NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Hannes & Maretha

 

Tuisblad
Terug

 

Hannes en Maretha vanuit die Midde-Ooste

10/11/2008

Liewe vriende 

Min het ek geweet dat ek ook eendag die voorreg sou he om die vleispotte van Egipte te besoek. Op pad na ‘n leierskap konferensie vir werkers in die Midde Ooste was ek verbaas om te sien hoe bergagtig die Sinai woestyn was. Ek het myself goed kon indink hoe Moses deur al die wadis en droee rivierlope moes sukkel met sy menigtes. Kampplek moes ‘n nagmerrie gewees het, om van kos en water nie eens te praat nie. Selfs die rooi see se oorsteek moes ‘n deeglike tameletjie gewees het, en ‘n skrikwekkende ervaring vir ‘n volk wat net gewoond was aan die Nyl. Gepraat van die groot rivier, dis nie vreeslik breed en indrukwekkend nie, maar wel indrukwekkend wat hulle daarmee gedoen het. Kanale sprei uit soos spat are in alle rigtings, en die water word gelei na elke beskikbare stukkie aarde wat verbou kan word. Die Nyl delta is pragtig groen en nat, en omtrent enigiets kan daar groei. Toe die vliegtuig oor die moerasse neerstryk by Alexandria was ek verbaas oor die groot hoeveelheid water en nattigheid op die rand van die woestyn.

Ons het wel deeglik kennis gemaak met die plae van Egipte toe die swerms muskiete my verwelkom het soos ‘n bomwerper parade. Nou kyk, daar is een ding wat ek nie lekker kan kleinkry nie, en dis hoe die muskiete my kan uitsonder tussen die menigtes, en sommer by voorbaat kan ruik waar hulle hoofdis is. Dis seker in my bloed of iets, want as daar iemand gebyt moet word, is ek die eerste slagoffer. Hoe ek ookal myself kamofleer, hulle ken my DNA op ‘n afstand uit soos ‘n groot pyl wat gloeiend flits: GRATIS. Ek het gevind dat dit nie veel help om die pestelensies dood te klap nie, maar dit gee my darem so ‘n lekker gevoel onder die kraag as een in die stof byt. Muskietnette is seker een van die beste uitvindsels sedert gesnyde brood, en ‘n ware lafenis om onder te slaap. Die plae kan maar zoem en duik en brom, solank hulle net aan die anderkant van die net bly. Dis so goed mens slaap in ‘n deursigtige tent waaruit mens hulle seevierend kan dophou.

Van die paddas het ek nog nie te veel te siene gekry nie, maar duidelik moes hulle die bouers verwar het, want die huise is skeef en krom aanmekaar gesit, met verskeie kamers of verdiepings aangelas op die ingewing van die oomblik, of deur ‘n latere generasie as eerste poging tot hande arbeid. Trappe is daar baie, en paddas moes seker hulle spring geken het om op die plat dakke te beland. Elke plat dak het so ‘n riet afskorting bo oor, sodat die mense daarbo kan slaap onder in die vars lug. Met so baie water en vleie moes die paddas omtrent ‘n kopseer gewees het, veral toe die Farao se towenaars hulle nog staan en vermeerder het.

Die  muggies moes ‘n erge plaag gewees het, want hulle is so klein en volop en vol gif. Hulle pak mens toe in sulke wolke, en jy kan maar vergeet van die kolonie uitroei met ‘n paar klappe. Daar is altyd tien ander wat jou toetakel waar die eerste een die tydige met die ewige verwissel het. En die goed steek regtig seer, maar die erge deel le nog voor. Die gejeuk is nog erger as die byt, en dan volg die opswel en weke van krap en kriewel. Foeitog, die Egiptenare moes behoortlik hulle hardkoppige Farao verwens het. Daar is baie stof in Egipte, en toe die hele lot nog in muggies staan en verander het, moes dit ‘n groot donkerte gewees het wat die mense beproef het.

Asof dit nie genoeg was nie, lok die hope sterwende paddas die grootste plaag vliee wat hulle nog ooit gesien het. ‘n Hele paar van hulle nasate vlieg nou nog hier rond, en hulle is heel rats en moeilik om raak te slaan. Asblikke is nou nie juis dieselfde as in party Europese lande nie, en gemors word orals rondgestrooi – die Green Peace beweging sal omtrent ‘n eiertjie te le he as hulle hier moet kom vakansie hou. Die land is vuil van al die rommel, en selfs die strate word versier met die een rommelhoop na die volgende. Plastieksakke is nog volop, en wapper die wereld vol. Die meeste dorpies het sekerlik nog nie gehoor van munisipaliteite nie, en die vliee is al te dankbaar daaroor. Hulle floreer op die publieke skandes en teel aan in hulle miljuisende.

Toe die Farao se beeste en skape en donkies op Moses se verdoemende spyskaart beland, was dit sekerlik ‘n groot traumatiese ervaring vir die inwoners. Donkies word vandag nog gebruik vir vervoer, waentjies rondsleep en ploeg op die lande. Die land se ekonomie moes omtrent in die bek geruk gewees het toe die vervoer middels en mobiele melk fabrieke die onderspit delf. Ek het nog nie een koei hier gesien nie, maar darem al ‘n donkie of twee hoor weemoedig bulk. Nie seker of mens dit as bulk kan bestempel nie, dalk was dit ‘n roggelende gebalk asof hulle almal sukkel met asma en rasper kele.

Die swere moes iets verskrikliks gewees het, veral in die landelike gebiede waar daar nie apteke is nie. Die hael moes die groenigheid konfetti geslaan het, en die weerlig moes vreesaanjaend gewees het. Dit was sekerlik die moeder van alle storms wat die land geteister het. Die donkerte daarna was seker welkom sodat hulle nie die verwoesting kon sien nie. Vir ons mense wat gewoond is aan elektriese krag en ligte is dit dikwels ‘n verrassing om agter te kom hoe afhanklik ons daarvan is. Laat daar nou net ‘n kragonderbreking of twee insluip, en die gort is gaar. Hoe mense in die ou dae sonder lugversorging en waaiers geleef het, gaan die die verstand te bowe.

Met sy 80 miljoen mense is Egipte nogal ‘n dig bevolkte land, veral omdat mense net langs die Nyl af woon. Die grootste deel van die land is net verlate woestyn waar daar nie veel is om ‘n lewe van te maak nie. As hulle nie olie onder die sand gevind het nie, sou die land maar gesukkel het om die pot aan die kook te hou. Die mense is deurgaans ‘n emosionele nasie, en daar word luid uiting gegee aan hulle gevoelens en opinies. By begrafnisse word vandag nog troppe roubeklaers gehuur wat kom trane stort by die onbekende se graf, al weeklagend en vol rou met stemme wat skril skree om die familie op te sweep totdat hulle in ‘n toestand is. Hoe meer daar gehuil word, hoe meer respek ontvang die dooies. Dit moes omtrent ‘n gesig gewees het toe die tiende plaag die volk getref het.

Die volk het wel deeglik terugverlang na Egipte met al sy kossoorte en groentes en vrugtes. Kan hulle ook nie juis blameer nie, want dis omtrent ‘n paradys van verskeidenheid. Alles groei hier, en sommer welig ook. Van die lekkerste koejawels en piesangs wat ek nog geproe het, maak hulleself tuis tussen die druiwetrosse en koringbrood op die tafels. Ek kan myself nogal indink hoe Josef vir 7 jaar lank van die opbrengste bymekaar gemaak het vir die 7 maer jare wat sou volg. Om vir die volk te vertel dat hulle na die beloofte land op pad was, was sekerlik ‘n ontnugtering toe hulle die eerste duine op die buitewyke van die Nyl getref het. Die beloofte land het padlangs ver gele, en lyk vandag minder groen as wat Egipte voorkom. Tog word dit bestempel as ‘n land van melk en heuning!  

Hartlike groete uit die perd se bek

Hannes

 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12