NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Kerkorde

 

Tuisblad
Terug

 

REGLEMENT 6.5: KOMBINASIE VAN WERKSAAMHEDE VAN GEMEENTES, RINGE EN SINODES/KOMMISSIES VAN SINODES UIT VERSKILLENDE KERKVERBANDE

Kombinasie beteken hier dat twee of meer kerkvergaderinge van verskillende kerkverbande, of kommissies van kerkvergaderinge, as deel van die soeke na kerklike eenheid in die NG Kerkfamilie, ten bate van die koninkryk van God en as gelyke deelgenote van mekaar, kontraktuele ooreenkomste aangaan vir die uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede.

5.1 Praktiese en kerkregtelike riglyne

5.1.1 Die aspekte of saak ten opsigte waarvan die partye ’n kombinasie beoog, moet duidelik omskryf word.

5.1.2 ’n Skriftelike ooreenkoms word opgestel wat alle regte, pligte en verantwoordelikhede (insluitende finansies) van die partye duidelik omskryf.

5.1.3 Die bestaande Reglement 9 wat handel oor Kerklike Eiendomme, Goedere en Fondse, moet by die opstel van die ooreenkoms in berekening gebring word.

5.1.4 Waar die standplaas of ander pos van ’n leraar kragtens die beoogde kontrak in gedrang kan kom, moet Artikel 12 van die Kerkorde in ag geneem word.

5.1.5 Indien dit die bedoeling is dat die gekombineerde liggaam die reg sal hê om sake te hanteer soos die beroep en indiensstelling van ’n leraar, moet aspekte soos konstituering, kworumvereistes, wyse van besluitneming, stemreg, befondsing, verantwoordelikheid vir die standplaas of aanstelling, pensioen, medies, administrasie ens. noukeurig uitgeklaar word.

5.1.6 Die kontrak moet dit duidelik stel dat die daarstelling van die gemeenskaplike doelwitte kragtens die kontraktuele ooreenkoms, nie die regte en verantwoordelikhede van die kontrakterende kerkvergaderinge/kommissies kan ophef of tot niet verklaar nie.

5.1.7 Die ooreenkoms kan voor die verstryking van die vasgestelde termyn gewysig of beëindig word indien die betrokke partye, na wedersydse kennisgewing, in hulle afsonderlike vergaderinge hulle goedkeuring daaraan heg.

5.1.8 Die kontrakterende party val steeds onder die regering, opsig en tug van sy/haar verantwoordelike kerkvergadering.

5.2 Werkswyse

5.2.1 Die betrokke kerkvergaderinge/kommissies moet die skriftelike ooreenkoms afsonderlik in hulle onderskeie vergaderinge goedkeur.

5.2.2 Nadat die instansies onderling tot ’n ooreenkoms gekom het, moet die liggaam wat vir die opsig/toesig verantwoordelik is die ooreenkoms finaal bekragtig. In die geval van ’n kerkraad is dit die ring. By ’n ring of by ’n kommissie van ’n sinode, is dit die sinode/sinodale kommissie, en by ’n sinode is dit die Algemene Sinode/Moderamen.

KERKORDELIKE VOORSIENING VIR KERKVERENIGING

Daar word alomweë erken dat die ideale weg een sal wees waarin die onderskeie verbande met mekaar ooreenkom oor die kerkordelike prosesse wat gevolg meet word. Hierdie ooreenkoms oor kerkordelike voorsiening moet dan ook uitdruklik die gemeenregtelike vereistes in aanmerking neem sodat die ideaal nie vanweë gebreke in hierdie verband verydel word nie.

Voorsiening in hierdie verband moet:

(a)    gelykleidend wees,

(b)    moet in die aanvaarding en insluiting daarvan in die onderskeie kerkordes voldoen aan die voorskrifte van die onderskeie kerkordes met betrekking tot die wysiging en aanvulling van kerkordes.

OORGANGSGREëLINGS

Daar is eenstemmigheid dat daar bepaalde hindernisse is wat die nasionale proses kniehalter. Die vraag ontstaan dus of by gebrek aan vordering, die onvermoë of onwil van die een of ander verband om tot kerkvereniging te kom, impliseer dat eenheid daarmee onmoontlik is. Die besluit van die konvent rakende oorgangsreëlings skep bepaalde moontlikhede om die proses van kerkvereniging op 'n ander manier te nader.

Die oorweging en uitvoering van die besluit van die Konvent met betrekking tot oorgangsreëlings sou ondermeer kon insluit die oorweging van oorgangsmodelle. In hierdie verband is daar gekyk na die "united church" model as oorgangsmodel. Die naam "united church" model verwys na die huidige ooreenkoms en praktyk wat bestaan tussen die "Uniting Presbyterian Church of Southern Africa" en die "United Congregational Church".

Hierdie model maak ruimte vir die vestiging van verenigde gemeentes wat by die samewerkende verband geïnkorporeer is. Die "united churches" sou dus verband kon hou by beide genootskappe.

In die oorweging van die "united church" model sal verenigde gemeentes in die interim as onderskeie regspersone  bestaan,  in  elke  ander opsig  verenig  en lidmaatskap by altwee verbande hou.

Die model is egter alleen werkbaar indien die onderskeie verbande voorsiening hiervoor in hul kerkorde maak en verenigde gemeentes die vereistes in hierdie verband nakom. Die kerkorde van die "United Church" sou hier as werksdokument kon dien.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10