NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Rapport 12/10/2008

 

Tuisblad
Terug

 

Kerke ‘skop politiek onder die jis’,

word een Gesamentlik in diens van Here

 Rapport, 12 Oktober 2008

Terwyl die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) op sinodevlak hare kloof oor eenwording, waardes en die Belydenis van Belhar, het twee gemeentes van dié kerke hulle die afgelope week in Wynberg, Kaapstad, kontraktueel verbind. 

 “Ja, daar was ’n huwelik; buite gemeenskap van goedere,” sê dr. Danie Nel, enigste predikant van dié gemeente wat vroeër die herder van die NG gemeente Wynberg was. Ds. James Buys van die VGK Wynberg, wat saam met Nel aan die eenwordingsproses hier gewerk het, het in Maart vanjaar selfmoord gepleeg.  

Nel het Vrydag bevestig die gemeentes is die eerste van dié twee kerke in die land wat regstegnies saamsmelt en voortaan as die Gesamentlike Gemeente van Wynberg bekend sal staan.  

Mev. Sylvia Maasdorp, kommunikasiebeampte, sê al die lidmate het op ’n gemeentevergadering besluit hulle is moeg vir die politiekery. “Ons skop die politiek onder die jis. Ons kry verskriklik seer oor die bakleiery. Ons hou kerk en aanbid die Here saam met mekaar. Ons hou ook saam basaar.” 

“Ons was nog meer gemotiveerd ná dit wat dié maand by die sinode gebeur het. “Toe skryf ons só aan die gemeente: ‘Goeie nuus! Die proses van eenheid tussen die Wynberg-gemeentes word nie geraak deur die probleme tussen die sinodes nie. Ons in Wynberg gaan ’n positiewe simbool wees.’ 

Nel sê “buite gemeenskap van goedere” beteken dat die gemeente alles saamdoen en saambestuur. “Ons kan net nie eiendomme saam besit nie, volgens die bepalings van die eiendomsreg. “Ons eenwording is eenparig deur die Wynbergse ring goedgekeur. Daar’s aan ons gesê dit wat die twee gemeentes wil doen, kan geakkommodeer word binne die huidige reglemente van die twee kerke.”  

Oor die Belhar-belydenis sê Nel: “Ons erken die belydenisskrifte van albei gemeentes, wat die Belydenis van Belhar insluit.”  

   Marlene Malan in Rapport, 12 Oktober 2008

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12