NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Oorsig

 

Tuisblad
Terug

 

Oorsig van probleme betreffende die goedkeuring van die ooreenkoms.  

Die NGK en VGKSA Wynberg se kerkrade het op 13 April 2008 ’n gesamentlike gemeentekonferensie belê. Die doel was “...om ’n werkswyse te vind waarbinne die Ring en Sinode op ’n konstruktiewe wyse ons vennote kan word om ’n weg te baan vir ons toekoms sowel as vir die totstandkoming van verdere eenheidsgemeentes...” Die VGSA se Ring van Wynberg is by wyse van ’n getekende versoekskrif deur die lidmate en kerkraadslede versoek "om die gemeente behulpsaam te wees in 'n versoek aan die Sinode om in die kerkorde voorsiening te maak vir volledige hereniging van gemeentes, as 'n interim maatreël tot tyd en wyl hereniging op nasionale vlak 'n werklikheid word.” Die Ring is ook versoek om, “sou daar kerkregtelike probleme blyk te wees met die samewerkingsooreekoms, die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings sodat die gemeente sy doelwit kan verwesenlik.” Hierdie afdeling bied ’n oorsig oor die probleme wat die gemeentes met betrekking tot die goedkeuring van die ooreenkoms ondervind het. 

1.        Volgens die afgevaardigdes van Wynberg is die getekende versoekskrif van die lidmate en kerkraadslede van Wynberg nie behandel toe die gekonstitueerde VGKSA Ring van Wynberg op 22 April 2008 die kerkraad se besluit met betrekking tot ampsligte “herroep” het op grond van kerkordelike bepalings oor konsulentskap. Die Ring het ook aangevoer: Samewerkingsooreenkomste sou dan in geval van VGKSA en NGK Wynberg betrekking het op gesamentlike kommissiewerksaamhede en eredienste – nagmaal; doop; bevestiging van kerkraadslede en lidmate uitgesluit.” Die beslissing is geneem sonder om die versoekskrif te lees en sonder om ag te slaan op die getekende uitnodiging van die lidmate aan die Ring om met hulle in gesprek oor die saak te tree.

2.       Die NGK lede van die konvent van Wynberg se uitvoerende komitee het voorgestel dat die Konvent van Wynberg op 19 Augustus 2008 die nuwe ooreenkoms van samewerking tussen die Wynberg gemeentes in behandeling neem. Dit sou aan die NGK en die VGKSA se Ringe van Wynberg die geleentheid bied om die ooreenkoms saam te beoordeel. Die predikante van die VGKSA Ring het die voorstel van die hand gewys. Hulle het op 6 Augustus 2008 aangedui dat hulle dit oorweeg om die konvent op te skort. Die konventvergadering van 19 Augustus 2008 is vervolgens op hul versoek gekanselleer. Die VGKSA Ring van Wynberg het op 18 September 2008 besluit om die konvent tydelik op te skort. Die skriba van die VGKSA Ring het per brief gedateer 7 Oktober 2008 die volgende as rede aangevoer: “Die gevoel is dat ons spandeer tyd en energie om die eenheid aan te help, maar blykbaar nooit gaan realiseer nie.” Dit het voorgekom asof die VGKSA se moratorium op eenheidsgesprekke hierdie besluit gemotiveer het.  

3.        Die Ring van Wynberg van die VGKSA het ook nie die nuwe ooreenkoms van samewerking by die gewone vergadering van die Ring op 18 September 2008  in behandeling geneem nie. 

4.        Die konsulent van die VGKSA Wynberg, Ds Corrie Klazen, het na ’n erediens wat hy na die ringsvergadering waargeneem het, aangedui dat die Ring meer tyd benodig het om die ooreenkoms te oorweeg.  

5.       Die Ringskommissie van VGKSA Wynberg het nie gereageer op die uitnodiging aan die VGKSA ringspredikante om die konferensie oor samewerkingsmodelle op 5 November 2008 by te woon nie. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het ingestem om die Protestantse Kerk in Nederland se eenheidsproses en samewerkingsmodelle tydens ’n konferensie te bespreek wat op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg in samewerking met Communitas (Universteit Stellenbosch) aangebied was. Lidmate, kerkraadslede, predikante en kerkleiers was uitgenooi om dit by te woon. VGKSA predikante van so ver as George was teenwoordig. Die predikante van die VGKSA Ring van Wynberg was afwesig. 

6.       Die predikante van die VGKSA se Ring van Wynberg het op 13 November 2008 aangedui dat die Ring nie die nuwe ooreenkoms van samewerking in behandeling geneem het nie aangesien dit volgens hulle Dr. Nel se handtekening gehad en nie ook die konsulent se handtekening nie. Hulle het ook aangevoer dat die VGKSA Wynberg nie afsonderlik gekonstitueer het om die ooreenkoms goed te keur nie. Die kerkrade het hul besluit om die ooreenkoms goed te keur aan die einde van die vergadering afsonderlik bekragtig. Dit is in elkeen van die gevalle eenparig gedoen nadat ’n voorstel ingedien en gesekondeer is. Die konsulent, Ds. Corrie Klazen, het as voorsitter van die VGKSA Wynberg se kerkraad opgetree. Daar was geen aanduiding dat hy met die werkswyse ontevrede was nie. Ds. Klazen was in hierdie periode ook voorsitter van die VGKSA se Ring van Wynberg.

7.        Volgens die kerkraadslede van die VGKSA Wynberg het die konsulent wat as voorsitter van die kerkraad moes optree, vanaf 13 November 2008 tot 14 September 2009 nooit aan hulle die geleentheid gegee om die ooreenkoms te bespreek of afsonderlik goed te keur nie.  

8.        Moderatuurslede van die NGK en die VGKSA het onafhanklik van mekaar genoem dat daar ’n persepsie by die VGKSA bestaan dat dit Dr. Nel is wat die herenigingsproses tussen die twee gemeentes dryf en dat dit eintlik oor sy posisie gaan. Hierdie persepsie is bevestig in ’n verklaring wat namens die VGKSA Ring van Wynberg aan die media gedurende die laaste week in Oktober 2008 en aan Vrydagnuus op 6 November 2008 uitgereik is waarin die volgende stelling gemaak word: “Ons betreur ook die rol wat Dr D Nel in hierdie verband speel om vir die lidmate verkeerde inligting rakende die eenwording deur te gee. Dit is vir die Ring duidelik dat sy motiewe rondom hierdie proses nie suiwer is nie.” Die Burger het op 31 Oktober 2008 'n versoek aan Dr. Nel gerig om op die verklaring te reageer. Die verklaring is deur Vrydagnuus aan alle predikante en gemeentes in die NGK en die VGKSA se betrokke sinodale gebiede gestuur.

9.        Dr. Nel het die Ringskommissie van die VGKSA Wynberg skriftelik versoek om aan te dui watter verkeerde inligting hy aan die lidmate sou oorgedra het sodat hy dit kon regstel. Hy het sy kommunikasie met die gemeentes aangeheg aangesien dit deurgaans skriftelik was. Die VGKSA ringskommissie het tot op datum nooit op die versoek gereageer nie, selfs nie nadat die gesamentlike kerkraad van Wynberg die konsulent, wat ook voorsitter van die VGKSA Ring van Wynberg was, daartoe op 5 Mei 2009 versoek het nie. 

10.      Die actuarii van die NGK en VGKSA se streeksinodes het op 7 Maart 2009 ’n versoek aan die NGK leraar van Wynberg en aan die konsulent van die VGKSA Wynberg gerig tot ‘n gesamentlike fasiliteringsgesprek met onderskeidelik die kerkrade van die NGK/VGKSA en die Ringskommissies van die NGK/VGKSA. Die doel van die gesprek was volgens die skrywe van Ds. Theron “om ’n proses vorentoe vir die samewerkingsooreenkoms tussen VGK Wynberg en NGK Wynberg te bepaal”. Die geleentheid het op 15 April 2009 plaasvind. Die VGKSA verteenwoordigers het nie opgedaag nie. Die VGKSA Ringskommissie het volgens Dr. Plaatjies geweier om goedkeuring vir afsonderlike en gesamentlike gesprekke te gee.  

11.      Toe die VGKSA kerkraad van Wynberg na verloop van tien maande op 15 September 2009 wel die geleentheid gegun was om die ooreenkoms afsonderlik goed te keur, was die VGKSA se actuarius sowel as die ringsleraars teenwoordig. Die actuarius het, skynbaar op grond van regsadvies deur ’n regsfirma, aangedui dat die nuwe ooreenkoms van samewerking kerkregtelik nie goedgekeur kan word nie “aangesien dit lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan.” Sy het ook tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Die huidige gesamentlike gemeente is dus nie kerkregtelik na behore gereguleer nie.” 

12.      Dr. Nel het op 20 Februarie 2009 die actuarii versoek dat die inhoud van die regsadvies aan die kerkrade beskikbaar gestel word en dat die gesamentlike PRK/SRK die spesifieke regsprobleme sal aandui. Die versoek is daarna by 4 geleenthede herhaal. Ds. Theron het verduidelik het dat die actuarii dit by ’n gesamentlike ontmoeting bekend wou maak. Die VGKSA kerkraad is op 15 September 2009 afsonderlik oor die regsprobleme ingelig.  Die NGK kerkraad wag steeds op die gevraagde inligting. Die vertraging het dit onmoontlik gemaak om op die regsprobleme te reageer.  

13.      Die nuwe voorsitter van die VGKSA Ring van Wynberg, Ds. G. Schreiner, het in sy verwelkomingstoespraak aan die nuwe VGKSA leraar van Wynberg op 27 September 2009 gesê dat die nuwe leraar nie die weergawe van die eenheidsproses tussen die twee gemeentes wat aan hom voorgehou word, moet glo nie. Hy het aangevoer dat hy self as ’n jonger kollega veel by sy ouer kollegas geleer het en dat hulle ook vir hom leiding sou gee hoe om daaroor te oordeel. Dit het die lidmate van beide gemeentes ontstel. 

14.      Kerkraadslede van die VGKSA Wynberg het op 3 November 2009 tydens die gesamentlike kerkraadsvergadering terugvoering gegee oor die vergadering van 15 September 2009 met die actuarius en die ringsleraars. Volgens die kerkraadslede was dit onder andere aan hulle gestel dat die gemeentes steeds aparte eredienste moet hou naas die gesamentlike dienste. Dit wil voorkom asof daar van die gemeentes verwag word om terugwaartse stappe te neem oor ’n aangeleentheid waaroor die kerkrade en lidmate reeds in Julie/Augustus 2007 konsensus bereik het.  

15.      Die kerkraad van die NGK Wynberg het in ’n brief, gedateer 30 Oktober 2009 en gerig aan die gesamentlike PRK/SRK, gereageer op die kerkregtelike evaluering van die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg, soos gedoen deur die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, Dr. M.A. Plaatjies. Sy beveel aan die einde van haar dokument aan dat dit skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. Die kerkraad het soos volg gereageer:

15.1 Die kerkraad versoek dat die regsadvies van die prokureursfirma waarna Dr. Plaatjies verwys, aan die kerkraad beskikbaar gestel word.

15.2 Die kerkraad spreek sy onsteltenis uit oor die uitspraak van die VGKSA se actuarius dat die Wynbergse gemeentes klaarblyklik volgens die bepalings en reglemente van die kerkorde verplig word om “in sy eie sake selfstandig” voort te bestaan terwyl hulle bereid was om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed en die Belydenis van Belhar prys te gee. Dit impliseer dat die huidige bepalings en reglemente die gemeentes dwing om die belydenisgrondslag te verloën, aangesien daar met name in die Belydenis van Belhar bely word “dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie”.

15.3 Aangesien die kerkraad geen gronde vir die uitspraak dat elke gemeente “in sy eie sake selfstandig” moet bly in die betrokke reglemente vind nie, versoek die kerkraad die gesamentlike PRK/SRK om die spesifieke regsprobleem aan te dui. Die kerkraad verneem graag hoe die ooreenkoms se onderliggende beginsel, naamlik dat die gemeentes in al hul werksaamhede saamwerk behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree, strydig sou wees met die bepalings en reglemente van die betrokke kerkordes of die gemenereg. Die kerkraad verneem ook graag na die gronde van die actuarius se uitspraak, naamlik dat “Elkeen van die kontrakterende gemeentes behoort in sy eie sake selfstandig voort te bly bestaan”.

15.4 Die kerkraad spreek sy besorgdheid uit oor die wyse waarop die gemeentes van Wynberg se proses van versoening en hereniging deur die VGSA Ring van Wynberg belemmer word. Dit behoort nie so te wees in ’n konteks waar die Belydenis van Belhar ’n rigsnoer vir die lewe van die kerk is nie. Die kerkraad het na verloop van drie maande nog geen reaksie ontvang nie.

15.5 Die kerkraad versoek die gesamentlike regskommissies (PRK/SRK) om 'n tussentydse ooreenkoms as ’n tussentydse reëling te beoordeel en terugvoering aan die kerkrade van Wynberg te gee. Hierdie reëling maak voorsiening vir ’n gesamentlike gemeente waarin twee wyksgemeentes saamwerk. ‘n Gesamentlike kerkraad behartig die gesamentlike bediening. Wykskerkrade behartig die eie regspersoonlike sake sowel as die leiding van die wyksgemeente en moet ook die besluite van die gesamentlike vergaderings bekragtig. Hoewel hierdie reëling ’n tussentydse oplossing “ter wille van die swakheid van sommige bepalings” sou bied, sou dit nie die gemeentes se probleem oplos nie aangesien twee identiteite in die gesamentlike gemeente gehandhaaf word.

15.6 Die regskommissies het die kerkraad se brief nie beantwoord nie. Ds Theron het wel per brief gedateer 14 Februarie 2010 op 'n versoek ter verduideliking van die bekendmaking van die dokument waarna in punt 16 verwys word, gereageer.

16.     Die NGK kerkraad van Wynberg was op daardie moment onbewus dat Ds. Hannes Theron op 9 Maart 2009 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode aan die regskommissies 'n dokument voorgelê het met die titel "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk). Die standpunt oor Wynberg se gesamentlike dienste was soos volg geformuleer:

“1.1        die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente;

Dit kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.”

Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy die dokument saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Die NGK kerkraad van Wynberg het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan die leraar van die NGK Wynberg oorhandig het. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is. Dit het sedertdien tot die VGKSA kerkraad se besluit bygedra om vanaf Mei 2010 afsonderlike dienste vir VGKSA lidmate aan te bied op die Sondae wanneer die gesamentlike dienste in die NG Kerk se gebou plaasvind. Ds. Samuels het in ’n dokument aan sy kerkraad gedateer 8 April 2010 as aanbeveling vir afsonderlike VGK dienste aangevoer “dat Eredienste op hul eie gehou word, aangesien die prediking deel is van die tug handeling en dat tug nie oor gemeentelike grense toegepas kan word nie.”

17.    Die NGK kerkraad van Wynberg het onmiddelike aksie geneem nadat hy van die dokument se bestaan bewus geraak het. Die Uitvoerende Bestuur het ’n versoek ter verduideliking aan Ds. Hannes Theron gerig. Op grond van sy antwoord het die Uitvoerende Bestuur  in ’n brief gedateer  21 Februarie 2010 hul op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) beroep en ’n versoek aan die regskommissie gerig. Dit was op 19 Augustus 2010 na verloop van vyf maande nog nie beantwoord nie.

Danie Nel, 19 Augustus 2010 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12