NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Geskiedenis

 

Tuisblad
Terug
Die ou Wynberg
Afstigting
Vervreemding
Versoening
Getuienisse

 

Die NG Gemeente  Wynberg het ‘n besondere ryk geskiedenis. Toe die gemeente in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede  bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam  dien.

 

Ons eerste kerkgebou gedurende die 1830s

Hierdie besonderse aspek van die karakter van die gemeente het ongelukkig begin skade ly nadat die NG Sendingkerk Wynberg in 1881 afgestig het. Hoewel 'n groot getal bruin lidmate verkies het om steeds lidmate van die NG Kerk Wynberg te bly, het daar tog met die verloop van die tyd vervreemding ingetree. Die twee sustergemeentes van Wynberg was gedurende die apartheidsjare 'n sprekende voorbeeld van die skeuring, agterdog en selfs vyandskap wat in die gemeenskap voorgekom het. Dit het ook na Ringsvlak uitgekring waar geen kommunikasie meer plaasgevind het nie.

Hierdie situasie het vanaf 1991 begin verander. Die twee gemeentes het 'n proses van versoening aangepak. Daar is begin om dienste saam te hou, kanselruiling het gereeld plaasgevind, kerkraadskommissies het saam begin funksioneer en die kategese het ook verenig. Na die gesamentlike pinksterfees van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Kerk Wynberg in 2001 het sommige kerkraadslede en lidmate weer die vraag gestel waarom gemeentes dan nie een kan word nie. Sal ons nie ‘n sterker gemeente wees wat ‘n groter verskil in die samelewing kan maak nie?

Ouderling Robert Nicholas van die NGK het tydens die kerkraadsvergadering van 5 Junie 2001 genoem dat die persepsie by sommige lidmate van die VGK bestaan dat die probleem by die NGK lê: hulle wil nie een word nie. Nadat die saak bespreek is,  het die kerkraad die volgende besluit eenparig geneem:

"Die kerkraad van die NG gemeente Wynberg maak sy begeerte aan die kerkraad van die VG Gemeente Wynberg bekend dat die twee gemeentes sal verenig. Die kerkraad is bewus dat die bepalings van die onderskeie kerkordes in hierdie verband gevolg moet word. Die kerkraad versoek daarom die Konvent vir Eenheid om riglyne op te stel vir gemeentes wat wil verenig. Indien die kerkraad van die VG Gemeente Wynberg gunstig reageer, onderneem die kerkraad om die prosedure, soos voorgestel deur die Konvent vir Eenheid, te begin deur goedkeuring van die lidmate van die NG gemeente Wynberg te verkry."

Die Uitvoerende Bestuur het opdrag ontvang om seker te maak dat die bewoording die kerkregtelike bepalings van die onderskeie kerke respekteer. Die besluit is daarna tydens die gesamentlike ekumeniese kommissie se vergadering aan die afgevaardigdes van die VGK oorgedra. Dit was ‘n roerende oomlik vir die lede van die kommissie. Die bede is uitgespreek dat die Here die kerkrade en lidmate van ons gemeentes so lei dat sy liefde meer sigbaar in en deur ons sal werk sodat ons getuienis steeds sterker sy Naam sal verheerlik.

Die twee kerkrade het op 16 Augustus 2001 saam vergader.  Ds. James Buys het  die vergadering ter aanvang ingelig dat die kerkraad van die VGK hulle vereenselwig met die begeerte om een gemeente te wees. Hulle glo dit is wat die Here van ons verwag in sy Woord en waartoe Hy ons roep!

Die gesamentlike kerkraadsvergadering van die NGK en VGK Wynberg het op 24 Julie 2007 eenparig besluit dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste gaan saamhou. Hierdie besluit is geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die besondere seën wat tydens die gesamentlike 40 dae van doelgerigte fokus ervaar is.  Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere opmerkings soos die volgende gemaak:

“Ons moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra

sonder om oor ons skouers te loer

al sou dit ‘n prys van ons vra;

Ons glo dat die Here ons seën

om ‘n helder lig vir die nasies te laat skyn!”

Die basiese motief wat wat die eenheidstrewe rig, is missionêr: ons verenig in die hoop dat ons Heer Jesus Christus self vir die eenheid van sy kerk gebid het sodat die wêreld in Hom sal glo. Ons is aangenaam verras oor die impak wat hierdie gebeure reeds op die gemeenskap om ons gehad het. 

Die gesamentlike uitreike van ons Omgee-aksie aan arm kinders, versorgingsoorde, hospitale en behoeftige skole word vergesel met die goeie nuus van sigbare versoening en eenheid. As ons dit meet aan die daadwerklike steun wat ons van die sakegemeenskap en die omliggende skole ontvang, maak dit ’n impak.

Die gesamentlike kerkraad het ’n gesamentlike gemeentekonferensie op 1 junie 2008 gehou om drie verskillende moontlikhede oor samewerking en vereniging te bespreek. Die lidmate wat teenwoordig was, het verkies dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring:

Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm.

·         Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk.

·         Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly.

·         Ons beskou die vestiging van die herenigde gemeente as die uitvoering van besluite wat reeds deur die onderskeie kerkverbande ten gunste van eenheid geneem is.

Die kerkrade het op 2 September 2008 'n ooreenkoms eenparig goedgekeur waarvolgens die twee gemeentes as een gesamentlike gemeente gaan funksioneer. Die Ring van Wynberg van die NGK het die ooreenkoms eenparig op 15 September 2008 goedgekeur. Die Ring van Wynberg van die VGKSA het weens kerkregtelike struikelblokke nog nie die ooreenkoms oorweeg nie.

Eredienste was voorlopig om die beurt by die gemeentes se kerkgeboue gehou. Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg het met hartseer verneem dat die kerkraad van die Verenigende Gereformeerde Kerk Wynberg op 7 Augustus 2010 besluit het om 'n moratorium op alle samewerking tussen die gemeentes te plaas. Die kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg bly egter trou aan sy verbintenis tot 'n gesamentlike gemeente. Ons gaan voort in die geloof dat die Here die goeie werk wat Hy onder ons begin het, sal voortsit. Ons sal in sy liefde volhard en almal bedien wat by ons ’n geestelike tuiste vind. Ons wil steeds 'n gemeente wees waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12