NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Rapport 24/06/2007

 

Tuisblad
Terug

 

Saam ná 126 jaar

Rapport, 24 Junie 2007 

Geleerde preke en kerklike verklarings het weinig impak op die wonde van 'n verskeurde gemeenskap uit die verlede. 

Só het di. Danie Nel en James Buys, onderskeidelik van die hedendaagse NG Kerk en VG Kerk Wynberg uitgevind. Die twee leraars lei hul gemeentes in versoening en hernieude samesmelting 126 jaar nadat hulle eertydse wit en bruin gemeentelede van mekaar geskei is. 

"Versoening is nie 'n bestemming nie, maar 'n reis," glimlag Nel en Buys instemmend vir mekaar.  

Wynberg se NGK en VGK is sodoende sedert 1991 'n lewende, ervaring-gebaseerde model hiervan. Albei leraars meen dat op sinodale vlak word pogings tot versoening dikwels deur onderwerpgedrewe debatte gekniehalter. 

In 1829, toe die NG Kerk Wynberg van die Groote Kerk afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is dié gemeente voorgehou as 'n voorbeeld van waar wit en bruin in harmonie hul godsdiens beoefen.  

in 1881 het gedwonge vervreemding tussen wit en bruin gemeentelede ingetree met die afstigting van die NG Sendingkerk. En heelwat later het die Groepsgebiedewet gelowige bruin mense se lewens, geloof en vriendskappe in puin gelê. 

"Dit is hoekom ons wil sien dat mense mekaar op emosionele vlak mekaar leer ken deur gesamentelike doelwitte te hê," sê Buys. 

In 2001 het die NG Kerk sy begeerte om weer met die VGK te herenig, aan hulle bekend gemaak. Met die aanhoor hiervan, was die afgevaardiges van die VGK tydens 'n gesamentelike ekumeniese kommissie, "stomverbaas" en almal teenwoordig ontroer. 'n Toekoms saam het begin gestalte neem. 

Versoening, meen Nel, is ‘n "gawe wat geleidelik langs 'n volgehoue pad van gebedsafhanklikheid, liefde en blootstelling aan mekaar, gebore word." 

Deesdae funksioneer dié twee gemeentes alhoemeer saam, met gereelde kanselruiling, gesamentelike dienste, bidure, kerkraadsvergaderings en -kommissies, gemeenskapsuitreikings en junior kategese. Hulle het ook 40 dae opsy gesit om saam oor kwelvrae te besin. 

ANOESCHKA VON MECK

Senior Verslaggewer Rapport Kaapstad

Senior Journalist Rapport Cape Town

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12