|
|
|
|
Wat het tot die opskorting van die samewerking aanleiding gegee? Die volgende punte is geneem uit die bladsy Verloop. 20. Die VGKSA kerkraad is deur Dr. Plaatjies, die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, oor die aard van die regsprobleme met die ooreenkoms ingelig toe die VGKSA kerkraad die ooreenkoms op 15 September 2009 wou behandel – nadat kennis van revisie reeds op 13 November 2008 gegee is. Die ringsleraars van die VGKSA was ook teenwoordig. Volgens Dr. Plaatjies kan die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en VGKSA Wynberg ten opsigte van 'n gesamentlike gemeente kerkregtelik nie goedgekeur word nie aangesien dit “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is." Dr. Plaatjies het ook tot die volgende konklusie gekom: “Die huidige gesamentlike gemeente is dus nie kerkregtelik na behore gereguleer nie.” 20.1 ’n VGKSA kerkraadslid het tydens die aanddiens op Sondag 20 September 2009 by Buitenverwachting die volgende opmerking voor die aanwesige lidmate gemaak: “Ons het by die kerkraadsvergadering gehoor dat dit wat ons gemeentes doen, eintlik onwettig is.” 20.2 Ek het Ds. Theron op 23 September 2009 geskakel om te verneem waarom die regsprobleme nie ook aan die NGK kerkraad bekend gemaak is nie. Hy het onderneem om Dr. Plaatjies te skakel en sou daarna terugvoering gee. Hy het my op 23 Oktober 2009 ingelig dat hy steeds nie terugvoering kon gee nie. 20.3 Dr. Plaatjies beveel in die laaste paragraaf aan dat haar beoordeling skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. 21. Kerkraadslede van die VGKSA Wynberg het op 3 November 2009 tydens die gesamentlike kerkraadsvergadering terugvoering gegee oor die vergadering van 15 September 2009 met die VGKSA actuarius en die VGKSA ringsleraars. Volgens die kerkraadslede was dit onder andere aan hulle gestel dat die gemeentes steeds aparte eredienste moet hou naas die gesamentlike dienste. Dit wou voorkom asof daar van die gemeentes verwag word om terugwaartse stappe te neem oor ’n aangeleentheid waaroor die kerkrade en lidmate reeds in Julie/Augustus 2007 konsensus bereik het. 22. Die kerkraad van die NGK Wynberg het in ’n brief, gedateer 30 Oktober 2009 en gerig aan die regskomissies van die streeksinodes (PRK/SRK), gereageer op die kerkregtelike evaluering van die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg, soos gedoen deur die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, Dr. M.A. Plaatjies. Sy beveel aan die einde van haar dokument aan dat dit skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. Die kerkraad het soos volg gereageer: 22.1 Die kerkraad versoek dat die regsadvies van die prokureursfirma waarna Dr. Plaatjies verwys, aan die kerkraad beskikbaar gestel word. 22.2 Die kerkraad spreek sy onsteltenis uit oor die uitspraak van die VGKSA se actuarius dat die Wynbergse gemeentes skynbaar volgens die bepalings en reglemente van die kerkorde verplig word om “in sy eie sake selfstandig” voort te bestaan terwyl hulle bereid was om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed en die Belydenis van Belhar prys te gee. Dit impliseer dat die huidige bepalings en reglemente die gemeentes dwing om die belydenisgrondslag te verloën, aangesien daar met name in die Belydenis van Belhar bely word “dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie”. 22.3 Aangesien die kerkraad geen gronde vir die uitspraak dat elke gemeente “in sy eie sake selfstandig” moet bly in die betrokke reglemente vind nie, versoek die kerkraad die gesamentlike PRK/SRK om die spesifieke regsprobleem aan te dui. Die kerkraad verneem graag hoe die ooreenkoms se onderliggende beginsel, naamlik dat die gemeentes in al hul werksaamhede saamwerk behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree, strydig sou wees met die bepalings en reglemente van die betrokke kerkordes of die gemenereg. Die kerkraad verneem ook graag na die gronde van die actuarius se uitspraak, naamlik dat “Elkeen van die kontrakterende gemeentes behoort in sy eie sake selfstandig voort te bly bestaan”. 22.4 Die kerkraad versoek die gesamentlike regskommissies (PRK/SRK) om 'n tussentydse ooreenkoms as ’n tussentydse reëling te beoordeel en terugvoering aan die kerkrade van Wynberg te gee. Hierdie reëling maak voorsiening vir ’n gesamentlike gemeente waarin twee wyksgemeentes saamwerk. ‘n Gesamentlike kerkraad behartig die gesamentlike bediening. Wykskerkrade behartig die eie regspersoonlike sake sowel as die leiding van die wyksgemeente en moet ook die besluite van die gesamentlike vergaderings bekragtig. Hoewel hierdie reëling ’n tussentydse oplossing “ter wille van die swakheid van sommige bepalings” sou bied, sou dit nie die gemeentes se probleem oplos nie aangesien twee identiteite in die gesamentlike gemeente gehandhaaf word. 22.5 Die regskommissies het die kerkraad se brief nie beantwoord nie. Ds Theron het wel per brief gedateer 14 Februarie 2010 op 'n versoek ter verduideliking van die bekendmaking van die dokument waarna in punt 24 verwys word, gereageer. 23. Die NGK kerkraad van Wynberg was op daardie moment onbewus dat Ds. Hannes Theron op 9 Maart 2009 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode 'n dokument aan die regskommissies voorgelê het met die titel "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk)”. Die standpunt oor Wynberg se gesamentlike dienste was soos volg geformuleer: “1.1 die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente; Dit kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.” Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy die dokument saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Volgens Ds. Sarel Christians, 'n leraar van die VGKSA Ring, het die actuarius van die VGKSA die dokument met die kerkraad van die VGKSA Wynberg en met die VGKSA ringsleraars behandel. Die NGK kerkraad van Wynberg het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan die leraar van die NGK Wynberg oorhandig het. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is. 24. Die NGK kerkraad van Wynberg het onmiddelike aksie geneem nadat hy van die dokument se bestaan bewus geraak het. Die Uitvoerende Bestuur het ’n versoek ter verduideliking aan Ds. Hannes Theron gerig. Ds. Theron het die status van die dokument soos volg verduidelik: "Die kommentaar van mnr Klopper is nooit deur die NGK/VGK aanvaar as hul amptelike standpunt of as ’n amptelike advies van ’n prokureur nie." Ds Theron se weergawe word deur Dr. Plaatjies se verslag (paragraaf 54 van haar uiteensetting van die verloop) weerspreek. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” (die dokument) soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is. In die daarstelling van ooreenkomste moet beklemtoon word dat die oorspronklike regspersone moet bly staan.” Betreffende die rede waarom hy nie op die herhaalde versoeke van die kerkraad gereageer het nie, beweer Ds. Theron die volgende: "Dit blyk dit dat daar lede van die VGK Wynberg is wat nie gemaklik is met die proses nie en dat die ring van die VGK Wynberg dit om bepaalde redes nie kan aanvaar nie." Volgens hom oordeel die actuarii "dat ’n helings- en versoeningsproses uiters noodsaaklik is voordat daar enigsins met die proses voortgegaan kan word." Hy verduidelik sy versuim om kommentaar te lewer soos volg: "Dit het op die stadium vir my geen sin om enige kerkregtelike uitsprake oor die ooreenkoms te maak nie, alvorens daar nie tot ’n helings- en versoeningsproses ooreengekom word nie." Dit was vir die kerkraad, wat op daardie moment dankbaar was oor die goeie verhoudinge wat opgebou is, vreemd dat die actuarii tot hul oordeel kon kom sonder om met die kerkraad in gesprek te tree. Ds. Theron het ook nog nie die kerkraad se versoek om die gronde en omvang van die VGKSA lede se ongemak aan te dui, beantwoord nie. Op grond van sy reaksie het die Uitvoerende Bestuur in ’n brief gedateer 21 Februarie 2010 hul op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) beroep en ’n dringende versoek aan die regskommissie gerig. Dit is tot op datum (19 Augustus 2010) na verloop van vyf maande nog nie beantwoord nie. 25. Die regskommissies se dokument het sedertdien tot twee belangrike besluite van die VGKSA kerkraad op 8 April 2010 bygedra:
26. Die NGK kerkraad het in sy reaksie per brief gedateer 24 April 2010 verklaar dat hy verbonde bly aan die eenparige versoek tot hereniging wat die lidmate tydens die eerste gesamentlike gemeentekonferensie op 13 April 2008 goedgekeur en onderteken het. Die kerkraad het sy kommer uitgespreek dat die VGKSA Kerkraad se besluit dat daar voortaan slegs na “samewerking” verwys moet word, afwyk van die inhoud en die gesindheid van die lidmate se versoek. Die kerkraad het aangedui dat die lidmate juis gekies het vir hereniging in ’n gesamentlike gemeente omdat hulle begeer het om vordering te maak. Hulle was soos verloofdes wat wou trou om ’n nuwe huis te begin. Hulle wou nie aangaan om beurte te maak om by die ouers se huise te kuier nie. Hulle het daarom teen die voortsetting van die huidige samewerking gestem omdat ’n NGK identiteit en ‘n VGKSA identiteit steeds gehandhaaf word. Die kerkraad het daarom volstaan by die verklaring van voorneme van 1 Junie 2008 dat die vorming van ’n gesamentlike gemeente nie langer uitgestel kan word nie. Die kerkraad het ook aangedui dat hy nie meer sy weg oopsien om slegs die huidige samewerking te handhaaf nie. In aansluiting by die metafoor van 'n verlowing het die kerkraad geskryf:
Die kerkraad het versoek dat sy reaksie biddend oorweeg sou word en dat die saak verder by die gesamentlike kerkraadsvergadering op 4 Mei 2010 bespreek sou word. 27. Die gesamentlike kerkraadsvergadering het op 4 Mei 2010 na 'n bespreking van beide kerkrade se standpunte aanbeveel dat die samewerking voortgaan en dat die VGKSA op die Sondae wanneer die gesamentlike dienste om 09:30 in die NG Kerk se gebou plaasvind, dienste om 08:30 vir VGKSA lidmate aanbied wat nie na die gesamentlike dienste wil kom nie. 28. Die kerkraad van die VGKSA Wynberg het op 7 Augustus 2010 besluit om die samewerking tussen die twee gemeentes op te skort omdat verhoudinge volgens die kerkraad se oordeel "aan skerwe lê en stukkend is". Die kerkraad het sy besluit geformuleer as 'n tydelike moratorium op alle samewerking totdat verhoudinge "deur middel van arbitrêre bemiddeling" verbeter kan word. Die pad van samewerking kan ook slegs hervat word "wanneer die NG Kerkraad se amptelike besluit van 23 April 2010" verander sal word. Lidmate is tydens die gesamentlike diens op 8 Augustus 2010 ingelig dat die VGKSA voortaan sy dienste om 09:30 elke Sondagoggend in sy kerkgebou gaan aanbied en dat daar vir die VGKSA kinders die volgende Sondag afgekondig sal word waarheen hulle vir kategese moet gaan. Die NGK kerkraad is per brief op Dinsdag 10 Augustus 2010 oor die moratorium ingelig. Ds. Samuels en een van sy ouderlinge het die gebeure ook aan die pers bekend gemaak. Rapport het op 15 Augustus 2010 ’n artikel dooroor gepubliseer onder die opskrif “Gemeentes skei”. Ds. Samuels word soos volg aangehaal: “Ons praat nie meer nie. Ons is definitief nie meer op dieselfde bladsy nie; verhoudinge het uitmekaargeval.” Ds. Samuels sê volgens die artikel dat hy en sy kerk nie saamstem met die dokumente oor eenwording wat die NGK-leraar, ds. Danie Nel, destyds opgestel het toe die kerke een geword het nie. “Dit het gebeur toe daar ’n vakante pos in die VGK was en ons kwesbaar was. Ons het géén insae daarin gehad nie. Dis duidelik die VGK en die NGK praat verskillende tale.” Ouderling Anne Ehrenreich van die VGKSA beweer in die artikel: “Hulle skenk geld, maar staan nie saam met ons agter die kospotte en basaartafels nie. Ons wil nie net die witmense se geld sien nie – ons wil hul gesigte sien.” 29. Die NGK kerkraad het sy lidmate by wyse van 'n inligtingsbrief gedateer 17 Augustus 2010 oor die tragiese gebeure ingelig. In antwoord op die brief van die Kerkraad van die VGKSA Wynberg verwys die Kerkraad van die NGK Wynberg na hul belewenis van die onderlinge verhoudinge:
Die Kerkraad reageer soos volg op Ds. Samuels en Ouderling Ehrenreich se bewerings:
Betreffende die opskorting van alle samewerking deur die kerkraad van die VGKSA Wynberg reageer die kerkraad van die NGK Wynberg soos volg:
30. Die berig in Rapport van 15 Augustus 2010 het tot verdere persberigte gelei. Ds. Trevor Links het ’n artikel in Rapport van 28 Augustus 2010 geskryf met as titel ‘Hier stehe ich’ oor kerkhereniging. Ds. Links is die leraar van die VGKSA St. Helenabaai wat besig is met ’n herenigingsproses met die NGK Laaiplek. Die Moderatuur van die Algemene Sinode van die VGKSA het gereageer met 'n persverklaring, maar Rapport het volgens URCSA News geweier om dit te publiseer. Die Moderatuur het dit toe in URCSA News van 1 Oktober 2010 laat publiseer. Die Kerkbode het na aanleiding van die berig van 15 Augustus in Rapport en die NG Kerk se inligtingsbrief aan sy lidmate betreffende die opskorting, sekere vrae aan Dr. Nel gestel en op 3 September 2010 daaroor berig. Rapport het ook ’n verdere onderhoud met Ds. Samuals en Ds. Sarel Christians van die VGKSA se Ring van Wynberg gevoer wat op 12 September 2010 gepubliseer is. URCSA News het twee artikels oor die proses in Wynberg op 1 Oktober 2010 gepubliseer. Die een verduidelik hoe die moratorium die eenheidsproses tussen gemeentes raak, en die ander bevat 'n verklaring deur die VGKSA se Ring van Wynberg. Die Kerkbode het op 1 Oktober 2010 in sy hoofartikel berig oor hoe kerkregtelike reëls die eenheidsproses tussen gemeentes benadeel. Die volledige artikels met kommentaar kan op die bladsy Persberigte gelees word. 31. Die VGKSA se webwerf het 'n toespraak van Prof Dirkie Smit oor die betekenis van die Belhar-belydenis ten opsigte van kerkeenheid, wat op 29 September 2010 by die VGKSA se Kaaplandse Streeksinode gelewer is, gepubliseer. Hy het volgens Dr. Johan Botha 'n staande ovasie ontvang. Prof. Smit maak daarin die volgende opmerking: Confessions are not to be exhibited like museum pieces. They are not something to boast of, as if we are better than others. They are not weapons to be used against others. They are there to be lived, embodied. If we truly confess that Christ calls us to strive for living unity, reconciliation and justice, then this confession must weigh more heavily for us than everything that contradicts it – even governments, authorities, ordinances by people, prescriptions, rules, decisions, commands, meetings, church orders and particularly the unwillingness and inertia of our own hearts. When believers confess, this confession trumps all other claims and loyalties, even the desires, prejudices and excuses in their own hearts. They are like people struck on the mouth, they did not choose the moment or their own viewpoints, they can do nothing else – in the description of Karl Barth, words quoted in the this building 28 years ago, words that deeply moved our fathers and mothers. Whenever someone would attempt to hinder us in this confession, we follow Jesus the Lord. Dit is waarvoor veel lidmate van Wynberg gehoop en gebid het. As die kerklike vergaderings en kommissies van die VGKSA en die NGK dit ter harte neem, kan daar weer vordering kom. Dit lyk of Wynberg se beroep op die belydenisgrondslag uiteindelik gehoor word. 32. Op 15 Oktober 2010 het die Kerkbode berig dat daar veral op voetsoolvlak in die Wes- en Oos-Kaap toenemende aandrang by lidmate en predikante is dat die NG Kerkfamilie se leierskap die struikelblokke uit die weg moet help ruim. Diegene wat ten gunste van kerkeenheid is, sê kerkordes, individue en vergaderings durf nie die eenheidsproses langer vertraag nie. Dít het duidelik geword tydens die jongste sitting van die Kaaplandse Sinode van die VGK wat in Belhar, Kaapstad, gehou is. 33. Hoewel die VGKSA Kerkraad alle samewerking tussen die gemeentes opgeskort het, gaan die gesamentlike gebedsgroep van die gemeentes voort om elke Dinsdagaand in die pastorie van die NG Kerk te vergader. Die gesamentlike orkes funksioneer ook steeds saam. Die NG Kerk se dienste word ook steeds deur verskeie VGKSA lede besoek. Die onderlinge verbondenheid tussen die lidmate was veral by die lentetee en potjiekoskompetisie sigbaar. Bruin en wit gaan by wyse van vrye assosiasie voort om in harmonie en vrede die Here saam te dien. Danie Nel, 3 November 2010. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|