|
|
|
|
Nuus op ons Webwerf1. Ons is dankbaar om aan te kondig dat die wynveiling 'n rekordbedrag van ongeveer R 80 000 ingebring het. Ons loof die Here vir 'n wonderlike aand van samesyn, kultuur en heerlik eet. 2. Die jongste fotos sluit in die wynveiling van 27 Mei 2011, die` potjiekos op 13 Februarie 2011 en die vrouebiddag. Fotos van onlangse gebeure kan gesien word deur op skakels aan linkerkant te kliek: byvoorbeeld gemeentekamp, potjiekos-kompetisie, jeugaand, basaar. 4. Lees nuus van Wynberg onder Gemeentenuus.
5. Onlangse beriggewing in die media oor die Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg kan onder Wynberg in die media gelees word.
Tiende-Maand Dankoffer(Oktober 2008)Liewe gemeente Julle sal met my saamstem dat ons sover ’n ongelooflike jaar in Wynberg beleef! Wat ’n paar jaar gelede nog ’n droom was is nou op ons voorstoep. Ja, ’n droom van ’n gemeente waar almal die Here se genade kan kom ervaar en aanbid in sy/haar manier van aanbidding. ’n Droom van ’n gemeente wat opgewonde is oor wat vir ons voorlê. Waar jeugaktiwiteite begin posvat, sosiale funksies amper weekliks gebeur, propvol eredienste wat in verskillende style plaasvind, jongmense en kinders wat nie kan wag vir die volgende kerkbyeenkoms nie, en ’n onverklaarbare opgewondenheid wat jou wil laat deelneem in hierdie 'nuwe’ opwinding. Maar die heel belangrikste, ’n droom van ’n gemeente wat net op die Here kan fokus en Hom ervaar sonder skuldgevoelens of haat oor die verlede! Julle almal onthou hoe ons gemeente met die ‘40-days’ tydens 2006 vinnig momentum begin optel het op alle aspekte van beide gemeentes. Ons gemeentekamp in Februarie 2008 wat seker een van die hoogtepunte van gemeente aktiwiteite die afgelope 2 jaar sou wees het verander in ’n tragiese laagtepunt (toe Ds. James Buys oorlede is). ’n Laagtepunt wat so baie van ons moedeloos met so baie vrae gelaat het. Tog het die Here ons nie net hierdeur gehelp nie, maar ons nou geseën met ’n ongelooflike energie meer as ooit tevore. Waar ’n Wynberg jeugaand, die eerste in jare, meer as 100 jongmense bymekaar kon bring. Waar ’n potjiekosoggend omtrent 300 etes verkoop. Waar lofprysing aanddienste met ons eie orkes van 10 lede sy debuut gaan maak. Waar ’n lente-tee vrouens van ons groter gemeenskap bedien. Uitreikingprojekte na minderbevoorregtes tel vinnig spoed op. En nog vele ander. Ja, hierdie tweede asem wat ons gemeente hierdie jaar ervaar, is so sterk dat nie eens die sinodes, ringe, media of enige vorm van negatiwiteit ons entoesiasme kan of mag demp nie! Al hierdie wonderlike dinge het gebeur ten spyte van ’n benarde finansiële posisie van ons geldkas. Hierdie sukses is slegs te danke aan al ons gemeente lede wat hulle harte oopgemaak het en hierdie gemeente uitdaging as ’n projek van die Here sien. Oktobermaand is 10de maand. Dan gee so baie gemeentelede ’n ekstra bydra. Soos julle weet maak dankoffers 70% van ons gemeente se inkomste uit. As dieselfde golf van seëninge wat ons gemeente tans ervaar ook ons dankoffers hierdie maand tref, gaan ons ’n rekord jaar beleef! Ek het geen twyfel in my hart dat die Here ons hierdie maand van Oktober met dieselfde oorvloed gaan seën as wat Hy ons tot dusver geseën het. Dankie vir julle vertroue, ondersteuning, deelname, gebede en liefde wat ons Wynberg gemeente dra. Ons het mekaar nou meer nodig as ooit tevore waar jy tans ookal is. Kontak my asseblief enige tyd oor enige iets (wkoen@iarica.com of 0829255922) Onthou, ons droomgemeente is op ons voorstoep, kom ons help die Here om die deur oop te maak! Wynberggroete Willie Koen Leierouderling | |||||||||||||||||||
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|