NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Persvrystellings

 

Tuisblad
Terug

 

Vrygestel aan die Kerkbode op 04/05/2006

Gepubliseer op 12/05/2006 as hoofartikel

Belewing van die GEES - ’n KOPDING?

“Ek is nie die emosionele tipe nie”, het ons agnostiese vriend gesę. Ons het hom as ‘n analitiese, rasionele mens leer ken. Hy sou graag in God se bestaan wou glo, maar hy kon nie omdat daar net te veel was wat hy teen sy beterwete blindelings moes aanvaar. Ons was baie bly toe sekere aspekte van die evangelie tydens ‘n kleingroepbespreking vir hom begin sin maak het. Hy vertel wat verder gebeur het: “Ek het alleen in die veld gaan stap. Ek het vir die Here gevra om, as Hy daar is en my kan hoor, vir my ‘n teken te gee. Ek het gevra dat sy Gees my sal vul soos ek julle hoor praat het. Toe gebeur daar iets wat ek nie rasioneel kan verklaar nie… dit het vir my gevoel asof Jesus by my was en my verseker het dat Hy ook vir my gesterf het. Ek het sy liefde so intens ervaar dat ek begin huil het… nou weet ek, vir die eerste keer in my lewe, dat God werklik bestaan. Ek het Hom daardie oomblik ontmoet…”

Ons vriend se getuienis klop met talle ander se ervaring – węreldwyd! Dit lyk asof die Heilige Gees besig is met ‘n nuwe inisiatief in ons postmoderne węreld. Hierdie keer gebruik Hy nie uitstaande predikers soos Billy Graham nie. Postmoderne mense luister nie graag na preke nie. Dit kom voor asof Hy Homself eerder openbaar waar soekendes die geleentheid kry om hul vrae op die tafel te plaas, waar hulle begrip van die evangelie in die ontspanne atmosfeer van kleingroepe kan toeneem en waar hulle die geleentheid kry om iets daarvan te ervaar. Dit lyk asof die kombinasie van insig en ervaring die basiese boustene van hierdie inisiatief is.

Is ons Gereformeerdes ontvanklik hiervoor? Ons is mense wat die Woord en die belydenis in die sentrum plaas, en ons voel maklik ongemaklik wanneer mense oor hul ervarings begin praat. Ons raak selfs onrustig omdat ons “charismatiese beďnvloeding” vrees. In hierdie verband is daar reeds ‘n paradoks sigbaar: die kombinasie van insig en ervaring werk veral in die evangelisasieprogramme wat die hoofstroomkerke loods en geniet die steun van gerespekteerde teoloë soos I. Howard Marshall en J. I. Packer.

Die amptelike standpunt van die NG Kerk, soos wat dit in ‘n gepubliseerde studiestuk van die 1978 Algemene Sinode vertolk word, erken die belangrike rol van ervaring: “Aan die egtheid van besondere ervaringe van talle gelowiges met die Heilige Gees hoef ons vir geen oomblik te twyfel nie… Dit is ‘n genade van God as sulke gelowiges op ‘n bepaalde dag tot stilstand gedwing word en die ervaring het dat hulle vir die eerste keer bewus word van die teenwoordigheid en die krag van die Heilige Gees in hulle lewe. Niemand mag ook gering dink van so ‘n ervaring in die lewe van gelowiges nie. Inteendeel: die kerk moet hoop en bid dat al sy vleeslike lidmate gebring mag word tot sodanige insnyding en vernuwing van hulle lewe, ja tot die vervulling met die Heilige Gees self.”

Natuurlik moet ons waarsku teen ‘n beheptheid met ervarings. Wanneer dit die sentrum van ons fokus word, bly ons verhouding met die Here onvolwasse soos wanneer verliefdes slegs gevoelens probeer najaag. Dit gaan dan nie meer oor die ander persoon nie. Dit is egter nie die grootste gevaar binne die NG Kerk nie! Ons probleem lę eerder daarin dat ons "belewing" van die Gees 'n kopding geword het: dit lyk soms asof ons van Hom ‘n papiergees maak wat ons in die bladsye van die Bybel wegbęre, en slegs volgens die bekende patrone van ons denke laat uitkom. Só word die Gees vir baie lidmate “afwesig”. Jesus leer ons om die Here ook met ons hele hart lief te hę. Dit is ook wat Hy ons van sy Gees wil laat beleef: die mees algemene ervaring van gelowiges tydens die voortdurende vervulling met die Heilige Gees, is een van liefde – hulle beleef, soos ons vriend, hoe Jesus se oorvloedige liefde in hulle harte uitgestort word en hulle totaal vernuwe… en ons almal het dit baie nodig! Luister ons ook na Hom? 

Danie Nel, Wynberg

4 Mei 2006

Vrygestel aan die Kerkbode op 01/03/2005

Gepubliseer op 11/03/2005 in die briewekolom

Belhar-Inisiatief

Die Wynberg-inisiatief mbt die Belydenis van Belhar poog om gemeenskaplike grond in ’n prinsipiële benadering te vind waarbinne alle lidmate van die onderskeie kerke geborge kan voel. Hulle moet kan weet dat wanneer die kerkleiding sou besluit om ’n nuwe belydenis te aanvaar of ’n bestaande een te verander, dit slegs oor een beginsel sou gaan: stem dit ooreen met wat die Woord ons leer? Hulle sal ook die geleentheid kry om op grond van dieselfde beginsel ’n bydrae te lewer wat op ’n deursigtige en verantwoordelike wyse hanteer sal word.

Die inisiatief beveel aan dat die herenigde kerk die Belydenis van Belhar ooreenkomstig die gereformeerde weg as belydenisskrif sal aanvaar – en dat dit daarom presies soos die ander drie hanteer sal word – wat sou beteken dat niemand kan sę hulle stem nie daarmee saam nie. In hierdie opsig vra dit van die NG Kerk-leiding om ’n stap verder te gaan. Die ruimte wat die Algemene Sinode van 2004 probeer skep vir “baie predikante en lidmate wat om verskillende redes nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie”, mag nie impliseer dat die belydenisskrif daarom vir sulke persone opsioneel sou kon wees nie. Die ruimte kan wel aan hulle gegee word om aan te dui waar die belydenis nie met die Woord ooreenkom nie, en hoe die formulering aangepas kan word sodat dit wel die geval kan wees.

Die inisiatief versoek die kerkleiding van die VGKSA om die ruimte wat hulle kerkorde (Artikel 2.3) met betrekking tot “die wysiging van bestaande belydenisskrifte” bied, ook van toepassing te maak op die proses waartydens lidmate van die NGK, die NGKA en die RCA die Belydenis van Belhar aanvaar. Ons meen dat hulle dié belydenis, soos die ander belydenisskrifte, in hierdie verband met vertroue kan aanbied.

Ons glo dat die proses, soos voorgestel in die tweede beginsel, voldoende ruimte aan alle lidmate bied om hulle aanvaarding of verwerping van die herenigde kerk se belydenisgrondslag aan te dui.

Indien hulle die geleentheid nie benut nie, kan die kerkleiding aanvaar dat hulle instem. Nuwe lidmate verklaar hulle aanvaarding tydens die openbare belydenis van geloof. Die kerke kan met mekaar onderhandel oor hoe die besondere ampte wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die leer, die wysiging aan die belydenisgrondslag gaan onderteken.

Dr Danie Nel, Wynberg.

Vrygestel aan die Kerkbode op 03/02/2005

Gepubliseer op 11/02/2005 in die rubriek "Aktueel"

Belydenis van Belhar: só kan ons vorentoe gaan

Baie lidmate van die NG Kerkfamilie het die afgelope maande met ’n sug besef dat kerkeenheid onmoontlik raak as daar nie eenstemmigheid bereik kan word oor die belydenisgrondslag van die herenigde kerk nie. Voeg daarby ’n belangrike les uit onlangse hofsake – dat sinodes nie die belydenisgrondslag van ’n kerk kan verander sonder die instemming van lidmate nie – tesame met die moderne werklikheid dat mense hulle nie “van bo af” laat voorskryf oor wat hulle moet glo nie, en die uitdaging word enorm!

Die kerkrade van die NG Gemeente Wynberg en die Verenigende Gereformeerde Kerk-Wynberg het gedurende die afgelope jare indringend besin oor die wyse waarop die Belydenis van Belhar in die herenigde kerk se belydenisgrondslag opgeneem kan word. Die onderstaande gee enkele van ons gedagtes weer vir oorweging. Ons glo dat die eenheidswiele weer sal begin draai wanneer sinodes, ringe en kerkrade saam met lidmate op gemeentevlak konsensus kan bereik oor die volgende beginsels:

1.  Wanneer lidmate versoek word om ’n belydenis te aanvaar, mag daar ooreenkomstig die gereformeerde tradisie slegs een kriterium wees: stem dit ooreen met wat die Woord ons leer? Daarom kan daar geen middelposisie wees nie. Teenoor misleiding en alle valse aansprake, verenig ’n belydenis gelowiges om die bevrydende waarheid van God se Woord te bely. Dit roep ons op om ons vrese, geskille, bagasie en politiekery te laat vaar omdat ons binne die gemeenskap van gelowiges deur die Heilige Gees in ’n uur van beslissing aangeraak word.

2. Ten einde geleenthede vir egte dialoog te skep, moet daar voorsiening gemaak word vir lidmate of vergaderings wat die meriete of onderskrywing van sekere formulerings van ’n belydenisskrif bevraagteken omdat dit na hulle mening nie met die Woord ooreenstem nie. Die Belhar-belydenis is, soortgelyk as die drie formuliere van eenheid, nie bo die Skrif verhewe nie. Só sal daar, binne die reformatoriese tradisie, onderhandel kan word oor enige wysiging van formulerings sonder om aan die wesenlike inhoud te verander. Sulke besware moet op ’n verantwoordelike en deursigtige wyse deur gemeentes, ringe en sinodes hanteer word. Soortgelyk as die bestaande Kerkorde van die VGKSA (Artikel 2.3), moet daar in die Kerkorde van die herenigde kerk artikels opgeneem word wat soos volg verwoord kan word:

bullet

Die herenigde kerk aanvaar dat sy taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie. In die toekoms mag veranderende omstandighede en ’n beter verstaan van die Woord van God lei tot die aanvaarding van verdere belydenisskrifte, of die wysiging van bestaande belydenisskrifte.

bullet

Indien lidmate ’n beswaar of enige ander insig omtrent hierdie leer het of sou kry, moet hulle dit aan die kerkraad, ring en sinode openbaar sodat daar op ’n verantwoordelike wyse met mekaar in gesprek getree kan word. Lidmate kry hierdeur die geleentheid om aan te dui waar ’n belydenis nie met die Woord ooreenstem nie.

3. Ons beveel aan dat die herenigde kerk die Belydenis van Belhar ooreenkomstig die gereformeerde weg as belydenisskrif sal aanvaar – en dat dit daarom presies soos die ander drie hanteer sal word – wat sou beteken dat niemand kan sę hulle stem nie daarmee saam nie. Dit impliseer nie dat daar van individuele lidmate verwag sou word om ęrens in die openbaar dit persoonlik te onderteken nie. Daar bestaan na ons wete geen presedent in die gereformeerde tradisie hiervoor nie. Lidmate verklaar hulle aanvaarding tydens die openbare belydenis van geloof. Predikante onderteken die belydenisskrifte tydens legitimasie. Die besondere ampte wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die leer, verbind hulleself tot ’n bepaalde aanspreeklikheid deur hulle handtekening.

Ons meen dat hierdie beginsels aan elke lidmaat of kerklike vergadering ’n redelike moontlikheid bied om nou reeds deel te hę aan die herenigde kerk se belydenisvorming sonder om die proses van hereniging verder te vertraag.

- Dr Danie Nel is leraar van die NG Gemeente Wynberg.

Vrygestel aan Die Burger op 20/01/2005

Gepubliseer op 22/01/2005 in die briewekolom

Wynberg verwerp besluit oor Belhar

Die brief van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele sake se dagbestuur, Wes- en Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk in Die Burger van 19 Januarie 2005, verwys. Die Algemene Sinode se voorstel dat die Belharbelydenis “as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerk­verband opgeneem word”, en die volgende stelling “Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede, en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie”, word deur die dagbestuur vertolk as sou die belydenis nie opsioneel wees nie. 

Alhoewel ons verheug is oor die oproep om die belydenis te aanvaar en daarvolgens te leef, kan ons nie met hul interpretasie saamstem nie. Hulle sę die besluit was: “Dit is die waarheid. Glo dit. Leef dit.”  Ons meen die besluit was “Dit is die waarheid. Glo dit en leef dit as jy so voel”.  Dit kan tog nie geld vir die ander belydenisskrifte nie – waarom dan vir die Belharbelydenis? 

Die Kerkraad van Wynberg kan op grond van die volgende redes nie hiermee saamstem nie: 

bullet

Die bedoeling van die besluit, naamlik dat “die NGKA en die RCA wat vir ons sę dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie”, en “baie predikante en lidmate wat om verskillende redes nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie”, ook in die proses meegeneem moet word en daarom ook tevrede moet wees met die formulering van die belydenisgrondslag, impliseer dat onderskrywing of aanvaarding van die belydenis minstens vir hulle - en daarom eintlik vir almal want almal moet dit so goedkeur - opsioneel is.

bullet

Die Belharbelydenis het daarom ingevolge die gereformeerde tradisie en binne die konteks van die besluit nie die status van ‘n belydenisskrif  nie.

bullet

Die herenigde kerk sal gevolglik nie aanspraak kan maak op ‘n gemeenskaplike belydenisgrondslag nie – dit sal noodwendig tot kerkregtelike sowel as gemeenregtelike probleme lei.

bullet

Ons is bewus daarvan dat dit al in gereformeerde kerkverenigingsprosesse gebeur het dat uitsonderlike maatreëls getref moes word om verskillende belydenisskrifte te akkommodeer.  Dit het egter na ons wete nooit die implikasie gehad dat ‘n belydenisskrif as opsioneel vir sommige beskou is omdat hulle sterk daarteen voel of sę dat hulle nie daarmee saamstem nie.  

Daarom het die kerkraad van Wynberg op 10 November 2004 eenparig besluit dat hy ongelukkig nie die sinode se aanbevelings oor die belydenisgrondslag kan ondersteun nie. Die moderatuur is dien ooreenkomstig ingelig en met alternatiewe voorstelle bedien.  

Dr Danie Nel, Voorsitter van die Kerkraad, 20 Januarie 2005.

Vrygestel aan Die Burger

Gepubliseer op 29/10/2004 in die briewekolom

Belhar-besluit het leemte

DIE besluit van die algemene sinode van die NG Kerk oor kerkhereniging, sowel as die brief van die moderatuur van die Wes- en Suid-Kaapse sinode (DB, 16/10) verwys. Ek is dankbaar oor die sterk verbintenis tot kerkhereniging, maar ernstig bekommerd dat sekere stellings die vertroue skaad.

Binne vier maande nadat die konvent van eenheid dit baie duidelik gemaak het dat dit nie aanvaarbaar sou wees as die Belydenis van Belhar opsioneel is nie, het die algemene sinode presies die teenoorgestelde besluit. Die moderatuur, wat ook in die uitvoerende komitee van die konvent dien, verdedig die besluit as 'n poging "om die gesprek tussen al die lede van die familie weer op dreef te kry te midde van, onder meer, die huidige konflik tussen die VGKSA en NGKA". Dit word soos volg in die sinodebesluit gestel: "Ons is egter ook verbind aan die NGKA en die RCA wat vir ons sę dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie."

Ek verstaan dat dit 'n vername rede was waarom baie afgevaardigdes besluit het om die sinode se kompromis te steun. Die aard van die konflik of die redes waarom die NGKA nie die Belydenis van Belhar wil aanvaar nie, word nie vermeld nie. Met respek: Die algemene sinode en moderatuur oefen hier 'n keuse uit wat as 'n legitimering van die posisie van die NGKA vertolk kan word. Dié oordeel word gedoen in die volle besef van hoe moeilik die situasie was, en dat dit waarskynlik nie die bedoeling was om die versoeningsproses tussen die VGKSA en die NGKA moeiliker te maak nie. Ek vertrou dat die saak reggestel sal word.

Wanneer lidmate versoek word om 'n belydenis te aanvaar, mag daar slegs een kriterium wees: Stem dit ooreen met wat die Woord ons leer? Daarom kan daar geen middelposisie wees nie. Dit is jammer dat dit nie deur die sinode of die moderatuur gekommunikeer is nie - 'n wesenlike leemte.

Teenoor misleiding, teenoor alle valse religiositeit en valse aansprake, verenig 'n belydenis gelowiges om die bevrydende waarheid van God se Woord te bely. Dit roep ons op om ons vrese, geskille, bagasie en politiekery te laat vaar omdat ons binne die gemeenskap van gelowiges deur die Heilige Gees in 'n uur van beslissing aangeraak word.

Die besluit dat die belydenis opsioneel moet wees, ontneem baie lidmate van die NGK, die NGKA en die RCA van hierdie voorreg. Dis jammer, omdat dit nie die enigste opsie is waardeur ons ruimte vir lidmate kan skep om die belydenis toe te eien nie.

Danie Nel, Wynberg.

Vrygestel aan Die Burger op 12 Oktober 2004

Gepubliseer op 14/10/2004 in die briewekolom

Oorweeg hierdie opsie vir Belhar

HIERMEE my waardering vir die hoofartikel (DB, 12/10) oor die voorstel van die NG Kerk se algemene sinodale kommissie dat die Belydenis van Belhar in die belydenisgrondslag van 'n herenigde kerk opgeneem word, maar dat geen lidmaat, predikant of gemeente dit as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.

Na my mening het u goed daarin geslaag om 'n noodsaaklike profetiese vermaning tot die leierskap van die NGK te rig.

Die algemene sinode het sterk prinsipiële gronde om sy lidmate te versoek om die Belydenis van Belhar te aanvaar:

bullet

Die sinode het reeds verklaar dat die Belydenis van Belhar met die Woord van God ooreenstem;

bullet

Baie van sy lidmate ervaar dat die gebrek aan eenheid, versoening en geregtigheid wat steeds hier en węreldwyd onder Christene voorkom, die goeie nuus sleg maak;

bullet

Die moontlikheid is baie sterk dat dit 'n probleem in multikulturele samelewings sal bly waar groepsbelange aanleiding tot diskriminasie gee - ook vir lidmate van die NGK.

Die VGK het ook sterk prinsipiële gronde om van die NGK te verwag om die Belydenis van Belhar as volwaardige belydenisskrif te aanvaar:  

bullet

'n Belydenisskrif kan nie in terme van die gereformeerde kerkreg opsioneel wees nie;

bullet

Die gemenereg beskou die kerk as 'n gemeenskap wat op die basis van sy belydenis vergader. Wanneer die belydenisgrondslag verander, moet al die lidmate hierin geken word.

Die kompromisvoorstel sou impliseer dat alle lidmate van sowel die NGK as die VGK moet toestem dat 'n deel van hul kerk se belydenisgrondslag opsioneel is - die deel wat oor eenheid, versoening en geregtigheid handel. Watter prinsipiële redes sou die algemene sinode van die NGK kon aanvoer om dit van VGK-lidmate te verwag?

'n Beter opsie sou wees om te versoek dat daar in die bepalings van die kerkorde van die herenigde kerk voorsiening gemaak moet word vir mense wat probleme met sekere formulerings in die Belydenis van Belhar het, sodat gemeentes, ringe en streeksinodes sulke besware op 'n verantwoordelike en deursigtige wyse kan hanteer. Dit is, soortgelyk as die drie formuliere van eenheid, nie bo die Skrif verhewe nie.

Só sal daar, binne die reformatoriese tradisie, onderhandel kan word oor enige wysiging van formulerings sonder om aan die wesenlike inhoud te verander. Hierdie moontlikheid word in art. 2.3 van die kerkorde van die VGK verwoord.

Dié opsie bied aan enige lidmaat 'n redelike moontlikheid om deel te word van die herenigde kerk se belydenisvorming sonder om die eenheidsproses verder te vertraag.

Danie Nel, Wynberg.

Vrygestel aan die Kerkbode na 21/08/2003

Gepubliseer op 12/09/2003

Ope brief aan die leierskap van die NG Kerkfamilie

Aan die moderature van die Algemene Sinodes van die NGK, NGKA, RCA en VGKSA

19 Augustus 2003

Ons rig hierdie ope brief aan die vier moderature van die Algemene Sinodes van die NG kerkfamilie: die NG Kerk (NGK), die NG kerk in Afrika (NGKA), die Reformed Church in Africa (RCA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA). Ons glo dat dit in die belang van die onderskeie kerke se openbare getuienis is dat die leierskap die geleentheid moet kry om duidelike antwoorde te gee op vrae wat in die harte van hul lidmate leef oor waarom die proses van kerkeenheid so weinig vorder ten spyte van ernstige voornemens wat in sinodale besluite verwoord is. Ons ondervind moeite om dit aan besorgde lidmate te verduidelik: ons meen die slakkepas skep 'n situasie wat besig is om 'n ernstige geloofwaardigheidskrisis vir die NG Kerkfamilie te veroorsaak. Ons skryf hierdie brief nie as persone wat van die kantlyn akademiese kritiek lewer nie, maar wat midde in die proses worstel met dieper vrae omdat ons dit beleef dat ons gemeente deur die kerk se leierskap aan bande gelę word terwyl ons juis probeer om die sinodes se besluite uit te voer.

Toe die gemeente van Wynberg in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede  bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien. Hierdie besonderse aspek van die karakter van die gemeente het ongelukkig begin skade ly nadat die NG Sendingkerk Wynberg in 1881 afgestig het. Hoewel 'n groot getal bruin lidmate destyds verkies het om lidmate van die NG Kerk Wynberg te bly, het daar tog met die verloop van die jare vervreemding ingetree. Die twee sustergemeentes van Wynberg was gedurende die apartheidsjare 'n sprekende voorbeeld van die skeuring, agterdog en selfs vyandskap wat in die gemeenskap voorgekom het.

Hierdie situasie het vanaf 1991 begin verander. Die twee gemeentes het 'n proses van versoening aangepak. Dit was 'n moeilike en soms pynlike reis van saam bid, saam praat, saam bely en saam doen. Die Here het ons geseën: kerkraadslede van beide gemeentes het dikwels spontaan getuig dat hulle die greep van die Heilige Gees op ‘n heel besondere wyse beleef het tydens die vergaderings, eredienste, pinksterbidure en gesamentlike nagmaalvierings. Na tien jaar het die kerkrade van die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg in 2001 'n historiese besluit geneem om die proses in werking te stel dat die gemeentes sal verenig: ons het verloof geraak. Ons funksioneer in baie opsigte reeds as een gemeente.

Ons leraar, Dr Danie Nel, het as afgevaardigde die Algemene Sinode in 2002 versoek om dit vir ons moontlik te maak om die huwelik te voltrek. Die sinode het dit goedgedink om ons voorstelle te verwys na 'n beoogde konvent tussen die Algemene Sinodes van die NGK, die RCA, die NGKA en die VGKSA.

Die pers het berig dat die konvent oor kerkeenheid wat later vanjaar deur die NG Kerkfamilie gehou sou word, op 19 Junie 2003 onbepaald uitgestel is op 'n vergadering van die moderature van die vier kerke omdat die NGKA nie op sy algemene sinode in Mei 2003 wou toestem dat predikante van die VGKSA ook na die NGKA beroep kan word nie. Ons verneem die rede was dat die NGKA nie die legitimasie van die predikante van die VGKSA erken nie omdat hulle die Belydenis van Belhar onderteken het.

Die idee van 'n konvent binne die kerklike konteks in Suid-Afrika het sy ontstaan in Wynberg. Die proses van versoening tussen die NGK en die VGK gemeentes van Wynberg het gaandeweg na die onderskeie Ringe oorgevloei. In 1992 het die Ring van Wynberg van die NG Kerk en die Ring van Wynberg van die NG Sendingkerk besluit om 'n konvent as basis van samewerking te aanvaar. 'n Konvent is 'n byeenkoms waar afgevaardigdes buite die amptelike strukture vergader, verhoudings bou, en verbintenisse met mekaar aangaan wat nie deur kerkordelike bepalings afgedwing of afgekeur kan word nie, maar op gesag van hulle integriteit. Dit het onder andere daartoe gelei dat elke NGK kerkraad binne die Ring van Wynberg in 1998 aangedui het dat hulle die Belydenis van Belhar as deel van die verenigde kerk se belydenisgrondslag sal aanvaar.

Dit is daarom vir ons geheel en al onaanvaarbaar dat die amptelike leierskap van die kerke besluit het om die konvent op nasionale vlak onbepaald uit te stel oor 'n rede wat die konvent juis moet aanpak, en heel waarskynlik ook sinvol kan oplos. Hierdie ongelukkige gebeure bevraagteken die wysheid dat die moderature van die sinodes outomaties ook die leierskap van die konvent vorm.

Dit is ook vir ons onaanvaarbaar dat gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om te verenig, langer gyselaar gehou word deur wat lyk na 'n onbuigsame gesindheid in die kerk se leierskap oor 'n belydenis wat juis die eenheid van die kerk wil dien. Ons wil aan die moderature die geleentheid bied om te reageer. Ons versoek hulle daarom om duidelike antwoorde op die volgende vrae te gee:

1.         Wat is die moontlikheid dat die moderature van die NGK, die RCA en die NGKA hulle lidmate sal versoek om die Belydenis van Belhar te aanvaar? Tot dusver het nog net die Kerkbode 'n soortgelyke aanbeveling gemaak. Ons sal graag elke moderatuur se antwoord verneem.

2.         Hoe moet ons aan die lidmate van ons gemeente verduidelik dat dieselfde sinode van die NGK wat gesę het dat die Belydenis van Belhar met die Woord van God ooreenstem, nie kans sien om dit te aanvaar as hulle belydenis nie? Beteken dit dat die NGK nog nie so sterk voel dat 'n gebrek aan eenheid, versoening en geregtigheid onder Christene die geloofwaardigheid van die evangelie op die spel plaas nie, veral wanneer 'n kerk deur woord of daad leer dat dit reg of selfs Skriftuurlik is? Hierdie probleme kom steeds in ons land en in ons kerke voor. Die moontlikheid is baie sterk dat dit 'n probleem sal bly omdat ons 'n multi-kulturele samelewing het.  Wat hou die NGK terug? Daar is tog baie van hulle lidmate wat ook aan die ontvangkant van diskriminasie is.

3.         Hoe moet ons aan die jeug, wat hulle lewens vir Christus gegee het en Hom graag wil dien in 'n kerk wat alle gelowiges van ons gemeenskap verteenwoordig en deur alle mense in ons omgewing ernstig opgeneem word, verduidelik dat ons nie regtig een gemeente met ons aanverwante buurgemeente kan word nie omdat die afgevaardiges na die sinodes vir 'n belydenis terugdeins wat basies die volgende sę:

·         Daar is net een kerk en net een voorwaarde vir lidmaatskap (geloof in Jesus Christus).  Die mense rondom ons wat nie glo nie, moet kan sien dat die kerk een is.

·         Die kerk moet mense met mekaar versoen. Die kerk kan dit nie doen nie as hy leer dat dit reg is as witmense, swartmense en bruinmense apart moet leef en aparte kerke moet hę. As die kerk dit wel leer, dwaal die kerk omdat die Bybel ons anders leer.

·         Die Here vra die kerk om te protesteer as daar teen mense verkeerd opgetree word en om te staan teen onderdrukking in enige vorm.

4.         Die feit dat die ontstaan van die belydenisskrif direk verband hou met die teologiese regverdiging van apartheid deur die NGK in die verlede, maak, na ons oordeel, dit prinsipieël noodsaaklik dat ons alles in die stryd sal werp om dit wat in ooreenstemming met die Woord van God is, soos wat dit in die Belydenis van Belhar verwoord is, gesamentlik in die verenigde kerk te bely. Stem die moderatuur van die NGK saam?

5.         Is die moderatuur van die VGKSA bereid om in die bepalings van die kerkorde van die verenigde kerk voorsiening te maak vir mense wat probleme met sekere formulerings in die Belydenis van Belhar het?

6.         Ons lewe in 'n samelewing waar mense hulle nie meer laat voorskryf deur strukture van bo oor wat hulle moet glo en hoe hulle dit moet glo nie - veral wanneer hulle die indruk kry dat hulle geforseer word om dit volgens 'n bepaalde voorskrif te doen. Wanneer die ruimte egter aan sulke mense gebied word om geloofswaarhede toe te eien, lei dit tot beter resultate. In watter mate is die moderatuur van die VGKSA bereid om vir sulke mense in die belydenisgrondslag van die nuwe kerk voorsiening te maak? 

As die leierskap van die kerke nie erns maak met die dringende formulering van die belydenisgrondslag van die verenigde kerk nie, dan moet hulle nie verklarings en besluite bekend maak wat te kenne gee dat hulle haastig is om  die kerk te herenig nie.

Ons het nie probeer om stemme vir hierdie ope brief te werf om 'n nuwe drukgroep te vorm nie. Ons wil u egter versoek om ons nie om hierdie rede minder ernstig op te neem nie. Ons kan nie toelaat dat die roeping en getuienis van ons gemeente aan bande gelę word deur wat ons beleef as onbuigsaamheid en 'n gebrek aan kreatiewe leiding nie. 

Uitvoerende Bestuur van die Kerkraad: NG Kerk Wynberg

Voorsitter: Dr. D.T. Nel  (021 7977115 of 0827732364)

Goedgekeur op 18 Augustus 2003

 

Vir meer inligting kontak:

Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Durbanweg, Wynberg 7800
Tel:  021 7978340
FAX: 088 021 7971909
Internet: ngkwyn@iafrica.com

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10