|
|
|
|
Konferensie oor ooreenkoms tussen NGK en VGK Wynberg. Soos afgekondig op Sondag 6 April tydens die oggenddiens, hou ons op Sondagaand om 18:00 by die boonste kerkgebou ’n konferensie waarheen kerkraadslede, rustende kerkraadslede en gemeentelede wat sou belangstel, genooi word. Die volgende punte dien as agtergrond en motivering vir die konferensie: 1. Die NGK en VGK gemeentes van Wynberg funksioneer as ’n gekombineerde gemeente op basis van ’n ooreenkoms wat deur die kerkraad bespreek en goedgekeur is. 2. Die kerkraad van die VGK Wynberg het in die lig van die besluite van die Algemene Sinode 2005 en die Streeksinode van Kaapland in verband met eenheidstrukture op gemeente-, ring- en sinodevlak, die ooreenkoms vir goedkeuring aan die VGK Ring van Wynberg voorgelê wat op 22 - 23 Augustus 2007 te Wynberg in sitting was. Die voorlegging is aangeheg (VERTOË AAN DIE RING VAN WYNBERG2.doc). 3. Ds James Buys het met dankbaarheid aan die gesamentlike kerkraadsveradering van die NGK en VGK Wynberg verslag gedoen dat die Ring van Wynberg die voorlegging in sy geheel goedgekeur het. 4. Die Ringskommissie (VGK Ring van Wynberg) het intussen aangedui dat die sterfte van die leraar van die Wynberg ‘n hersiening van die goedgekeurde ooreenkoms noodsaak. a. Die Ringskommissie het Ouderling André Jacobs versoek om ’n vergadering tussen die Ringskommissie en “die kerkraad van die VGK Wynberg” te reël. b. Die kerkraad het op Sondag 16 Maart 2008 Dr. Nel versoek om by die vergadering teenwoordig te wees. c. Die vergadering het op 18 Maart 2008 plaasgevind. Die Ringskommissie het die vergadering ingelig dat indien daar ’n vakature in ‘n gemeente ontstaan, die konsulent volgens die kerkorde van die VGK vir die ampsligte verantwoordelik is totdat ’n nuwe leraar bevestig word. d. Die kerkraad was eenparig in hul verweer dat die goedgekeurde ooreenkoms voorsiening maak “dat die leraar van die NGK Wynberg ampspligte, wat Kerkordelik is tot die gemeente leraar en/of die konsulent of ander gekomiteerde van die Ring van Wynberg beperk is, mag waarneem. Die ampspligte waarna verwys word sluit onder andere in die bediening van die doop, die bevestiging van kerkraadslede en lidmate.” e. Kerkraadslede het op grond van my suggestie versoek dat die Aktuarius van die Kaaplandse Sinode genader word om ’n uitspraak oor die dispuut te lewer. 5. My versoek aan die Aktuarius (Die Aktuarius 18 Maart 2008.doc) sowel as haar voorlopige uitspraak (Geagte dr nel1.doc) is aangeheg. a. Die kerkraad sowel as die Ringskommisse se beredenering word in die versoek uiteengesit. b. Die uitspraak lui soos volg: “Kennis word gegee dat ons van mening dat vir die interim die bestaande Ooreenkoms gehonoreer behoort te word tot tyd en wyl die Ring die Ooreenkoms in die lig van die veranderde situasie in Wynberg VGKSA kerkregtelik beoordeel. U kan dus tot en met die Ring se uitspraak oor die aangeleentheid voortgaan met bepaalde funksies soos deur die Ooreenkoms aan verleen is.” 6. Die Ring van Wynberg (VGK) het op aan ons op 4 April 2008 kennis gee dat hulle by ‘n spesiale Ringsitting die Ooreenkoms in die lig van die sterfte van die leraar van die Wynberg in bespreking gaan neem en op die vergadering in die verband uitspraak sal lewer. a. Die spesiale Ringsvergadering was belê vir 15 April 2008. b. Ek het versoek dat die vergadering uitgestel word om eers aan die kerkraad van Wynberg die geleentheid te gee om te besin oor hoe daar op ’n konstruktiewe wyse met die Ring en die Sinodale Kommissie oor die toekoms van ons gekombineerde gemeente onderhandel kan word. c. Die versoek is toegestaan. Die vergadering is uitgestel na Dinsdag 22 April 2008. Die tyd en plek hiervan bly onveranderd, te wete 19.30 by die VGK Retreat. Ek vertrou dat die Here vir ons sal help om ’n werkswyse te vind waarbinne die Ring en Sinode op ’n konstruktiewe wyse ons venote kan word om ’n weg te baan vir ons toekoms sowel as vir die totstandkoming van verdere “eenheidsgemeentes”. Dr. Danie Nel Voorsitter van die Gesamentlike Kerkraad. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|