NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Getuienis

 

Tuisblad
Terug

 

Getuienis van 'n lidmaat

 

Ek het in ‘n Christenhuis grootgeword en van kleinsaf het ek Sondagskool bygewoon. My pa was ‘n ouderling in die kerk en ons het amper nooit ’n erediens gemis nie. In daardie goeie ou dae was die skole ook Christelik gebaseer en was die gemeen-skap waar ek grootgeword het baie homogeen. Ek het ook vroeg in my hoërskooljare vir Jesus in my lewe genooi.

Op universiteit het ek in my finale jaar ’n nouer verhouding met die Here begin ontwikkel. Daarna het ek deel geword van die volwasse wêreld van werk, loopbaan en strewe na sukses. Ek het nou en dan kerk toe gegaan, maar mettertyd het dit al minder geword. Ek het nie gereeld Bybelstudie gehou nie en weinig kere op my eie gebid. Die enigste sentrale tema was dat ek gereeld na Radio Kansel geluister het. Prys die Here vir hierdie radiostasie wat elke dag so baie mense bereik! Ek het nog ’n konneksie met die Here gehad en daar was tye waarin ek baie bewus was van Hom in my lewe, maar my fokus was by ander plekke en aktiwiteite.

Ek het ’n paar jaar gelede by Wynberg aangesluit, maar nooit deel gevoel van die gemeente nie en dus ook nooit gereeld dienste bygewoon nie. Nadat ek ’n program op die radio gehoor het omtrent kinderbediening het ek baie sterk gevoel dat die Here my wil gebruik by kinders. Ek het begin om Sondagskool-klassies aan te bied.  

Intussen het ek deur ’n baie moeilike persoonlike tyd gegaan en was daar tye wat ek  moedeloos, gespanne en onseker was. Ek het geweet dat die Here sekerlik iewers my situasie sou verbeter, maar ek was nie seker hoe en wanneer nie. Na bykans  ’n jaar het my persoonlike stryd eindelik verbeter en het dit gelyk asof my lewe weer normaal was.  

Enkele maande later het ek pyne in my hande begin ontwikkel en teen September verlede jaar was daar sprake dat ek ’n ernstige gewrigsiekte kon hê. Ek het vir Danie Nel en een van ons gemeentelede gevra om vir my te bid, want ek was bang en totaal verslae. Ek dink die Here het my geleidelik nader aan Hom getrek deur die pynlike toestand wat ek beleef het. En ek het Hom opgesoek deur die Bybel te lees, geestelike musiek en Radio Kansel te luister en Jabez se gebed te bid. My fokus het begin skuif van my eie probleme na die probleme van ander om hulle te help en daardeur was ek minder bewus van my toestand.  

Teen Desember verlede jaar kon hulle nog nie die gevreesde gewrigsiekte diagnoseer nie. Oor die vakansietyd by die see het ek geleidelik beter gevoel en het met minder pyn gehad. Ongelukkig het die pyn weer ernstig teruggekom na die einde van Desember en het ek weer elke oggend met baie ongerief opgestaan. Na die vakansie het ek toe vroeg in Januarie na Danie se preek geluister wat gehandel het oor “Genees Jesus vandag nog?” Die gemeente het vir iemand gebid vir genesing, maar ek wou nie my hand ook opsteek nie. Die preek het nogtans by my gebly. 

Daardie selfde week se Woensdagnag word ek wakker omtrent 3:00vm. Gewoonlik is ek bewus waarom ek wakker geword het, maar daar is toe oënskynlik geen rede nie. En ek is wawyd wakker starende in die donkerte! Ek begin toe skielik bid met woorde wat ek nog nooit gebid het nie en wat ek weet nie my eie woorde was nie: “Here, vul my asseblief met U Heilige Gees. Vul elke deel van my liggaam en elke gewrig en neem asb die pyn weg. (Ek het nog nooit hierdie woorde gebid nie, want die Heilige Gees was nog nooit vir my ’n werklikheid nie.) En gee my asseblief ’n liefde vir mense. (Weer was dit nie my woorde nie, want ek HOU dan van mense...?) En Here help my asb nou om aan die slaap te raak.” (Teen die sewende keer dat ek daarvoor vra, raak ek aan die slaap.)  

Die volgende oggend toe ek opstaan het ek versigtig my voete op die vloer gesit om te voel of ek enige pyn het, maar daar was niks nie! Dit was vir my ’n wonderwerk en daardie hele dag het ek geen pyn beleef nie. Teen die volgende oggend was dit weer ’n ander storie, want die pyn was terug. “Hoekom?” het ek vir God gevra. Wat is dan die punt? Ek dink dit was net genade dat ek die dag daarna, alhoewel ek nog pyn gehad het, besef het dat die Here vir my wou sê dat Hy by my is. Dat ek nie hoef bang te wees nie, ongeag van my omstandighede of pyn. Net daar het dit nie meer vir my saak gemaak of die pyn daar is of nie. Wat vir my belangriker was, was om te weet dat as God vir my is, het ek niks anders nodig om my lewe vol te maak nie en kan ek staande bly teen die aanslae van die lewe. Wat ’n ontdekking! 

Sedert daardie gebeure aan die begin van Januarie het my lewe baie verander. Dit voel asof ek Hom nou eers werklik leer ken het en loop my beker oor met dit wat Hy is. Vir die eerste keer het ek God uiters persoonlik begin beleef as my Vader, Jesus as volmaakte liefde en die Heilige Gees as lewende teenwoordigheid in my lewe elke dag. Aan die begin kon ek nie Jesus se naam noem sonder om in trane te wees nie, omdat ek sy teenwoordigheid intens ervaar! Wanneer Sy liefde ons harte aanraak en oor ons spoel, kan ons nie weer dieselfde wees nie: ek ervaar hoe Hy my hart vul met vreugde.  Ek beleef dikwels hoe die Heilige Gees my lei deur sekere dinge in my hart en verstand te lê waaraan ek nie doelbewus gedink het nie.

God se Woord het vir my ’n heel nuwe betekenis gekry – teksverse het vir my soos kosbare skatte geword waaraan ek wil vashou en in my hart vaslê sodat ek dit altyd sal onthou en sal leef. Ek kry nie genoeg van die Bybel nie en lees ek soveel ek kan, wanneer ek kan. Ek praat oral met God – soggens as ek die laaste ent na my werk stap bid ek dat die Heilige Gees my sal vul, my sal heilig hou en my sal gebruik tot eer van Sy naam op daardie dag.  

Wat ’n voorreg is dit nie om die Lewende God te kan ken, te beleef en in Sy diens te staan nie! Dit is elke dag vir my soos ’n avontuur om te ontdek hoe Hy my gaan gebruik.  Dan besef ek weer wat ’n genadige God ons aanbid dat hy moeite maak met ons ontroue, ongehoorsame en maklik afdwalende mense. Hy het alles gemaak, maar ter wille van ons verlossing  het Hy na die aarde gekom as ’n mens wat verag was en moes sterf soos ’n misdadiger.  

Die Here my God het die hemel in my hart gesit en ek sal nie ophou om Hom te loof en te prys vir wie Hy is nie! Groot is Sy naam en voor Sy troon moet elkeen buig en sê: Heilig is die Here God Almagtig! 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12