NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Gemene reg

 

Tuisblad
Terug

 

Gemeenregtelike Vereistes vir Kerkeenheid

Ek herhaal kortliks net weer die opmerkings wat ek gemaak het tydens die eerste vergadering van die Konvent van Kaapland.

Die gesaghebbende uitspraak van die hoogste hof van Appèl in NG Kerk in Afrika (OVS) v VGKSA 1999 (2) SA 156 is die mees deurtastende bespreking van sommige van die vereistes vir kerkeenheid tot op hede. Kortliks, soos ek aangedui het, verduidelik Appèlregter Werner Vivier die agtergrond en die konteks waarbinne kerkeenheid sal moet geskied.

Die Gereformeerde kerk het sy ontstaan in die Calvinistiese tradisie. Die kerkraad regeer die gemeente. Die kerkraad word saamgestel word uit ouderlinge, leraar(s) en diakens. Die kerkraad is verantwoordelik vir die opsig oor, regering van en tug in die gemeente. Die kerkraad bestuur die gemeente, verteenwoordig die gemeente en neem besluite namens die gemeente.

Die N G Kerk is ‘n vrywillige vereniging van plaaslike gemeentes. Elke gemeente is op sigself volledige kerk. Die gelowiges wat die plaaslike gemeente vorm, word hoofsaaklik saamgesnoer rondom ‘n gesamentlike belydenis. Die meerdere vergaderinge van die kerk, soos ringe, streeksinodes en die algemene sinode, is tydelik van aard en raak nie die selfstandigheid van die gemeente nie.

Die NG Kerk het verenig 50 jaar na die Nederduits Gereformeerde Kerken Vereniging Akte 23 van 1911, 'n private wet wat voorsiening gemaak het vir die vereniging van die NG Kerke in die destydse vier provinsies. Die Wet het bepaal dat die goedkeuring van 75% van die kerkrade (consistories) in elkeen van die vier die provinsies verkry moes word. Met ander woorde, vereniging het die oorgrote meerderheid steun nodig gehad van die oorgrote meerderheid van plaaslike gemeentes in elkeen van die vier provinsies.

Dit is duidelik dat ‘n algemene sinode nie kerkeenheid van bo-af op die deelnemende gemeentes kan afdwing nie. Op hierdie wyse word die minderheid se regte verskans. Anders sou die minderheid uitgelewer wees aan die tirannie van die meerderheid. Dit beteken wel dat die meerderheid onderworpe is aan die tirannie van die minderheid!  Dit is egter die enigste manier om die regte van die minderheid te verskans.

Appèlregter Louis Harms merk tereg op dat kerkeenheid nie regtens onmoontlik is, maar dat dit moeilik is, en dat die korrekte werkswyse gevolg moet word om dit te vermag.

DIE KERKORDE

Die kerkorde is die grondwet van die NG Kerk. Die verhouding tussen die kerk en sy lidmate word gereël deur hierdie “kontrak” waardeur hulle gebind word. Die kerk kan niks doen wat nie in ooreenstemming is met sy kerkorde nie.

Die kerkorde bepaal in Artikel 22 dat “In meerdere vergaderinge word alleen die sake behandel wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur mindere vergaderinge en wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie.”

Die kerkraad se rol in die bestuur of regering van die gemeente word deur die kerkorde uiteengesit. Dit is insiggewend dat die aanwysing van beide ‘n leraar sowel as kerkraadslede, onderworpe is aan approbasie (goedkeuring) van die gemeente. Dit is verstaanbaar in die lig daarvan dat beide die leraar én die kerkraad so ‘n sentrale rol speel in die regering van die gemeente.

Die enigste ander besluit, sover ek kon vasstel, waarvoor die goedkeuring van die gemeente verkry moet word, handel met die ontbinding van ‘n gemeente wat nie langer selfstandig wil of kan voortbestaan nie (sien die Reglement vir die eenwording van gemeentes). Waar die kerkraad ‘n besluit tot ontbinding geneem het, en met ‘n ander gemeente op inlywing ooreengekom het, moet die ooreenkoms waartoe die kerkrade gekom het, vir goedkeuring op twee opeenvolgende Sondae by al die openbare eredienste van die betrokke gemeentes bekend gemaak word.

Slegs nadat goedkeuring van die ongesensureerde belydende lidmate verkry is, kan die ooreenkoms aan die betrokke ring(e) vir goedkeuring voorgelê word. Dit wil voorkom uit die voorafgaande dat daar drie tipes besluite is waar die algehele outonomie van die kerkraad spesifiek uitgesluit word. Die kerkraad verkies nuwe kerkraadslede, of beroep ‘n leraar, of besluit oor ontbinding en/of inlywing. Die besluit van die kerkraad is egter onderworpe aan die gemeente se goedkeuring.

Dit val natuurlik nie vreemd op nie in die lig van die ingrypende aard van die besluite. Die kerkorde definieer nie approbasie of goedkeuring nie. Daar is geen aanduiding in die dokument self oor watter persentasie van die gemeente ‘n besluit moet goedkeur nie. In die afwesigheid daarvan sou ek aanvaar dat ‘n gewone meerderheid voldoende is. Ek neem aan dat daar in die kerk riglyne bestaan in hierdie verband? 

Daar is by my geen twyfel dat uiteindelike eenwording tussen die NGK en die VGK deur elke enkele gemeente in beide die NGK en die VGK goedgekeur of afgekeur sal moet word. Ek dink egter nie, vir redes wat hieronder volg, dat elke enkele gemeente in die NG Kerk eenwording moet goedkeur ten einde dit te laat geskied nie.

Na my oordeel is dit nie moontlik vir ‘n geringe minderheid, of selfs ‘n enkele lidmaat, om hul gemeente te verhinder om te besluit ten gunste van vereniging met ‘n bepaalde NGK/VGK gemeente nie. Ek is voorts van oordeel dat dit nie moontlik is vir ‘n geringe minderheid of ‘n enkele gemeente in ‘n ring om die proses van eenwording te veto nie. Dieselfde geld ook, na my oordeel, selfs wat betref die samestellende streeksinodes van die algemende sinode.

Dié standpunt moet uiteindelik verder debateer word, maar ek vind steun, onder andere, in (a) die kerkorde, (b) ‘n artikel deur R Dannenbring in South African Law Journal Vol 83 (1966) pp 520 – 524, (c) die obiter (terloopse) opmerkings in die voormelde Appèlhof uitspraak, asook (d) die uitspraak in Du Preez v N G Gemeente, De Deur 1994 (2) SA 191 (W).

Ek volstaan slegs met kort opmerkings wat betref hierdie gewysdes.

a.         Ter aanvang moet dit nou duidelik wees uit ‘n reeks hofbeslissings dat dit nie deugdelik is vir ‘n sinode om besluite te neem met betrekking tot die ontbinding en samesmelting van kerke nie. Die “Kerk” bestaan uit sy gemeentes. Ringe, streeksinodes en algemene sinodes is bloot tydelike vergaderinge, wel met verreikende gesag, maar nie die oppergesag om ontbinding of vereniging met ‘n ander kerk te beveel nie.

Daardie wesenlike besluit met betrekking tot sy eie voortbestaan kan slegs deur ‘n gemeente self, en elke afsonderlike gemeente self, geneem word. Die meerdere vergaderinge kan eenwording baie sterk aanbeveel, maar dit nie afdwing nie. Hou egter in gedagte dat nadat dié proses volvoer is, en indien 'n beduidende meerderheid van gemeentes ten gunste van vereniging is, dink ek dat dié besluit ten gunste van vereniging op die minderheid van gemeentes afgedwing kan word. Dit is insiggewend, terloops, dat artikels 36 en 37 van die kerkorde bepaal dat die samestellende sinodes ná eenwording hulle eie regsaard behou, en selfs uit die algemene sinodale verband mag tree na goeddunke. Dit is ooglopend korrek.

b.         Dannenbring bespreek die wetgewing wat voorsiening gemaak het vir die vereniging van die NG Kerke in die destydes vier provinsies, Akte 23 van 1911. Dit wil voorkom dat wetgewing hoegenaamd nie nodig was nie, want ‘n onafhanklike liggaam in die kerk kon ‘n besluit soos hierdie selfstandig neem, mits dit prosedureel korrek gedoen word.

Ek dink dus nie dat wetgewing die oplossing is nie. Mens moet ook die bepalings van die Grondwet in gedagte hou. Selfs teen wetgewing wat deur die parlement goedgekeur word, kan daar steeds 'n grondwetlike beswaar wees.

c.         Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die Appèlhof se uitspraak in NGK in Afrika v VGK bloot die proses wat in daardie geval gevolg is, kritiseer. Die Appèlhof spel nie uit watter proses wel gevolg moet word nie; die hof wys bloot daarop dat die proses wat gevolg is, nie deugdelik is nie. Gelukkig maak beide Appèlregters Vivier en Harms ‘n aantal terloopse opmerkings waaruit belangrike riglyne afgelei kan word oor die korrekte prosedure wat gevolg moet word (hou egter in gedagte dat die kerkorde van die NG Kerk nie hier ter sprake was nie, wel dié van die VGK).

In ‘n breedvoerige bespreking van die Standerton saak (1893 SAR 69) word aan hierdie kwessie aandag gewy. In die Standerton uitspraak het Hoofregter Kotzé toentertyd beslis dat een oorblywende gemeentelid wat hom verset teen eenwording, die hele proses kan ontspoor. Appèlregter Vivier merk op dat hierdie onverbiddelike uitgangspunt moontlik vandag gekwalifiseer moet word. Hy suggereer dat die kerkraad, as die gesagsorgaan wat namens die gemeente optree, moontlik die besluit mag neem. Daarmee gaan ek, met respek, nie akkoord nie. Die kerkraad kan nie so 'n besluit sonder daaropvolgende goedkeuring van die gemeente neem nie.

Maar ek dink tog dat die oorwegende goedkeuring deur die gemeente van ‘n besluit tot eenwording, wel die andersdenkende minderheid van gemeentelede bind. Ek wys terloops daarop dat Akte 23 van 1911 spesifiek voorsiening gemaak het vir die goedkeuring deur driekwart van die kerkrade in al vier die provinsies. Dit is egter nie 'n basis waarop 'n mens met sekerheid nou kan aanvoer dat steun van 75% van gemeentes in al die ringe die maatstaf moet wees nie.

d.         Die uitspraak in De Deur skep hoegenaamd nie ‘n probleem nie. Die kerkraad van die De Deur gemeente het besluit om uit die algemene sinodale verband te tree. Die kerkraad het sy besluit gegrond op die bepalings van artikel 37 van die kerkorde, waarna ek reeds verwys het. Duidelik was die kerkraad nie bevoeg om so ‘n besluit regsgeldig te neem nie. Die besluit is tersyde gestel.

Daar sal in die toekoms gekyk moet word na presies hoe die approbasie van ‘n gemeente verkry word.

Wat is die posisie as die kerkraad nie ten gunste van eenheid nie en die gemeente tot die teendeel besluit? Wat is die posisie as die kerkraad ten gunste van kerkeenheid is en die gemeente daarteen besluit? Wat is die posisie indien ‘n meerderheid gemeentes in ‘n spesifieke ring en streeksinode ten gunste van kerkeenheid is; kan die teësinnige gemeentes in kerkeenheid gedwing word?

Dit dan wat betref die gemeenregtelike posisie.

Wat strukture intussen betref, lyk dit my dat die proses in Wynberg met vrug gevolg kan word. In Wynberg werk die twee gemeentes, nl VGK en NG Kerk, nou saam. Die kerkrade vergader saam, asook die onderskeie kommissies. Ons funksioneer de facto as een.

Dit staan enige gemeente in die kerkfamilies van die VGK en die NG Kerk vry om dieselfde pad te loop.

George van Niekerk

Constantia

8 April 2002

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12