|
|
|
|
Die samewerking tussen die twee gemeentes het veral vanaf 2007 ‘n positiewe impak op die gemeenskap gehad. Dit blyk onder andere uit die belangstelling wat die herenigingsproses sedert 2007 in die media ontlok het. Die berigte kan gelees word deur op die skakels aan die linkerkant te kliek. Die ouer berigte verskyn aan die onderkant. Die opskorting van die samewerking het ook aandag getrek. Ds. Samuels en Ouderling Ehrenreich het die besluit wat die VGKSA Kerkraad op 7 Augustus 2010 geneem het, aan die pers bekend gemaak. Rapport het op 15 Augustus 2010 ’n berig gepubliseer met as titel "Gemeentes skei". Sommige van die bewerings het kennelik die openbare getuienis van beide gemeentes benadeel. Die artikel van 15 Augustus 2010 het tot verdere persberigte gelei. Ds. Trevor Links het ’n artikel in Rapport van 28 Augustus 2010 geskryf met as titel ‘Hier stehe ich’ oor kerkhereniging. Ds. Links is die leraar van die VGKSA St. Helenabaai wat besig is met ’n herenigingsproses met die NGK Laaiplek. Die Moderatuur van die Algemene Sinode van die VGKSA het gereageer met 'n persverklaring, maar Rapport het volgens URCSA News geweier om dit te publiseer. Die Moderatuur het dit in URCSA News van 1 Oktober 2010 laat publiseer.Die Kerkbode het na aanleiding van die berig van 15 Augustus in Rapport en die NG Kerk se inligtingsbrief aan sy lidmate betreffende die opskorting, sekere vrae aan Dr. Nel gestel en op 3 September 2010 daaroor berig. Rapport het ook ’n verdere onderhoud met Ds. Samuals en Ds. Sarel Christians van die VGKSA se Ring van Wynberg gevoer wat op 12 Septeber 2010 gepubliseer is. Die volledige artikels kan gelees word deur op die skakels aan die linkerkant te kliek. Kommentaar op die artikel van 15 Augustus 2010 en die artikel van 12 September 2010 word ook gegee deur na die feite te verwys wat sommige van die bewerings weerlê. Laasgenoemde is op versoek van Dr. Braam Hanekom, Moderator van die Wes- en Suid-Kaapse Sinode, saamgestel. Dit is ook ter wille van deursigtigheid aan Me. Marlene Malan, Rapport se joernalis wat die betrokke artikels geskryf het, gestuur. URCSA News het twee artikels oor die proses in Wynberg op 1 Oktober 2010 gepubliseer. Die een verduidelik hoe die moratorium die eenheidsproses tussen gemeentes raak, en die ander bevat 'n verklaring deur die VGKSA se Ring van Wynberg. Die VGKSA se webwerf het 'n toespraak van Prof Dirkie Smit oor die betekenis van die Belhar-belydenis ten opsigte van kerkeenheid, wat op 29 September 2010 by die VGKSA se Kaaplandse Streeksinode gelewer is, gepubliseer. Prof. Smit maak onder andere die volgende opmerking:
Die Kerkbode het op 1 Oktober 2010 in sy hoofartikel berig oor hoe kerkregtelike reëls die eenheidsproses tussen gemeentes benadeel. Op 15 Oktober 2010 het die Kerkbode berig dat daar veral op voetsoolvlak in die Wes- en Oos-Kaap toenemende aandrang by lidmate en predikante is dat die NG Kerkfamilie se leierskap die struikelblokke uit die weg moet help ruim. Diegene wat ten gunste van kerkeenheid is, sê kerkordes, individue en vergaderings durf nie die eenheidsproses langer vertraag nie. Dít het duidelik geword tydens die jongste sitting van die Kaaplandse Sinode van die VGK wat in Belhar, Kaapstad, gehou is. Stephan Joubert skryf in die Kerkbode van 5 November 201 0 dat die Kerkorde nie boek 67 is van die kanon wat uitgeval het nie. In dieselfde uitgawe word die Ring van Wynberg se ongelukkigheid oor die gebrek aan kerkregtelike leiding betreffende die herenigingsproses berig, asook die aktuarius van Wes-en-Suid-Kaapland se sinode se kommentaar daarop. Volgens Ds. Theron het die herenigingsproses tussen die gemeentes van Wynberg nie gesneuwel weens kerkregtelike prosedures nie, maar as gevolg van wantroue tussen die partye. Ds. Jan Momsen antwoord in die Kerkbode van 19 November 2010 as buurleraar van Wynberg en as lid van die Ringskommissie op Ds Theron se bewering. Volgens hom het die wantroue gekom ná of weens die gebrekkige kerkregleiding. Hy wys daarop dat die proses het met gemeentevergaderings begin het waar die gemeentes eenparing besluit het tot nouer samewerking/eenwording.Die kerkraad van die NG Kerk Wyberg wil nie by 'n konflik in die media of andersins betrokke raak nie. Die kerkraad sal egter getuig wanneer dit in belang van die gemeente se bediening van versoening is. Dit behels enersyds dat volledige inligting ter wille van deursigtigheid op die gemeente se webwerf beskikbaar gestel word en andersyds dat die gemeente by wyse van inligtingsbriewe gehelp word om die tragiese gebeure te verstaan en sommige van die persepsies reg te stel. Navrae van die media word na die webwerf verwys. Danie Nel, 18 November 2010. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|