NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Kwartaal 1 2007

 

Tuisblad
Terug
Erediens-style
Vroeë Diens
Lydenstyd
Vrouediens
Nuusbrokkies

 

Kerkherlewing in Wynberg nou 'n werklikheid!

Wat ‘n droom was het nou ‘n werklikheid begin word!  ‘n Droom van ‘n kerk waarheen almal uitsien om te gaan en waar jy die Here kan dien met vrymoedigheid; of jy van ‘n klassieke styl hou of ‘n informele atmosfeer.  ‘n Plek waar ook die jeug tuis voel om te aanbid in ‘n vorm en  taal waarby hulle aanklank vind. ‘n Familiekerk wat die gemeenskap dien en ‘n groot familie Christene wat verenig! 

2006 was ‘n jaar van omwenteling in Wynberg. Dit was ‘n jaar waar probleme bespreek, voorstelle gemaak  en baie gebid was. Die slotsom was: kerkherlewing het al reeds begin plaasvind en is besig om baie vinnig momentum te kry! Hierdie momentum het in beide gemeentes van die NG Kerk en VGK begin posvat. Dit is dieselfde herlewing wat oor die hele Suid-Afrika aan die gebeur is en wat nou ook in Wynberg opvlam. 

Wat het tot nou toe in Wynberg gebeur? Addisionele lofprysingsdienste het groot belangstelling gelok. Die grootste verrassing was dat Wynberg sy eie lofprysings orkes gestig het! Dit in slegs drie weke! Die eerste keer wat hierdie orkes opgetree het in Desember was nie net ‘n groot sukses nie, maar ook ‘n baie spesiale geleentheid.  Die orkes gaan in 2007 nog baie optree. Nuwe moderne lofprysingsliedjies in Afrikaans en Engels is veral onder die jeug baie gewild.  

Die twee kerkrade van die NG Kerk en VGK het ook besluit om van nou af al die kerkraadsvergaderings gesamentlik te hou. Daar  is ook besluit om die ’40 days of Purpose’ kursus gesamentlik te hou.

Wat is die ’40 days of Purpose’ of ’40 dae van Doelgerigtheid’ kursus? Dit is ‘n kursus om kerkherlewing te bevorder. ‘n Kursus wat oor die hele wêreld al baie sukses behaal het om gemeentes  te laat blom en positief te laat groei. Die kursus help jou ook om jou verhouding met die Here te verbeter. Dit bevorder kleingroep aktiwiteite en leer ons hoe om selgroepe te vorm. Laastens word die hele kerk en gemeente betrek om nuwe lewe in al ons aktiwiteite te blaas! Een van die produkte is ‘n georganiseerde en lewendige jeug wat ons jonges gaan laat kook!

Die ’40-dae’ afskop is op die 6de Mei. Tot dan is daar ‘n span wat julle in detail week vir week sal inlig en voorberei vir hierdie kursus. Teen die afskop SAL almal presies weet wat gaan gebeur, wat van hom/haar verwag word en hoe hulle kan deelneem. Almal SAL baat vind en SAL ‘n beter verhouding met die Here hê na hierdie kursus. Dit is ‘n waarborg!

So, hou dop, skakel in en help bou aan ‘n Wynberg kerk soos niemand dit nog ooit geken het nie!

Ons kan net met dankbaarheid terugkyk en aanhou bid dat hierdie sterk stroom van vernuwing in Wynberg net nog sterker  word. Aan ons getroue Herder kom alle Eer toe!

Willie Koen

40 days of purpose

WAAROOR GAAN DIT?

Jy word gehelp en geleer om 'n lewensbelangrike vraag te beantwoord:

Wat is God se wil en doel vir my lewe? Ons glo dat as jy verstaan wat God met jou lewe in gedagte het, jy minder stres sal beleef, jou energie op die regte dinge sal fokus en dat jy makliker besluite sal kan neem. Jy kan daagliks doelgerig lewe en jouself vir die ewigheid voorberei. In die proses word jy ook gehelp om jou roeping uit te leef - daarvoor is daar veral geleentheid binne die kleingroep waarby jy inskakel. Dit is dan ook die vernaamste rede vir die vorming van die kleingroep. Jy kry daar ook die geleentheid om geestelik versorg te word, sodat jy na ander kan uitreik. 

WAT WORD VAN MY VERWAG?

* Die daaglikse lees en bestudering van 'n dagstukkie uit die boek van Rick Warren, “Die Doelgerigte Lewe” vir 'n periode van 40 agtereenvolgende dae.

* Die bywoning van 6 agtereenvolgende kerkdienste op Sondae. Die temas sluit aan by die program van die veldtog.

* Die inskakeling by 'n kleingroep wat een keer per week in die 40 dae bymekaarkom

WANNEER?

Die afskop is 6 Mei.

EK’S BEREID OM ‘N KLEINGROEP GASHUIS TE WEES

Soos jy kan sien, is die sleutelfaktor om die veldtog te laat slaag, die vorming van kleingroepe (van 4 tot ongeveer 12 mense). Ons het tans baie dringend huis-gesinne nodig wat hulle hui-se sal oopstel om sulke groepe te huisves. Dit vra van jou om:

* Jou huis + TV + videomasjien / DVD vir die 6 weke beskikbaar te stel sodat jou kleingroep een maal per week kan bymekaar kom (d.w.s. 6 maal by jou huis bymekaarkom)

* Self mense te nooi OF ons toe te laat om mense by jou kleingroep in te deel.

* Ons toe te laat om jou te help en toe te rus om 'n gashuis vir die veldtog te wees (daar sal ‘n byeenkoms wees vir kleingroepleiers waar ons jou gaan toerus met wat jy nodig het om te weet).

* Net die ruimte te skep waarbinne mense vergader, toe te laat dat mense gesels - jy lewer dus nie self 'n boodskap nie, maar die groep werk deur die uitgewerkte program

* Weekliks voor te berei vir die byeenkoms deur na 'n 10 minute video van Rick Warren te kyk en 'n kort paragraaf deur te lees waarin riglyne vir die byeenkoms gegee word.

* Weekliks saam met die groep tydens julle byeenkoms na 'n 20 minute video van Rick Warren te kyk.

* Leiding te neem tydens die byeenkoms met behulp van stap-vir-stap handlei-ding wat elke groeplid in die hand het. 

WAT VAN DIE KINDERS?

Die kategese van Wynberg fokus gedurende die 40 dae ook op dieselfde program.  Materiaal word egter spesiaal voorberei vir die verskillende ouderdomsgroepe.  Ouers wat bereid is om die kleingroepe van 6 tot 10 kinders te lei word gevra om die kerkkantoor te kontak. 

WAT MOET EK DOEN?

· Begin bid dat God Sy doel met jou sal bereik tydens die veldtog

· As jy bereid is om as gasheer/vrou op te tree vir ‘n kleingroep, kontak die kerkkantoor en gee jou besonderhede vir hulle. Dui ook aan of jy jou eie groep wil saamstel en of ons vir jou mense moet indeel

· As jy by ‘n kleingroep wil inskakel, gee jou besonderhede en enige voorkeure van waar jy wil inskakel (bv. Ongetroudes/Mense met groter/kleiner kinders /afgetredenes/enkel-lopendes ens.)

 

Michelle McKirby:

Spanleier: 40 days Kommunikasiespan

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10