|


| |
Jongste Nuusbrief
Liewe Gebedsvriende,
08 Jun 02
Dinge is baie vloeibaar hier in Madagaskar en siende dit ons nou meer
persoonlik begin raak, stuur ons hierdie dringende versoek uit.
Eerstens, wil ons net die besonder goeie nuus gee dat ons al die fondse het
wat nodig is vir die vliegkaartjies (amper sê ek vlugkaartjies) - daar was
mooi reaksie en ons is baie dankbaar teenoor die Here en almal wat bid en
bydra. Dis nou vanaf Antananarivo na JHB en terug. Ons loof die Here
daarvoor. Van die geld is nog op pad en behoort binnekort te kom, maar
gelukkig het kantoor in die hoofstad genoeg fondse om solank die kaartjies
te kan koop, en dan kan ons later terugbetaal. Bid asb. dat die fondse wat
tans beweeg op die regte tyd op die regte plekke sal kom.
Ons moet noem dat ons nog veilig voel, maar die situasie is nie meer wat dit
was tydens ons vorige boodskap laasweek nie. Die regeringsmagte van die nuwe
regering het op sekere plekke begin oorhand kry, maar daar is nog baie om te
doen voor die situasie sal stabiliseer. Daar is nog heelwat plekke van
weerstand - en ons is in een van daardie dorpe. Ons begin dinge merk wat wys
op paniek by die weerstandsleiers. Dog, ons wil nou ook nie bobbejaan agter
die molshoop gaan haal nie (of hoe gaan die gesegde nou weer?).
Net eers 'n korreksie of twee - skuus vir die foute in die vorige boodskap.
Die eerste is dat die gerugte kolonel Koutity (hopelik regte spelling dié
keer) toe nie dood is in La Reunion nie. Toe ons weer hoor is in beheer van
'n spesiale taakmag om in Sambava te veg. Dalk was dit 'n disinformasie set
van die ou regering? Baie mense is nou verbaas om te hoor dat hy nog lewe.
(Nog meer rede om te bid!).
Tweedens is die brandstofprys op die einde van die dag toe nie verdubbel
nie. Dit is wel afgekondig, maar dit het onrus begin veroorsaak, en vir 'n
hele tyd was daar nie brandstof nie, terwyl die weerstandowerhede gesukkel
het om te besluit oor die prys. Dit het nou net effe verhoog - en die
situsie is nou weer normaal. Mens kan nou weer vir 'n half tot 'n hele dag
in die tou gaan staan en hoop dat dit nie weer gaan opraak as jy so 10
voertuie van die brandstofpomp kom nie. Dis nou 'n aanvaarde praktyk om
snags in die tou in jou voertuig te oornag. Gelukkig is daar nog bietjie
hier; in die hoofstad net ten duurste op die swartmark.
Sedert ons vorige boodskap laasweek, kortliks die volgende:
Hier plaaslik is die burgermeester wat oorgegaan het na die nuwe regering na
vele intimidasie oor 'n lang tyd, fisies gedwing om te bedank; en is toe
daarna boonop fisies aangeval en beseer. Dit was 'n lelike ding.
Antananarivo het brandstof by die weskus dorp van Morondave gekry nadat die
nuwe regering se soldate daar oorgeneem het. 32 vragmotors vol brandstof is
egter te min vir een dag se verbruik, maar dis al iets.
In Sambava in die noord-ooste is die nuwe regering se magte steeds in
beheer. Sowat 12 mense is in die gevegte dood. Soldate van die twee kante
gluur mekaar aan oor die rivier.
Daar was die afgelope week sprake dat die twee leiers, Ravalomanana en
Ratsiraka vandag weer in Dakar sou praat, maar dit gaan nie gou gebeur nie.
Nadae aan ons lywe: Soldate vanaf Antananarivo het in ons rigting beweeg en
is by die halfpad-dorp Maevetanana, en hulle plan is om die rebelle-soldate
by die groot geblokkeerde brug oop te maak. Ons kan seker maar aanneem dat
ons dorp die volgende teiken gaan wees?
Dis nou waar dinge vir ons moeilik raak, en soos genoem is ons nie in die
nood nie; maar stuur die versoek vir gebed maar in elk geval om veilig te
speel.
Soos julle weet moet ons op 14 Junie in Antnanarivo op die vliegtuig klim,
maar dit mag skielik nie so maklik wees om daar te kom nie. Oorspronklik was
ons plan om per pad te beweeg, maar volgens die inligting wat ons monitor,
lyk dit of dit dalk riskant kan wees.
Die volgende plan was om met 'n vlug van Air Mad na Antananarivo te gaan,
maar die weerstandsowerhede in ons dorp het nou die lughawe toegemaak. Hulle
vrees dat soldate van die hoofstad hier afgelaai sal word - veral na die
mislukte militia-poging laasweek om die lughawe oor te neem.
Ons volgende plan is nou om die vliegtuigie van die sendinghulpgroep, MAF te
huur. MAF kon in die verlede nog gereeld toestemming kry om te land hier.
Ons het nou nie meer ander keuse nie, en uit die aard van die saak gaan dit
ook 'n hele paar Rand kos waarvoor ons nie begroot het nie. Dis onvoorsiend
weens die situasie wat verander het. Maar as ons mense kan kry om van die
hoofstad hierheen kan kom, sal dit help om die koste af te bring. Nou het
ons verneem van die ander Amerikaanse egpaar wat van die VSA op pad terug
is, en hulle sal ook noodgedwonge met MAF moet vlieg. So, dit lyk na 'n
uitkoms om die onkoste te verlaag (hang af watter vliegtuigie MAF gebruik,
en watter roete hulle sal vlieg).
Dinge het so begin uitwerk dat ons gister moes vlieg, maar toe is die vlug
tussen JHB en Antnanarivo gekanselleer en kon die Amerikaanse egpaar nie
inkom nie. Dinge het nie goed gelyk nie. Maar vanoggend verneem ons dat die
vlug wel vandag geskied het, en is die Amerikaners in die hoofstad. Dit is
'n groot verligting. Ons glo dis gebed.
Nou die volgende probleem - waarvoor ons regtig gebed vra: Toestemming vir
MAF om te kom land.
Teen vanoggend het hulle nog nie toestemming gehad nie. Ons is hoopvol dat
die toestemming gegee sal word sodat ons dan Maandagoggend kan vlieg met
MAF. Selfs 'n Fransman wat vir Franse konsulaat werk, het by ons kom hoor
of hy sy vrou en kinders ook kan laat vlieg. Hy noem egter dat Italianers
wat onlangs wou vlieg met 'n klein vliegtuig, toestemming geweier is deur
die goewerneur - of eintlik het hy gesê hy is nie meer in beheer van die
lughawe nie. (Oop vraag wat dit kan beteken). Die Fransman noem toe ook vir
ons dat daar nie net meer 44-gallon dromme op die aanloopbaan is nie, maar
ook 'n skeepsvraghouer(s).
Onderwysers by die Franse skool besef nou ook die probleem, en wil met 'n
boot na Mayotte reis, en vandaar na La Reunion; en om hulle paspoorte te
stempel vra die weerstandowerhede 2 miljoen frank vir per persoon (ongeveer
R3150.00). (Toe ek vir hom vra oor die feit dat die gowerneur
alle bote
hier op see verbied het, sê hy net dat soos ander dinge kan sekere mense
sekere dinge doen, en ander mense nie).
Die volgende gebedsaak nadat ons dan in Antananarivo gekom het, is dat daar
wel 'n vlug sal wees op 14 Junie, en dit nie weer gekanselleer sal word nie.
Ons program is al gereël in SA.
Die laaste saak vir gebed is dat die situasie in die land nou spoedig sal
verbeter - ons vra dit juis nadat die nuwe regering gesê het dat hulle die
hele probleem teen Onafhanklikheidsdag 26 Junie opgelos wil hê. Die
weerstandsgroep van Ratsiraka kan maklik desperaat raak.
Nogmaals dankie vir al u gebede,
Johannes (Wolf), Wenda, Joshua, Samuel, Johannes en Ester Cilliers.
|