|
|
|
|
Wat hou die familie uitmekaar?Die Kerkbode, Gesprekke, 07 Mei 2010Die werklike redes waarom die NG Kerkfamilie nie bymekaar kan uitkom nie, is die vrees vir verlies aan identiteit, outonomie en geborgenheid. As ons nie hierdie faktore bestuur nie, gaan eenheid nie kom nie. Danie Nel van Wynberg vertel hoe moeilik dit is om van gemeentevlak na eenheid te probeer groei.
Die NGK- en VGKSA-gemeentes van Wynberg het sedert 2007 ’n gesamentlike bediening op basis van besluite wat deur die kerkrade gesamentlik sowel as afsonderlik bespreek en goedgekeur is. Die lidmate het tydens gemeentevergaderings in 2008 die wens uitgespreek dat die gemeentes in al hulle werksaamhede moet saamwerk, behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree. Beide gemeentes is bereid om hulle selfstandigheid in navolging van Christus se gebed in Johannes 17 en artikel 2 van die Belydenis van Belhar prys te gee. Die Belydenis van Belhar is ook in die belydenisgrondslag van die samewerkingsooreenkoms ingesluit. Die ooreenkoms is deur twee prokureurs en prof Piet Strauss gunstig beoordeel. Tog weier die VGKSA se Ring van Wynberg en die actuarii van die streeksinodes se regskommissies om die gemeentes te steun in hulle strewe om op hierdie wyse nou saam te werk.
Onderliggende
behoeftes Wat lê onderliggend
aan die skynbare verhindering van hierdie sowel as ander herenigingsprosesse in
die NG Kerkfamilie? Dr W Zijlstra se bydrae oor die remmende invloed van
onbewustelike psigologiese faktore op die eenheidsproses in Nederland, naamlik
die Samen op Weg-proses tussen die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerken,
mag help om sommige van die onderliggende oorsake beter te verstaan. Hy wys op
vier fundamentele behoeftes van mense, naamlik die verlange na identiteit,
geborgenheid, vryheid en die behoefte aan ordening en ewewig. Indien hierdie
behoeftes in die gedrang kom, veroorsaak dit onsekerheid en angs. Volgens hom
kan mense dan op drie maniere reageer: Hulle kan vorentoe vlug deur aan te val,
na agter vlug deur vas te klou aan hulle eie mening en posisie, of besluit om
nie meer deel te neem nie. Volgens Barend Wallet, voorsitter van die destydse Werkgroep Kerkorde, het daar afstand ontstaan sodra rolspelers vermoed het dat hulle identiteit in die weegskaal kom of hulle outonomie bedreig word. Die Werkgroep Kerkorde het dit probeer teenwerk deur ’n duidelike visie op die identiteit van die Verenigde Kerk te ontwikkel en ’n sterk aksent op die plaaslike gemeente te plaas. Dit het onder andere behels dat hulle voorsiening moes maak dat sekere gemeentes meer gereed sou wees om die nuwe identiteit – dat dit beter is om saam te wees – te omhels sonder om dwang op die ander gemeentes te plaas.
Ongelyktydige ontwikkeling
’n Tussenweg ’n Weg sal daarom ook in ons konteks gevind moet word wat dit moontlik maak dat die herenigingsproses met verskillende grade van deelname verder kan gaan. Daar is ’n voorbeeld: Die Samen op Weg-proses se “Tussenorde” het, soos die NGK en die VGKSA se betrokke reglemente, gepoog om binne die reëlings van die bestaande Kerkordes voorsiening te maak vir gemeentes wat nuwe ruimte begeer het. Aan die ander kant is daar ook geen druk geplaas op gemeentes wat nog nie gereed was nie: Hulle kon bly binne die geborgenheid wat die bestaande Kerkordes aan hulle gegee het.
Verskillende
benaderings tot die Kerkorde was kennelik ook ’n probleem in die Samen op
Weg-proses. Dit hou klaarblyklik verband met die kontras tussen ’n
regspositivistiese benadering (klop dit met wat daar staan?), en ’n
natuurregtelike benadering (is dit soos dit behoort te wees?). Die oplossing lê
volgens Leo Koffeman in die balans wat tussen die twee benaderings gevind moet
word. Aan dit wat oor die kerk geglo word, behoort hande en voete in die
kerkregtelike praktyk gegee te word. Dit sou in hierdie verband byvoorbeeld
onaanvaarbaar wees om die twee gemeentes van Wynberg te verplig om steeds hulle
afsonderlikheid te behou en terselfdertyd artikel 2 van die Belydenis van Belhar
te handhaaf. Karl Barth het vier
algemene voorveronderstellings vir die kerkreg teen die agtergrond van die
Duitse kerkstryd geformuleer: Dit moet dienend, liturgies, lewend en
eksemplaries wees. Mag kan slegs legitiem wees as dit dien. Die Kerkreg is
voorts lewende reg, want die Heer leef. Dit moet daarom steeds bereid wees tot
nuwe antwoorde. Dit is dinamies, menslik, nooit afgeslote, steeds op weg van
slegter na beter. Die Kerkreg word gebore uit gehoorsaamheid aan Christus en
moet daarom altyd met eerbied benader word. Daar kan ook tye kom waarin
gehoorsaamheid juis vra dat die kerklike regspraak verander moet word. Kerke kan
in hierdie verband van mekaar leer. Danie Nel Bronne: Samen op weg naar de Protestantse Kerk in Nederland: Het
verhaal achter de vereniging deur B Wallet. - Dr Danie Nel is leraar van die NG Gemeente Wynberg. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|