|
|
|
|
Ek kan my vanuit 'n kerkregtelike perspektief kwalik ‘n moeiliker uitdaging voorstel as die een wat aan die twee gemeentes se deur kom klop het. Dit het begin toe die gesamentlike kerkraadsvergadering van die NGK en VGK Wynberg op 24 Julie 2007 eenparig besluit het dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste saam gaan hou. Hierdie besluit is geneem nadat die kerkrade met groot dankbaarheid kennis geneem het van die besondere seën wat tydens die gesamentlike 40 dae van doelgerigte fokus in ervaar is. Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere opmerkings soos die volgende gemaak: “Ons moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra, sonder om oor ons skouers te loer, al sou dit ‘n prys van ons vra. Ons glo dat die Here ons seën om ‘n helder lig te laat skyn!” Op 1 Junie 2008 het die lidmate tydens ’n gesamentlike gemeentekonferensie drie verskillende moontlikhede oor samewerking en vereniging bespreek. Die lidmate wat teenwoordig was, het verkies dat die NG Kerk en VG Kerk Wynberg in ’n nuwe gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap (slegs 2 lidmate het ’n ander opsie verkies). Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring: “Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm. Lidmate tree toe tot die nuwe gemeente met behoud van hulle lidmaatskap aan die NG Kerk of die VG Kerk. Die gemeente word gevestig met die bedoeling om verbonde aan die NG Kerk en die VG Kerk te bly.” Dit was ‘n baie moeilike opdrag wat aanvanklik onuitvoerbaar gelyk het. Hoe kon ons een gemeente vorm en steeds verbonde aan twee verskillende kerkverbande bly? Ons het die moderature van die sinodes versoek om te help. Hulle het ons gevra om met voorstelle na die regskommissies te kom. Hulle het ook nie geweet hoe dit moontlik kon wees nie. Die verdere verloop het aanvanklik soos 'n sprokie geklink. Die kerkrade het na 'n proses waarin die lidmate geken is op 2 September 2008 ’n ooreenkoms eenparig goedgekeur wat die gemeentes in staat sou stel om as een gemeente te funksioneer. Ons het in hierdie opsig baie geleer by ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer Hervormde, Gereformeerde en Lutherse gemeentes saamwerk om te verenig. Hiervolgens word daar eers ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm waarin daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Alles word saam bestuur. Die gemeentes kan net nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle nog twee aparte regspersone bly. Sou die sinodes verenig, kon die gemeentes verder gaan om een regspersoon te word. Ons het die model vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het die model tydens ’n konferensie bespreek wat op 5 en 6 November 2008 by die NG Kerk Wynberg aangebied was. Die Nederlandse model is verwerk om aan die reglemente van die NGK en die VGKSA te voldoen. Die verset teen die proses het egter toegeneem. Ons het bewus geraak dat die besware van die VGKSA se Ring van Wynberg teen die gemeentes se herenigingsproses ’n groter wordende impak op kerkraadslede en lidmate begin maak het. Voorts het die standpunt van die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, Dr. M.A. Plaatjies, dat die gemeentes se samewerkingsooreenkoms “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”, sommige lidmate onseker en onveilig laat voel. Die lidmate wonder of dit wat die gemeentes probeer doen, moontlik kan lei tot onaangename regsprobleme wat verhoudings kan versuur. Dr. M.A. Plaatjies en Ds. Hannes Theron (actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode) se vereiste dat die gemeentes hul afsonderlike selfstandigheid moet behou deur byvoorbeeld ook afsonderlike eredienste aan te bied, impliseer dat ons volgens hulle alreeds aan die verkeerde kant van die kerkorde is. Hoewel ons geen gronde vir hul uitspraak in die kerkordelike reglemente kon vind nie – en aangedui het dat twee prokureurs sowel as twee professore in die kerkreg ons ooreenkoms as aanvaarbaar beoordeel het – is hul standpunt aan die VGKSA kerkraad en die VGKSA Ring van Wynberg gekommunikeer as die amptelike standpunt van die sinodale regskommissies. Dit mag een van die redes wees waarom die VGKSA kerkraad sedert 13 November 2008 nog nie daartoe kon kom om die gewysigde samewerkingsooreenkoms goed te keur of selfs te bespreek nie. Ds. Hannes Theron het op 9 Maart 2009 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode 'n dokument aan die regskommissies voorgelê met die volgende titel: "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk)”. Die standpunt oor Wynberg se gesamentlike dienste is soos volg geformuleer: “1.1 die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente; Dit kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.” “Hieruit blyk dat slegs gesamentlike eredienste beoog word. Ek het hierbo reeds ‘n opmerking gemaak oor die noodsaaklikheid vir die gemeente van 'n eie erediens gesien die feit dat woordverkondiging deel is van die tug. Terwyl daar twee afsonderlike gemeentes is bestaan daar na my oordeel ‘n behoefte aan 'n eie erediens wat ook duidelik word wanneer die taak van die herder en leraar in sy geheel gesien word (dis afgesien van die voorsitterskappe van elke denkbare liggaam op die dorp!): Die leraar het die plig om huisbesoek te doen. Tydens die huisbesoek word hy van die behoeftes van sy gemeente bewus en die erediens is die geleentheid waar sommige van daardie behoeftes aandag moet kry. Die gerneente verloor iets van sy intieme karakter as sy nie gereeld as gemeente in die erediens byeenkom nie.” Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy die dokument saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Volgens Ds. Sarel Christians, 'n leraar van die VGKSA Ring, het die actuarius van die VGKSA die dokument met die kerkraad van die VGKSA Wynberg en met die VGKSA ringsleraars behandel. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is. Die NGK kerkraad van Wynberg het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan die leraar van die NGK Wynberg oorhandig het. Die Uitvoerende Bestuur van die kerkraad het onmiddelik aksie geneem deur ’n versoek ter verduideliking aan Ds. Hannes Theron te rig. Op grond van sy antwoord het die Uitvoerende Bestuur in ’n brief gedateer 21 Februarie 2010 hul op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) beroep en ’n dringende versoek aan die regskommissies gerig. Dit is na verloop van vyf maande nog nie beantwoord nie. Die regskommissies se dokument het sedertdien tot twee belangrike besluite van die VGKSA kerkraad op 8 April 2010 bygedra:
Hoewel die NGK kerkraad van Wynberg hul op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) beroep en ’n dringende versoek aan die regskommissies gerig het, het die kerkraad tot op datum nog geen antwoord ontvang nie. Prof Dirkie Smit het op 29 September 2010 'n toespraak oor die betekenis van die Belhar-belydenis ten opsigte van kerkeenheid by die VGKSA se Kaaplandse Streeksinode gelewer. Hy het die volgende opmerking gemaak: Confessions are not to be exhibited like museum pieces. They are not something to boast of, as if we are better than others. They are not weapons to be used against others. They are there to be lived, embodied. If we truly confess that Christ calls us to strive for living unity, reconciliation and justice, then this confession must weigh more heavily for us than everything that contradicts it – even governments, authorities, ordinances by people, prescriptions, rules, decisions, commands, meetings, church orders and particularly the unwillingness and inertia of our own hearts. When believers confess, this confession trumps all other claims and loyalties, even the desires, prejudices and excuses in their own hearts. They are like people struck on the mouth, they did not choose the moment or their own viewpoints, they can do nothing else – in the description of Karl Barth, words quoted in the this building 28 years ago, words that deeply moved our fathers and mothers. Whenever someone would attempt to hinder us in this confession, we follow Jesus the Lord. Prof. Smit het volgens Dr. Johan Botha 'n staande ovasie ontvang. Dit lyk of Wynberg se beroep op die belydenisgrondslag uiteindelik gehoor is. U kan op die skakels aan die linkerkant kliek vir meer besonderhede oor die verloop, die ooreenkoms, 'n oorsig van die probleme, die standpunt van die actuarii van die streeksinodes se regskommissies, 'n beoordeling van hul standpunt, 'n analise van die gebeure en 'n bespreking van die redes wat tot die opskorting van die samwerking aanleiding gegee het. Danie Nel, 19 Augustus 2010 |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|