|
|
|
|
Dankie aan Opruim-Jesus Saves-spanne’n JAPANESE gesegde sê dat as jy iemand ’n vis gee, hy vir een dag sal eet, maar as jy hom leer visvang, hy ’n leeftyd lank kan eet. Dit is die doelwit van Straatwerk se Ophelp-projekte. In 2003 het hierdie bedieningsgroep met die Kontant-in-hand-projek begin waarby straatmense die kans kon kry om kontant te verdien vir ’n eerlike dag se werk. Spanne werk daagliks in voorafbepaalde dele van Kaapstad waar hulle rommel, vuilgoed en graffiti verwyder. In 2005 het AdMakers International, ’n Suid-Afrikaanse advertensie-agentskap, deel geword van dié inisiatief deur middel van borge wat die Suid-Afrikaanse regering se subsidies oorskry. Die projek is hernoem as Projek Opruim-Jesus Saves en wat begin het met ’n handjievol mense in 2003 is nou ’n stewige onderneming wat daagliks werk verskaf aan meer as 200 straatmense. Gebiede soos Buitengracht, St. George’s Mall en die Parade word op ’n heeltydse basis skoongehou deur die AdMakers-borge. Onlangs het die gemeenskapshof besluit dat die Projek Opruim-Jesus Saves-spanne ’n ideale alternatief kan wees as vonnis vir lae-graad-oortreders. AdMakers het die afgelope Donderdag aan al die straatwerkers ’n lekker middagete gegee as dankie vir hul harde werk. Enige ondernemings wat daarin belang stel om betrokke te raak met donasies, kan 021 448 7074 skakel. Gepubliseer in Die Burger, 2006/12/10 "Arbeids-evangelisasie"Op ‘n oggend (wat driemaal per week gebeur) by Projek OPRUIM, waar ons skofte werk uitdeel, sit daar tot tagtig gretige werkers, want daar is geld te verdien uit harde werk (by die R150 000 wat in skoflone per maand uitbetaal word, is nie te versmaai nie!). Ons beklemtoon die saak van harde werk. Ons verwag van ‘n skof werkers om so te werk dat geen ander span die taak beter sou kon doen nie. Baie van die mense wat op so ‘n oggend daar sit, is nog of was diewe. (Hulle is nog oppad om agter te kom wat sin maak in die lewe). Op so ‘n oggend kon ons die afkondiging maak: “Die nuwe verbeteringsdistrik bestuurder het laat weet dat hy ons spanne dogehou het wat die hoeke op straat skoonmaak waar mense geürineer en gedefekeer het. Hy is baie beïndruk met die deeglike manier waarop hulle te werk gaan. (ons kry meermale sulke komplimente) Julle het ons naam hoog gehou!” Nou mense, maak dit ‘n mens nie bly om te weet dat ons ander mense beïndruk deur ons harde werk nie? Dit is tog die moeite werd! Kan ‘n mens sulke vreugde ervaar as jy iets steel? Wat ander daardeur ervaar en wat hulle daarvan dink kan jou mos nie bly maak nie. En dan sing die lied “What a mighty God we serve … His name is Jesus … He is the King.” En die lied “Jesus saves, Jesus saves …” Die tema “Jesus Saves” is onder ons ingedra deur Admakers International, ‘n maatskappy wat baie van hulle wins aanwend om die Naam van Jesus en Sy boodskap, soos ‘n aangename geur, prominent in die gemeenskap te maak. Het u dalk al sulke volblad advertensies in die koerant gesien, of ‘n banier langs die pad of op die lughawe? Hulle het van ons spanne op straat gewaar en besluit om Projek OPRUIM te borg met bibs/jakkies vir die werkers waarop “Jesus Saves” helder en duidelik gedruk is? Ook met kontant vir die Projek om meer werkers op straat te sit om die gemeenskap met opruimwerk te dien. Daar is ook nog persone wat deur die gemeenskapshof gevonnis word om gemeenskapsdiens saam met Projek OPRUIM se spanne te doen. Nou is daar daagliks oral in Kaapstad se sentrale gebied sulke werkers besig om te dien met die Naam van die Here Jesus voorop. Wat vir ons wonderlik is, is dat Projek OPRUIM grootliks ekonomies selfversorgend is, want ons lewer dienste aan die stad en besighede op besigheidsbeginsels, maar met nog “indiensneembare” persone van die straat af, wat deur deelname die bogenoemde rehabilitasie ervaar. Ons kan u verseker, dit is net die seën van die Here wat dit moontlik maak. En dit bly ons verbintenis: dit moet ekonomies sin maak. Ons moet van niemand afhanklik wees nie. Die borgskap van Admakers International sowel as ander borge, maak dit egter moontlik dat, soos met die brode en vissies in die hande van die Here Jesus, dit wat ons doen, merkwaardig groter en helderder kan wees. Ja, ons dien ‘n lewende Here wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Ons vra u om die Here Jesus te loof en prys vir wat Hy is en doen. Ons vra u ook om vir Admakers International en hulle “Jesus Saves” inisiatiewe te bid. Vir baie is dit ‘n aangename geur wat lewe wek, maar daar is diegene vir wie dit ‘n doodsgeur is en wie dan dinge vir Admakers International moeilik maak. Admakers het u gebedsondersteuning nodig. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|