|
|
|
|
KONVENT VAN WYNBERG: REGLEMENT
1. BELYDENISGRONDSLAG 1.1 Die konvent staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die konvent in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die algemene belydenisskrifte, naamlik die Twaalf Artikels en die belydenisskrifte van Nicèa en Athanasius, asook die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls, asook in die Belydenis van Belhar. 1.2 Die konvent aanvaar dat die taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie. In die toekoms mag veranderende omstandighede en 'n beter verstaan van die Woord van God lei tot die aanvaarding van verdere belydenisskrifte, of die wysiging van bestaande belydenisskrifte. 1.3 Indien lidmate 'n beswaar of enige ander insig omtrent hierdie leer het of sou kry, moet hulle dit aan die kerkraad, ring en sinode openbaar sodat daar op ‘n verantwoordelike wyse met mekaar in gesprek getree kan word. Lidmate kry hierdeur die geleentheid om aan te dui waar ‘n belydenis nie met die Woord ooreenstem nie. 2. KENNISGEWING, BYEENROEPING EN KONSTITUERING By die kennisgewing, byeenroeping en konstituering van die konvent word gehandel volgens die kerkorde, bepalings en reglemente van die onderskeie kerke soos van toepassing op ’n Ringsvergadering. 3. AMPSDRAERS 3.1 Die konvent word deur ’n uitvoerende komitee (UK) bestaande uit ’n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en een addisionele lid bedien. 3.2 Hierdie ampsdraers word jaarliks by die laaste vergadering van die konvent verkies. 4. VERGADERINGSPROSEDURE Die vergaderingsprosedure word gereël volgens die reglement van orde van die kerk waarvan die voorsitter ’n verteenwoordiger is. Indien daar ’n verskil van mening is, beslis die vergadering. 5. BESLUITNEMINGSPROSES Sover moontlik word besluite deur konsensus in gesamentlike gehoorsaamheid aan die Bybelse boodskap geneem. Indien daar geen konsensus oor ’n bepaalde saak bereik kan word nie, word die saak na die onderskeie ringe en indien nodig kerkrade verwys vir verdere soeke na die wil van God met terugrapport aan die konvent. 6. BINDENDE KRAG VAN BESLUITE Besluite van die konvent moet afsonderlik deur elke ring bekragtig word alvorens dit bindend op die betrokke ringe en gemeentes is. 7. SAKELYS Die sakelys van die konvent sal normaalweg die volgende sake insluit: 7.1 Die saak van kerkeenheid en die bevordering daarvan. 7.2 Die skakeling en praktiese samewerking tussen gemeentes onderling en die behandeling van verslae uit die gemeentes in verband met skakeling en samewerking. 7.3 Belewing van die eenheid in die familie van Nederduitse Gereformeerde Kerke in die gebied. 7.4 Die skakeling met ander Gereformeerde kerke in die gebied en die bevordering van kerklike samewerking met daardie kerke. 7.5 Alle sake wat deur die betrokke ringe en kerkrade verwys word. 7.6 Sake van algemene belang wat deur die afgevaardigdes op die agenda geplaas word.
8. VERGADERINGS 8.1 Die konvent vergader ten minste 2 maal per jaar. 8.2 Buitengewone vergaderings kan deur die UK van die konvent of op aanvraag van een van die Ringskommissies belê word. 8.3 Die plek en tyd van die vergaderings word deur die UK bepaal. 9. ADMINISTRASIE 9.1 Die administrasie van die konvent word aan die UK toevertrou met verslag aan die konvent. 9.2 Administratiewe koste word deur die onderskeie ringe gedra. 10. KOMMISSIES 10.1 Dit staan die konvent vry om kommissies aan te wys wat hom met die sinvolle afhandeling van sake op die sakelys kan dien. Normaalweg voer die aangewese kommissies die opdragte van die konvent uit en doen verslag aan die vergadering van die konvent. In gevalle van dringende aard kan so ’n kommissie van die konvent verslae en aanbevelings aan kerkrade voorlê. 10.2 Die konvent bepaal elke keer ad hoc hoe die kommissies saamgestel word. 11. UITSPRAKE EN VERSLAG 11.1 Na elke vergadering van die konvent word verslag aan die onderskeie ringe en kerkrade via die ringskribas gedoen. 11.2 Dit staan die konvent vry om van tyd tot tyd uitsprake te maak. Sodanige uitsprake behoort altyd met die beginselverklaring van die konvent ooreen te stem en moet voor die onderskeie ringe en kerkrade verantwoord kan word. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|