|
|
|
|
Inligtingsbrief van 17 Augustus 2010 Ons het met groot hartseer kennis geneem dat die kerkraad van die VGKSA Kerk Wynberg alle samewerking tussen die twee gemeentes opgeskort het. Ds. Samuels en een van sy ouderlinge het die gebeure ook aan die pers bekend gemaak. Rapport het op 15 Augustus 2010 ’n artikel daaroor gepubliseer onder die opskrif “Gemeentes skei” (http://www.rapport.co.za/KaapRapport/Nuus/Gemeentes-skei-20100814). Die kerkraad van die NG Kerk Wynberg het sedert 1991 'n goeie verhouding met die VGKSA kerkraad opgebou en was nie bewus dat verhoudings "uitmekaargeval" het soos Ds. Samuels dit stel nie. Hoewel die situasie daarom des te meer pynlik is, gaan die kerkraad nie by 'n konflik betrokke raak nie. Die kerkraad sal egter getuig wanneer dit in belang van die gemeente se bediening van versoening is. Die volgende inligting mag ons lidmate help om die tragiese gebeure te verstaan en sommige van die persepsies reg te stel. Die kerkraad van die NG Kerk Wynberg meen dat die samewerking tussen die twee gemeentes oor die jare en veral die laaste paar jaar ‘n besonder positiewe impak op die gemeentelelede en die gemeenskap gehad het. Ons het vriendskappe sien ontstaan, mense het mekaar tydens siekte en dood begin ondersteun en daar het ‘n samesyn ontstaan wat ongekend in die kerkgeskiedenis van ons land is. Ons het egter ook bewus geraak dat die besware van die VGKSA se Ring van Wynberg teen die gemeentes se herenigingsproses ’n groter wordende impak op kerkraadslede en lidmate gemaak het. Voorts het die standpunt van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode se actuarius, Dr. M.A. Plaatjies, dat die gemeentes se samewerkingsooreenkoms “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”, sommige lidmate onseker en onveilig laat voel. Die lidmate wonder of dit wat die gemeentes probeer doen, moontlik kan lei tot onaangename regsprobleme wat verhoudings kan versuur. Dr. M.A. Plaatjies en Ds. Hannes Theron (actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode) se vereiste dat die gemeentes hul afsonderlike selfstandigheid moet behou deur byvoorbeeld ook afsonderlike eredienste aan te bied, impliseer dat ons volgens hulle alreeds aan die verkeerde kant van die kerkorde is. Hoewel ons geen gronde vir hul uitspraak in die kerkordelike reglemente kon vind nie – en aangedui het dat twee prokureurs sowel as twee professore in die kerkreg ons ooreenkoms as aanvaarbaar beoordeel het – is hul standpunt aan die VGKSA kerkraad en die VGKSA Ring van Wynberg gekommunikeer as die amptelike standpunt van die sinodale regskommissies. Dit mag een van die redes wees waarom die VGKSA kerkraad sedert 13 November 2008 nog nie daartoe kon kom om die gewysigde samewerkingsooreenkoms goed te keur of selfs te bespreek nie. Die NGK Kerkraad het beswaar teen die regskommissies se standpunt gemaak met 'n beroep op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) en het 'n dringende versoek gerig. Dit is na verloop van vyf maande nog nie beantwoord nie. Die regskommissies se standpunt het sedertdien tot die VGKSA kerkraad se besluit bygedra om vanaf Mei 2010 afsonderlike dienste vir VGKSA lidmate aan te bied op die Sondae wanneer die gesamentlike dienste in die NG Kerk se gebou plaasvind. Die onvermoë van die VGKSA kerkraad om die samewerkingsooreenkoms goed te keur, het ’n negatiewe impak op NGK lidmate gehad. Die situasie kan vergelyk word met ’n verloofde paartjie wat wil trou. Die huwelikskontrak is opgestel. Die verloofdes het saam geteken, maar toe sê die een se ouers dit was ongeldig: hulle mag nie in mekaar se teenwoordigheid teken nie. Die prokureurs vra hulle toe om apart te gaan teken. Die een gaan teken dadelik, maar die ander een kom nie so ver nie. Toe dit na ’n jaar so aanhou, kom dit aan die lig dat die ouers se prokureur gesê het dat die kontrak onwettig is. ’n Nuwe kontrak word toe opgestel wat aan al die voorskrifte van die ouers se prokureur voldoen. Die een teken weer dadelik. Toe die ander een met die beswaarde ouers na twee maande nog nie geteken het nie, praat hulle weer oor die saak. Hulle kom toe ooreen dat die een wat nog nie geteken het nie, weer na die kontrak sal gaan kyk en dan kom sê of daar nog probleme is. Twee verdere maande gaan verby sonder dat die kontrak bespreek of geteken word. Toe hulle weer daaroor praat, sê die een wat nog nie geteken het nie: ek kan nie teken nie omdat dit net jy is wat die kontrak opgestel het. Die ander een stel toe voor dat hulle saam na ’n nuwe prokureur gaan en van vooraf met ’n nuwe kontrak begin. Hulle maak ’n afspraak. Die afspraak word twee keer afgestel deur die een wat sukkel om te teken. Laasgenoemde stuur toe ’n brief wat sê dat daar op hierdie stadium net oor saam kuier by die ouerhuise gepraat mag word. Uiteindelik moet die een wat gereed was dit maar so aanvaar: my verloofde sien nie kans om nou trou nie. Die een wat gereed is om te trou, antwoord toe op die brief van die ander een: Ek sien nie meer kans om om die beurt by die ouerhuise te kuier nie. Ons het twee jaar gelede saam daarteen besluit. Ons het gesê ons kon nie meer anders as om te trou nie. Daar is ’n prokureur wat ons wil help. Ek wil graag saam met jou ons nuwe huis begin. Ek wil vir jou die ruimte gee om, weg van my beïnvloeding, te gaan seker maak of jy nog dieselfde voel as twee jaar gelede. Sou jy besluit om jou ouers se wense te eerbiedig deur nie te trou nie, sal ek my huis steeds as “ons huis” beskou en sal die deur altyd vir jou oopstaan. Daarna stuur die een wat sukkel om te teken 'n brief waarin gesê word alle vorms van kuier word opgeskort. Die pers word ingelig en berig hoe die ander een wat wou trou, nie aan die verwagtings voldoen het nie. Ouderling Anne Ehrenreich van die VGKSA beweer in die artikel: “Hulle skenk geld, maar staan nie saam met ons agter die kospotte en basaartafels nie. Ons wil nie net die witmense se geld sien nie – ons wil hul gesigte sien.” Veel van ons lidmate onthou nog hoe die NGK vroue tydens wyle Ds. Buys se begrafnis agter die kospotte gestaan het sodat die VGKSA vroue in die kerk kon wees. Hulle het meer as 1000 mense gevoed. Die gesigte van ons vroue, waar hulle agter die basaartafels staan, kan ook gesien word in die fotos wat tydens die VGKSA se basaar in 2008 geneem is (http://www.ngkerkwynberg.co.za/basaar_2008.htm). Die fotos van die gemeentekampe, potjiekos, gemeente-etes, tee en etes vir bejaardes en die jaarlikse kersete vir behoeftige kinders getuig ook van ’n gesamentlike aanpak waar die NGK lede goed verteenwoordig was. Tydens die kerkraadsetes aan die einde van die jaar het die NGK lede gewoonlik agter die kospotte gestaan. Ek het saam met Ouderling Ehrenreich talle bejaardes en siekes van die VGKSA tuis besoek en nagmaal aan hulle bedien in die 18 maande dat die gemeente nie ’n predikant gehad het nie. Volgens een van ons kerkraadslede kon die NGK lede ongelukkig nie by alle geleenthede wees waar die VGKSA lede hulle graag wou sien nie aangesien dit meestal op Saterdagoggende gereël word. Baie van ons lidmate het dan ander verpligtinge. Hoewel ons hard probeer het, het ons kennelik nie aan die verwagtinge voldoen nie. Ons bywoning van die eredienste in die VGKSA se kerkgebou kon beslis beter gewees het. Ds Winston Samuels beweer in die artikel dat hy en sy kerk nie saamstem “met die dokumente oor eenwording wat die NGK-leraar, ds. Danie Nel, destyds opgestel het toe die kerke een geword het nie.” Hy word soos volg aangehaal: “Dit het gebeur toe daar ’n vakante pos in die VGK was en ons kwesbaar was. Ons het géén insae daarin gehad nie.” Die samewerkingsooreenkoms waarna Ds. Samuels verwys, was gedurende Augustus 2008 aan die lidmate van beide gemeentes beskikbaar gestel. Dit was daarna op 31 Augustus 2008 tydens ’n gemeentekonferensie bespreek. Die konsulent (die ringspredikant wat amptelik tydens 'n vakature waarneem) van die VGKSA Wynberg, Ds Corrie Klazen, was by hierdie geleentheid teenwoordig. Die lidmate het aangedui dat die kerkrade met die ooreenkoms kon voortgaan. Die gesamentlike kerkraad het op 2 September 2008 die ooreenkoms eenparig goedgekeur en besluit dat die ooreenkoms na die ringe vir oorweging en goedkeuring gestuur word. Ds. Klazen was ook by hierdie vergadering teenwoordig. ’n Honderd afskrifte van die volledige ooreenkoms was vir insae en kommentaar gedurende Septembermaand 2008 by die deure van elke kerkgebou geplaas. Die Ring van die NGK het die ooreenkoms goedgekeur. Sou die Ring van die VGKSA enige wysigings aanbeveel, sou die die finale ooreenkoms weer onder elke lidmaat se aandag gebring word alvorens dit deur die kerkrade onderteken sou word. Die hele prosedure hoe die lidmate en die kerkrade betrek is, word uiteengesit in die inligtingsbrief van 24 Oktober 2008 wat aan lidmate oorhandig is (http://www.ngkerkwynberg.co.za/een_gemeente.htm). Ons gaan voort in die geloof dat die Here die goeie werk wat Hy onder ons begin het, sal voortsit. Ons sal in sy liefde volhard en voortgaan met ons bediening aan almal wat by ons ’n geestelike tuiste vind. Hoewel die samewerking deur die VGKSA kerkraad opgeskort is, wil ons steeds 'n gemeente wees "waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien." Ons maak staat op elkeen se voorbidding en samewerking in hierdie moeilike tyd. Ek dank die Here vir die positiewe gesindheid en geloofsmoed wat ek by ons kerkraad en ons lidmate op Sondag 15 Augustus gesien het! Danie Nel, 17 Augustus 2010 |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|