs dat die gemeente ‘n duidelike keuse moet maak. Gaan dit oor “reg” of “verkeerd”, of gaan dit dalk slegs oor behoeftes wat verskil? Navorsing onderskei die volgende tipes belewenisse wat verband hou met die struktuur van mense se persoonlikhede: a. Daar is Christene wie se verstand die belang-rikste rol in hul ontmoeting met God inneem. Skrifuitleg is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan gepaard met ‘n dieper kennis van God. Hulle gebrui geordende woorde wanneer hulle bid en fokus op die woorde wanneer hulle sing. Hulle hou van ‘n spesifieke orde in die liturgie. Hulle behoort veral by ons formele dienste aanklank te vind. b. Ander se emosies speel ‘n meer belangrike rol in hul ontmoeting met God. Getuienis, sang, meevoerende musiek en samebindende atmosfeer is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan gepaard met ‘n sterker belewing van die heiligheid van God. Hulle verkies spontane gebede en beleef lofprysing en aanbidding meer intens. Hulle hou nie van formele liturgie nie. Ons informele dienste en jeugdienste is veral op hierdie groep se behoeftes gerig. c. By sommige lidmate neem die element van misterie ‘n meer belangrike rol in. Stilte en ‘n gewyde atmosfeer vir hulle baie belangrik. Vernuwing gaan gepaard met die vermoë om sterker op God te fokus, Hom beter te hoor, en sy wil duideliker te vertolk. Hulle verkies die “luistergebed” wanneer hulle God aanbid. Ons vroeë oggenddienste (08:00 – 08:30) maak voorsiening vir hierdie groep se behoeftes. d. Daar is ook lidmate wat die Here veral ontmoet wanneer hulle ‘n diens aan die samelewing lewer. Sosiale omgee-projekte en gemeenskapsontwikkeling is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan vir hulle gepaard met daadwerklike liefdesbetoning, groter geregtigheid en soms ook strukturele veranderings in die gemeenskap. Vir hulle is gebed en lofprysing sonder dade betekenisloos – gebed is om te doen. Ons verwelkom sulke lidmate in ons dinamiese Omgee-aksie: daar is meer as genoeg vir hulle om te doen! Ons vind al hierdie tipes in ons gemeente. Kan ons aan elkeen se behoeftes voldoen met behoud van ons identiteit as ‘n gereformeerde kerk? In hierdie verband is dit interessant om te verneem waaruit ‘n “gereformeerde spiritualiteit” bestaan. Die bekende Prof. Willie Jonker onderskei die volgende elemente:
Na my mening kan elkeen van hierdie elemente sterker beleef word wanneer die gemeente verskillende soorte eredienste aanbied. Daarom beskou ek die “nuwe eredienste” nie as ‘n bedreiging vir ons gereformeerde identiteit nie – inteendeel, ek meen dat dit juis nou sterker na vore kan kom. Die formele dienste word op die eerste en derde Sondae van die maand om 09:30 aangebied. Ons is bevoorreg om Danie Smit as ons begaafde orrelis te hê. Die informele dienste word op die tweede en vierde Sondae van die maand om 09:30 aangebied. Ons orkes, wat bestaan uit begaafde musikante en sangers uit ons geledere, het reeds die harte van verskeie lidmate verower wat nooit gedink het dat hulle van “orkeste” sal hou nie. Hulle benut kontemporêre sowel as klassieke instrumente. Die kontemplatiewe dienste om 08:00 behoort, afgesien van die spesifieke oogmerk, ook lidmate te kan akkommodeer wat nie by die spesifieke styl van die 09:30 diens aanklank vind nie. Die spesiale jeugdienste wat sekere Sondagaande aangebied word, is spesifiek gerig op ‘n jong gehoor – met die nodige volume en energie. ‘n Erediens vir elkeen in Wynberg? Ek vertrou dat ons verskillende pogings elkeen mag help om sterker op die Here te fokus, dat sy Woord meer sentraal in ons lewe mag staan, dat ons geloof met groter dankbaarheid in ‘n gehoorsame lewe gevier mag word, dat ons sal groei in heiligmaking en dat ons roe-ping sterker mag word om die samelewing te vernuwe. Kort-om: dat ons identiteit in hierdie verskeidenheid sterker na vore sal kom. Dr. Danie Nel
|
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|