|
|
|
|
Bruin en wit kerke uiteen Rapport, 12 September 2010 MARLENE MALAN IN KAAPSTAD mmalan@rapport.co.za 'n Ander spiritualiteit en verskillende aanbiddingswyses. Verskillende sienings oor hoe bruin en wit, "wat met dwang bymekaargevoeg is", behoort te aanbid. En 'n reuse-probleem met die NG Kerk se "manier van doen". Dis van die redes wat die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Wynberg aanvoer oor waarom hy nou alle kommunikasie met sy jare lange kerkmaat, die NG gemeente Wynberg, opgeskort het. So beslissend het hul pad van kerkhereniging doodgeloop dat die twee gemeentes - wat as die Gesamentlike Gemeente Wynberg bekend gestaan het - nie meer mekaar se eredienste bywoon nie en geen bidure, Sondagskool of enige ander kerkaktiwiteite saam aanbied nie. Die gemeentes is sedert 1991 voorgehou as 'n voorbeeld van samesmelting op grondvlak, terwyl nog die NG Kerk nog die VGK op sinodevlak enige vordering met kerkeenheid maak. Die onmin in Wynberg het egter hoop op die eenwording van die NG Kerk en VGK heeltemal laat vervaag. Die afgelope week het die VGK-moderatuur en die Wynbergse VGK-ring finaal 'n stokkie voor enige eenheidspogings gesteek. Hulle sę voordat die samesmelting van wit en bruin gemeentes op leiersvlak goedgekeur is, is dit op gemeentevlak heeltemal buite die kwessie. "Ons is nie teen kerkeenheid gekant nie. Ons het 'n probleem met die NG Kerk se manier van doen. Hulle wil dit op hul manier doen en volg hul eie pad. Hulle neem ons nie in ag nie," sę ds. Sarel Christians van die Wynbergse ring. Hy beskuldig die leraar van die NG kerk Wynberg, ds. Danie Nel, daarvan dat hy die NG Kerk se reglemente op die VGK "wil afdwing”. Volgens ds. Winston Samuels van die VGK Wynberg steun hy sy ring en moderatuur heelhartig. "Die NG Kerk en VGK se spiritualiteit en aanbiddingswyse verskil van mekaar. Kerkhereniging lę op 'n sinodale vlak, nie op gemeentevlak nie. In Wynberg wil ons mense met verskillende spiritualiteite en gewoontes met dwang bymekaarvoeg. Ons bet dit al baie keer gestel dat ons nie weet hoekom die NG Kerk so haastig is met die uiters ingewikkelde proses nie. Die NG Kerk sukkel nou al byna 100 jaar om een te word met die Hervonnde Kerk. Wat ons in Wynberg aan die węreld wou wys, is dat ons net Sondae saamkuier en dis al. Ons hou nie eens bidure saam nie. Die fynere puntjies rondom hierdie gemeentelike eenheid is nooit uitgewerk nie. Die NG kerk Wynberg sit met 'n model vir kerkhereniging wat in Nederland gaan haaI is. Ons situasie in Afrika en in die besonder in Suid-Afrika was totaaI anders as enige Europese opset." Ds. Danie Nel van die NG kerk Wynberg wat die eenheidsproses gelei het, sę in ’n inligtingstuk dat hul kerkraad sedert 1991 'n goeie verhouding met die VGKSA opgebou het. "Ons het vriendskappe sien ontstaan, mense het mekaar tydens siekte en dood ondersteun en daar het 'n samesyn ontstaan wat ongekend in die kerkgeskiedenis van ons land is.” "Die onvermoë van die VGKSA se kerkraad om die samewerkingsooreenkoms goed te keur het 'n negatiewe uitwerkin op NG lidmate gehad. “ "Hoewel ons hard probeer het, het ons kennelik nie aan die verwagtinge van die VGK voldoen nie." Nel erken ook dat die NG lidmate se bywoning van eredienste in die VGK-kerkgebou "beslis beter kon gewees het".
Kommentaar op artikel: Artikel: “So beslissend het hul pad van kerkhereniging doodgeloop dat die twee gemeentes - wat as die Gesamentlike Gemeente Wynberg bekendgestaan het - nie meer mekaar se eredienste bywoon nie en geen bidure, Sondagskool of enige ander kerkaktiwiteite saam aanbied nie.” Reaksie: Die gesamentlike gebedsgroep van die gemeente vergader steeds elke Dinsdagaand in die pastorie van die NG Kerk. Die gesamentlike orkes funskioneer steeds saam. Die NGK se dienste word steeds deur verskeie VGKSA lede besoek. Artikel: "Ons is nie teen kerkeenheid gekant nie. Ons het 'n probleem met die NG Kerk se manier van doen. Hulle wil dit op hul manier doen en volg hul eie pad. Hulle neem ons nie in ag nie," sę ds. Sarel Christians van die Wynbergse ring. Reaksie: Die VGSA se Ring van Wynberg is op 13 April 2008 tydens ’n gesamentlike gemeentekonferensie by wyse van ’n getekende versoekskrif deur die lidmate en kerkraadslede versoek "om die gemeente behulpsaam te wees in 'n versoek aan die Sinode om in die kerkorde voorsiening te maak vir volledige hereniging van gemeentes, as 'n interim maatreël tot tyd en wyl hereniging op nasionale vlak 'n werklikheid word.” Die Ring is ook versoek om, “sou daar kerkregtelike probleme blyk te wees met die samewerkingsooreekoms, die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings sodat die gemeente sy doelwit kan verwesenlik.” Volgens die afgevaardigdes van Wynberg is die getekende versoekskrif van die lidmate en kerkraadslede van Wynberg nie behandel toe die gekonstitueerde VGKSA Ring van Wynberg op 22 April 2008 die kerkraad se samewerkingsooreenkoms “herroep” het aangesien dit volgens hulle nie betrekking mag hę op nagmaal, doop, en die bevestiging van kerkraadslede en lidmate nie. Die beslissing is geneem sonder om die versoekskrif te lees en sonder om ag te slaan op die getekende uitnodiging van die lidmate aan die Ring om met hulle in gesprek oor die saak te tree. Die NGK lede van die konvent van Wynberg se uitvoerende komitee het voorgestel dat die Konvent van Wynberg op 19 Augustus 2008 die nuwe ooreenkoms van samewerking tussen die Wynberg gemeentes in behandeling neem. Dit sou aan die NGK en die VGKSA se Ringe van Wynberg die geleentheid bied om die ooreenkoms saam te beoordeel. Die predikante van die VGKSA Ring het die voorstel van die hand gewys. Hulle het op 6 Augustus 2008 aangedui dat hulle dit oorweeg om die konvent op te skort. Die konventvergadering van 19 Augustus 2008 is vervolgens op hul versoek gekanselleer. Die VGKSA Ring van Wynberg het op 18 September 2008 besluit om die konvent tydelik op te skort. Die Ring van Wynberg van die VGKSA het ook nie die nuwe ooreenkoms van samewerking wat by die gewone vergadering van die Ring op 18 September 2008 ingedien is in behandeling geneem nie. Die Ringskommissie van VGKSA Wynberg het nie gereageer op die uitnodiging aan die VGKSA ringspredikante om die konferensie oor samewerkingsmodelle op 5 November 2008 by te woon nie. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het ingestem om die Protestantse Kerk in Nederland se eenheidsproses en samewerkingsmodelle tydens ’n konferensie te bespreek wat op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg in samewerking met Communitas (Universteit Stellenbosch) aangebied was. Lidmate, kerkraadslede, predikante en kerkleiers was uitgenooi om dit by te woon. VGKSA predikante van so ver as George was teenwoordig. Die predikante van die VGKSA Ring van Wynberg was afwesig. Die actuarii van die NGK en VGKSA se streeksinodes het op 7 Maart 2009 ’n versoek aan die NGK leraar van Wynberg en aan die konsulent van die VGKSA Wynberg gerig tot ‘n gesamentlike fasiliteringsgesprek met onderskeidelik die kerkrade van die NGK/VGKSA en die Ringskommissies van die NGK/VGKSA. Die doel van die gesprek was volgens die skrywe van Ds. Theron “om ’n proses vorentoe vir die samewerkingsooreenkoms tussen VGK Wynberg en NGK Wynberg te bepaal”. Die geleentheid het op 15 April 2009 plaasvind. Die VGKSA verteenwoordigers het nie opgedaag nie. Die VGKSA Ringskommissie het volgens Dr. Plaatjies geweier om goedkeuring vir afsonderlike en gesamentlike gesprekke te gee. Artikel: Ds. Christians beskuldig die leraar van die NG kerk Wynberg, ds. Danie Nel, daarvan dat hy die NG Kerk se reglemente op die VGK "wil afdwing”. Reaksie: Ons het Reglement 6.5 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk as kerkordelike uitgangspunt vir die ooreenkoms gebruik. Ek verstaan Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het dieselfde bewoording. Die bewering oor dwang word nie gestaaf nie. Artikel: Volgens ds. Winston Samuels van die VGK Wynberg steun hy sy ring en moderatuur heelhartig. "Die NG Kerk en VGK se spiritualiteit en aanbiddingswyse verskil van mekaar. Kerkhereniging lę op 'n sinodale vlak, nie op gemeentevlak nie. In Wynberg wil ons mense met verskillende spiritualiteite en gewoontes met dwang bymekaarvoeg.” Reaksie: Die versoek tot die eerste gemeentekonferensie op 13 April 2008 en die voorstel dat die gemeentes moet herenig, het van VGKSA lidmate gekom. Die lidmate het eenparig daarvoor gestem. Die lidmate het weer feitelik eenparig (slegs 2 VGKSA lidmate het daarteen gestem) op 1 Junie 2008 vir hereniging in 'n gesamentlike gemeente gekies. Hulle het daarteen gestem om slegs die huidige samewerking voort te sit. Die verklaring van voorneme waartoe die lidmate van beide gemeentes op 1 Junie 2008 ingestem het en wat op 3 Junie 2008 deur die gesamentlike kerkraad eenparig goedgekeur is, verklaar: “Ons glo dat die Here ons nou daartoe roep – ons kan nie anders nie”. Die samewerkingsooreenkoms was daarna op 31 Augustus 2008 tydens ’n gemeentekonferensie bespreek. Die konsulent (die ringspredikant wat amptelik tydens 'n vakature waarneem) van die VGKSA Wynberg, Ds Corrie Klazen, was by hierdie geleentheid teenwoordig. Die lidmate het aangedui dat die kerkrade met die ooreenkoms kon voortgaan. Die gesamentlike kerkraad het op 2 September 2008 die ooreenkoms eenparig goedgekeur en besluit dat die ooreenkoms na die ringe vir oorweging en goedkeuring gestuur word. Die “verskillende spiritualiteite en gewoontes” het nie tydens kerkraadsvergaderings aan die orde gekom nie. Dit sou interessant wees om te hoor hoe die VGKSA kerkraad op hul leraar se standpunt reageer. Artikel: “Ons bet dit al baie keer gestel dat ons nie weet hoekom die NG Kerk so haastig is met die uiters ingewikkelde proses nie.” Reaksie: Die lidmate het tydens die gemeentekonferensie van 1 Junie 2008 in die verklaring van voorneme versoek dat die gemeentes teen 1 Januarie 2009 ’n gesamentlike gemeente moet wees. Artikel: “Wat ons in Wynberg aan die wereld wou wys, is dat ons net Sondae saamkuier en dis al. Ons hou nie eens bidure saam nie.” Reaksie: Die gesamentlike gebedsgroep van die gemeente vergader steeds elke Dinsdagaand in die pastorie van die NG Kerk. Hulle het al gebedsmarse, gebedsdeurnagte en verskeie spesiale gebedsgeleenthede vir siekes en mense in beproewing gereël. Die gemeentes het ook sedert 1992 die pinksterbidure saamgehou. Kerkraadskommissies het sedert 2002 begin saam funksioneer. Vanaf 2007 is die volledige bediening van beide gemeentes geďntegreerd. Die sondagskool funksioneer reeds 5 jaar saam. Die gemeentes het 2 gesamentlike gemeentekampe en 1 gesamentlike kerkraadskamp gehou. Artikel: “Die fynere puntjies rondom hierdie gemeentelike eenheid is nooit uitgewerk nie.” Reaksie: Die samewerkingsooreenkoms word in 12 bladsye uiteengesit. Dit het betrekking op al die werksaamhede van die gemeentes. Die kerkrade se gesamentlike reëling ten opsigte van die verkiesing van ampsdraers, die samestelling, arbeidsveld en werkswyse van die gesamentlike kerkraad en die versorging van die totale vermoënsregtelike aangeleenthede is ook daarby ingesluit. Artikel: “Die NG kerk Wynberg sit met 'n model vir kerkhereniging wat in Nederland gaan haaI is. Ons situasie in Afrika en in die besonder in Suid-Afrika was totaaI anders as enige Europese opset.” Reaksie: Die kerkraad het moeite gedoen om vier onafhanklike regsopinies te verkry om die model aan te pas vir die huidige konteks. Die kerkraad het geen konstruktiewe samewerking van die streeksinodes se regskommissies verkry nie, al was hulle herhaaldelik daartoe versoek. Ons hoor graag voorbeelde ter stawing van Ds. Samuels se bewering aangesien dit die model nog verder kan verbeter.
|
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|