|
|
|
|
Die lidmate en kerkrade van die NG kerk Wynberg en die VG Kerk Wynberg het die begeerte uitgespreek dat die twee gemeentes sou herenig. Dit stel die kerkrade kerkregtelik voor 'n moeilike uitdaging aangesien die gemeentes aan verskillende kerkverbande behoort. Die gemeentes moet gevolglik as afsonderlike regspersone bly funksioneer totdat die kerverbande verenig - wat nog etlike jare of selfs dekades kan duur. Sou dit moontlik wees om intussen as een gemeente te funksioneer en terselfdertyd twee afsonderlike regspersone te bly? 1. Die herenigingsproses het as ‘n geloofsuitdaging afgeskop toe die gesamentlike kerkraadsvergadering van die NGK en VGK Wynberg op 24 Julie 2007 eenparig besluit het dat die twee gemeentes voortaan alle eredienste saam sou hou. Kerkraadslede wat aan die bespreking deelgeneem het, het onder andere opmerkings soos die volgende gemaak: “Ons moet nou doen wat ons glo die Here van ons vra, sonder om oor ons skouers te loer, al sou dit ‘n prys van ons vra. Ons glo dat die Here ons seën om ‘n helder lig te laat skyn!” 2. Daarna het die gemeentes begin om alle eredienste saam te hou, al om die beurt in die twee kerkgeboue. Dit sou die reëling wees totdat die gemeentes by wyse van ’n goedgekeurde samewerkingsooreenkoms as ’n gesamentlike gemeente herenig. Die prys wat dit gevra het, was hoog:
3. Hoewel die kerkrade van Wynberg besef het dat die prys hoog sou wees, het hulle nogtans in die geloof hierdie reis aangepak. Waarom?
4. Aangesien die kerkrade en lidmate daarmee rekening gehou het dat die handhawing van die ou identiteite slegs ‘n tydelike reëling sou wees, het die uitspraak van die VGK actuarius en die gesamentlike besluit van die streeksinodes se regskommissies (PRK en SRK) dat elke gemeente sy selfstandigheid moes behou, as slegte nuus gekom: hulle moes teen hul oortuiging voortgaan om die ou identiteite in stand te hou. Die gemeentes sou verder bloei, en hulle kon dit nie meer bekostig nie. 5. Die kerkrade was verplig om die ooreenkoms by wyse van ’n tussentydse reëling aan te pas. Die kerkraad van die NG Kerk Wynberg het daarom die gesamentlike regskommissies (PRK/SRK) versoek om 'n tussentydse ooreenkoms as ’n tussentydse reëling te beoordeel en terugvoering aan die kerkrade van Wynberg te gee. Hierdie reëling maak voorsiening vir ’n gesamentlike gemeente waarin twee wyksgemeentes saamwerk. ‘n Gesamentlike kerkraad behartig die gesamentlike bediening. Wykskerkrade behartig die eie regspersoonlike sake sowel as die leiding van die wyksgemeente en moet ook die besluite van die gesamentlike vergaderings bekragtig. Hoewel hierdie reëling ’n tussentydse oplossing “ter wille van die swakheid van sommige bepalings” sou bied, sou dit nie die gemeentes se probleem oplos nie aangesien twee identiteite steeds gehandhaaf sou word. Die streeksinodes se regskommissies het die versoek van die kerkraad om die tussentydse ooreenkoms te beoordeel, nie beantwoord nie. 6. Die kerkrade het nie van die gesamentlike regskommissies (PRK/SRK) verwag om ’n onbeproefde ooreenkoms van samewerking goed te keur nie. Sowel die oorspronklike ooreenkoms as die tussentydse ooreenkoms word met sukses deur talle gemeentes in die Protestantse Kerk in Nederland toegepas. Sulke gemeentes werk as afsonderlike regspersone in ’n gesamentlike gemeente saam. Beide ooreenkomste is aangepas om aan die vereistes van die NGK/VGKSA se betrokke reglemente en die actuarius se bykomende riglyne te voldoen. Die kerkraad se herhaaldelike versoeke aan die regskommissies om die ooreenkomste te beoordeel, word egter nie beantwoord nie. Dit laat veral die VGKSA kerkraadslede onseker voel omdat dit lyk asof die gemeentes se proses "onwettig" is. 7. Ds. Hannes Theron het op 14 Februarie 2010 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode verduidelik waarom hy sedert Augustus 2008 nog nie gereageer het op die kerkrade se versoeke om die ooreenkoms te beoordeel nie. Volgens hom blyk dit “dat daar lede van die VGK Wynberg is wat nie gemaklik is met die proses nie en dat die ring van die VGK Wynberg dit om bepaalde redes nie kan aanvaar nie.” Dit het volgens hom “geen sin om enige kerkregtelike uitsprake oor die ooreenkoms te maak nie alvorens daar nie tot ’n helings- en versoeningsproses ooreengekom word nie”. Dit was vir die NG Kerkraad, wat op daardie moment dankbaar was oor die goeie verhoudings wat opgebou is, vreemd dat Ds. Theron tot hierdie gevolgtrekking kon kom sonder om met die kerkraad in gesprek te tree. Die NG Kerkraad se versoek aan Ds. Theron om die gronde en omvang van die VGKSA lede se ongemak aan te dui, is ook nie beantwoord nie. Die Ringsvisitasieverslag van 9 September 2009 wat aangeheg was en waarin die goeie verhoudings vermeld word, het ook tot geen reaksie gelei. Dit lyk of die pogings van die kerkraad om die struikelblokke uit die weg te ruim, in die wiele gery geword – bloot deur die weiering om daarop te reageer. Selfs die NG kerkraad se beroep op die belydenisgrondslag bly onbeantwoord. Dit stel die gemeentes voor ’n onmoontlike uitdaging aangesien hulle kennelik verhinder word om vordering te maak. 8. Die besluit van die VGKSA Kerkraad op 8 April 2010 dat daar voorts in alle korrespondensie en gesprekke tussen die twee gemeentes verwys moet word na “samewerking” en nie na “eenwording” nie, dui op 'n afwyking van die gemeentes se verklaring van voorneme van 1 Junie 2008. Die motivering hiervoor was dat die VGKSA Kerkraad "hul nie op hierdie stadium kan vereenselwig met 'eenwording' nie as gevolg van die VGKSA Kerkordelike Reëls." Die VGKSA kerkraad het hiermee die vorming van 'n gesamentlike gemeente uitgestel totdat die VGKSA se kerkorde volgens hulle daarvoor voorsiening maak. Die VGKSA Kerkraad het blykbaar die interpretasie van die streeksinodes se regskommissies (PRK en SRK) aanvaar. Dit blyk ook dat die VGKSA Kerkraad sy wil om saam met die NG Kerkraad druk uit te oefen om die droom waar te maak, verloor het. Die VGKSA Kerkraad se besluit was ook by implikasie 'n keuse dat die ou identiteite gehandhaaf moet word. 9. Die besluit van die VGKSA kerkraad om alle samewerking tussen die twee gemeentes op te skort en die besluit van Ds. Samuels om die gebeure ook aan die pers (Rapport) bekend te maak, plaas die herenigingsproses uiteraard onder geweldige druk. Die kerkraadslede van die NG Kerk Wynberg het sedert 1991 uit hul oogpunt 'n goeie en geseënde verhouding met die VGKSA kerkraad opgebou en was nie bewus dat verhoudings "uitmekaargeval" het soos Ds. Samuels dit in die persberig stel nie. Die notules, die visitasieverslag van 9 September 2009, die sosiale funksies en die gesellige samesyn van die kerkrade getuig hiervan. Ds. Samuels se bewering dat sy gemeente “géén insae” in die samewerkingsooreenkoms gehad het nie en nie daarmee saamstem nie, plaas uiteraard ’n vraagteken agter die proses. Was die verbintenis van die VGKSA lede tydens die gemeentevergaderings en die kerkraadsvergaderings, waar die besluite en die ooreenkoms deurgaans eenparig goedgekeur is (slegs 2 VGKSA lidmate het teen hereniging gestem), só ondeurdag dat dit nou blyk om onbetroubaar te wees? Was hulle só kwesbaar vanweë die afsterwe van Ds. Buys dat dit die geldigheid van hul besluit beïnvloed het? Sou die lidmate werklik tougestaan het om die versoek tot herengiging te teken as hulle dit nie bedoel het nie? Was baie van die aanwesiges verkeerd in hul vertolking dat dit 'n besondere vrug van die Heilige Gees se werking onder ons was? 10. Die Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg bly trou aan die verklaring van voorneme waartoe die lidmate van beide gemeentes op 1 Junie 2008 ingestem het en wat op 3 Junie 2008 deur die gesamentlike kerkraad eenparig goedgekeur is. Die lidmate het vir hereniging in 'n gesamentlike gemeente gekies: “Ons glo dat die Here ons nou daartoe roep – ons kan nie anders nie”, het hulle verklaar. Hulle het daarteen gestem om slegs die huidige samewerking voort te sit. Die Kerkraad aanvaar steeds dat die VGKSA lidmate dit ook bedoel het en sien uit na die dag wanneer die Kerkraad van die VGKSA Wynberg gereed sal wees om by wyse van ‘n ooreenkoms ‘n gesamentlike gemeente met die NGK gemeente te vorm. Die Kerkraad is ook steeds oortuig dat die samewerkingsooreenkoms aan die gemeentes die moontlikheid bied om dit nou al binne die ruimte wat die betrokke kerkordelike reglemente gee, te doen. 11. Karl Barth het vier algemene voorveronderstellings vir die kerkreg teen die agtergrond van die Duitse kerkstryd geformuleer: dit moet dienend, liturgies, lewend en eksemplaries wees. Mag kan slegs legitiem wees as dit dien. Kerkreg is voorts lewende reg, want die Heer leef. Dit moet daarom steeds bereid wees tot nuwe antwoorde. Dit is dinamies, menslik, nooit afgeslote, steeds op weg van slegter na beter. Kerkreg word gebore uit gehoorsaamheid aan Christus en moet daarom altyd met eerbied benader word. Daar kan ook tye kom waarin gehoorsaamheid juis vra dat die kerklike regspraak verander moet word. Kerke kan in hierdie verband van mekaar leer.[1] Ons beskou dit as 'n belangrike uitdaging om die betrokke streeksinodes se regskommissies hiervan te oortuig. Danie Nel, 9 September 2010
[1] Vergelyk Koffeman 2009, 89vv.. Barth, K., Die kirchliche Dogmatik, IV/2, Zurich 1964, 768vv. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|