NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Inligting 31 Mei 2009

 

Tuisblad
Terug

 

Inligtingsbrief van 31 Mei 2009 oor eenheidsproses

Liewe gemeentelede

Ek wil graag by wyse van hierdie brief u elkeen bedank vir u steun en opoffering gedurende die afgelope twee jare. Ek kan my kwalik ‘n moeiliker uitdaging voorstel as die een wat aan ons deur kom klop het. Die geloofsmoed, geduld, lojaliteit en volharding wat ek by baie van ons gemeentelede waargeneem het, sal my lewe lank by my bly as ‘n besondere getuienis en vrug van die Heilige Gees se werking onder ons.

Die uitdaging het begin toe die gesamentlike kerkraadsvergadering van die NGK en VGK Wynberg op 24 Julie 2007 eenparig besluit het dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste saam gaan hou. Hierdie besluit is geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die besondere seën wat tydens die gesamentlike 40 dae van doelgerigte fokus in ervaar is. Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere opmerkings soos die volgende gemaak: “Ons moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra, sonder om oor ons skouers te loer,  al sou dit ‘n prys van ons vra. Ons glo dat die Here ons seën om ‘n helder lig te laat skyn!”

Daarna het die gemeentes begin om alle eredienste saam te hou, al om die beurt in die twee kerkgeboue. Ons het ons lidmate ingelig dat dit slegs ‘n tydelike reëling gaan wees totdat die gemeentes een gemeente vorm. Die prys wat dit vra was en bly steeds hoog:

·    Elke tweede Sondag is een van die gemeentes se kerkgebou toe wanneer die diens in die ander kerkgebou is – vir sommige lidmate is dit ‘n probleem.

·    Jongmense en nuwe intrekkers verstaan nie waarom ons dit doen nie omdat die geriewe in die een gebou beter is.

·    Die bankkollektes van elke gemeente word hierdeur gehalveer.

·    Dit het ‘n nadelige uitwerking op die insameling van die maandelikse dankofferkoeverte.

·    Die gemeentes word daardeur verhinder om ‘n nuwe gesamentlike identiteit te vorm. Dit lyk vir sommige lidmate asof ons steeds aan die ou identiteite wil vashou. Hulle vra: probeer ons dalk om nuwe wyn in ou wynsakke te gooi?

Wanneer ek soms gevra word om ons gemeentes se eenheidproses aan ander gemeentes of predikante te verduidelik, hoor ek soms: “So iets sal nie by ons werk nie. Die finansiële impak gaan eenvoudig te groot wees.” Hoewel ons kerkrade geweet het dat die prys hoog sou wees, het hulle nogtans in die geloof hierdie reis aangepak. Waarom?

·         Hulle het gemeen dat dit sou bydra tot die heling van die verlede as beide gemeentes vir ‘n tyd lank dieselfde opoffering maak.

·         Hulle was oortuig dat die selfverloëning wat dit van beide gemeentes se lidmate gevra het, sou bydra om die regte geestelike klimaat vir die verdere proses te skep.

·         Hulle het besondere geloofsmoed aan die dag gelê deur te glo dat as ons die pad van gehoorsaamheid loop, die Here sal voorsien wat nodig is.

·         Hulle het geglo dat die Here ons gemeentes roep om ‘n lig te laat skyn. As die eenheidsproses in Wynberg afgerond kan word, kan dit die weg vir baie ander gemeentes baan en so tot die heling van die kerk in ons verdeelde land bydra.

Ons moet egter daarmee rekening hou dat die handhawing van die ou identiteite in twee geboue slegs ‘n tydelike reëling kan wees omdat ons die oortuiging het dat die Here ons geroep het om een te wees. Daarom moet ons voortdurend biddend vra: het die tyd dalk aangebreek om nou die volgende tree te gee?

Dit is op 1 Junie ‘n jaar gelede dat ons lidmate tydens ’n gesamentlike gemeentekonferensie drie verskillende moontlikhede oor samewerking en vereniging bespreek het. Die lidmate wat teenwoordig was, het verkies dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring:  “Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm. Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk. Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly.”

Dit was ‘n baie moeilike opdrag wat aanvanklik onuitvoerbaar gelyk het. Hoe kan ons een gemeente vorm en steeds verbonde aan twee verskillende kerkverbande bly? Ons het die moderature van die sinodes versoek om te help, maar hulle het ons gevra om met voorstelle na die regskommissies te kom. Hulle het ook nie geweet hoe dit moontlik kon wees nie.

Baie van u ken die verdere verloop. Die kerkrade het op 2 September 2008 ’n ooreenkoms eenparig goedgekeur wat die gemeentes in staat kan stel om as een gemeente te funksioneer. Ons het in hierdie opsig baie geleer by ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer Hervormde, Gereformeerde en Lutherse gemeentes saamwerk om te verenig. Hiervolgens word daar eers ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm waarin daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Alles word saam bestuur. Die gemeentes kan net nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle nog twee aparte regspersone bly. Sou die sinodes verenig, kan ons verder gaan om een regspersoon te word. Ons kan die model vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het die model tydens ’n konferensie bespreek wat op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg aangebied was.

Ons het die Nederlandse model verwerk om aan die reglemente van die NGK en die VGKSA te voldoen. Die ooreenkoms is deur twee prokureurs afsonderlik oorweeg en gunstig beoordeel. Dit was op 31 Augustus 2008 by ’n gemeentekonferensie bespreek. ’n Honderd afskrifte van die volledige ooreenkoms (aangeheg) was vir insae en kommentaar gedurende Septembermaand by die deure van elke kerkgebou geplaas. ’n Opsomming van die ooreenkoms was ook by die deure beskikbaar. Die volledige weergawe is ook op ons webwerf geplaas.

Kan ons dit bekostig om voort te gaan op die ou manier? Wat sê ons vir lidmate wat begin wonder hoe ernstig ons was om as een gemeente te funksioneer? Het die tyd aangebreek om ‘n volgende tree te gee? Ek wil u nooi om saam daaroor te bid en na te dink sodat ons dit saam kan bespreek.

Met seënwense

Dr. Danie Nel

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12