|


| |
Wynberg-gemeentes gee pas aan vir hereniging
Die Kerkbode, Hoofartikel,
24 Augustus 2007
Nadat kleurverskille hulle langer as ’n eeu en ’n kwart gelede van mekaar
weggedryf het, is die NG Gemeente Wynberg in Kaapstad weer een. Dit is die
gevolg van ’n eenparige besluit verlede maand tydens die gesamentlike
kerkraadsvergadering van die NG Gemeente Wynberg en die Wynberg-gemeente van die
Verenigende Geref Kerk (VGK). Die besluit lui dat alle eredienste van die twee
gemeentes voortaan gesamentlik moet plaasvind.
Met hierdie besluit word Wynberg een van die eerste NG gemeentes in die land wat
praktiese gestalte gee aan die eenwordingsproses in die NG Kerkfamilie.
Dr Danie Nel van die NG Gemeente Wynberg het aan Kerkbode gesê die besluit is
geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die
besondere seën wat tydens die gesamentlike “40 dae van doelgerigte fokus” ervaar
is.
Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere gesê: “Ons
moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra, sonder om oor ons skouers te
loer, al sou dit ’n prys vra”; en: “Ons glo dat die Here ons seën om ’n helder
lig vir die nasies te laat skyn!”
Toe die NG Gemeente Wynberg in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk
binne die Kaapse Skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede
bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld
waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien. Hierdie besonderse
aspek van die karakter van die gemeente het ongelukkig begin skade ly nadat die
NG Sendingkerk Wynberg in 1881 afgestig is. Die besluit van die twee kerkrade,
bring mee dat die gemeente van Wynberg op Sondae weer gaan lyk soos voor 1881.
Dr Nel het aan Kerkbode gesê hulle is baie dankbaar oor die mylpaal en vertrou
dat die getuienis soos ’n lig mag skyn in ’n verdeelde samelewing. “Die
gemeenskap om ons beleef dit baie positief en sommige kerkraadslede meen dit is
’n ‘profesie’ wat waar geword het,” sê dr Nel.
- jean@tydskrifte.co.za
|