NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Kerkbode 3/09/2010

 

Tuisblad
Terug

 

Wynberg se droom lê aan skerwe

Kerkbode 3 September 2010

 

KAAPSTAD. – Die droom van ’n verenigde NG Kerkfamilie het nóg ’n knou gekry. Die NG Gemeente Wynberg en hulle bruin buurgemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se onderlinge samewerking dreig om na twintig jaar se harde werk op die rotse te beland.

Die twee gemeentes, wat skaars ’n klipgooi van mekaar af is, word al vir etlike jare voorgehou as ’n model van hoe samewerking in die NG Kerkfamilie behoort te geskied.

Kerkregtelike reëls het nou ’n stokkie voor ’n geskiedkundige samewerkingsooreenkoms gesteek. Die ooreenkoms is aanvanklik deur albei gemeentes se kerkrade aanvaar. Ook deur die NG Kerk se Ring van Wynberg. Die VGK se ring en die twee kerke se gesamentlike regskommissie wou egter nie daaraan byt nie. Dit staan glo lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NG Kerk en die VGK.

Nou het die kerkraad van die VGK óók besluit om liewer die samewerking met sy wit buurgemeente op te skort. Hieroor is Wynberg se NG leraar, dr Danie Nel, bitter hartseer. Hy sê sy kerkraad het alles probeer om die nodige kerkregtelike goedkeuring te kry, maar die streeksinodes se regskommissies het selfs hulle dringende versoeke en ’n beroep op die belydenisgrondslag (Artikel 2 van die Belydenis van Belhar) nie beantwoord nie.

Hy meen dit het veral die VGK se  kerkraad onseker laat voel omdat dit lyk asof die proses “onwettig” is. Van die lidmate vrees glo dat die samewerkingsooreenkoms wat deur Wynberg se kerkrade goedgekeur is, tot onaangename regsprobleme kan lei wat verhoudings versuur.

Dr Nel sê dit is pynlik om te sien hoe twintig jaar se harde werk, verhoudingsbou, opoffering en geloofsmoed só op die rotse beland. “Ons het vriendskappe sien ontstaan, mense het mekaar tydens siekte en dood begin ondersteun, en daar het ’n samesyn ontstaan wat ongekend in die kerkgeskiedenis van ons land is.”

’n Deel van die ooreenkoms het bepaal dat die wit en bruin gemeentes al hulle eredienste saam sou hou. Hiervoor was die gesamentlike regskommissie ook nie te vinde nie. Hulle sê volgens die kerkorde is ’n erediens ’n “tughandeling wat nie gedelegeer kan word nie”. ’n Gemeente moet glo “op ’n gereelde grondslag” sy eie eredienste hou sodat die gemeente onder die “tug van die Woord kan kom”.

Die regskommissie se vertolking van die Kerkorde is vir dr Nel onverstaanbaar. Hy sê sy kerkraad kon geen gronde vir die regskommissie se uitspraak in die kerkordelike reglemente vind nie. Dr Nel sê hoewel die huidige wending ’n groot terugslag is, sal hulle voortgaan om ’n gemeente te wees waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien.

“Die tragedie wat voor ons oë afspeel, laat my dink aan die woorde wat David Bosch vir my gesê het aan die begin van my bediening in Wynberg: Versoening kan soms slegs plaasvind wanneer twee strydende magte bots en iemand tussenin verbrysel word – soos op Golgota.

In hierdie geval is dit die lidmate van Wynberg wat bloei. Wanneer so iets met versoeners gebeur, klink al die gepraat van die kerklui oor eenheid en die Belydenis van Belhar leeg en hol,” het dr Nel aan Kerkbode gesê. – jean@tydskrifte.co.za

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12