NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Totstandkoming

 

Tuisblad
Terug

 

2  DIE TOTSTANDKOMING VAN DIE ALPHA-KURSUS

[Kommissie se weergawe]

Binne die denkkader soos hierbo uiteengesit, het die Alpha-kursus sy geboorte-uur beleef. Die wortels waaruit die Alpha-kursus groei, is dus verdag. As 'n rivier by sy oorsprong besoedel raak, is die hele rivier kort voor lank besoedel. 'n Boom word aan sy vrugte geken (cf. Matt 7.18).

[Wynberg se kommentaar] Ons wonder wat Holy Trinity Brompton oor bogenoemde stelling sou sê. Dit word nie gestaaf nie. Mens sou volgens hierdie redenasie ook kon sê: "Binne die denkkader van apartheid het die teologiese fakulteit van die UOVS sy geboorte-uur beleef. Die wortels waaruit die teologiese fakulteit groei, is dus verdag. As 'n rivier by sy oorsprong besoedel raak, is die hele rivier kort voor lank besoedel. 'n Boom word aan sy vrugte geken (cf. Matt 7.18)."

Die kommissie volg hier dieselfde redenasie wat ons in een sekondêre bron kon opspoor. Fitton (1998) het sy weergawe soos volg geformuleer in sy verdoemende artikel oor die Alpha kursus: "Whenever a movement or doctrine is examined it is always important to trace it back to its roots. The Lord Jesus Christ declared in Matthew 7:18 - "A good tree cannot bring forth evil fruit, neither can a corrupt tree bring forth good fruit." Similarly we can say that if a stream is contaminated at its source then the pollutant will be in the river and all who come into contact with that river run the risk of being contaminated."

[Kommissie se weergawe]

Dié kursus is vir die eerste keer in 1977 deur die Holy Trinity Brompton as opleiding vir nuwe lidmate aangebied. Dit moes as inleiding tot die Christelike geloof dien. Die weg waarlangs dit geskied, is by wyse van videovertonings, kleingroepbesprekings en 'n spesiale wegbreeknaweek. Tot in die laat tagtigerjare was daar nie noemenswaardige belangstelling in dié kursus nie.  Sedert 1991 het Nicky Gumbel dit begin aanbied en veral vanaf 1994 'n aardskuddende effek op die breër kerklike terrein begin uitoefen - met wyd uiteenlopende reaksies uit kerklike kringe: positief en negatief. Sedert 1994 het die Holy Trinity Brompton die teelaarde van die Toronto-ervaringe in Brittanje geword. Spoedig het dit sy invloed in die hele Verenigde Koninkryk asook tot in Pensacola, Florida in die VSA, volledig laat geld. In 1994 is 750 kursusse aangebied wat deur 30 000 mense bygewoon is.  In 1995 is 2500 kursusse aangebied wat deur 100 000 mense bygewoon is.

[Wynberg se kommentaar] Dit is waar dat Gumbel en lede van Holy Trinity Brompton se personeel 'n ervaring gehad het wat in sekere opsigte met die Toronto ervaring ooreengestem het, maar in ander opsigte weer grootliks daarvan verskil het. Alle verwysings hierna is uit die tweede reeks videos weggelaat omdat dit hul verklaarde standpunt is dat ervarings nie nagejaag moet word nie. Vergelyk die aanhaling uit video 10 (How can I be filled with the Holy Spirit?) by punt 3.5 in hierdie verband.  

Een van die redes waarom skeptiese persone makliker met die Alpha kursus kan identifiseer, is juis die ontvanklikheid vir kritiek. Dit kom na vore in die volgende aanhaling: "In saying that we believe Alpha is a work of God I am not for a moment suggesting that it is perfect. I'm sure that it is greatly marred by human error and frailty. There is much room for improvement and we try to listen carefully to constructive criticism. Nor do we believe that it is the only method of evangelism that God is blessing: far from it. Nevertheless, all the signs point to it being an extraordinary work of God and we are deeply grateful" (Gumbel 1996:18).

[Kommissie se weergawe: volgende 2 paragrawe]

Derduisende mense is sedertdien hoogs beïndruk met die Alpha-kursus. Die kursus het sy aanhangers wêreldwyd in verskeie kontinente. Dit is opvallend toeganklik ook vir die jeug en kan klaarblyklik sonder veel moeite in gevangenisse, skole en werkplekke aangebied word. Dit wil dus voorkom asof die Alpha-kursus gekom het om te bly. Talle mense getuig daarvan dat dié kursus hulle gehelp het om God se wil beter te verstaan en hoe om daarop te reageer. En dit in 'n tyd waarin die moderne mens hom in die greep van ateïsme, materialisme en veral immoraliteit bevind! Dit insigself maan enige mede-Christen tot groot versigtigheid in die beoordeling van so 'n kursus. Moet die kursus dan nie met die nodige instemming verwelkom word nie?

Ons sou in antwoord op laasgenoemde vraag graag 'n duidelike Ja wou laat hoor. Maar by nadere bestudering van die inhoud van die kursus asook terugvoer rondom die wegbreeknaweke, waartydens die Heilige Gees sogenaamd uitgedeel word, is so 'n antwoord net nie moontlik nie. Ons oordeel dat die grense van die Skrif op kardinale punte oorgesteek word. Sekere vermeende manifestasies van die Heilige Gees deurstaan eenvoudig nie die toets van die Heilige Skrif nie.  'n Aantal redes kan hiervoor gegee word.

[Wynberg se kommentaar] Die fomulering "waartydens die Heilige Gees uitgedeel word", is nuut vir ons. Dit kom waarskynlik van SKLAS-OVS. Na watter terugvoer verwys hulle? Hoe verteenwoordigend was dit en watter navorsingsmetode is gebruik?

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12