NG en VG Kerk Wynberg

Tuisblad Terugvoering Inhoud

Predikant

 

Tuisblad

 

Danie en Jola Nel

Danie is predikant van Wynberg gemeente. Hy is op 12 Mei 1958 in Nelspruit is gebore en het sy kleuterjare in Witrivier naby die Nasionale Kruger Wildtuin deurgebring. Hy het in Pretoria gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Pretoria die BA en BD grade behaal het en die doktorale eksamen in teologie afgelê het. Hy het in 1988 die doktorsgraad in Missiologie aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal met 'n wetenskapsfilosofiese tema. Sy promotor was Prof. David Bosch en sy mede-promotor Dr. Johan Mouton.

Danie het sy loopbaan begin as dosent in Missiologie by die Universiteit van Suid-Afrika. Hy het in 1987 die akademie vir die bediening verruil toe hy 'n beroep na die NG gemeente Ogies aanvaar het. Sedert 2 Februarie 1990 is hy predikant van die NG gemeente Wynberg.

Danie en Jola (Jolanda Rachel ter Haar) is op 19 Junie 1982 in Universiteitsoord getroud. Sy is op Rietvlei in die Transkei gebore waar haar ouers (afkomstig van Nederland) vir bykans vier dekades as mediese sendelinge werksaam was. Jola gee onderwys in Wiskunde by Wynberg Girls High School. Sy het tot verlede jaar ook op die Uitvoerende Komitee van die Vrouediens van die Wes-Kaapse Sinode gedien. Sy was verantwoordelik vir sending. Sy is Voorsitter van Wynberg se Vrouediens en neem ook leiding by die junior kategese. Vier kinders is uit die huwelik gebore.

Daniel is 'n mediese student aan die Universiteit van Kaapstad. Hy speel tennis en hokkie vir die Universiteit en is lid van die Christen Geneeshere Bond. Ineke begin haar universiteitsloopbaan in 2007 as student in Argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het in 2006 by Herschel Girls School gematrikuleer wat 'n private Anglikaanse skool is. Sy was kaptein van die eerste Basketbalspan, lid van die koor asook Herschel se Chorale, voorsitter van die Christelike vereniging en was as prefek verantwoordelik vir al die geestelike en kerklike aktiwiteite. Daniel en Ineke is deel van die gemeente se orkes.       

Elsa en Theodore (tweeling) is in graad 6 by Laerskool Simon van der Stel. Hulle is ook tweetalig aangesien hulle by 'n Engelse kleuterskool was. Hulle neem soos die twee oudstes met entoesiasme deel aan sport en kultuur, en probeer mekaar wen op die akademiese gebied.

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 11/29/08