NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Gewyde dienste

 

Tuisblad
Terug

 

By sommige lidmate neem die element van misterie ‘n meer belangrike rol in hul ontmoeting met God in. Stilte (ook in die erediens) en retraites is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan vir hulle gepaard met die vermoë om God beter te hoor, sy wil duideliker te kan vertolk en die belewing van ‘n innige gemeenskap met God.  Hulle verkies “luistergebed” en ‘n gewyde atmosfeer wanneer hulle God aanbid. Sommige van hulle lewer ‘n belangrike bydrae aan die gemeente deur hul voorbidding en profetiese getuienis. Hulle stimuleer ander om te verdiep in hul belewenis van God se teenwoordigheid. Hulle word veral deur wysheid en broosheid geïnspireer.

 

‘n Vroeë oggenddiens met die volgende eienskappe mag in hierdie behoefte voldoen:

Die diens begin 08:00 en eindig 08:30.

Agtergrondsmusiek vanaf 07:45 skep ‘n gewyde atmosfeer.

Geleenthede van stilte word benut om lidmate te help om
bullet

rustig te raak;

bullet

te fokus op die teenwoordigheid van God;

bullet

te fokus op die Woord van God;

bullet

na te dink oor wat die Here vir hulle wil sê.

‘n Kort boodskap is deel van die liturgie.

Die diens bevat geen lang afkondigings, kinderboodskappe, getuienisse of geloofsbelydenisse nie.

Indien gemeentesang plaasvind, word dit beperk tot hoogstens twee liedere.

Die diens mag in ‘n verkeidenheid van behoeftes voldoen. Die volgende lidmate behoort daarby aanklank te vind:

bullet

Lidmate wat die behoefte het aan die belewing van ‘n innige gemeenskap met God.

bullet

Lidmate wat wil groei in die vermoë om duideliker op God te fokus, Hom beter te hoor en sy wil duideliker te vertolk.

bullet

Lidmate wie se familie betrokke is by sportbyeenkomste of uitstappies en wat as gevolg daarvan nie die normale dienste om 09:30 kan bywoon nie.

bullet

Lidmate wat uitstappies vir die dag beplan.

bullet

Lidmate wat weens mediese redes nie meer langer eredienste kan bywoon nie.

bullet

Lidmate wat nie aanklank vind by die formaat van die betrokke diens om 09:30 nie.

Die gemeente is genooi na ‘n bespreking oor die aard van die dienste op Sondagaand 21 Januarie 2007 om 18:00. ‘n Voorbeeld van die diens is getoets en die terugvoering was deurgaans positief onder sowel die jeug as ouer lidmate van beide die NGK en VGK Wynberg.

Die musiek word elke Sondag deur Dr. Jean Elferink saamgestel om by die teks en die tema te pas. Hy beskik oor 'n omvangryke versameling van klassieke musiek. Hy het al verskeie musiekprogramme vir Fine Music Radio saamgestel en aangebied. Hy beskryf die filosofie agter sy keuses soos volg:

1.)    Algemene beginsels; mens probeer afwisseling vind, byvoorbeeld nie net koor of net orrel of wat ook al nie.

2.)    Inpas by tema; die onderwerp of trant van ʼn boodskap leen homself nie altyd reguit na sekere musiekstukke nie. Dikwels kos dit gebed, tyd, nadink en eksperimenteer vóór ek by die eindkeuses kom.

3.)    Moenie te lank wees nie; die deursnee luisteraar se konsentrasievermoë is so om en by 5-8 minute. Mens moet dus binne daai perke probeer bly ( dieselfde geld vir preke, terloops!).

4.)    Verskille van smake en vertolking; soos alombekend, verskil hierdie ontsaglik, en ons sal nooit almal kan tevrede stel nie. Trouens, die beste resep vir mislukking is juis om te veel te probeer behaag. Ek poog werklik om nie net my eie smaak te laat botvier nie, maar om Johan Sebastian B se leuse na te volg:” Oud of nuut is nie ter sake nie, solank dit goed is”.

5.)    Terugvoering; natuurlik is musiek omtrent dié mees subjektiewe kunsvorm en verslillende mense sal dieselfde werk op geheel ander maniere beleef. Ek waarder dit as mense vir my laat weet of my pogings geslaag of, nog meer leersaam, minder suksesvol was 

Wat hierdie week se keuses betref: Die tema is “’n Hart vol vreugde oor God se almag en genade”. Ek het dus met die bekende uittreksel uit Brahms se Duitse Requiem begin, want ons vreugde in God kom tot sy beste uiting in die huis van God. Toe ʼn stukkie stemmingsmusiek van Vivaldi. Ek probeer altyd iets net vóór die boodskap iets te plaas wat so na as moontlik by die kern daarvan pas. Of altans wat ék as die kern sien. In hierdie geval was dit juis “God is ons Vreugde”

Dan as einde kies ek gewoonlik iets wat óf die boodskap sal beaam en versterk , en/óf die gehoor ʼn positiewe en besielende afsluiting sal besorg.

 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10