NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Gesamentlike dienste

 

Tuisblad
Terug

 

Gesamentlike dienste: NG en VG Kerk Wynberg

Die gesamentlike kerkraadsvergadering van die NGK en VGK Wynberg het op 24 Julie 2007 eenparig besluit dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste gaan saamhou. Hierdie besluit is geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die besondere seën wat tydens die gesamentlike 40 dae van doelgerigte fokus ervaar is.

Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere opmerkings soos die volgende gemaak:

“Ons moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra

sonder om oor ons skouers te loer

al sou dit ‘n prys van ons vra;

Ons glo dat die Here ons seën

om ‘n helder lig vir die nasies te laat skyn!”

Die dienste sal voorlopig om die beurt by die gemeentes se kerkgeboue plaasvind (dit geld vir oggend- en aanddienste) en die oggenddienste sal dieselfde vorm as die 40 dae dienste hê: die orkes sowel as die orrel sal die sang begelei. Die gemeentes sal tydens die oggenddienste egter vroeër begin sing – om 09:15 – sodat die dienste om en by 10:30 kan eindig.

Historiese Agtergrond

Toe die NG Gemeente  Wynberg in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede  bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam  dien. Dr. Philip Faure, die eerste leraar van Wynberg en voorsitter van die 1847 sinode, was soos volg deur De Zuid-Afrikaan van 25 Oktober 1847 aangehaal: 

"... it must ... be distinctly understood, that the Reformed Church recognises no distinction of colour, but that all classes, whether black or white, are admissable to a participation in all her rites and ordinances."

Hierdie besonderse aspek van die karakter van die gemeente het ongelukkig begin skade ly nadat die NG Sendingkerk Wynberg in 1881 afgestig is. Die besluit van die NG en VG Kerkrade om voortaan alle eredienste saam te hou, bring mee dat die gemeente van Wynberg op Sondae weer gaan lyk soos voor 1881 – weer saam na 126 jaar!

Terugvoering van lidmate

Die kerkrade het aan lidmate die geleentheid gegee om enige vrae, kommentaar of versoeke  voor Woensdag 22 Augustus by die kerkkantore in te dien. Aangesien ons geen verdere reaksie ontvang het nie, het die kerkrade aanvaar dat die gemeente dit goedkeur. 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10