NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Inligting 13 Apr 2008

 

Tuisblad
Terug

 

Gemeentekonferensie van 13 April 2008 

Baie dankie aan almal wat die gemeentekonferensie verlede Sondag bygewoon het. Ons dank die Here vir die besondere samehorigheid en positiewe atmosfeer wat ons ervaar het. Die volgende verklaring is eenparig goedgekeur en onderteken deur almal wat teenwoordig was:  

Die NGK en VGK Wynberg het in 'n gemeentevergadering op 13 April 2008 besluit om die volgende aan die VGK Ring van Wynberg oor te dra:

1.         Die gemeente is eenparig in hulle strewe om te bly by die gees van die samewerkingsooreenkoms tussen die NGK en VGK Wynberg, soos voorgelê aan en goedgekeur deur die Ring, ten spyte van die afsterwe van ds James Buys.  Die Ringskommissie word genooi om by wyse van 'n gemeentevergadering met die gemeentelede daaroor in gesprek te tree, sou dit nodig blyk te wees.       

2.         Die gemeente aanvaar dat die Ring, soos die Sinodes van die VGK en NGK, die doelwit van hereniging op gemeentelike, rings- en sinodale vlakke steun.

3.         Die gemeente versoek die Ring om, sou daar kerkregtelike probleme blyk te wees met die samewerkingsooreekoms, die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings sodat die gemeente sy doelwit kan verwesenlik.

4.         Sou die bediening van die gekombineerde gemeente deur die leraar van die NGK in die interim 'n kerkregtelike probleem blyk te wees, versoek die gemeente die Ring om behulpsaam te wees met die legitimisering van die bediening, met verwysing na die presedent van die bediening van die NG gemeente Observatory en die VG gemeente Ebenezer deur Dr. Ben Kotzé.

5.         Die gekombineerde gemeente, wat noodgedwonge steeds as twee afsonderlike regspersone funksioneer, begeer om verder vordering te maak op die pad van hereniging, en versoek die Ring om die gemeente behulpsaam te wees in 'n versoek aan die Sinode om in die kerkorde voorsiening te maak vir volledige hereniging van gemeentes, as 'n interim maatreël tot tyd en wyl hereniging op nasionale vlak 'n werklikheid word.  

Die konferensie het hul instemming met die volgende versoek betuig:

Die gesamentlike kerkraad versoek die NGK en VGK Ring van Wynberg asook die moderature van die streeksinodes dat die herenigde kerk nou reeds geplant word vir gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om te herenig;

a.         Hierdie herenigde kerk word beskou as die vrug van besluite ten gunste van kerkeenheid wat reeds deur die onderskeie sinodes geneem is;

b.         Die herenigde kerk bly kontraktueel en kerkregtelik verbonde aan die onderskeie kerkverbande;

c.         Die onderskeie sinodes word betrek in die skryf van die kerkorde vir die herenigde kerk;

d.         Gemeentes, ringe en sinodes word op ’n progressiewe wyse deel van die herenigde kerk sodra hulle gereed is om dit te doen. 

Die verklaring en die versoek is eenparig deur die kerkraad op 15 April 2008 goedgekeur en onderteken. Lidmate sal ook die geleentheid kry om dit op Sondag 20 April te onderteken.

 

Met seënwense

Dr. Danie Nel

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10