|
|
|
|
Inligtingsbrief oor eenheidsproses van die Wynberg gemeentes. Liewe lidmaat 1. Ons hou op Sondagaand 31 Augustus 2008 direk na die aanddiens ‘n gemeentekonferensie oor die eenheidsproses tussen die NGK en VGK gemeentes van Wynberg, soos ons reeds verlede Sondag afgekondig het. Ek vertrou dat hierdie brief die nodige agtergrond en inligting aan u deurgee sodat u sinvol kan deelneem. 2. Die volgende punte dien as agtergrond vir die versoek: 2.1 Die NGK en VGK gemeentes van Wynberg funksioneer soos ’n gekombineerde gemeente op basis van besluite wat deur die kerkrade gesamentlik sowel as afsonderlik bespreek en goedgekeur is. Die kerkraad van die VGK Wynberg het in die lig van die besluite van die Algemene Sinode 2005 en die Streeksinode van Kaapland in verband met eenheidstrukture op gemeente-, ring- en sinodevlak, die besluite vir goedkeuring aan die VGK Ring van Wynberg voorgelę wat op 22 - 23 Augustus 2007 te Wynberg in sitting was. Ds James Buys het aan die gesamentlike kerkraadsveradering verslag gedoen dat die ring die voorlegging in sy geheel goedgekeur het. 2.2 Die Ring van Wynberg (VGK) het op aan ons op 4 April 2008 kennis gee dat hulle by ‘n spesiale ringsitting die ooreenkoms “...in die lig van die sterfte van die leraar van die Wynberg” gaan bespreek en daaroor uitspraak sal lewer. Die spesiale Ringsvergadering was belę vir 15 April 2008. Ek het versoek dat die vergadering uitgestel word om eers aan die kerkraad van Wynberg die geleentheid te gee om te besin oor hoe daar op ’n konstruktiewe wyse met die Ring en die Sinodale leierskap oor die toekoms van ons gemeente se gesamentlike bediening onderhandel kan word. Die vergadering was uitgestel na Dinsdag 22 April 2008. 2.3 Op versoek van rustende kerkraadslede van die VGK Wynberg in wie se dienstermyn die besluite oor die gesamentlike bediening geneem is, het die kerkraad ooreengekom om op 13 April 2008 ’n gesamentlike gemeentekonferensie te hou waarheen kerkraadslede, rustende kerkraadslede en lidmate genooi was. Die doel van die konferensie was “...om ’n werkswyse te vind waarbinne die Ring en Sinode op ’n konstruktiewe wyse ons vennote kan word om ’n weg te baan vir ons toekoms sowel as vir die totstandkoming van verdere ‘eenheidsgemeentes’...” Die volgende verklaring is eenparig goedgekeur en onderteken deur almal wat teenwoordig was: Die NGK en VGK Wynberg het in 'n gemeentevergadering op 13 April 2008 besluit om die volgende aan die VGK Ring van Wynberg oor te dra: 1. Die gemeente is eenparig in hulle strewe om te bly by die gees van die samewerkingsooreenkoms tussen die NGK en VGK Wynberg, soos voorgelę aan en goedgekeur deur die Ring, ten spyte van die afsterwe van ds James Buys. Die Ringskommissie word genooi om by wyse van 'n gemeentevergadering met die gemeentelede daaroor in gesprek te tree, sou dit nodig blyk te wees. 2. Die gemeente aanvaar dat die Ring, soos die Sinodes van die VGK en NGK, die doelwit van hereniging op gemeentelike, rings- en sinodale vlakke steun. 3. Die gemeente versoek die Ring om, sou daar kerkregtelike probleme blyk te wees met die samewerkingsooreekoms, die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings sodat die gemeente sy doelwit kan verwesenlik. 4. Sou die bediening van die gekombineerde gemeente deur die leraar van die NGK in die interim 'n kerkregtelike probleem blyk te wees, versoek die gemeente die Ring om behulpsaam te wees met die legitimisering van die bediening, met verwysing na die presedent van die bediening van die NG gemeente Observatory en die VG gemeente Ebenezer deur Dr. Ben Kotzé. 5. Die gekombineerde gemeente, wat noodgedwonge steeds as twee afsonderlike regspersone funksioneer, begeer om verder vordering te maak op die pad van hereniging, en versoek die Ring om die gemeente behulpsaam te wees in 'n versoek aan die Sinode om in die kerkorde voorsiening te maak vir volledige hereniging van gemeentes, as 'n interim maatreël tot tyd en wyl hereniging op nasionale vlak 'n werklikheid word. 2.4 Die VGK Ring van Wynberg het op 22 April 2008 tydens ’n spesiale vergadering ’n gedeelte van die ooreenkoms tussen die kerkrade “te herroep” op grond van hul interpretasie van die kerkorde: “Samewerkingsooreenkomste sou dan in geval van VGK en NGK Wynberg betrekking het op gesamentlike kommissiewerksaamhede en eredienste – nagmaal; doop; bevestiging van kerkraadslede en lidmate uitgesluit.” Volgens die afgevaardigdes van Wynberg het die Ring nie die versoekskrif van die lidmate en kerkraad van Wynberg in behandeling te neem nie. Dit is na die Ringskommissie verwys wat hul antwoord gerig het aan die konsulent van die VGK Wynberg. 2.5 Die gesamentlike kerkraad het ooreengekom om ’n tweede gesamentlike gemeentekonferensie op 1 junie 2008 te hou om drie verskillende moontlikhede oor samewerking en vereniging te bespreek. Die lidmate wat teenwoordig was, het verkies dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring: Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm. · Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk. · Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly. · Ons beskou die vestiging van die herenigde gemeente as die uitvoering van besluite wat reeds deur die onderskeie kerkverbande ten gunste van eenheid geneem is. 2.6 Die Kerkraad van Wynberg het die gesamentlike moderatuursvergadering van die NGK en VGK versoek “... om ons te help om die struktuur en proses te ondersoek wat aan ons voorneme gestalte kan gee en om saam met ons die nodige kerkregtelike ruimte te skep deur byvoorbeeld vir ’n geassosieerde saam op weg kerkverband voorsiening te maak.” Die moderature het die versoek na die gesamentlike vergadering van die twee sinodes se regskommissies verwys en gesamentlike kerkraad van Wynberg genooi om met hulle in gesprek te tree en te help met voorstelle. 2.7 Ons voorstel is geskoei op ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer gemeentes van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelisch-Lutherse Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden verenig. Hiervolgens word ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm waarin daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Alles word saam bestuur. Die gemeentes kan net nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle nog twee aparte regspersone moet bly totdat die sinodes verenig. Ons kan die model vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. 2.7 Hierdie voorstel is aan die regskommissies van die onderskeie sinodes voorgelę wat op 6 Augustus 2008 vir die eerste keer in die geskiedenis saam vergader het. Hulle reken dat die bestaande reglemente (ek verstaan die NGK en die VGK het dieselfde reglement goedgekeur) “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik” en versoek dat die ooreenkoms met die reglemente as riglyn opgestel word. Dit is baie goeie nuus: dit impliseer dat ons nie hoef te wag totdat die sinodes dit moontlik maak nie – ons kan, so gou as wat ons lidmate en die ringe dit goedkeur, die Gesamentlike Gemeente van Wynberg vorm! Dr. Danie Nel Voorsitter van die gesamentlike kerkraad
|
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|